Emily Hobhouse: Geliefde verraaier. Elsabé Brits

Emily Hobhouse: Geliefde verraaier - Elsabé Brits


Скачать книгу
manier bearbei. Hy probeer die “ongewensde” vroue oortuig om moed op te gee dat die Boere nog die oorlog kan wen. Ook Piet de Wet, ’n broer van genl. Christiaan de Wet, probeer die vroue oorreed om hul mans te oortuig om op te hou veg. Die vroue hoor hulle geduldig aan, maar keer dan die rug op hulle en stap weg.

      Kitchener het nou op drie maniere begin om in alle erns die oorlog te beëindig: Deur die verskroeide-aarde-beleid nog meer ongenaakbaar toe te pas (selfs kerke is afgebrand en alle vorms van kos is vernietig); die konsentrasiekampe is uitgebrei en nuwes is gestig; en die Boerekommando’s in die veld is soos vee aangejaag en met die hulp van doringdraadheinings tussen blokhuise vasgekeer.

      Laat in Februarie 1901 wil die Britse minister van oorlog, St. John Brodrick, van Kitchener weet wat in die veld en in die kampe aangaan. Hy hoor vroue en kinders van kommandolede wat steeds veg, kry net halwe rantsoene. Kitchener ontken dat daar halwe rantsoene is, maar sê koffie en suiker word wel vir sulke mense verminder. “Die rantsoene is genoeg en die families in die kampe is tevrede en gemaklik,”172 beweer hy.

      Op 25 Februarie word ’n debat in die Britse Laerhuis gevoer waartydens gevra word dat die afbrand van plase, die verwoesting van private eiendom en die plasing van vroue en kinders in kampe sonder behoorlike huisvesting en kos stopgesit moet word. Op vrae antwoord Brodrick dat dit die vroue vrystaan om die kampe te verlaat as hulle wil.173

      Drie dae later ontmoet lord Kitchener en genl. Louis Botha mekaar in Middelburg (Transvaal) vir vredesamesprekings waartydens Kitchener eis dat die twee Boererepublieke oorgee en hul onafhanklikheid inboet deur Britse kolonies te word. Botha weier.174

      Om die kampe minder na ’n militêre operasie te laat lyk, word dit nou deur ’n sogenaamde burgerlike administrasie oorgeneem. Amptenare, ook die soldate wat daar werk, moet voortaan siviele klere dra, nie meer kakie-uniforms nie.

      Dit flous Emily nie. “So we play at pretending the war is over … It is hollow and rotten to the heart’s core,” skryf sy aan haar broer Leonard.

      “Ons het regoor die land groot ‘ongemaklike gemeenskappe’ van mense gestig wat julle vlugtelinge noem en wat julle sê julle beskerm, maar hulle noem hulself krygsgevangenes, word onder dwang aangehou en verag jul beskerming. Die hele doel is natuurlik om Chamberlain in die parlement te hou en om te sê die land is gevestig en burgerlike administrasie het begin. Dit is ’n klug.”175

      Emily raak so uitgeput van die harde werk in die kamp, die emosionele druk om na mense se verhale te luister en om selfs op Sondae te werk wanneer sy voorrade sorteer, dat sy besluit om ’n dag in die bed te bly en te rus. Nie vir lank nie; sy neem die pen op en skryf aan haar broer om iemand te probeer kry om aandag te kom gee aan die konsentrasiekampe vir swart mense. Sy het nie tyd om ook daarna om te sien nie, “maar van die bietjie wat ek hoor, is dit baie nodig”.

      Sy vra ook die Bloemfonteinse vroue-organisasie “The Loyal Ladies League” om die saak te ondersoek. Sy het egter nie veel hoop daarvoor nie, want “al het hulle gesê hulle sal, kon ek sien hulle is nie die regte soort mense om van enige nut te wees nie. Hulle het sommer vooraf gesê daar is geen siekte, swaarkry of sterftes onder daardie mense (swartes) nie.”176 Nadat Emily die Loyal Ladies ontmoet het, kom die Bloemfontein Post daarvan te hore en berig dat van die vroue ontsteld is, veral omdat Emily daarop aangedring het dat aandag ook aan die swart kampe gegee word.

      Van toe af word al haar briewe gesensor, maar dit keer haar nie om foto’s wat in die kamp geneem word, aan haar broer te stuur nie.

      Die omstandighede druk al hoe swaarder op Emily, veral die neerdrukkende bepalings van die Krygswet. Sy is gefrustreerd en woedend oor wat sy in die binneland sien en dat die mense by die huis nie daarvan kennis neem nie. En nog erger: Dat die Liberale Party klaarblyklik nie veel daaraan doen nie.177

      Pligsbesef kry die oorhand oor haar frustrasies en uitputting. Sy wil veel meer kampe besoek, soos dié by Kroonstad en Kimberley, maar ook die “groot en belangrike kampe” in Transvaal. Kitchener weier egter dat sy verder noord as Bloemfontein reis. Sy skryf nog twee keer om toestemming hiervoor te kry, maar albei kere weier hy.

      Vroeg in Maart 1901 vertrek Emily weer na die suidelike kampe in die Vrystaat nadat sy haar werk in die Bloemfontein-kamp in die hande van ’n groepie vroue gelaat het. Al het sy ’n permit vir die Kimberley-kamp gekry, mag sy nie suid van Norvalspont gaan nie en moet eers na De Aar reis en van daar noord na Kimberley. Hoe sy die permit vir Kimberley gekry het, laat Emily nie blyk nie, want dit is 165 km noordwes van Bloemfontein.178

      Op 4 Maart is sy by Springfontein sowat 145 km suid van Bloemfontein waar sy tuisgaan by ds. Sandrock, ’n Duitse sendeling en sy gesin, wat ook veg om liggaam en siel aanmekaar te hou. Die kamp by Springfontein is kleiner, die mense armer en meer verlate as wat sy nog teëgekom het.

      Emily het drie kiste klere saamgebring en sit op die Sandrocks se stoep waarheen van die kampinwoners in groepe aangeskuifel kom. Hulle is “byna naak”, maar Emily het genoeg klere om elke dag sowat 60 mense te klee.

      “Sommige is bang, ander lamgelê en nie in staat om hul verlies te begryp nie. Party word verswelg deur hul trane, ander is stom en hul oë droog, al waaraan hulle oënskynlik kan dink, is ’n uitsiglose en brandarm toekoms. Sommige gloei van trots omdat hulle ter wille van hul land gevangenes is. ’n Paar vroue wat skaars geklee is, het rokke gemaak van die growwe bruin kakiekomberse.”179

      Die bloese wat van Engeland gestuur word, sit knap aan die vroue. Vir die “well-developed Boer maiden who is really a fine creature” is dit veels te klein. Kan enige “out-out women’s sizes” asseblief aangestuur word? vra sy vir tante Mary.

      By Springfontein is daar niks om mee vuur te maak nie en al kry mense vleis en mieliemeel, kan hulle dit nie gaarmaak nie, want die veld is dor en droog. “Ek het gedink Kitchener word as ’n groot organiseerder beskou, maar is dit goeie organisasie om so min vooruit te dink en so min voorsorg te tref dat duisende mense neergeplak word op plekke waar niks gereed is om hulle te ontvang nie?”180

      Van hier vertrek Emily vir ’n tweede besoek aan Norvalspont. Onderweg skryf sy oudergewoonte briewe – altyd met planne om oplossings te vind.

      Weer opper sy teenoor die Distress Fund-komitee die nood in die swart konsentrasiekampe en doen ’n beroep op die komitee (in dieselfde brief aan haar tante) om mense te stuur om die behoeftes te ondersoek. Sy verneem daar is talle en groot kampe vir “natives” waar die sterftesyfer ook hoog is. Hoekom stuur die Society of Friends – die Kwakers – wat reeds mense in Suid-Afrika het wat noodleniging verskaf, nie iemand nie? Of die organisasie Aborigines’ Protection Society, stel sy voor.181 182

      Vir Emily as ’n oortuigde liberalis was dit voor die hand liggend dat daar nie onderskeid tussen die nood van wit en swart moet wees nie. “In my camps there are many kinds of nationalities. They are all suffering alike and it is not always possible to pick out the pure Boer and leave those mixed or intermarried. Often there are little black servant girls whipped up and carried off with their mistresses and these need clothing. Decency demands that all should be provided …”183

      In die kamp by Norvalspont (waar Emily op 8 Maart aankom) sit sy en die kampdokter gou vas, want hy is van die soort “wat nie sy mond kan oopmaak sonder om vloekwoorde teenoor die Boere te gebruik nie”. Dit maak haar skaam “in die naam van die Engelse”. Hy is volgens haar “’n onuitstaanbare, gemene vent” en sy sê dit ook vir hom.184

      By dié kamp het die owerhede daarin geslaag om 28 Boeremans te oorreed om vir die Engelse te veg. Emily verfoei dit omdat sy glo dit is ’n Engelse offisier nie waardig om so laag te daal nie, veral omdat dié mans reeds die eed van neutraliteit afgelê het. “I long to escape from this network of lies and horror,” is haar versugting.185

      Twee dae later wil sy per trein verder reis, via Noupoort na Kimberley, maar sy moet die hele dag in die stasie se wagkamer sit omdat dit te gevaarlik is om te reis. Daar is kanonvuur in die lug en volgens gerugte is die Boere in die nabyheid. Teen tienuur die aand het die trein nog nie aangekom nie en al raad is om in die plaaslike stafoffisier se kantoor op die grond te slaap.186

      Later


Скачать книгу