Rian. Rian van Heerden
het om oor masturbasie te praat. Dit was een woord wat nie een van ons tot in daardie stadium op radio gehoor het nie en ons was nie seker of hulle die sender sou kom afsit as ons dit durf noem nie. Toe breek ons dit maar op in lettergrepe! Ons het ’n derde DJ (Die Man met die Pyp) in die ateljee ingebring sonder om hom volledig in te lig oor wat ons beplan om te doen.
En toe trek Witblitz weg: “Vanaand chat ons bietjie oor Mas-.” Ek het volgende ingespring met: “-Tur.” Ons het bloot na die Man met die Pyp gestaar, wat toe fronsend byvoeg: “-Basie?”
Ai, het ons pret gehad!
Tot een aand toe ons oor konserwatiewe dominees begin gesels. Ek noem dit toe dat dit meer gereeld gebeur as wat ’n mens sou verwag dat die koster die kerkklokke lui en die dominee die koster se klokke.
Kort ná hierdie opmerking (ek dink dit was twee liedjies later) het ’n kombi reg voor die ateljee gestop. Op die kant was “KruisJool” in groot letters geskryf. KruisJool was natuurlik die groepie studente wat gevoel het hulle Christelike beginsels verhinder hulle om aan die gewone Jool deel te neem. Net ingeval een van hulle dronk of swanger word of so.
In elk geval, ’n hele paar manlike lede van KruisJool het uit die kombi getuimel en almal was gewapen met van gholfstokke tot krieketkolwe. Dit was duidelik dat hulle hoogs ontstoke was oor die dominee-opmerking en die eer van die Kerk wou kom verdedig.
Witblitz het my een kyk gegee: “Gaan sort hierdie uit. Ek kan nie nou nie, ek moet ’n radioshow aanbied.”
Ek het in elk geval besef dat ek moes pa staan vir wat ek gesê het en het met ’n bewende broek die ateljee uitgestap om hierdie Gideonsbende in die gang te gaan inwag. En was hulle opgewerk! Die voorste een het ’n lekker Hebreeuse baard gehad en het onmiddellik aangedring op ’n verduideliking met sy kneukels wat wit geword het om sy hokkiestok. En net daar, half binne die sitkamer en half binne die gang van Radio Tuks, het ek agtergekom wat my ware talent is: Ek kan situasies baie vinnig ontlont.
Met die regte woorde.
Ons het almal in die sitkamer gaan sit en ek het verduidelik hoe die ware Boodskap so maklik verswelg kan word deur die Fariseërs en dat my probeem nie is met die Christelike geloof nie, maar met eng dominees wat die geloof onaantreklik kan maak vir die massas. Soos daardie spul wat sê ons kan nie na rockmusiek luister nie, want dis Satanisties. Ek het daardie laaste enetjie ingegooi omdat ek geweet het dat hulle ons musiek geniet. Hulle het tog na Radio Tuks geluister, of hoe? Die groepie was konserwatief, maar ook te vinde vir ’n bietjie Bon Jovi nou en dan.
Ek het vir hulle elkeen ’n glasie van die flat Sprite aangebied wat iemand in die yskas vergeet het en kort voor lank was ons groot vriende. Hulle is daar weg as nuwe aanhangers van “Huigel met Hassim”.
Ná nog ’n paar lekker kontroversiële episodes het ons program egter kort hierna gesneuwel. Soos genoem, was Witblitz se pa ’n dekaan op kampus en Hassim het begin om hom sleg te laat lyk. Hy het sy seun versoek om die program te staak.
Andersins was my ander radioprogramme in hierdie tyd lammetjiemak. Klagtes was daar nie. Ek het behalwe my laatnag-avonture gefokus op my studie as regstudent en my take as omroepershoof (glo dit of nie).
Dit was ook in hierdie kapasiteit dat ons die eerste swart student as omroeper aangestel het. Sy naam was Mashilo Bopape en met net enkele swart studente op kampus was sy teenwoordigheid op die lug ’n vars briesie. My politieke ommeswaai het egter reeds die vorige jaar begin tydens die 1992-referendum. Dit was die eerste keer dat ek oor enigiets kon stem en ek het nogals gewroeg of ek my kruisie langs die “Ja” (vir voortgesette onderhandelings) of die “Nee” moes trek. Jy moet onthou dat ek in hierdie stadium steeds regse vergaderings in die stadsaal bygewoon het, alhoewel die boodskap nie meer so diep ingesink het nie.
Ek onthou byvoorbeeld ’n aand toe ek ons liberale Radio Tuks-programbestuurder saam met my na ’n AWB-vergadering gesleep het. Dit was winter en hy het ’n lang jas aangehad. Ná die vergadering het ons buite die stadsaal rondgestaan toe Eugène Terre’Blanche uitgestap kom, gaan staan en vir die programbestuurder sê: “Jong man, jy lyk vir my soos ’n kunstenaar.”
Dit was basies al wat ek weke ná die vergadering kon onthou en oor gepraat het. Die toesprake was toe alreeds net ’n spul onsinnige woorde vir my.
Om op die universiteitskampus te wees en met oopkop-mede-studente en regsdosente soos Johan van der Westhuizen en Frans Viljoen te doen te kry, het my begrip van geregtigheid beslis beïnvloed. Maar dit was meer as dit, my logika kon geen ander opsie vind as ’n ware demokrasie nie.
Ek het egter steeds soos ’n verraaier gevoel toe ek my kruisie op 17 Maart 1992 langs “Ja” trek. Maar my persoonlike kentering was toe al in volle gang. Dit het natuurlik ’n rukkie geneem. Ek was byvoorbeeld heeltemal te emosioneel om ’n radioprogram aan te bied toe ons verneem van die afsterwe van die leier van die KP, Andries Treurnicht, op 22 April 1993. Ek het iemand gekry om vir my in te staan en teruggegaan woonstel toe waar ek ’n paar trane oor oorlede Doktor gestort het. En, ja, ek het die hele begrafnis op televisie gevolg, ek onthou selfs wat tannie Engela, sy weduwee, langs die graf aangehad het.
Radio Tuks het my in baie opsigte gered. Nie net het die radiostasie gehelp om my denke te verbreed nie, maar dit het vir my ’n loopbaan gegee.
Ek sou uiteindelik regdeur my universiteitsloopbaan daar werksaam wees, alhoewel ek self uiteindelik (ná ons toetrede tot FM) na die aandgleuf geskuif het. My dae was nogals besig, om die minste te sê, met tydelike werk as bankklerk, klasse en ’n naweekjoppie in ’n videowinkel wat baie van my tyd opgeslurp het. Maar ek kon steeds nie wag om daardie twee aande per week (Donderdag- en Sondagaande tussen 21:00 en 24:00) agter die mikrofoon in te skuif nie. Uiteindelik het ek voltyds met my articles by ’n regsfirma begin, maar steeds ná my laaste aandklas gejaag om betyds te wees vir daardie paar uur op die lug.
Veral die Sondagaandprogram was uiteindelik nogal baie gewild en veral een insetsel, “Ant Souf se Doepa”, het baie aftrek gekry. Ek sou elke Sondagaand een of ander kwaal kies en dan boererate met die luisteraars deel. Nodeloos om te sê, klink die ou rate vandag baie komies. Byvoorbeeld raat teen sproete:
1 Melk ’n perd en was die gesig daarmee, laat dit droog word, en dan kan dit weer afgewas word.
2 Kap ’n paar dassterte af, sit dit in ’n blikkie, bedek met versterkwater, begraaf aan die oostekant van die huis vir drie weke. Smeer dit aan die sproete.
Ek weet steeds nie wie die weeklikse rate meer geniet het nie, ek of die luisteraars. Kort voor lank het ek selfs bewonderaars begin kry met twee outjies wat vir my ’n hele boek oor boererate by die ateljee gelos het. Ek deel graag die briefie wat hulle voorin vir my geskryf het:
Jy is die snaaksste persoon in die hele wye wêreld. Moet asb nooit ophou om ’n platejoggie te wees nie. My Ouma Martie stuur hierdie boererate boek vir jou. Ek hoop jy sal dit handig kan gebruik. Soos sy altyd gesê het: “’n Voël in die hand is beter as tien in die lug.” Nou ja. Hou die blink kant bo. Jou twee grootste bewonderaars: Kaspernikoph (Emile) en Poepenoende (John).”
Wow! Ek was so gelukkig dat ek ook uiteindelik bewonderaars gehad het. En, ja, ek het hierdie briefie al die jare gehou.
Wou ek nog enigsins in daardie stadium ’n prokureur of politikus word?
Ek was beslis minder entoesiasties en het maar bloot elke dag by die regsfirma opgedaag omdat my twee jaar prakties nodig was om te kwalifiseer as prokureur. Die probleem was egter om ’n werk by ’n radiostasie te kry en met my tipe styl was ek oortuig dat só ’n pos my nie beskore was nie. Niemand op radio het soos ek geklink nie, met dalk die uitsondering van ’n paar DJ’s by 5FM. En hulle was almal Engels.
Ek het nie eens Jacaranda FM oorweeg nie. Hulle het heeltemal té konserwatief geklink en was mos ’n stasie waarna die ouer garde geluister het, of hoe? Dit was inderdaad ’n dilemma, veral nadat ek een aand ’n luisteraar buite die GW-gebou raakgeloop het. Hy wou weet of ek daai Rian van die Sondagaandprogram was.
Nou moet jy verstaan dat alhoewel die show nie vreeslik kontroversieel was nie, was ek steeds maar lugtig dat mense