Blinde sambok. Riana Scheepers

Blinde sambok - Riana Scheepers


Скачать книгу
manier dat ek kon hoor sy het lankal daaroor gedink en klaar besluit. Miskien het sy dit besluit terwyl sy in die stoel gesit en my in die broeikas dopgehou het.

      Daar was ’n lang stilte. Ek het angstig lê en wag om te hoor wat hulle my gaan noem.

      “De la Rey,” het my pa bygevoeg. “Gideonette de la Rey. Dit klink nie te sleg nie.”

      “Dis ’n móói naam, dis mý naam!” wou ek vir hom sê, maar hy het nie eens na my kant toe gekyk nie.

      My volgende baklei sal teen my pa wees, het ek toe geweet. Hy wat dink ek is tweede beste. Ek sal alles wees wat ’n seun kan wees, Pa, het ek besluit. Alles, én meer. Ek kán.

      2

      Dit was my oupa Lewies wat my in die kerk ingebring het vir die doop. Die kerkdiens was lank en vervelig. Dit was warm in die simpel rok en gehekelde skoene wat ek aangehad het. Ouma Willemien, wat in die moederskamer na my moes omsien, het naderhand nie meer geweet hoe om my stil te hou nie.

      “Mensig!” het sy vir my gesê en my teen haar skouer opgelig. “Vir ’n swak babatjie is jy darem woelig!”

      Ek het net gewens dat die hele gedoente moes klaarkom, dat ek kan teruggaan na my plaas en uit daardie klere kan kom. Wie nou eintlik besluit het dat ek dit moes aantrek, sal ek nie weet nie, want my ouma en my ma sou geweet het ek sal dit haat. Dit was een van my tantes wat die rok op die plaas aangebring het. Vir dié geleentheid, die doop van Groot Gideon de la Rey se eerste kind, die kind wat amper dood was nog voor sy begin lewe het, was die hele familie en die distrik in rep en roer.

      “Die kind moet in die familierok gedoop word,” het die tante gesê en die lang wit rok met sy baie kant uit ’n boks met papier gehaal.

      “Dis so warm, Martha,” het ek my ma hoor sê, “en dié rok gaan buitendien myle te groot wees vir haar. Kan ons nie maar vir haar iets koelers aantrek nie?”

      Tant Martha het skerp na my ma gekyk. “Is jy almiskie bang vir die dooprok van die De la Reys?”

      “Moenie laf wees nie, Martha,” het my ma gesê, “ek steur my nie aan spookstories en mense se praatjies nie!”

      Van watter spookstories praat my ma nou? het ek lê en wonder. En toe ek weer sien, spookstories ofte not, is ek in die rok ingeprop en die lintjies om my arms vasgestrik. Die kant op die rok was al bruinerig van ouderdom, en dit het na die binnekant van ’n donker houtkis geruik. As ek dit nie mis het nie, kon ek ook my pa se vel daarin ruik. My pa is in die rok gedoop, én my pa se oupa Gideon. En al die ander Gideon de la Reys van die familie wat nie meer geleef het nie. My pa was die laaste Gideon de la Rey. En ek sou die eerste Gideonette wees.

      Al wat ek wou doen, was om terug te wees op my kombersie en kussing op die koel klipvloer van die groothuis. Ek wou net met ’n doek aan my bas lê en Bhubesi moes ook daar wees saam met sy ma, Juba. Sy moes langs my sit en vir my en Bhubesi sing, soos sy gemaak het van ek die eerste keer in die groothuis gekom het.

      Maar eers moes ek gedoop kom.

      Toe oupa Lewies my indra, kon ek hoor hoe daar ’n ruising deur die kerk gaan. Die kerk was stampvol mense, almal het skielik vorentoe gesit en hul nekke gerek om te sien wat aangaan. Niemand het gedink dit sal hy wees wat my indra nie, almal het gedink dit sal ouma Willemien wees.

      Okay, okay, wou ek sê, is dit nou werklik so vreemd dat ’n oupa sy kleinkind die kerk indra? Miskien moes my pa my ingebring het, want noudat ek sy naam gaan dra, kan hy net sowel help daarmee.

      Oupa Lewies het my só gedra dat ek nie veel kon sien nie, net die rye bruin kerkbanke en die mense se gesigte wat almal na ons gedraai was.

      My ma en pa het regop en ernstig voor die preekstoel staan en wag dat oupa Lewies my in my ma se arms sit. Sy het afgekyk na my waar sy my kop in die kromming van haar elmboog laat lê het, en vir my geglimlag. Maar ek wou nie soos ’n slap baba lê nie, ek wou regop kom, teen haar skouer leun en kyk wat alles in die kerk aangaan. Ek wou ook sien of stewige suster Van Schalkwyk in die kerk is.

      Net voor ek my blou-moord-skreeu kon uithaal, het my ma gesien dit kom en my opgelig teen haar skouer.

      Ek was die enigste baba wat daardie Sondag gedoop is. Die geruis in die kerk het nog harder geword toe dominee Lamprechts my naam sê vir die hele gemeente om te hoor: “Gideonette … Diederika … Marthina … de la Rey, ek doop jou …”

      Almal se oë was op my en op dominee Lamprechts se hand wat in die doopvont verdwyn het. “Gideon … Diederik … Marthinus … de la Rey ….” het hulle saam gefluister, asof hulle nie kon glo wat hulle hoor nie. Almal wou sien hoe lyk die meisiekind met die klomp seunsname van haar pa. Almal wou sien hoe lyk die hoenderkuiken wat amper dood was, maar toe oorleef het.

      Vandag weet ek waarom almal so angstig gekyk het, waarom almal so nuuskierig en meelewend was, ek verstaan nou waarom. Want ek het nie tóé al geweet wat almal in die distrik reeds geweet het nie. Die grootmense was versigtig om voor my te praat, selfs al het hulle nie een oomblik gedink ek sal hoor en verstaan nie. Toe het ek nog nie geweet van al die donker geheime en die fluisteringe in my familie nie.

      Ek het nog nie geweet dat die naam, wat nou ook my naam was, ’n vloek gedra het nie.

      3

      Ons sit op die stoep en druiwe eet. Soet, blinkswart ketôbadruiwe wat my pa korrel vir korrel van ’n takkie pluk en in my bekkie druk. Ek sit op sy skoot. Die skaduwees val in kolle oor my bene en oor die stoep.

      My pa leer vir my woorde. Vir elke tree wat ek loop, moet ek ook ’n woord leer, sê hy. Ek is reg vir hom, maar hy moet bybly, want ek loop al oral waar ek wil wees. Ek maak die tuinhekkie oop en stap op my eie na die koeikamp toe. Soms wil my pêl Bhubesi saamloop, maar ek is te vinnig vir hom, dan draai hy maar om, of sit net waar hy is en speel verder met sy hande in die grond. Bhubesi is net ’n klein bietjie ouer as ek, maar hy is vet en lui. Eintlik wil hy net die hele dag op die kombersie op die klipvloer by die speelgoed bly sit, maar jittetjie tog, dit is darem te vervelig.

      Juba het my al ’n keer of wat aan my kraag kom wegsleep net voor ek deur die doringdraad kruip na die koeie toe, of na die twee merinoramme wat in die klein kampie langs die koeie gehou word. Ek weet nie hoekom hulle my keer nie, dis my plaas en my diere. Ek is nie bang vir koeie en merinoramme nie, ek wil naby hulle wees en ruik hoe hulle velle en asems ruik. Dis net vir ou Tool, die Jerseybul, wat ek ’n bietjie bang is. Maar die dag sal nog kom dat ek na hom toe sal loop en aan sy kwaai neusgate vat.

      “Akkedis,” sê my pa en wys vir my die gediertetjie wat vinnig oor die warm muur tussen die kolle wingerd-skaduwees wegskarrel. Ek wou nog mooi kyk hoe hy lyk, toe het hy al in ’n skeurtjie van die klipmuur weggeflits. Eendag sal ek een vang en in my hand hou sodat ek mooi kan sien hoe sy ogies lyk, en sy skurwe velletjie.

      “Blitsvinnigafstert donkerskaduweekol kromwingerdtakkie,” sê my pa vir my woorde voor.

      Ek lag vir die nuwe klanke wat by sy mond uitkom. My mond is rooi en taai en vol soet druiwekorrels, maar ek sê alles agterna, net soos hy.

      “Jou slim kind!” sê my pa. “Sê nou ’n bietjie vir my: katjiepieringmajol en wildebeeskaiing?”

      “Katjiepieringmajol, wildebeeskaiing,” sê ek.

      En toe vra hy: “Weet jy wat beteken goggamobiel?”

      “Ek weettie …” Ek hou my mond oop vir nog ’n korrel, die trossie is amper op.

      “En koggelmanderklip?”

      “Weetokkie,” sê ek. My pa wil nie regtig weet of ek al dié woorde ken nie, dis net ’n speletjie, maar ek sal nog uitwerk wat dit is.

      Ek sit skielik regop op sy skoot. Ek onthou die woord wat ek by Faantjie gehoor het toe ek en Bhubesi by hulle gespeel het. Faantjie is ’n jaar ouer as ek en Bhubesi, hy ken baie woorde.

      “Ek ken ook ’n woord, Pappa,” sê ek. Ek voel baie trots daarop dat ek dit onthou het. Nie dat ek dit juis kon vergeet het nie, want


Скачать книгу