Vatmaar. AHM Scholtz

Vatmaar - AHM Scholtz


Скачать книгу

      Flippus, daai oom van my kon my nooit weer in die gesig kyk nie en hy het opgehou om vir my ’n lekker dingetjie te gee om te eet. Mense het my daai-mal-meid begin noem en my ma het gesê sy moes my klein doodgelê het.

      So, toe hierdie mense – en sy wys na die pandok van die Steenkamps – deur Daniëlskuil kom nadat hulle by een van hulle se familie gaan kuier het en met my ma praat, het my ma gesê: Vat haar en maak haar mens.

      Die witmense het gesê hulle is van Barkly-Wes se delwerye, maar hulle is op pad na die Bakerville-delwerye naby Lichtenburg. Hulle was op soek na ’n huismeid. Hulle het my ma tien sjielings gegee – die enigste geld wat hulle ooit vir my werk gebetaal het.

      Dit was drie jaar terug, Flippus. Sus Bet het voor haar uitgekyk maar nie gesien nie. Haar gedagtes was leeg. Die leegheid het te veel vir haar geword en sy het weer begin huil. Toe hou sy op en sê vir haarself: Ek moet sterk wees, ek is alleen.

      Jy is nie, sê Oom Flip, dit is ons twee en die Here.

      Sien jy dié rok, Flippus? Dit is my derde rok, sê sy en trek aan die sismateriaal. Die eerste een het my oom se dogter vir my gegooi voorlat ek saam met hierdie witmense daar weg is – en sy het weer na die Steenkamps se pandok gewys. Sy het gesê: Vat, jou heks, en maak jou gat toe.

      Toe ek weg is, het niemand eers vir my gesê loop mooi nie, Flippus. My hele familie het net daar gestaan en die witmense gegroet asof hulle hulle ken. Na my het hulle gekyk asof ek een van ’n werpsel kleinhondjies was wat vir ’n nuwe baas gegee word. Ek het nie eers my eie bondeltjie gehad nie, Flippus, net die rok met die haat van my mense daarop.

      Sy het haar trane afgevee. Oom Flip het sy hand op haar bobeen gesit. Ek werk verniet en jy werk verniet, ons kos is wat afval van die baas se tafel, het hy met blink oë gesê.

      Flippus, het Sus Bet gesê en haar vinger in haar mond gedruk en dit uitgetrek sodat dit ’n suiggeluid maak, soos haar mense maak as hulle sweer: Ons twee gaan dit regmaak.

      Sy het sonder ’n verdere woord opgestaan en weggeloop.

      Die volgende Sondag het lank gevat om te kom, want altwee hulle harte, die harte van die nederigste knegte maar tog in staat tot innige liefde, was onder daardie boom.

      Maar Sondagmiddag het tog gekom en die een was so gretig soos die ander om onder die boom te kom so gou hulle werk klaar was. Dié keer het Sus Bet vir Oom Flip onder die boom gekry. Dag, Bet, het hy gesê en opgestaan en na die klip gewys: Sit.

      Haar enigste rok is gewas, het hy gesien, en dit was die eerste keer wat hy haar met ’n kopdoek gesien het. Jy lyk mooi in die doek, het hy gesê.

      Siesie Lena het dit vir my gegee.

      Wie is Siesie Lena? wou Oom Flip weet.

      Sy is een van onse mense, maar van Postmasburg af. Sy werk vir Mister Goodall, ’n Engelsman, die kleim naaste aan die pad. Sy het my kom sien toe ek siek was en sy het medisyne gaan haal wat my gehelp het. Sy het vir my gesê: Hierdie plek waar hulle na dinge soek wat hulle nie eers weet waar dit is nie, is godverlore. Hier is nie ’n kruiebossie te vind nie. Siesie Lena het die bottel medisyne in die doek toegedraai gebring en toe sy loop, het sy gesê ek moet die medisyne en die doek hou. So nou kan ek my kop soos ’n vrou toemaak.

      Flippus, Siesie Lena is die enigste vriend wat ek in my lewe het – en Sus Bet het na die grond gekyk. Voorlat jy hier na Bakerville toe gekom het, het ek altyd na haar toe gegaan. Dis Siesie Lena wat my geleer het wat ’n Griekwa-vrou moet weet. Sy het my vertel wat om te doen as ’n kind gebore word en wanneer die lewe ’n liggaam verlaat het. Sy het my geleer hoe om khadie te maak en waar om na die wortel te soek. Dit is sy wat vir my gesê het: Dit is die geheim, daai wortel, en ook: As jy kan khadie maak, sal jy nooit sonder tiekies wees nie.

      Siesie Lena het my alles van kruiebossies vertel, hoe hulle lyk en waarvoor ’n mens hulle kan verbruik. Sy het gesê ek sal weet as ek hulle sien omdat alle Griekwa-vrouens daai gawe het. Dit en baie ander goed het sy my geleer. Siesie Lena, Flippus, is my moeder wat deur God gestuur is.

      Ek wil haar ook Siesie Lena noem, het Oom Flip saggies en in jaloesie gesê, want hy wou ook een van hulle wees.

      Sus Bet vertel toe dat Siesie Lena oor die sambokmerke wou weet. Ek het hulle probeer wegsteek, maar sy is ’n grootvrou en sy het gesê: En dié houe, my kind? Toe het ek haar maar vertel.

      En wat het Siesie Lena toe gesê?

      Sy het gesê: Dit is beter so, my kind. Dis goed jy het nie ingegee vir daai Steenkamp nie, die vuilgat. Elke hond kry sy dag.

      Siesie Lena se seunskind werk ook vir Mister Goodall. Sy naam is Janman en hy is omtrent jou jare, Flippus. Sy vrou en kinders is in Postmasburg. Ek het vir Siesie Lena van jou vertel en sy het gesê jy het haar water en nog kleingeld ook gegee sonder dat sy jou gebetaal het, het Bet gelag.

      Sy sal nooit weer vir water betaal nie, het Oom Flip gesê. Nie as ek alleen op die kar is nie.

      Flippus, Siesie Lena het gevra ek moet haar oor jou vertel.

      Wat wou Siesie Lena oor my weet?

      Niks. Sy het my net gevra om weer te vertel wat jy gesê het van jou werk met die diamantgruis. Toe het sy gesê: Ons gaan hom gebruik om hier uit te kom – en haar vinger op haar mond gesit om te wys dat dit ’n geheim is. Toe het Siesie in my oor gefluister: Hou jou bek, ek moet eers met Janman praat. Toe’t sy omgedraai en gesê: Naand, my kind.

      Siesie Lena se plan met die blink klippies

      Siesie Lena het toe met Janman gepraat en hy het gesê hulle moet baie versigtig wees, hulle moenie in die geselskap van hierdie man Flippus gesien word nie.

      As die Boere ’n eerlike kaffir het, veral nog een wat by hulle grootgeword het en wat hulle kan vertrou, hou hulle altyd dop dat hy nie met ons slim hotnots te doen kry nie. En hulle sorg dat hy nie agterkom dat ’n kaffir altyd vir hulle wittes ’n kaffir bly nie, het Janman vir haar gesê.

      Teen dié tyd het Siesie Lena geweet van Sus Bet en Oom Flip se vryplek onder die doringboom. Die mense het ook geweet dat Mies Mollie die Steenkamps se skoondogter gaan word en dat haar pa se kaffir opsit by die Steenkamps se meid.

      Môre, Maandag, het Siesie Lena gedink, sal ek iets vir Bet neem en vir haar vra om saam met my te stap as ek teruggaan na Goodall se pandok.

      Janman het vir haar gesê: My Ma, die groot ding is dat Bet hom moet vra of hy al diamante op die sorteertafel sien rondlê het, en of hy vir sy baas sê as hy hulle sien, en ook waar is sy baas as hy die diamantgruis op die tafel gooi. Ons sal stukkie vir stukkie moet beweeg, my Ma. Dis baie gevaarlik. Ons moet rêrig onse beste doen om hulle terug te betaal. Hierdie witmense dink meer van hulle se honde as van ons.

      Dié Sondag was Oom Flip voor Sus Bet onder die boom. Waar bly sy so lank? het hy sit en dink. Dit was die eerste keer in sy lewe dat tyd vir hom begin saak maak het. Toe kom Bet en teen dié tyd was hy al gewoond om van die klip af op te staan vir haar om op te sit.

      Maar dié keer het hy sy baadjie uitgetrek en oor die klip gegooi. Sy het daarvan gehou want dit het haar lekker laat voel, net soos ’n witvrou, het sy gedink. Sy het Oom Flip laat praat. Die meeste van sy woorde het by haar een oor in en by die ander oor uitgegaan.

      Uiteindelik sê sy: Flippus, vertel bietjie vir my hoe sit jy die diamantgruis op die tafel?

      Hy het haar vertel dat dit hy is wat die kombuistafel vat en naby die dommie neersit. As hy die dommie draai en daar is genoeg gruis in, skep hy dit in die kombuisskottel en gooi dit op die tafel oop. Dan as die baas nie daar is nie, kyk ek of daar enige klippe bo-op lê, het Oom Flip gesê.

      Hoe weet jy dis die regte klip, Flippus?

      Die baas het my geleer en partykeer as hy klaar gekyk het, sê hy vir my: Kyk jy, my Kaffir. Ek het al klippers gekry want hy is oud en kan nie so goed soos ek sien nie.

      En die ander twee volk? wou Sus Bet weet.

      O hulle! Die baas het my gesê om hulle dop te hou en nie met hulle


Скачать книгу