Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale. Deon Meyer
Gustav stap saam met die Japanners uit en sien hulle by hul motor af. Hulle buig en sê dankie. Ons buig en sê plesier. Hulle buig en klap weer hul lippe en lig hul duime en sê die kos was heerlik. Ek buig en sê hulle vlei my. Hulle buig en glimlag, ons buig en glimlag. Uiteindelik is hulle in hul motor, sayonara hulle die laaste sayonara en dan ry hulle.
Gustav staan hier teen my, sy sterk arm om my skouers terwyl ons vir die Japanners waai tot hulle om die hoek verdwyn. Dan kyk my man af na my.
“Jy was wonderlik,” sê hy en daar is nie ’n milligram moegheid in sy stem nie. Net behae en bewondering. As hy maar van my dag se ervarings geweet het!
Ek soen hom hier onder sy ken. “Dit is omdat ek so ’n ongelooflike man het,” sê ek.
Ons stap voordeur toe, só, in mekaar se arms, en die wêreld voel weer reg, soos in die ou dae.
“Ek het ander goeie nuus ook,” fluister ek hier in sy nek.
“O?”
“Ek het ’n storie om te skryf. ’n Kortverhaal.”
Hy gaan staan, draai na my toe en sit sy arms om my. “Dis wonderlik, Helena. Vertel, vertel.”
“Ag, sommer van ’n huisvrou wat ’n bres slaan teen Die Tegnologie. En ’n spysenier se geld beveilig. Die spysenier se naam gaan Zatopek G. van Heerden wees.”
“Waarvoor staan die ‘G’?”
“Gerhardus,” sê ek en dink hoe lekker dit is om op my eie voorstoep in my man se arms te staan, met ’n ou Royal-tikmasjien wat binne vir woorde wag.
“Ek weet darem nie. Klink bietjie vergesog. Maar dink positief, my skat. Dit kan dalk net werk.”
En dan soen hy my.
Ek is besig met die gewone administratiewe pligte van ’n stasiebevelvoerder, in my afskorting agter die aanklagkantoor, toe konstabel Davidson sy kop daar insteek en sê: “Inspekteur, hier’s ’n kwaai tannie wat jou persoonlik wil sien.”
“Stuur haar in,” sê ek en weet al klaar dit is huismoles. My voorganger het my mooi voorberei. Op Riebeeck, het hy verduidelik, is daar drie soorte sake wat ons met reëlmaat moet hanteer: veediefstal (waarvoor die boere aanklagkantoor toe kom), huismoles (wanneer die vroue kom besoek aflê) en Vrydagaande se dronkies, wat ons sommer self inbring hier teen twaalfuur se kant.
Ek staan solank op sodat ek hoflik kan wees, en dan marsjeer sy by die deur in – ’n stewige vrou in ’n mooi somersrok, reuse handsak aan die arm en ’n huismolesfrons op die voorkop.
“Gezina Greyling, bly te kenne,” sê sy en steek haar hand na my toe uit sonder dat ek die indruk kry sy bedoel die laaste deel vreeslik opreg.
“Inspekteur Havenga,” sê ek. “Sit gerus.” Haar handdruk is stewig.
“Jy’s nuut hier, Havenga.” Dis nie ’n vraag nie. Sy gaan sit op die punt van die bruin goewermentstoel, handsak op die skoot, en kyk my reguit in die oë terwyl ek ook gaan sit. “Laat ek vir jou sê waar Riebeeck se onheil lê. By die duiwel se oorkussing, dis waar. Ledigheid. Julle sal moet plan maak.”
“Mevrou?”
“Hier is niks vir die kinders om te doen nie, Havenga. Desember is die ergste. Die rykes is see toe, en ’n arm weduwee soos ek moet maar hier met haar kroos sit en wag vir die nuwe jaar, totdat die kinders weer kan skool toe en kollege toe. En wat doen julle? Niks. En nou het Magriet die krokodilletjie en julle moet help. Julle dien mos die gemeenskap.” Sy leun effens terug, haar sê gesê.
Dit is nie my eerste bevelvoerderspos dié nie. Ek het al die Mag gedien van Berea in Gauteng tot by die Tuinestasie in die Wes-Kaap. En ek het al gehoor dat die Mag van baie dinge beskuldig word. Maar van die duiwel se oorkussing …
“Ons help waar ons kan, mevrou.”
“Dis goed, Havenga, want julle sal met die krokodilletjie moet help,” sê sy en maak haar handsak oop, haal ’n foto uit en gee dit oor die lessenaar vir my aan, een van hierdie kitskamera-goeters wat dadelik ontwikkel.
“Ek het die kamera loop leen by Freddie se apteek, want ek wil nie hê daar moet negatiewe wees nie en die kind mag nie haar voete by die huis uit sit nie.”
Ek kyk na die foto. Dis van ’n vriendelike krokodilletjie met sagte oë en al die kleure van die reënboog op sy lyf – diamantskubbe in goud en blou en groen en rooi, die hele pad tot by sy stert.
“Dis pragtig,” maak ek die groot flater.
“Pragtig?” vra Gezina Greyling verontwaardig. “Pragtig? Dit is getatoeëer op my dogter se skouer en jy sê dit is pragtig. Dit is ’n brandmerk van die duiwel op my Magriet se lyf en jy sê dit is pragtig! Nee, Havenga, ek verstaan jy is nuut hier, maar op Riebeeck laat ons nie ons kinders mismaak deur die gruwels van die stad nie.”
“Ek het nie geweet … Ek het nie bedoel …”
“Hulle is stad toe, Dinsdag, sy en Mandie Coetzee, die slagter se dogter. Ek sê nogal vir haar sy verdien dit, want sy het nou so hard gewerk vir die matriekeksamen, en ek gee haar vyftig rand en sê, gaan geniet dit, my kind. Maar die duiwel sit en wag by die Groentemarkplein. Ek ken hulle, daardie mannetjies by die stalletjies met lang hare en sulke vuil voete in sandale. En jy weet hoe die kinders is. Een kyk na die mode en ’n spesiale aanbod en daar sit hy. Krokodil op die skouer.”
Ek is stomgeslaan. Ek kyk nog ’n rukkie na die krokodilletjie.
Dit is asof hy vir my glimlag.
“Nou hoe gaan ons maak, Havenga?”
“Mevrou …” Ek dink, maar vir dié een is daar niks in die handleidings nie. Ek kyk op na die vrou voor my. Dit is asof haar stoom opgeraak het. Haar skouers val en sy sak terug in die stoel.
“Ai, inspekteur, ’n mens doen maar jou bes. En Magriet is ’n wonderlike kind. Vir haar is die krokodilletjie die mooiste ding wat sy nog gesien het. Maar op daardie ouderdom dink hulle net aan vandag. Wat van môre, wanneer dié goed” – sy wys met ’n vinger na die foto – “nie meer in die mode is nie? Wat gebeur as sy dertig of veertig is en haar kinders vra oor die ding op haar skouer? Maar sy is net so koppig soos haar ma.”
Daar is ’n nattigheid in Gezina Greyling se oë en ek sien dit is mooi oë, groen, met ’n sagtheid, amper soos die krokodilletjie s’n. En al is ek ’n oujongkêrel, is ek nie bestand teen dié weerloosheid nie. Ek maak ’n gevaarlike stelling: “Mevrou Greyling, ons is hier om te help. En dit is wat ons gaan doen.”
* * *
Toe ek by die Mag aangesluit het, was daar net een manier van ’n ding doen: volgens die boek. En die boek was eenvoudig – dít is toelaatbaar en dát is nie toelaatbaar nie. Maar dinge verander. Deesdae kom sulke jong mannetjies met baadjies en dasse en grade in polisiekunde en bied “seminare” aan vir stasiebevelvoerders, waarin hulle praat van missies en visies en kernwaardes en besluitnemingsmodelle en sleutelprestasie-areas. ’n Mens luister maar en knik jou kop en gooi dieselfde groot woorde rond tydens teetye by die seminaar, maar heimlik dink jy dit is maar dieselfde boek van die ou dae, net so ’n bietjie opgetooi met groot woorde. “Voetsoolvlak”. ’n Probleem “aanspreek”. ’n Inset “lewer”. Strukture “in plek kry”. Bid jou aan …
Maar by ’n vorige seminaar was daar so ’n skraal kêreltjie met ’n bek so glad soos seep, wat kom praat het oor kreatiwiteit. En as jy mooi geluister het deur al die groot woorde deur, kom sy hele toespraak op een ding neer: die ou manier van doen is nie altyd die beste nie. As jy so ’n bietjie probeer, kan jy probleme op lekker, nuwe maniere oplos. Of is dit nou “aanspreek”?
Dit is aan dié kêreltjie wat ek dink toe Gezina Greyling statig die afskorting verlaat, want nou sal ek kreatief moet dink.
Ek bel eers vir ou dokter Reitz om te hoor of tatoeëermerke verwyder kan word. “O, jy praat van Magriet se krokodilletjie,” sê hy. Klein dorpie. “Met die nuwe