Blinde sambok. Riana Scheepers

Blinde sambok - Riana Scheepers


Скачать книгу
ons het tussen die fluitjiesriet gesit en soos paddas gekwaak, maar hulle het ons gekry en met ons geraas. Waaroor weet ek nie, want ons het niks verkeerd gedoen nie.

      Dis dié dat Bhubesi my beste maat is, ons hou van dieselfde dinge.

      En hy word weer na ’n rukkie goed as hy oor iets vir my kwaad was, ons kry dit nie reg om te lank kwaad vir mekaar te bly nie.

      5

      Die enigste plek waar al die kinders van die plaas saamkom, is saans in uGogo se hut. Dan sit ek nie langs Bhubesi nie, maar saam met die ander ntombazanas om die vuur. Bhubesi sit saam met die seuntjies en maak of hy my nie ken nie. Ek het my spesiale plek, naby die deur, want as my pa of oupa Lewies my roep, kan ek vinnig uitglip. Maar die meeste kere as hulle roep, maak ek of ek nie hoor nie. Veral as uGogo ’n lekker storie vertel.

      UGogo is bitterlik oud. Sy is amper blind en sy het nog net twee tande in haar mond waarvan een ’n bietjie losserig is, maar daar is niemand wat stories kan vertel soos sy nie. As die son nog skyn, kan jy maar vergeet om ’n storie uit haar te kry, sy maak nie haar mond oop nie. Juba het vir my gesê ek mag nie in die dag om uGogo kerm om vir my nog ’n storie oor Hlakanyana te vertel nie, want dan gaan ek horings op my kop kry. Stories is vir die aand.

      Juba het oor my kop gevoel en my gewys presies waar die horings gaan uitkom. “Hier, en hier,” het sy gesê en met twee vingers op my kop gedruk. Ek voel baie keer of daar nie dalk iets aan die uitkom is nie, soos by die skaaprammetjies, maar tot nou toe het dit nog nie gebeur nie.

      Ek weet ook nie of Juba sommer net so sê om my bang te maak nie. Ouma Willemien het óók al vir my gesê ek sal horings kry. Maar sy het gesê mens kry dit as jy lê en eet. Ek is nie lus vir horings op my kop nie, maak nie saak of dit van stories of van lê en eet kom nie.

      Teen vroegaand is al die kinders al by haar hut, maar uGogo wag eers tot dit goed donker is en haar vuur lekker brand voor sy begin stories vertel.

      “Kwesukasukela,” sê uGogo – lank, lank gelede. Dan weet ons dit gaan begin.

      “Cosu, cosu,” sê ons vir uGogo. Bietjie vir bietjie sal ons agter die storie kom.

      Maar dit vat altyd ’n rukkie vir uGogo om aan die gang te kom. Sy moet eers ’n bietjie van die vuur se as in haar tandvleise insmeer, of iemand moet vir haar ’n bietjie dikmelk bring om te drink. Dit help nie om haastig te word nie, eers as sy reg is, sal sy “Indaba” sê.

      “Soyipheka ngogozwana,” sê ons vir haar – ons hoor, ons luister.

      “Kwesukela. Kwakukhona …” sê uGogo en ons kruip almal nader. “Lank, lank gelede was daar ’n seuntjie …”

      “… en sy naam was Hlakanyana!” skree ons.

      UGogo hoor ons nie. “Hierdie seuntjie se naam was Hlakanyana,” fluister sy, “en vanaand vertel ek julle van sy geboorte.”

      Ons spits ons ore. Ons het al baie van hom gehoor, maar nog nie hoe hy gebore is nie.

      “Hlakanyana was net drie maande in sy ma se maag toe hy op ’n dag skree: ‘Ek wil nou uitkom, ek wil nou uitkom, ek wil gebore word!’”

      Ek was sewe maande, dink ek, toe skree ék ook: ek wil uitkom, ek wil gebore word. Miskien is dit waarom ek van al uGogo se stories die meeste van Hlakanyana s’n hou.

      “Hlakanyana se ma het vir hom gesê: ‘Thula umsindo, Hlakanyana, bly stil, dit is nog te vroeg, jy moet nog eers groei en sterk word’, maar hy het nie vir haar geluister nie, hy wou uitkom en die wêreld sien. Toe sy ma hom nie wil laat uitkom nie, het hy net daar ’n gat deur haar maag geëet en uitgekruip.”

      Ons wil ons doodlag. Ek ook, want ek weet hoe hy gevoel het. Ek weet nie of ek ’n gat deur my ma se maag geëet het nie, maar ek is ook te vroeg gebore. Ek en Hlakanyana is die twee slimste kinders in die hele wêreld. UGogo kan maar elke aand vir ons van Hlakanyana vertel, ek kry nooit genoeg van sy streke nie.

      “Hlakanyana het reguit na sy pa geloop en vir hom gesê: ‘Ek is honger, ek wil eet, slag vir my die vetste os in die kraal’, maar sy pa het vir hom gesê: ‘En wie is jy miskien, klein mannetjie?’ Toe lag Hlakanyana en sê: ‘Ek is jou seun!’ ‘Hawu, nee!’ het sy pa gesê. ‘My seun moet nog gebore word!’ ’Hê-hê-hê,’ het Hlakanyana gelag, ‘dan slag ek maar sélf drie osse.’ En toe maak hy die kraalhek oop, slag die drie vetste osse van sy pa, en eet hulle nét daar op.”

      “Nee!” sê ons voor die vuur. “Het sy pens nie gebars van al die vleis nie?”

      UGogo se blinde ogies glinster. “Hê-hê-hê …” lag sy. “Nie Hlakanyana s’n nie! Sy pa het groot geskrik toe hy sien wat sy kind doen, en die oudste manne van die kraal het geweet dat hy ’n groot en slim man was, al was hy nog ’n seuntjie.”

      “Gogo,” roep ek, “wat van Hlakanyana se ma? Het sy toe met ’n gat in haar maag rondgeloop?”

      UGogo het my nie gehoor nie. Haar een oog het toegeval, dit lyk asof sy regop sit en slaap.

      “Coyi, cosu, cosu. Iyaphela,” sê sy skielik. Nou’s die storie klaar.

      Agge néé ! Ek wil nog hoor, maar ek weet uGogo gaan nie nou meer verder vertel nie. Ek sit en wag vir die spoeg, en dit kom ook. UGogo maak ’n ghwel in haar mond bymekaar en spoeg dit reguit in die vuur in. Hlakanyana en sy pa en sy ma met die gat in haar maag verdwyn in die vuur, die storie is verby.

      Buite roep my pa na my. Hy weet waar ek is. Toe ek by die deur uitkruip, vat hy my hand en ons stap in die donker groothuis toe.

      “Wat het uGogo vanaand vertel?” vra hy.

      “Van Hlakanyana wat deur sy ma se maag geëet het en toe dadelik drie osse gaan opvreet het!”

      My pa glimlag. “Het sy al vertel van die keer toe Hlakanyana die mensvreter gevang het?”

      “Ken Pappa dan die storie?”

      “A ja a!” sê hy.

      Vir die eerste keer hoor ek dat my pa, toe hy ’n seuntjie was, óók in uGogo se hut gesit en luister het.

      6

      Ek kuier by ouma Willemien in die ouhuis. My ma en pa is vroegoggend al dorp toe. Ek wou nie saamgaan nie, dis te warm in die kar en ek word naar om die draaie. As ek op die plaas bly, kan ek doen wat ek wil sonder dat iemand my elke oomblik van die dag dophou. En ek hoef nie ’n rok aan te trek nie. Dis net jammer dat ek nie vandag saam met Bhubesi veld toe mag gaan nie. Oupa Lewies het gesê ons twee saam broei onheilsvoëls se eiers uit en hy kan ons nie heeltyd dophou nie, hy het werk om te doen. Dis jammer, want ons het juis in die rietbos so ’n lekker slap stam ontdek waarop ’n mens kan ry.

      Ek sit by ouma Willemien in die kombuis. Ouma Willemien knie brooddeeg in die enemmel-knieskottel met die rooi en blou rose op. Die deeg lyk soos ’n groot, sagte, vet pens. As Ouma diékant knie, dan peul die deeg aan die ander kant uit. Ek steek my vinger aan die kant van die deeg in. Dit sak so lekker weg daarin.

      “Is jou handjies skoon, Gideonette?” vra Ouma.

      “Natuurlik, Ouma!” sê ek vinnig. “Hulle is skitterskoon.” Ek haal my vinger uit en probeer terselfdertyd ’n stukkie deeg aftrek. ’n Klein stukkie breek af en ek steek dit in my mond. Lekker, so ’n bietjie suurderig. Ek steek my hande onder die tafel in en kyk of hulle skoon is. Nie heeltemal so skoon soos wat ek vir ouma Willemien gesê het nie, maar skoon genoeg vir my. My naels is ’n ander storie. Hulle is nie skitterskoon nie, hulle is smerigswart, nog vol van die potklei waarmee ek gespeel het.

      Langs ons op die tafel lê die Landbouweekblad waarin oupa Lewies gelees het. Op die voorblad is daar ’n baie mooi perd wat met sy maanhare in die wind galop. Ek maak die boek oop en blaai daardeur. Daar is baie prentjies met koeie en perde en drie volle bladsye met foto’s van hoenders. Nie een van die hoenders is so mooi soos Tannie Bettie nie, sy sal enige dag of nag eerste op die skou kom as hulle wil kyk wie se hoender die mooiste is. Sy is so mooi omdat sy net lekker


Скачать книгу