Sandveldstories. Ferdinand Deist

Sandveldstories - Ferdinand Deist


Скачать книгу
sit hy die foun neer. En hy tel hom weer baie suutjies op en hy wag vir ou Lettie ommie nuus te begint versprei.

      Wat ou Lettie nou als daar in haar enigeit oppie stoel innie gang moet gesit dink ’t, weet ek nou nie. Mar sy’t glo nogals ’n geruime tyd gewag, amper ’n hele minuut of twee voorlat die begjerentheid om te vertel vannie Poskantoor se wens te sterk geword ’t vir haar vrese virrie dood wat kan gevolg ’t. En dis net wat sy die slingertjie klaar gedrai ’t en Mieta Soutfantein annerkant anwoort gjee, wat Anneries aan ’ie diékant so ’n aaklige doodsroggel gjee ennie foun oppie grond lat val … Ou Lettie ’t glo haar storie so m’t ’n halwe sin innie lug gelat hang, amper soos ’n man wat donkeraand oppie werf deur ’n vroumens gebetrap word waar hy gestaan ’t. Virrie res vannie dag was die foun tjoepstil gewees.

      So skemeraand se kant toe vat Anneries sy perd en hy ry oor na Lettie se opstal toe. En daar sien hy vir haar by die hoenerhokke doenig. En m’t wat hy haar gewaar, toe gjee hy sy perd so ’n bietjie spore solat dit moet lyk of hy hastig die werf inkom. En hy spring ok toe sommer so half innie perd se draf af en hy stap hastig na Lettie toe en hy sê vir haar: “Lettie, het jy gehoor vannie founmannetjie wat glo vemaddag so tragies dood geverongeluk ’t oppie founpaal wat hy an gewerk ’t. Iemand moet teen ’ie Poskantoor se ytdruklike orders in die foun gebruik ’t toet hy aan ’ie drade gewerk ’t. Foeitog, hy was mar glo twee mane getroud gewees … Nou soek hulle glo die man wat die foun gebruik ’t …”

      Lettie ’t skoon wit geword ommie kiewe en sôner ’n woord huis-in gestorm.

      Van daai dag af het ons nou welistewaar skinnervrede innie buurt gehad, want ou Lettie was genees gewees van haar besuin; mar van toe af het niemand toe ook meer geweet hoelat dit m’t die anners innie buurt gan nie.

      Ant Kytie se verweer

      Ou Ant Kytie ’t nou behoorlik m’t ’n oorhangsel alkante af op oorle’ Oom Pietjan se kop gesit. En sy’t die lyf énnie temperement daarvoor gehad.

      Foeitog, ’n mens ’t die arme Oom Pietjan mar altyd jammer gekry. Assit oggend geword ’t, het hy winter en somer opstaantyd die kôfie moet geloop maak ’t ennie tafel gedek ’t virrie brekfis ennie hoeners geloop kos gjee ’t ennie twee koeie gemelk ’t. En dan’t hy vir ou Ant Kytie kôfie en beskuit innie bed moet geneem ’t. En solank sy dié geëet ’t, het hy die roomskeier moet geloop drai ’t en agterna weer gewas ’t. En dan’t ou Ant Kytie net gekom ansit virrie kaiings en eiers en brood.

      Assit maddag geword ’t en Oom Pietjan virrie maddagete vannie poskantoor af gekom ’t waar hy gewerk ’t, dan’t Ant Kytie darem ’n kossie gemaak gehad. Mar dan wassit Oom Pietjan se werk gewees ommie vuil skottelgoed ennie kestrôle te was en weg te pak, terwyl Ant Kytie haar ou twee bene ’n bietjie oppie kooi gelat rus ’t.

      En as hy saans by die huis gekom ’t, wassit weer dieselle storie gewees, totlat hy hier so by negenuur se kant vir Ant Kytie ’n bietjie Maailou innie bed moet gevat ’t, solat sy annie slaap kan geraak ’t.

      Einlik moet ek sê, was ou Ant Kytie ’n baster goeie mens gewees: baie gehelp waar daar te helpe gewees ’t en so. En anner mense ’t nooit nodig gehad om vir haar bang te gewees ’t nie. Dit was einlik net m’t Oom Pietjan sam gewees lat sy so gewerk ’t.

      Perty mense ’t geweet te vertel dis hoe sy hom gestraf ’t oorlat sy hom in hulle se jongjare by ’n anner vrou gevang ’t. Anners het weer gerekent dis oorlat Ant Kytie se pa haar oor Oom Pietjan geonterf ’t lat sy toe op dié menier op hom wraak geneem ’t op haar armoede, terwyl haar twee susters elkene ’n plaas gekry ’t toet hulle m’t die regte mans sam getroud is. In elke geval, oor elkeen op sy eie menier geverstaan ’t hoekom lat dit so in dié huwelik gegan ’t, het ammal dit mar allie jare so geaanvaar, behalwe Doemenie Petoors.

      Vir hom ’t die menier wat Ant Kytie m’t Oom Pietjan sam gewerk ’t, soos ’n stuk halfgekoude tai vleis dwars innie krop geloop vassteek. Gesluk ’t hy hom nou net nie gekry nie.

      Pas nalat hy ou Doemenie Vermele op Eselspoort opgevolg ’t – ommie waarheid te sê, sommer al m’t die kennismaak se huisbesoek, toet Oom Pietjan vir hulle ammal op Ant Kytie se orders moet geloop tee maak ’t – het hy dit sy taak gemaak om dié huwelik in lyn te kry m’t die firmeliere vannie kerk, wat mos duitlik gepraat ’t vannie onnerdanigheid vannie vrou aan ’ie man. Want in ons tyd ’t die vrou nog moet gebelowe ’t lat sy haar man sil dien en sil gehoorsaam wees soos ’n getroue vrou aan haar wettige man verskullig is – nie soos deesdae waar ’t die man is wat sy lewe aste ware wegbelowe ennie vrouens skotvry uitkom nie.

      Eers ’t Doemenie Petoors ou Ant Kytie m’t ’n drai geprebeer bykom. Want sy heel eerste reeks preke ’t hy oor ’ie huwelik gehou. Innie eerste preek ’t hy gepraat oor Eva wat vir Adam se hulp gemaak is, en so nou en dan reguit na Ant Kytie innie derde bank van voor af gekyk. Innie tweede preek ’t hy gepraat oor ’ie een of anner wet vannie Ou Testament wat gebepaal ’t lat ’n man sy vrou kan weggeja ’t, mar nie omgekeerd nie, en weer vir Ant Kytie gekyk. En m’t die derde preek ’t hy oppie apostels se vermaninge oor ’ie onnerdanigheid vannie vrou aan ’ie man gepreek, en feitlik heeltyd vir Ant Kytie gekyk.

      Mar toet die gekykery en gepratery nou g’n verbetering gebring ’t nie, het Doemenie die wyksouderling gevat en na Oom Pietjan-hulle se huisie vlak laans ’ie rivier toe geloop.

      Laans ’ie pad ’t die ouderling geprebeer ommie doemenie te waarsku lat heelperty mense al geprebeer ’t wat hy nou wil geloop prebeer ’t, mar lat dit tot dusver noggie einlik ’n effek gehad ’t nie. En hy het vir hom gevertel vannie keer wat ou Doemenie Vermele ok geprebeer ’t deur vir Ant Kytie daarop te wys lat die kat op hulle se stoep bo-oppie hond se rug lê sôner lat daar enige struweling geontstaan ’t. Mar ou Ant Kytie het botweg geontken lat daar enige struweling in hulle se huis is, en gesê: “Buitendien, loop maak Doemenie nou daai hond ennie kat, wat nou so lekker daar lê, se sterte ammekaar vas, soos ek en Pietjan s’n, en dan kyk Doemenie wat gebeure.”

      Mar Doemenie Petoors ’t gereken lat hy sy plig sil versuim as hy Ant Kytie nie op haar sônige lewe wys ’ie. En so is hulle toe by die voordeur in.

      Mar ’ie ouderling was reg gewees. Toet Doemenie vir haar uit die Bywel uit beduie lat die man die hoof vannie huis is en daarom ok die hoof vannie vrou, toe vra Ant Kytie vir hom of dít nou sil betekent lat sy darem twééde in bevel vannie liggaam vannie gesin is. En toet Doemenie meen lat hy aan wenkant beginne kom, en dié argement van Ant Kytie toegjee, toe’s hy vas en wassit of Ant Kytie, m’t die perkant se instemming en als, net haar sit op Oom Pietjan se kop nóg beterder gekry ’t. Want toe sê Ant Kytie vir hom: “Mar wat kla Doemenie dan? Elke hoof ’t mos tog net onner hom ’n nek wat hom ronddrai. Ek is mar net my hoof se nek.”

      Die oorbesige prekkereer

      Ek weet nou nie of jy die storie ken vannie moles wat daar die keer innie hemel gewees ’t toet Petrus die duiwel wil gedagvaar ’t nie. Mar kyk, die draad tussen die hemel ennie hel was mos nou elke keer wat Petrus geloop kyk ’t, platgetrap gewees – seker mar die manne wat aan ’ie annerkant te warm gekry ’t en geprobeer deurbreek ’t na die koeltebome vannie hemelse geweste toe. Ewentwil, Petrus ’t die duiwel toe nou al ’n paar keer angepraat lat hy die injeneers daar an sy kant moet ansê ommie draad weer regop te trek en ’n paar ekstra pale in te kap. Mar as Petrus na máne se gewag weer loop kyk, dan lê die heiningdraad nog net so. Oor hul toe nou na’erhand elke aand moet roulkôl gehou ’t ommie speul uitgesorteer te gekry ’t, toe loop Petrus een môre na die draad toe en hy skree oppie duiwel lat hy moet uitkom, want hy wil m’t hom sam praat. En toet die duiwel sy spits gesig by die hel se poort wys, toe sê Petrus vir hom hy’t hom nou lank genog kans gegjee ommie draad te laat regmaak wat sy mense so platgetrap ’t en lat hy hom nou gan prossedeer oor sy versuim. Dis toe wat die duiwel so uit sy maag uit lag en vir Petrus vra: “En waar gan jy miskien daar by jou kant ’n prekkereer kry om jou saak an te vat?”

      Nou sil ek nie sê die duiwel was reg gewees nie. Vir al wat ek weet, is daar darem ’n paar prekkereers innie hemel ook. Die apostel Paulus was mos darem ook soort


Скачать книгу