Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale. Deon Meyer
is daar petrol. Dink die man ek is onnosel? “Ja,” sê ek en sukkel om die verontwaardiging uit my stem te hou.
“Laat ek sien,” sê hy.
Ek draai die sleutel om die instrumente aan die gang te kry. Die brandstofnaald bly lê.
Hy lag. “My vrou doen dit ook. Elke paar weke.”
Hy draai om en sê iets in Xhosa vir sy passasiers. Hulle lag hartlik, skud hul koppe en kyk na my soos alle mans doen as ’n vrou pas ’n gek van haarself gemaak het. Hulle stroom terug minibus toe.
“Daar is ’n motorhawe om die hoek. Ek gaan haal gou ’n liter of twee,” sê die bestuurder. Ek roep my dank agterna, en toe is hy weg met ’n geskree van bande. Dié lawaai laat Pierre en Gustav onmiddellik huil.
Tien oor drie staan ek met die trollie by die groentewinkel se betaalpunt. Twee engelgesigseuntjies sit tussen die groenbone, aartappels, uie, tamaties, blaarslaai en komkommer. Die kinders hou van trollies en inkopies, want die trolliewiele rol mos. Dit is my beurt by die kasregister. Ek haal die groente tussen die seuns uit en pak dit op die toonbank. Die vrou se vingers dans oor die knoppies. Ek maak my beursie oop om die sewe-en-twintig rand, vyf-en-sestig sent te vereffen. Daar is net ’n eensame groen noot wat terugstaar. Ek het vir die taxibestuurder ’n twintigrandnoot vir die petrol en uit dankbaarheid gegee. In my haas om daarna by die groentewinkel te kom, het ek nooit aan die implikasies gedink nie.
“Ek het nie genoeg geld nie,” blaker ek dit uit en begin huil, want skielik is sewe-uur heeltemal te naby en ek het nog niks reg gedoen vandag nie.
“Toemaar, mevrou, ons neem tjeks.”
“My man het die tjekboek,” snik ek en mense begin staar.
“Hier is ’n kitsbank in Voortrekkerstraat,” paai die vrou agter die kasregister.
“Ek is nou terug,” sê ek, gryp ’n kind onder elke arm, sluk my trane af en draf motor toe. Ek trek weg soos ’n minibus-taxi.
Dit neem sewe minute om in Voortrekkerweg te kom, nog vyf om parkering om die hoek te kry. Dan is dit weer ek en die seuns en my handsak op ’n drafstap, met die sweet wat my aftap en die kinders wat met elke tree swaarder word, tot my arms wil breek.
“Die ding is al weer stukkend,” sê die man voor my toe ek uitasem by die kitsbank aangestorm kom. Ek gee hom ’n vuil kyk en besluit om self vas te stel. Maar die venstertjie is afgeskuif en die skerm sê: Dié diens is nie tans beskikbaar nie. Ons vra om verskoning vir die ongerief.
Die paniek spring op my soos ’n honger leeu. My verstand staan stil. Dit help nie eens meer om te huil nie. Ek sit die kinders neer, Junior links, Pierre regs, laat my skouers hang en wag vir die noodlot om die finale nekslag toe te dien. Want dit is ’n sameswering, ’n komplot teen my, en dit help nie om daarteen te stry nie.
Tot ek uit die hoek van my oog sien hoe iemand nader staan om die bank se deur te begin toemaak.
Die bank! Ek het vergeet van die bank, waar menslike tellers regstaan om te help. Daar is nog hoop. Ek skud die paniek so in die hardloop af, sleep die kinders saam en glip by die deur in, net voor die man dit kan toemaak – ’n skraal kêreltjie met ’n bleskop, ’n snorretjie en ’n klein brilletjie. Hy gluur my aan. Op sy hemp is ’n metaalnaamplaatjie wat sê: Sarel Greeff. Assistentbestuurder. Geniet u dag.
“Ons maak eintlik toe, mevrou.” Sy stem is soos ’n bandsaag, sy snor bewe afkeurend.
Die horlosie teen die muur sê dit is op die kop halfvier. Ek ignoreer die assistentbestuurdertjie en val agter in die ry in. Ek probeer die situasie opsom. Die ry is lank. Ek sien die man reg voor my het ’n poniestert en ’n groot banksak. Een van daardie wat lank by die toonbank staan om in te betaal en kleingeld te kry. My moed sink.
Dink positief. Ek probeer bereken. Dalk twintig, dertig minute voor ek hier kan uitkom, nog tien terug groentewinkel toe, twintig om by die huis te kom. Dan is daar twee-en-’n-half uur vir kosmaak, bad, aantrek, die kinders versorg. Dit kan nog gedoen word. Met positiewe denke en ’n bietjie geluk. Buitendien, alles wat kon verkeerd loop, hét al.
“Meneer Greeff,” kom ’n stem van een van die kassiere agter die glas. “Meneer Greeff.”
Snorman snel by ons verby. Ek sug en sit die kinders neer.
Junior besluit hy wil liewer op die arm wees en sit ’n keel op. Pierre gee dadelik vokale steun. Ek tel hulle weer op.
“Kan u asseblief die bloedjies stilmaak, mevrou? Ek wil ’n aankondiging doen.” Dit is Greeff, nou hier langs my.
Ek vererg my so half vir sy stemtoon, maar probeer om aan sy versoek gehoor te gee. Die seuns bedaar.
“Dames en here,” sê Greeff met ’n luide, skril stem. “U aandag, asseblief.”
Dit word stil in die bank.
“Ek moet u ongelukkig inlig dat ons rekenaars nou buite werking is. Ons sal u nie verder kan bedien nie.” Die omstanders murmureer. “Ons moet u versoek om môre terug te kom, wanneer ons die probleem opgelos het.”
Dit is sy kyk in my rigting, so ’n snedige boontjie-kry-sy-loontjie-kyk, wat maak dat ek my humeur verloor. Dit, en al die frustrasie van die afgelope maande – van skryfwerk wat vasgehaak het, my huwelik se gesukkel om weer aan die gang te kom, my eie onsekerhede. En vier Japanners en ’n ete wat nou finaal gedoem is, en die wete dat Gustav sy laaste bietjie vertroue in my gaan verloor. Dit alles word soos ’n groot damwal wat ná die vloede breek.
“Nee,” sê ek baie hard en sit die kinders weer neer. Nou is hulle stil, in verwondering oor die volume van hul ma se stem. Almal kyk na my, maar ek sien net vir Greeff, die vergestalting van Die Tegnologie.
“Nee,” sê ek weer. “Daar is iets wat julle vergeet. Is hier enigiemand wat nog onthou hoe dit was in die dae voor rekenaars? En voedselverwerkers en mikrogolfoonde en kitsbanke? Ons is kliënte van hierdie bank. Ons betaal ons rente en ons bankkoste. Ons het die reg om bedien te word. Sonder rekenaars. As hier penne is, as hier papier is, kan hier diens wees. Ek bly net hier. Om my banksake te doen.”
Ek skep asem. Greeff se mond gaan oop en toe, met die snor wat deinings op en af ry. Voor hy iets kan sê, praat die man met die poniestert hier voor my. “Sy is reg,” sê hy en hou sy banksak in die lug. “Wat doen ek vanaand met dié kontant? Ek het nie ’n brandkluis nie. My bank is my kluis.”
Greeff se snor wip op en af van verontwaardiging, maar nou is al die kliënte aan ons kant.
“Diens!” roep ’n paar. “Dis ons reg,” sê ander. “Ons bly net hier.”
Greeff se skouers val. “Nou goed, nou goed, kalm bly,” kry sy lippe die woorde gevorm. “Kom ons kyk wat ons kan doen.”
Ek is baie haastig op pad uit, my beursie vol note, toe ek sien Meneer Poniestert wag vir my by die deur.
“Ekskuus tog, mevrou …”
“Haai,” sê ek, nog skaam oor my uitbarsting van vroeër.
“Ek wil net vir u baie dankie sê.”
“Ag, dis sommer niks.” Ek fladder my een hand in die lug asof ek elke dag bankrowers uitklophoue gee.
“Ek het ’n groot klomp geld in my banksak gehad. Ek het pas ’n nuwe onderneming begin en dit was my eerste werklike inkomste. As iets daarmee moes gebeur …”
Ek is haastig en weet nie wat om te sê nie. “E …”
“As daar ooit iets is wat ek kan doen om u vir u dapperheid te vergoed,” sê Meneer Poniestert en hou ’n visitekaartjie na my uit. Ek neem dit. Zatopek G. van Heerden, lui dit. Spysenier. Vir sake-etes, dinees, vingeretes, skemeronthale en private etes. Geen opdrag is te klein nie.
Ek kyk na Zatopek G. en dan terug na die kaartjie. Dan weer na Zatopek G.
“Ek het net twee vrae,” sê ek en ek glimlag die breedste glimlag in maande.