Koukonap. Johann Botha
sy haar met haar bene probeer terugwerk op die buiteband, wikkel die wiel net genoeg om Dries en Loekie, hulpeloos buite bereik op die balke, bekommerd te maak. Daar is geen ander genade nie.
“Sussie,” paai Loekie. “Jy sal moet laat los.”
“Ek gaan seerkry.”
“Dis nie so hoog nie. Hou net jou bene slap, dan rol jy as jy val.”
Tilda wil nie laat los nie. Naderhand moet sy. So ’n vreeslike val is dit darem nie. Haar trots kry egter ’n knou as sy met ’n hik op haar sitvlak beland. Niemand waag dit om te lag nie. Sy is duidelik briesend. Met ’n hatige kyk na bo staan sy op, stof haar af en stap met ’n stywe rug by die skuur se sydeur uit.
Hulle waag dit nog nie om te lag nie. In die onnatuurlike stilte hoor hulle ’n dowwe dreuning wat al nader kom. Dit word bietjie sagter en dan weer harder en klink naderhand reg bo die skuur se dak. Tilda vergeet haar verontregting blykbaar lank genoeg om van buite te roep: “Haai, kom kyk, julle! Dis ’n vliegtuig! Kyk hoe laag is hy!”
Hoewel daar buite die dorp ’n oop stuk veld met ’n windkous was, was vliegtuie in dié geweste bra skaars. Soms was ’n straler soos ’n spikkeltjie hoog teen die uitspansel op te merk, danksy die yl sleepspoor van die straalmotore in die ysige koue daarbo. Maar ’n vliegtuig in die lug vlak bokant die dorp, dit was iets om te sien.
Die seuns skarrel tussen die balke deur en glip met ’n paar grype aan die tou en ’n trap teen die lorriewiel tot op die grond. Hulle is betyds om die vliegtuig ’n paar draaie bo die huise se dakke te sien maak voordat dit agter die kerktoring verby in die rigting van die vliegveld koers kry.
Hugo staan ook en kyk. “Dit lyk soos ’n Cessna,” sê hy vernaam.
Hulle bespiegel oor wie die vlieënier kan wees. “Dalk Jack Hadid van die garage,” meen Hugo. “Hy is ryk genoeg.”
“Dalk iemand van Kimberley.”
“Jissie,” sê Loekie. “Ek sal graag in so ene wil ry.”
“Jy raak dan karsiek,” neem Tilda wraak. “Toe ons Kimberley toe was …”
“Aag sjarrap!” Loekie klink vies. “Simpel meisiekind,” sê hy aan Dries. “Dit was iets wat ek geëet het.”
“Die kar het gestink,” sê Tilda tevrede.
“Dokter Jackson het gesê dis voedselvergiftiging.”
“Die héle kar,” sê Tilda.
Dit lyk of Loekie wil antwoord, maar hom wyslik bedink. “Kom ons loop liewer,” sê hy vir Dries. Hy sal dit nie erken nie, maar Tilda se getreiter het hom weer so bietjie aardig op die maag laat voel.
Hulle drentel verby die huis. Naby die kombuis kry hulle ’n geur wat Loekie se aardigheid op die plek genees. Ragel Davel kyk op toe hulle oor die kombuis se onderdeur loer.
“Ja, en toe?”
Hulle glimlag net. Loekie sê betekenisvol: “Maak Ma dalk sop?”
“Ja-a,” speel Ragel saam. “Maar vrate sal moet wag. Dis nog nie reg nie.”
Dries voel tuis genoeg om saam te speel: “Dit ruik darem baie lekker!”
“Nou ja … Sal julle vir my proe?”
Dis duidelik dat sy ook die ritueeltjie begryp.
Met hul bekers ertjiesop stap hulle na die skuur, waar hulle op ’n dwarslêer met hul rûe teen die buitemuur gaan sit. Vergete is die vliegtuig, die balke en die lorriewiel. Op hierdie oomblik eis die smaak van dié sop hul aandag. Dis nie iets om af te wurg nie. Gee hom bietjie kans om af te koel. Geniet hom proe-proe. Eet solank die brood.
Van die huis se kant hoor hulle Ragel met Karel en Tilda praat. Dalk wou hulle ook sop bedel. Dan roep sy oor die werf: “Het julle miskien vir Naomi gesien?”
“Is sy nie dalk by my ma nie?” wonder Dries.
Blykbaar nie.
“Waar is Theunie?” Dis Dries se volgende gedagte.
Niemand kan sê nie.
Teen dié tyd stel hy en Loekie nie meer in hul sop belang nie. Hulle wonder oor ’n ding wat maar liewer nie moet wees nie. Dries sit sy beker neer en stap, sonder om te praat, haastig langs die muur af. Loekie volg hom. Om die hoek, by die garage se sydeur, staan Theunie. Hy staan maar net daar, maar Dries sien daar is fout met sy boetie. Hy buk by hom.
“Wat is dit, Theunie? Vertel my.”
So beteuterd het hy sy broertjie nog nie gesien nie.
“Dis alles reg, ou Theunie. Vertel my net.”
So kyk ’n vasgekeerde hond wat ’n loesing verwag.
“Naomi wil nie praat nie,” sê Theunie.
Jare later het Dries homself nog verwyt dat hy sy broertjie nie op daardie oomblik teen hom vasgedruk en vertroos het nie. Ou Theunie wat verlore staan en snik. Maar daar was ander dinge om te doen.
Dis vir Loekie onmoontlik om daardie lorriewiel opgelig te kry, maar nou doen hy dit sonder aarseling. Terwyl hy dit in die lug hou, kyk hy met strak bedoeling na Dries.
Dries oorkom ’n vlaag van instinktiewe afkeer. Hy buk onder die wiel in en versigtig, bang om haar verder seer te maak, reik hy met sy hande na Naomi se lyfie. Sy is nog warm, asof sy maar net lê en slaap het. Maar seer kan hy haar nie meer maak nie. Al die seer wat sy in haar kort lewetjie kon ervaar, was verby. As hy haar optel, laat Loekie die wiel met ’n knal op die sement terugval.
Hy wil nie kyk nie, maar kan dit nie vermy nie. Dis Naomi wat hy vashou, maar ook nie meer Naomi nie. Die fraai gesiggie is skeefgedruk. Die slag het bloed by haar mond, haar neusie, haar oortjie uitforseer. Soos sy op haar sy gelê het, het die bloed aan haar wang begin stol en in haar hare begin koek.
Loekie wil Naomi by hom neem, maar dis Ragel Davel wat haar kind amper met geweld by hulle gryp. Sy skree op hulle sonder dat sy self weet wat sy sê. In haar verwarring weet sy nie wat om te doen, waarheen om te gaan nie. Haar man is nie tuis nie. Hy is op die pad met een van die lorries. Hoe nou gemaak. Sy hardloop by die voorhekkie uit in die straat af na die Fouries se erf.
Lenie hoor haar aankom. Sy sien deur die venster wat Ragel teen haar bors vasdruk. Sy hoor haar skreeu. Die hele straat hoor dit.
“My God! My Here! O my liewe God! Kyk my kind, my kind, my kind, my Naomi-kind!”
Lenie haas haar in die paadjie af na haar buurvrou. Die smartlike krete raak ál flouer. Dis asof sy nie meer krag het om verder te protesteer nie.
“Kyk net, Lenie,” sê Ragel treurig. “Kyk net hoe lyk sy.”
In haar arms lê haar gebroke kind, slap soos ’n lappop met ’n blou rokkie.
12. Ou Poon
Die seuns twyfel nie daaraan dat hul ouers vir hulle lief is nie. Dis ’n gegewe wat hulle aanvaar en nie ontleed nie, soos hulle dit nie nodig vind om te ontleed hoekom hulle in ’n baksteenhuis met ’n sinkdak woon nie.
Op ’n verborge vlak neem hulle kennis van verskille. Tot watter mate, kom ’n mens eers later in jou lewe bewustelik agter. Pa en ma se liefde is nie eenders nie. Lenie se liefde is onkrities en kwesbaar. Dit gun jou als, maar wil jou ook manipuleer. Dan raak dit beklemmend. Jy wil dit van jou afskud. Lood se liefde is nugter, soms skepties, selde uitgesproke. Waar dit afsydig oorkom en te kras raak, laat dit letsels en voed dit weerstand.
Van die Fourie-kant van die familie het die seuns nooit veel te wete gekom nie, en weinig daarvan van Lood. Dalk omdat hy self nie veel geweet het nie, of die moeite ontsien het om uit te vind, of nie wou onthou nie. Die basiese feite, soos Dries dit later van tyd verstaan het, was nie ongewoon vir daardie tyd nie.
Lood se pa, die seuns se oupa Lodewyk, was op kommando tydens die Anglo-Boereoorlog toe sy plaas in die Dewetsdorp-distrik deur die Kakies