Dubbeldoor. Abraham H. de Vries

Dubbeldoor - Abraham H. de Vries


Скачать книгу

      

      Abraham H. de Vries

      DUBBELDOOR

      Tafelberg

      Opgedra aan

      Hennie en Heleen;

      Guusje en Pieter

      Die moeder

      Daar staan ’n enkelbed in haar kamer. Oor die onderste styl hang ’n handdoek. In die een hoek slaap ’n groot stinkhoutkas en naby die deur staan ’n wastafel. Bo teen die dak lê die balke swart onder die riete, trek teen haar halfgeslote ooglede vreemde figure wat voortdurend wissel. Op die tafel voor die venster teken ’n inkpot en boeke swart skaduwees teen die ligter nag tussen die venster en die moerbeiboom.

      Gusta ken al die dinge. Daar is niks wat vreemd is nie. Alles is daar so lank al dat dit ingeburger geraak het. En tog, terwyl sy nie kán slaap nie, is die donker onrustig, asof die dinge na mekaar toe beweeg, om haar insirkel.

      Ek verbeel my dit, dink sy. Elke nag. Dis omdat dit so bedompig is. Die dak is laag. As dit lig word, staan elke ding op sy plek. Soos dit was.

      Sy steek die kers aan. Toe die vuurhoutjie vlam, is dit asof sy beter voel. Sy moes ’n ruk ingesluimer het. Die koffiewater in die ketel is nog genoeg; dit val sissend op die vlammetjie wat sy aansteek. Sy gaan eenkant op die bed sit.

      Jan hou wag, maar miskien raak hy aan die slaap. Sy sal gaan kyk, dink sy, staan op en maak die deur oop. Van voor haar voete af tot by die agterdeur van die groot Kaaps-Hollandse huis sestig tree verder is die kalkwerf al ’n blink voetpad getrap. Na Sara toe, terug; na Sara toe, terug … Agter haar op die stoel voor die bed tik die wekker eentonig.

      Wag … wag … En waarvoor? Dat Sara se einde moet kom? Op iets meer wat sy nie by name kan noem nie? Dan draai sy om.

      Sy steek ’n sigaret by die kers aan en blaai deur die oefenboek waarin sy gisteraand gesit en skryf het:

      En Wakkie loop deur die bos waar dit donker is. Hy stamp sy voet teen ’n klip en gaan sit onder die moerbeiboom. Maar die moerbeiboom sê: “Aanstap, Wakkie, aanstap.” Later is hy so moeg dat hy op ’n klip gaan sit. Maar die klip krap teen sy bene en sê …

      Iemand klop. Jan kom in. Hy gaan sit op die kant van die bed. Sy boordjie is los en sy wit das hang los om sy nek. “Sy slaap rustig,” sê hy. “Pa is by haar.” Dan leun hy terug. “Ek weet nie of ek môre moet gaan en of ek moet bly nie. As ek bly, sal ek weer Du Preez moet vra om die diens Sondag waar te neem. Ek het al soveel van hom gebruik gemaak vandat Ma siek is. Wat dink jy?”

      “Besluit maar self, Jan. Ek het al vanaand moeilikheid gehad om Pa hier te hou. Hy wou met alle geweld na die politieke vergadering toe gaan,” antwoord Gusta.

      “Hoekom slaap jy nie?” vra hy en tel die boek op.

      “Ek hét ingesluimer.” Sy sien dat hy lees, voel vaagweg die opstand in haar groter word. “Moenie lees nie,” sê sy. “Sara is nog al wat dit verstaan. Sy is in die laaste tyd niks meer as ’n kind nie. Ek lees vir haar die stories om die tyd om te kry.”

      Jan sit die boek neer en gaan skuins oor die bed lê. “Jy kan nie so aangaan nie, Sus,” sê hy. “Ek het die ander dag vir Maureen gesê ek weet nie wat van jou gaan word as Ma die dag nie meer daar is nie.” Hy wou meer gesê het, maar bedink homself.

      “Julle ken Sara nie soos ek haar ken nie en daarom verstaan julle nie wat ek doen nie.” Sy stoot haar vingers deur haar kort hare. “Ek weet dit self nie eens meer nie. Laat my met rus.”

      Hy bly stil.

      Waarom?

      Verbeel sy haar dit of het daar in die laaste tyd iets in Jan verander? Sy stilte maak haar opstandig. “Jy kan nie gaan nie, Jan,” sê sy. “Jy sal Du Preez maar weer moet vra.” Toe sy dit klaar gesê het, weet sy nie waarom sy dit gedoen het nie.

      “Jy kan ons nie almal hier vasbind nie,” sê hy. “Wat is die nut daarvan?”

      “Waarom vra jy dan as jy al klaar besluit het?” vra sy skielik bitsig.

      Hy vat een van die sigarette en soek na sy vuurhoutjies. “Daar staan die kers by jou,” sê sy. Sy staan by die venster. Druk met haar hand teen die muur. “Dis presies wat ek wil doen, ja. Vir jou en vir Pa, vir julle almal,” sê sy. “Anders wie? As júlle gaan.”

      Hy antwoord haar nie, trek diep aan die sigaret en blaas die rook deur die kersvlam. “Laat ons nie weer begin stry nie,” sê hy na ’n ruk.

      “Nee, Jan, ons sal nie stry nie. Daar is niks om oor te stry nie. Van kleinstyd af lewe jy jou lewe en ek myne. Soos twee waterslote langs mekaar. Nou met Sara se siekte kom ons dit net meer agter. Ons is weer saam hier soos wat ons hier opgegroei het. Daar is nie wegvlugkans nie. Julle verstáán nie …”

      “Wat nie?” vra hy. “Sara is my ma ook. Jy vergeet dit partymaal. Jy spook jou moeg, Sus. Dis nie net Sara se siekte nie en jy weet dit goed.”

      “Nee, natuurlik is dit nie. Dis die een of ander mag bo ons, of wat ook al wat dit so bewerkstellig. Alles so bewerkstellig. My. Jou. Pa. Ons het daar niks aan te doen of niks teen te sê nie. Die enigste wat ons kan doen, is om die kar te vat en hier weg te ry. Jy sê aanhoudend en om van mal te raak ek spook my moeg. Jy het moeg begin. Daarom. Bly hier. Nou. Dis al wat ek vra. Miskien pleeg daar dan daarna nie weer een van jou gemeente selfmoord nadat hy by jou raad gesoek het nie.”

      Sy is jammer toe sy dít gesê het. En opstandig teen haar eie jammerte teenoor hom. Sy wil die dop óm hom afbreek. Laat hom as méns voor haar staan. As haar broer. Nie as predikant nie. As méns.

      Hy het bleker geword.

      “Dis nie iets waaraan ons iets kan doen nie. Dis Godswerk. Ek het gedoen wat ek kon. Ek het baie gebid. En my manier van bid verskil nie veel van jou manier van stories vertel nie. Mens word daardeur gesuiwer,” sê hy. Teen sy slaap begin daar ’n aartjie te spring. Hy vervat die sigaret.

      Sy skink koffie in, praat nie verder nie.

      Iemand klop weer aan die deur. Sy maak oop. “Jy het my laat skrik, Klaas,” sê sy. “Ons verwag maar enige oomblik … maar kom in.”

      “Ek het opgestaan om die bok uit te melk wat vanaand gelam het,” sê Klaas, “en toe het ek gesien … o, naand, dominee.” Klaas haal sy werkshoed af. “Toe het ek gesien hier’s lig. Toe het ek gedink ek bring maar bietjie van die bies. Dis al skoon.” Hy verskuif die pyp in sy mond.

      “Hier’s nog koffie,” sê Gusta. “Ek skink vir jou. Hoe gaan dit met Raaia?”

      “Ag, so-aan, so-aan. Mens mag nie kla nie, en ons bid baie,” sê Klaas en Gusta sien dat hy na Jan kyk. “Die rumatiek en die akkelpienies, jy weet mos hoe dit met ’n oumens gaan. Nadat jy vanmiddag daar gewees het, het sy sommer beter gevoel.

      “Maar jy moet die bokooi sien, Gusta. Ek sê vir jou, vannag toe ek daar by haar kom, toe sleep die uier óp die grond. En dit is so benoud.”

      Hy gooi sy koffie in die piering. “Ek het mos al so die gehamer in my kop,” sê hy. “Ja – jy kan lag, maar dis vreeslik. Al wat daarvoor help, is ek moet iets doen. Dis daaroor wat ek nou die ooi loop uitmelk het. Ook maar goed. Die spene sal seer kry van die slepery.”

      Hy drink die koffie in drie pierings leeg. Dan lag hy by die pypsteel verby. “Oupatjie wou haar al die ander dag voor sy gelam het by my gekoop het,” sê hy, “maar toe sê ek vir hom hy kan liewer vir Raaia kry as daardie bok van my. Ja, jy lag Gusta, en dominee, jy moet ook nou nie sommer te gou wees met jou gedagtes nie, maar Oupatjie is mos so vreeslik beenaf op Raaia. Aaag, voor sy vrou nog dood is. Ons kyk mos maar almal so in die rondte om vir weiding voor die kamp helemaal klaargevreet is!” Hy lag dat daar honderde kreukels oor sy wange loop. “Sy was daarby! Jy moes haar gehoor het. Ek kan dit nou net nie hier voor dominee sê nie, maar jy moes dit gehoor het! En Oupatjie met sy Sondagsgesig, hy wil my mos toe vra of ék nou dink hy verwens my die rooirantjies deur. Hy kan mos nie ’n grap vat nie.” Hy sit weer sy hoed op. “Laat maar weet as daar iets is wat ons kan doen,” sê hy met die uitstap. “Ons slaap maar so onder die horlosie se tik en bo-op die komberse.”

      Gusta


Скачать книгу