Blinde sambok. Riana Scheepers

Blinde sambok - Riana Scheepers


Скачать книгу
soos hy verstik aan die druiwekorrels in sy keel. Hy moet hard hoes om sy asem terug te kry. Toe gooi hy die leë takkie met die klomp nat puntjies waar die korrels uitgetrek is oor die stoepmuur. Hy tel my van sy skoot af en staan op. Skielik is hy baie groot, ek kom skaars tot by sy knie.

      “En - waar - leer - jy - dit?” vra hy kwaai.

      “By Faantjie.”

      Hy buk af en tel my op sy heup. Hy hoes nog ’n keer voor hy praat. “Daardie woord,” sê my pa, “is ’n baie, baie lelike woord. En my Poedingbekkie mag dit nié weer sê nie.”

      “Hoekom sê Faantjie dit dan?”

      “Dit beteken sommer niks,” sê my pa. “En Faantjie praat so omdat hy ’n seuntjie is; seuntjies sê partykeer woorde wat nie mooi is nie, maar dis baie stout. Jy, Gideonette, is nie ’n seuntjie nie, en jy is nie stout nie, of hoe?” Hy dra my by die huis in.

      “Fokol,” sê ek in my gedagtes terwyl ons ingaan.

      Ek sal altyd onthou dat my pa my geleer het van akkedis en koggelmanderklip. Nadat die vloek hom ook getref het, moes ek vir myself woorde maak. In die veld, waarheen ek gegaan het om alleen te wees, het ek al die woorde gesê wat hy vir my sou voorgesê het: donkerwaterlikkewaan, rooikleigatagteros, bliksem-uit-die-hemel.

      En ook: fokol.

      4

      Van al die kinders op Langverwacht is Bhubesi my beste maat. Ek weet nie hoekom nie, want Bhubesi is vet en stadig. Daar is ander maatjies ook, maar as ek weer sien, is dit maar weer ek en Bhubesi wat saamspeel. My pa het kort-kort gebrom dat ek liewer met die ander dogtertjies op die plaas moet speel, maar ek wou nie met hulle speel nie.

      Ek moet altyd vir Bhubesi wag as ons hardloop. As ons in die veld is, loop ek partykeer sommer vooruit en sit op ’n miershoop vir hom en wag om in te haal. As hy loop, is dit so ’n stadige skommel-skommel, maar hy kom. Ek weet hy kan ook vinnig wees as dit moet, want ons moes al baie keer hol dat dit bars om deur die doringdraadheining te duik om weg te kom van ou Tool. Ou Tool verdra niemand in sy kamp nie. Maar ek sal hom nog gewoond maak aan my. Dis my plaas en my bul, en hy sal dit maar net moet leer.

      Miskien is dit omdat ons omtrent ewe oud is dat Bhubesi my beste maat is. Toe ek op die plaas aangekom het, wás hy al daar. Hy het in ’n karos agter op Juba se rug gery, die hele dag lank. Ek wou ook daar ry, maar niemand wou na my luister nie. Ek het eendag net geskree en geskree om dit vir hulle te laat weet. My ma het my opgetel en met my buitentoe geloop. Sy het vir my die wolke gewys, en kappertjies, selfs ’n groot, groen bidsprinkaan, maar dit het my geskree nie laat ophou nie. My pa het my opgetel en in die lug bokant sy kop rondgeskud. Dit was lekker om so hoog te wees, maar toe hy my neersit, het ek weer begin skree.

      “Wat wil die kind hê?” het my ma radeloos gevra.

      As hulle maar net na my wou luister, sou hulle gou genoeg geweet het.

      Ouma Willemien het probeer om vir my rooi stroop met ’n lepel in te gee, maar ek het net my bek getrek en die taai goed teen my wang laat afloop. Oupa Lewies het my ’n rukkie op sy knie laat perdry, en dit het my wel stilgemaak. Maar net vir ’n rukkie. Hy kon my net op sy een knie laat ry, want die ander een was te seer van die jig. Toe sy knie moeg raak en ek weer begin, het hy net gesê, nee, jinning, nou kan hy dit nie meer hou nie, hierdie kind is hom een oor. Hy het my vir my ma gegee en met die laning af geloop ouhuis toe waar hy op sy katel met die groot bulsak gaan lê het. Ek het weer begin skree.

      Juba het my só staan en kyk, die karos agter haar rug losgeknoop en vir Bhubesi afgetel. Hy het soet op die kombers op die klipvloer gaan sit en my pop met die pienk lyf in sy mond gedruk.

      Hy kan gerus maar daardie pienk pop opeet, het ek gedink, want ek hou niks van daardie ding nie. Ek hou nie van een van die poppe wat die mense vir my aangedra het nie. Die groen krokodil wat ek by oupa Lewies gekry het, was die mooiste ding op die kombers, dit moes hy uitlos, ek sal niks daarvan hou as hy my krokodil se stert afbyt nie.

      Juba het my opgetel en met een beweging van haar heup tot op haar rug geswaai en toe vasgebind. Dit was heerlik. Ek het daar gelê met my beentjies om haar lyf en my kop teen haar rug. Ek kon vir Juba ruik, haar vel wat met Vaseline ingesmeer is, ek kon vir Bhubesi ruik. Ek kon ook hulle hut waar die vuur in die aand aangesteek word teen haar rug en in die karos ruik. Juba het vir my begin sing. Niemand kan mooier as Juba sing nie, en ek het alles verstaan wat sy vir my sing.

      “As jy nie nou dadelik jou bek hou nie,” het sy soet gesing in haar eie taal, “gooi ek jou vir die Tokkelossie om op te vreet. Daar sal net ’n paar kaal ribbebeentjies van jou oorbly … Mmhhm, mmhhmm …” het sy geneurie.

      Ek was tjoepstil.

      Van toe af het ek omtrent net so baie soos Bhubesi op Juba se rug gesit. Ná ’n ruk het Bhubesi te groot geraak vir abba. Maar ek met my sprinkaanlyf kon nog lekker lank daar ry.

      My pa het op ’n dag sy stem dik gemaak en vir my ma gesê dis nie ’n goeie ding dat ek en Bhubesi altyd bymekaar is nie, volgens hom het ons te wilde goed aangevang. Dit was net nadat hy gesien het hoe ons probeer om met die fiets oor mekaar te ry. Ons het ’n plank in die skuur gaan haal en die een punt op ’n klomp bakstene gesit. Lekker hoog. Ons het beurte gemaak om met my fiets by die plank op te ry en dan deur die lug te vlieg, soos ons op televisie gesien het die mense maak.

      Ons het al twee ’n paar keer geval, maar toe kom ons agter wat die triek is. Jy moet vrek vinnig by die plank opry, dan kom jy bo uit.

      Toe ons dit mooi reggekry het, het ek vir Bhubesi gesê hy moet onder die plank gaan lê dat ek met die fiets oor hom kan spring. Hy wou eers nie, maar toe ek vir hom sê die mense op televisie doen dit so, het hy gaan lê.

      Die eerste keer toe ons dit doen, ry ek per ongeluk skeef en ek val met fiets en al van die plank af bo-op Bhubesi. Hy het soos ’n maer vark geskree, maar hy het nie seergekry nie, ek weet.

      Hy wou toe hê ek moet ook gaan lê sodat hy op mý kan val, maar ek wou nie. En dis toe dat my pa daar aangekom het.

      Dit was die einde van ons plank en die fiets. Vir ’n ruk, want later het ons dit weer gedoen, en toe het ons dit al twee goed reggekry. Bhubesi het eerste op die grond gelê en ek het bo-oor hom gevlieg. En toe het ek ook gaan lê, en dit was amper-amper of hy was op my, maar hy het dit darem reggekry.

      “Kan daar nie ’n slag ’n dogtertjie saam met Gideonette speel nie?” het my pa gevra.

      Toe het my ma vir Ntombi laat kom. Ntombi was omtrent twee jaar ouer as ek, maar dit was sommer ’n goor besigheid, daai. Ntombi wou die hele dag net in die huis sit en my poppe aan- en uittrek. Ek kon dit nie verduur nie. ’n Mens kon ook nie met haar praat nie. As jy iets vir haar sê, het sy net vir jou met groot oë teruggekyk maar nie gepraat nie. Ek en Bhubesi kon lekker baklei, ons het vir mekaar gesê net wat ons wil, maar Ntombi, sy was niks.

      Dit was eers baie later, toe ons al groot was, dat sy my langs die rivier geleer het hoe om met vyf rietjies ’n armbandjie te vleg. Dis nie soos gewone vleg nie, dis baie, baie moeiliker, en die rietjies is glad en glyerig onder jou vingers, maar Ntombi het hulle sommer tjoef-tjaf aan hulle puntjies vasgevat en saamgevleg in ’n gladde armbandjie. As sy klaar gevleg het, was daar nie ’n los puntjie nie, elke rietjie was netjies ingevou. Teen die tyd dat sy die armbandjie oor haar pols of enkel getrek het, het ek nog gesukkel en halfpad een van die rietjies verloor. Terwyl sy met stringe bandjies om haar polse en enkels geloop het, in al die kleure van die waterriet, groen en rooi en geel en bruin, het ek net twee gehad: een vir my pols en een vir my enkel. En hulle was nie eens baie mooi nie.

      Maar Ntombi kon nie hardloop nie en sy kon ook nie boomklim nie. En sy was te bang om op haar jis in die kleisloot af te gly om potklei te grawe vir klei-osse. Ek kon nie ’n simpel armband vleg nie, maar ek kon ’n klei-os maak. Ek kon hom maak met ’n skof en weglêhorings en neusgate wat oopsper, net soos ek gesien het ou Tool, die Jerseybul, maak voor hy jou stormloop. Ek is doodseker Ntombi sou nie die heining gehaal het as ou Tool haar gejaag het nie.

      Ek en Bhubesi kón.

      Die eerste


Скачать книгу