Emily Hobhouse: Geliefde verraaier. Elsabé Brits

Emily Hobhouse: Geliefde verraaier - Elsabé Brits


Скачать книгу
Emily twee dae later weer by die Kimberley-kamp aankom, verneem sy dat sewe kinders dood is in die paar dae dat sy weg was. Dit reën en dis koud in die tente wat feitlik almal lek. Die vleis wat die mense kry, is vol maaiers en dié wat daaroor kla, kry nie weer vleis nie.200

      Onderweg na Bloemfontein klim Emily by die Springfontein-kamp van die trein af. Tot haar skok is daar nou 3 000 mense waar daar voorheen 500 was. Op die stasie tref sy nog 600 vroue en kinders aan wat verplig word om sonder enige skuiling in oop treintrokke in die son, reën en wind te sit. Hulle is al twee dae lank daar. Dit is nóg erger as wat sy by Warrenton beleef het.

      Dit is ’n Sondagoggend. Clara Sandrock, dogter van die Duitse sendeling op Springfontein, het Emily se trein sien aankom en kom met ’n kan koffie vir haar aangehardloop. Emily gebruik niks daarvan nie en gee die koffie en ál haar kos, ’n “tweepennie-brood” en ’n blikkie ingelegde vleis, vir die vroue in die oop treintrokke.

      Die kinders huil van die honger, want hulle het drie dae laas iets geëet. Emily gee vir Clara geld om al die kos te koop wat sy in die hande kan kry, en gee nog ’n opdrag: “Leave the church today.”201

      Dit is vir Emily aaklig om die vroue en kinders net so te los, maar haar permit laat haar net toe om Bloemfontein toe te gaan. Met ’n swaar gemoed klim sy weer op die trein, net betyds voor dit vertrek. Die vroue en kinders moet sy in die snerpende koue in die buitelug agterlaat. Sy het haar dik grys tjalie aan, selfs dan is dit steeds bitter koud.202

      Net omdat Emily by Caroline Fichardt in Bloemfontein tuisgaan, is Caroline se permit ingetrek sodat sy nie meer na hul plaas Brandkop kan uitry om haar man se graf te besoek nie.

      By die kamp kom Emily agter dat die getal vroue en kinders gedurende die ses weke dat sy weg was, so te sê verdubbel het tot 4 000 siele. “My kampwerk groei so vinnig dat ek voel dit is amper onmoontlik om daarmee voort te gaan.”203

      “It is endless and hopeless,” skryf sy aan tante Mary. “Ek voel verlam in die aangesig daarvan. Ek reken geld is van min hulp en daar is oomblikke wanneer ek dink dit sal wyser wees om op te hou probeer en my eerder huis toe te haas om die feite te gaan oordra en te pleit dat alles moet end kry.”204

      Die kamp word net groter, verseker Goold-Adams haar nadat sy weer met hom gaan praat het. Intussen is 62 mense hier dood. Die dokter is siek en twee Boeremeisies wat as verpleegsters opgelei is, het ook gesterf.205

      Steeds is daar nie seep in die kampe nie. Die amptelike antwoord wat Emily kry, is dat dit ’n luukse is en dat die soldate ook nie seep kry nie. Voer vir die maer koeie – haar oplossing sodat hulle meer melk vir die kinders kan lewer – is volgens die owerhede te kosbaar. En nee, spoorwegketels kan nie bekom word om water in te kook nie. Die ketels kan van bakstene gebou word, maar dit is te duur.206

      Die toestand van baie van die mense wat Emily in die Bloemfontein-kamp gesond agtergelaat het, laat haar nou geskok. “Siekte en dood is afgedruk op hul gesigte.”207

      Emily is oortuig dat indien daar nie ’n aanhoudende instroming van dokters, verpleegsters, ander werkers, kos, klere en beddegoed is nie, sal niks verbeter nie. Die sterftekoers trek nou by 20 persent en daar is geen hoop dat dit sal afneem nie. Emily pleit by Goold-Adams om die toestand in die kamp te probeer verbeter, maar hy lig haar in dat inwoners van Transvaal en die Vrystaat nou in kampe geplaas word; “a new sweeping movement has begun”.208

      Vir oulaas probeer sy by die noordelike kampe, soos die een by Kroonstad, uitkom. Weer eens vra sy Goold-Adams se toestemming, weer weier hy. Nou is hy baie reguit en sê die rede daarvoor is dat sy “persoonlike simpatie met die mense toon”.

      Verbaas antwoord Emily dat dit presies is wat sy gekom het om te doen – en om mense met hul persoonlike probleme by te staan. Hy glo “geskenke” kan bloot meganies uitgedeel word sonder om persoonlik by mense betrokke te raak.

      “Ek sê ek kan nie so werk nie. Ek moet die mense soos mede-skepsels hanteer en in hul sorge deel.”209 Dit is toe dat Emily besef haar persoonlike simpatie word verwar met politieke simpatie. “It was no question of political sympathy. On that score I always maintained a negative attitude.”210

      Sy is geskok om in ’n koerant Kitchener se bewering te lees: “Die rantsoene is genoeg en die families in die kampe is tevrede en gemaklik.”211 Sy weet hulle is “ellendig, ondervoed, siek en sterwend”212 en besef dat wat aan die Britse publiek voorgehou word, leuens is.

      Dit het Emily by ’n punt gebring waar sy ’n belangrike besluit moet neem: “To stay among the people, doling out small gifts of clothes, which could only touch the surface of the need, or return home with the hope of inducing the Government and the public to give so promptly and abundantly that the lives of the people, or at least the children might be saved.”213

      Ná veel bepeinsing besluit sy om die euwel by sy wortel aan te pak, by hulle wat dit begin het en die mag het om dit te beëindig. Bespreek vir my plek op ’n skip na Southampton, skryf sy vooruit aan Caroline Murray.

      Op pad Kaap toe hou die trein weer by Springfontein stil. Tot Emily se afgryse is dieselfde groep van sowat 600 vroue en kinders tien dae later steeds op die stasie.214 Daar is geen water of toilette nie en weinig kos.

      Sy tref ook die bejaarde oom en tante van pres. Paul Kruger daar aan. Die ou dame is half naak ondanks die koue. Emily trek haar eie onderrok uit en gooi dit oor die vrou.

      Van die ander vroue klou aan Emily vas in die hoop dat dié engelfiguur hulle uit hul ellende sal verlos. “The picture photographed in my mind can never fade,” skryf Emily later.

      Dis bitter koud, maar daar is geen skuiling vir die vroue en kinders nie. Party probeer onder die treintrokke slaap. Ander het ’n seil in die hande gekry en daaruit ’n skuiling probeer prakseer.

      Onder een van dié skuilplekke sit ’n vrou met haar kind op haar knieë. Die baba is vinnig besig om te kwyn.

      ’n Paar druppels brandewyn sal dalk die kind se lewe red, maar nêrens op die stasie is so iets te kry nie. Emily stuur ’n boodskap na kapt. Gostling, die kampkommandant, maar hy laat weet sy voorraad is beperk.

      Emily is by toe die kind in stilte sterf.

      “The mother neither moved nor wept. It was her only child. Dry-eyed but deathly white, she sat there motionless looking not at the child but far, far away into depths of grief beyond all tears. A friend stood behind her who called upon Heaven to witness this tragedy and others crouching on the ground around her wept freely.

      “The scene made an indelible impression upon me. The leading elements in the great tragedy working itself out in your country seemed to have gathered under that old bit of sailcloth whose tattered sides hardly kept off sun, wind or rain.”215

      Ná dié uitputtende oggend het sy nog genoeg stamina om die konsentrasiekamp aan te durf waarheen sy moet voetslaan. Kapt. Gostling volg haar soos ’n skaduwee, knoop kamma-onskuldige geselsies aan en stuur kort-kort die gesprek in ’n politieke rigting, maar Emily is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie en rep nie ’n woord oor enigiets wat na politiek ruik nie. Laataand haal sy weer die trein wat stadig aankruie na die suide. Die volgende dag klim sy by Norvalspont af en gaan oudergewoonte na die konsentrasiekamp waar sy die dag deurbring.

      Laatmiddag stap sy terug stasie toe om die trein te haal, maar moet daar hoor die trein Kaap toe kom eers die volgende dag. Nou het sy geen slaapplek nie, want elke beskikbare bed op die dorp word deur die weermag beset. Terug na die kamp. Dit is reeds pikdonker toe sy by ’n ou bekende, ene mev. Boshoff, se tent aankom en dié is maar te bly om haar te sien. Vroegoggend kruip Emily uit om net ná sewe die trein te haal.216

      Toe Emily op 5 Mei in Kaapstad aankom, het sy ses dae laas gewas. Sy is onbeskryflik vuil, van kop tot tone oortrek met rooi stof. Party dae kon sy nie eens êrens haar hande was nie. Vir rus is daar egter weinig tyd, want sy moet dadelik besluit of sy oor twee dae met die Saxon gaan vertrek, of nog wag. Die skepe is boonop propvol.217

      Binne ’n uur besluit sy om so gou moontlik die seereis aan te pak.

      Ook op die Saxon, tot Emily se groot verbasing, is niemand anders nie as sir Alfred Milner.218 “Daar sit


Скачать книгу