Man van Cirene. F.A. Venter

Man van Cirene - F.A. Venter


Скачать книгу
gaan staan voor die herd. “Vannag toe die brande begin het, is Alexander terug na sy skip … Waarom het jy dit gedoen, my man? Jy het ’n ramp oor Cirene gebring.”

      Debora se aanklag skroei deur Simon en hy gaan radeloos sit.

      “Dikwels word vryheid uit ’n ramp gebore, net soos lewe uit pyn gebore word,” probeer hy homself verweer.

      “Vandag is alles vir ons verlore – ons huis, ons grond, alles wat ons hier in Cirene tot stand gebring het … en dit oor ’n halwe denarius,” hou sy vol.

      “Met ’n halwe denarius kan ’n mens vryheid koop of dit ter wille daarvan verloor. Ons het nog ons vryheid, ons geloof. Ons het nog die genade van ons God … en ek het nog vir jou. Ek het nog krag om weer te begin.”

      Debora wil eenvoudig nie skiet gee nie. “Ons was gelukkig hier – gelukkig en vry … Jy het dit alles vernietig, Simon.”

      Toe praat hy hard, verbitterd. “Hulle wou my koring vat, hulle wou my grond vat – hulle wou my kruisig! En nou veroordeel my vrou my nog!”

      Debora swaai met ’n uitroep voor die herd om: “Kruisig?”

      Haar skrik en ontsteltenis laat hom kalmer voel. “As Groot Miga nie sy lewe gewaag en my gered het nie, het ek vanaand aan die kruis gehang.”

      Debora loop na hom toe. “Ek het dit nie geweet nie,” snak sy. “Ek het nie geweet van die kruis nie.”

      “Ons moet vertrek, Simon Niger,” sê Esegiël in die deur. “Die Romeine kom nou-nou hier soek … Die kamele staan gereed. Ons het kos en water en slaapgoed opgepak.”

      Simon neem alles om hom in hom op: die herd wat hy gebou het, die houtskottels wat hy gemaak het, die tafel, die stoele, die vate, die boksakke teen die mure …

      Toe haas hy hom na die slaapvertrek, gryp sy swaardskede, bind dit om sy middel vas; gryp sy lang boog, sy pylkoker.

      Hy wil nog ’n oomblik steel om in stilte afskeid te neem van alles wat hy en Debora verwerf het, maar toe die gedruis by die praetorium weer ’n slag hoorbaar word, gaan hy haastig uit na waar Debora huilend wag. Hy sit sy arm om haar en lei haar uit.

      Esegiël bring ’n kameel nader. Hulle laat hom lê en help haar op. Sy groet haar huis – die deure oop, die luike oop, met twee van haar eende by die drumpel; en haar wit hanslam wat teen die muur staan en skuur.

      Debora se smart word vir Simon te veel. Daarom klim hy vinnig op sy kameel. Juba en Esegiël doen dieselfde.

      “Vlug julle saam?” vra Simon.

      “Ons vlug saam, meneer,” antwoord Juba die Numidiër.

      “Ek weet nie waar die reis sal eindig nie. Dalk sal ons honger ly; ons kan selfs sterf. Julle kan hier bly en werk. Rome het niks teen julle nie.”

      “Ek en Juba het lank vir jou gewerk, Simon Niger,” sê Esegiël. “Jy was goed vir ons. Waar jy en Debora gaan, daar gaan ons saam.”

      Simon wil iets sê, maar sy gemoed is te vol. Hy trek sy kameel op en Debora volg hom. Esegiël en Juba kom agterna.

      Hy lei die klein stoet na die rand van die terras. “Ry julle die terras af,” sê hy vir Esegiël, “swaai dan regs onder die waterleiding deur tot by die see. Dis hoogwater – die see sal ons spore uitwis.”

      “En jy?” vra Debora.

      “Ek kom nou agterna. Ek wil net bietjie vertoef om te sien of die Romeine ons nie volg nie.”

      Hy kyk ’n rukkie hoe Esegiël-hulle die swaarbelaaide kamele op ’n stywe draf hou. Toe ry hy na sy grond toe.

      Aan die kant van die wingerd hou hy stil. Die trosse swel onder die groen lower. Die olyfbome glinster; die muile vreet aan die vars kaf. Die koringhoop smeul nog.

      Met byna ondraaglike hartseer kyk Simon vir laas na alles wat hy verloor het. Dit het so vinnig gebeur dat hy hom ’n oomblik verbeel hy droom.

      Maar toe hoor hy op die ligte woestynwind weer die geluide van die oproer en hy weet hy durf nie langer versuim nie. Hy draai weg en volg die ander.

      By die derde terras kyk hy die laaste maal om, maar sien net die wuiwende toppe van die populiere.

      Hy haal die ander in. Hulle laat loop hul diere vinniger sodat hul nekke laer buig, en die lang bene met swaaiende hale die afstand afkerf. Agter hulle wis die plat branding hul spore uit.

      “Waarheen neem jy my, Simon van Cirene?” vra Debora kamma berispend toe hy langs haar inval.

      “Ek neem jou na ’n nuwe toekoms, my Debora,” sê hy bewoë. “Miskien Alexandrië – miskien iewers elders. Ek gaan jou gelukkig maak soos jy in Cirene was.”

      En toe die ses Romeinse soldate by Simon Niger se huis stilhou, is dit stil daar. Net die populiere ruis in die warm namiddagwind. Groot Miga se twee perde, wat Esegiël uitgespan het, staan en drink uit Debora se wasvat. Debora se hanslam lê en herkou in die oop deur.

      Die soldate loop deur die huis. Een haal Simon se velsak af en drink van die wyn.

      “Die vervloekte Jood is weg,” sê die leier onnodig. Met sy swaard kap hy die nek af van die erdekruik wat Cornelius Rufus nog vir Debora gegee het. Hy gaan staan voor die herd waar die kole nog dof smeul.

      “Kom,” sê hy, “ons moet hulle soek …”

      Hulle spring op hul perde en sny spoor oor die werf. Dis moeilik, want die werf is hard getrap. Eindelik kry hulle die spore, volg hulle tot by die harde pad wat oor die terrasse loop, onder die waterleiding deur. Hulle aarsel daar, weet nie of hulle links na die see moet draai of regs nie.

      Die leier steek sy perd met die hakke en ry verkeerd – na regs, by die stad verby na waar die karavaanroete na Alexandrië begin.

      Simon kyk telkens om, soek na agtervolgers. Maar hulle is reeds om die groot kalkpunt wat die see met hoogwater aanraak. Alleen.

      Hul skaduwees gly oor die strand uit, lank en smal, totdat dit later lyk asof hulle dwarsoor die see probeer reik.

      7

      Esegiël, wat heel voor ry, hou sy kameel skielik in en die klein karavaan kom tot stilstand. Hy beduie na die ooste.

      “Alexandrië,” sê hy moeg, maar opgewek. “Daar lê Alexandrië.”

      Cleopatra se stad lê soos ’n wit swaan in die blou waas van die vroeë aand.

      Simon hou Debora dop wat sprakeloos kyk na die wanorde van tempelspitse, koepels en die swaai van die see waarop die seile van skepe nog duidelik sigbaar is in die skemer.

      “Ons is vry, Debora,” sê Simon skor, sy gesig vaal van baie dae se stof. “Eindelik is ons weer vry.”

      Debora praat nie. Haar oë glinster.

      Hy druk sy kameel nader, druk haar hand en sy voel die ou krag in sy greep.

      “God het ons gelei, net soos Hy Israel deur die Sinaiwoestyn gelei het,” sê hy.

      “Dit was baie dae,” sug sy en soek na dié deel van die stad waar sy en Simon vir die eerste keer by mekaar uitgekom het.

      “Ja, bitter dae,” sê Simon en hy kan aan haar sien hoedat Cirene haar nog vashou.

      Daarom gly hy van sy kameel af en laat hare lê. Hy help haar van die dier af.

      “Nie meer lank nie, dan is ons by Rufus,” troos Simon.

      “Sal ons vanaand nog by hom kan uitkom?” vra Debora.

      “Ons sal was en regmaak en dan gaan ons in.”

      “Sal ons veilig wees? Die arms van Rome is lank …”

      “Ons sal veilig wees. Niemand kon vinniger as ons getrek het nie,” verseker Simon. “Esegiël, Juba … ons maak reg, dan gaan ons in.”

      Simon


Скачать книгу