Vatmaar. AHM Scholtz

Vatmaar - AHM Scholtz


Скачать книгу
Basoetoe vir my my naam gevra en ek het gesê: Pelo.

      Baas, hy sê sy naam is Pelo, het die agterloper gesê.

      Die man met die baard het na my gekyk. Nee, sy naam is Filippus, sy naam moet uit die Bybel kom, sê hy toe. Dit is wat die agterloper agterna vir my in Basoetoe vertel het, maar die baas het my amper nooit so genoem nie.

      Die baas het soggens vroeg en saans voor donker in ’n dik, stywe, swart boek gekyk. Sondae het ons uitgespan en gerus. By die uitspanning was daar altyd ander mense en die baas het met hulle gepraat en ek kon sien hulle praat uit hierdie swart boek uit wat hulle ’n Bybel genoem het. Lank daarna het ek die agterloper gevra wat die Bybel is. Hy het gesê maar ek het nie verstaan nie. Teen dié tyd het ek die agterloper dieselfde genoem as wat die baas hom genoem het – Neels – maar hy het gesê hy is Oom Neels. Daar was nog ’n man, Saulus, die voorleier. Maar die baas het hom Paulus genoem omdat hy gesê het die name in die Bybel is ook so verander. Oom Neels het dit ook vir my verduidelik.

      Daardie eerste aand weg van my Ra en Mme af het ek my eerste roosterkoek geëet. Ons het ’n vrag meel gehad wat moes Vrystaat toe, soos hulle gesê het. Die mans het met die voorvinger ’n gat in elke sak geboor en elke keer ’n koppie meel daar uitgehaal, totdat daar genoeg in die bak was. Hulle het gelag as hulle dit doen. Ek het nie geweet hoekom nie en maar saamgelag. Hulle het daarvan gehou.

      Daardie eerste nag het ek gehuil en gehuil want dit was koud onder die wa. Ek het net my stertriem aangehad. Hulle het geskree: Bly stil, Kaffirtjie. Bly stil, Kaffirtjie! Ek het nie geweet wat beteken kaffirtjie nie. Later het hulle my gebewe en gehuil gehoor want ek kon nie my tande stilhou nie. Teen dagbreek het Oom Neels ’n mudsak onder hom uitgehaal en dit vir my gegooi.

      Hoe verder ons gery het, hoe meer het ek na my pa en my ma en my suster Roba verlang en van hulle gedroom. Die enigste iets wat my gedagtes van my huis afgetrek het, was slaap en werk, en Oom Neels het gesorg dat ek genoeg daarvan kry. Ook die snaakse woorde wat ek moes leer.

      Die eerste woorde wat ek geleer het, was: Was die skottelgoed. Daarna het hulle my geleer: Maak koffie. Ek het graag suiker gesteel. Ek het gewoontlik die oorskietkos gekry. Ek wou die hele tyd my Ra en Mme hê, maar een ding darem, my maag was nooit leeg nie.

      Ek was daardie tyd baie jonk, eintlik nog maar ’n piekanien. My eerste lewensles was dat slaap die verlange na jou ma en pa kan wegvat. Dwarsdeur daardie winter het ek gereeld snags wakker geword en gehuil totdat ek weer aan die slaap raak. Die meeste nagte kon ek nie my Ra, Mme en vir Roba in my drome kry nie. Oom Neels het deur alles geslaap tot die dag gebreek het.

      Een uitspanning was naby ’n dam. Die wind het oor die dam gewaai en dit was baie koud. Oom Neels, die een wat vir my gesê het wat om te doen omdat hy my Ra se taal gepraat het, het my later aangesê om agter sy rug in te kruip. Die volgende oggend het hy vir my gesê ek is sy mosimane, sy seun. Toe het ek nie meer so baie alleen gevoel nie.

      Daar was altyd iets om te was en waterkanne wat volgemaak moes word. Hulle het seker gemaak dat ek besig was wanneer ons uitspan. Hulle het geweet ek sou nie so dom wees om alleen die pad terug huis toe te vat nie. Die baas het gesê: Die kaffirtjie sal bly want hy het vrywillig gekom.

      Ek kon nie wag dat daar weer ingespan word nie want dan kon ek op die wa spring en in die mudsak kruip en die slaap inhaal wat ek in die nag verloor het.

      Op ’n dag het ons uitgespan naby die plek waar die meel afgelaai moes word. Net toe dit begin lig word, sien ons springbokke naby die wa wei. Saulus, die voorleier, het na die baas toe gekruip, want ons moes voor onder die klein wieletjies slaap. Die baas het agter onder die groot wiele geslaap, met allerhande goed tussen hom en ons.

      Oom Paul het vir die baas die springbokke gewys. Hy het opgestaan met die geweer wat by hom in ’n sak was. En kwa! kwa! daar lê twee springbokke. Ek het dit alles gesien want dit was nou my nuwe werk om voor enigiets anders soggens eers brandhout bymekaar te maak. Dit was dan nog koud, maar Oom Neels het my ’n dikgelapte hemp gegee wat my tot by my voete toegemaak het.

      Niemand sal verstaan hoe dankbaar en trots ek op daardie hemp was nie, het Oom Flip gesê, my eerste besitting in die wêreld.

      Die baas het gesê: Kry julle die bokke en slag hulle af. Ek sal die Martini skoonmaak. Daarna het ek alle skietgoed Martini’s genoem.

      Ek het nog nooit soveel vleis in my lewe geëet soos daardie oggend nie en dit was die eerste keer dat ek lewer geëet het, want by ons huis was lewer grootmenskos.

      Daar was altyd iets om my gedagtes besig te hou, altyd ’n nuwe ding om te leer. Eers kon ek nie verstaan waarom die klein wieletjies voor die wa bly en hoekom die groot wiele hulle nie verbygaan nie. Of hoekom die Martini so ’n lawaai maak nie. Of hoekom soveel witmense se naam Baas is nie.

      Eenkeer het die baas my geroep. Hy het my Filippus genoem. Ek het nie gehoor nie want hy het tot daardie dag altyd Kaffirtjie geskree. Skierlik staan hy op en dit was die eerste keer in my lewe dat ek ’n groot man kwaad gesien het. Ek het na hom gekyk en weggespring en om die wa gehardloop want ek was bang. Hy het van sy opvou-riempiestoel af opgestaan, ’n stuk vuurmaakhout opgetel, my gevang en my hemp agter opgelig. Hy het my ’n drag slae gegee wat ek vandag nog onthou en ook nooit sal vergeet nie.

      Dit was my eerste pak slae, het Oom Flip gesê.

      Ons het uiteindelik by ’n groot sinkhuis aangekom met ’n dak op pale voor. Ons het die sakke meel afgelaai. Toe het ons al die droë, gespalkte velle wat kon opgaan, opgelaai en hulle met rieme vasgemaak. Ons moes toe ook nog plek maak vir ’n paar houtkiste wat ons baie stadig moes neersit omdat daar iets in was wat kon breek.

      Die baas het die plek die Jood se Winkel genoem. Hy het vir Oom Neels en Oom Paul gesê: Ek gaan nou bad. Trek die osse vorentoe. Dan kom julle twee hiernatoe vir julle geld, die Jood se kaffir sal agter die wa kyk. En Neels, sê vir hom hy moet sy oë oophou en die Jood se kaffir dophou – en hy wys na my.

      Ek het natuurlik so gemaak want ek wou nie weer ’n pak slae hê nie.

      By die volgende uitspanning het die baas vir Oom Neels gesê: Bring vir my een van die kiste.

      Hy het op sy riempiestoel gesit.

      En jy, Paul, bring die klouhamer, het hy bygelas.

      Toe maak hy die kis baie versigtig oop en haal ’n bottel geel water uit. Oom Neels het my later vertel dit word brandewyn genoem. Die baas het die kurkprop baie stadig uitgehaal. Ek kon nie verstaan hoekom hy so versigtig is nie. Toe hy die prop uit het, lag hy en sê: Bring julle bekers, diewe eerste.

      Ons het die helfte van die bottel uitgedrink en die res teruggesit in die kis vir die volgende uitspanning.

      By die volgende uitspanning was daar een van die baas se vriende. Hy het die halwe bottel uitgehaal maar niks vir Oom Neels en Oom Paul gegee nie en hulle het die hele nag gebrom. Toe die bottel leeg en sy vriend al weg was, het die baas die hamer gevat en die bottel stukkend gekap. Die stukke het hy in die houtkis teruggesit en dit weer toegespyker.

      Ek het jare later eers besef dat hulle die meel en brandewyn gesteel het, het Oom Flip gesê.

      Die Jood het die baas Miester Swartz genoem. Nou sien julle waar ek my naam vandaan gekry het. Ek is deur en deur Filippus Swartz.

      Oom Flip het ’n boepens gehad. Hy was aan die kort kant, maar nie baie erg nie, met ’n ronde agterstewe wat beweeg het as hy loop. Hy het ’n bles reg agter op sy kop gehad. Die grootmense het dit ’n wegholhou genoem. Hulle het gesê hy het met ’n bakleiery weggehol en toe word hy met ’n klip van agter af raakgegooi en dit het die merk gemaak. Hy het ’n ronde gesig gehad, altyd skoongeskeer met soos hy gesê het, sy eie Duitse skeermes. Een van sy voortande het makeer en as hy gelag het, kon ’n mens die poort tussen sy tande sien.

      Oom Flip was onse enigste transport tussen Vatmaar en Du Toitspan. Sy trollie was altyd gelaai, of hy nou vertrek of teruggekom het. Hy het nooit reguit vir ’n passasier of vir ’n vrag geld gevra nie, net na die lisensieplaat wat met twee spykers aan die kant van sy bankie vasgekap was, gewys en gesê: Julle sien my transportlisens is twee sjielings ’n jaar. Ek moet dit op tyd betaal. Ek kan nie in die kantoor in die Pan


Скачать книгу