Aanspreeklikheid. Jaco Fouché
Soraya. Hoe lank nog? Aaklige gedagte en tog is dit daar, iets onvermydeliks van die lewe. Sien uit na ’n vreemde gevoel van ligtheid, verligting, vreugde, selfs. Dis die bevrediging wat met die voltooiing van ’n taak gepaardgaan. Ek is ’n voltooier. Ek moet telkens klaarmaak met iets.
Ons gaan na Betsy se restaurant vir die spek-en-piesangbroodjies en die louwarm koffie. Betsy kom staan by ons tafel en glimlag baie, haar hand weer na aan my bord teen die tafel gedruk.
“Jy moet my jou nommer gee,” sê sy tot my ongemak. “Dan kan ek jou bel wanneer ons specials het.”
Agter Betsy se elmboog maak Soraya grootoog vir my.
“Die lamsbredie is heerlik,” sê Betsy. “Ek het ’n kastrol vol gemaak.”
“Nee, dankie, dis te vroeg,” sê ek vriendelik. Haar gesig val. Ek probeer die saak beredder: “Ek wil vir Soraya aan jou heerlike broodjies bekendstel.”
“Skrywers het darem groot harte,” sê sy vir Soraya, wat nie antwoord nie, maar Betsy agternakyk toe dié na haar kombuis terugkeer.
“Moes ons juis hiernatoe gekom het?” vra Soraya met ’n klein glimlag. “Wil jy iets bewys? Iemand die hel in maak? En hou jy nie van lamsvleis nie?”
“Ek is hier vir die broodjies.”
“Jy het haar teleurgestel.”
“Wat moes ek doen?”
“Mooi werk met haar hart. Sy het ’n ding vir jou. Moenie so in jou skik lyk nie.”
Ek snork-blaas in my kieste. Maar die aantyging laat my sterk voel.
“Ek het oor jou gaan oplees in die biblioteek,” sê sy nadat Betsy die kos gebring het. “Jy is onbekend, maar daar staan hulle op die rak, jou werk. Nege boeke. ’n Paar goeie resensies op die internet. Maar jou beste dae …”
“Is twintig jaar gelede al verby. Klink omtrent reg. Het jy iets gelees?”
“Ja. Een van die jeugverhale sommer daar in die bib.” Sy byt aan die broodjie in haar hand. “Oor die Japannees wat droom van terugkeer na die Middeleeue en toe aan sy eie hand sterf. Jy laat hom so trots klink op sy dood. Daar waar hy uit die hiernamaals praat. Dis byna asof jy hom channel.”
“Hy wás trots. Die dood was vir hom ’n prestasie. Iets om na uit te sien. Dis deel van die kultuur daar soos ek dit verstaan. Die dood is edel en verwelkomend solank jy dit proaktief benader en nie passief lê en wag op jou einde nie. ’n Mens verdien ’n goeie dood, jy werk daarvoor. Krygers, manne, koes vir geen uitdaging nie. Jy bestorm dit eerder. Daar is foto’s van hom waar hy poseer as kryger. Swaard in die hand, wit lendekleed om sy lyf, die son op die sneeu rondom hom.”
Sy skud haar kop, kou, die broodjie tussen haar vingerpunte voor haar ken. Dit lyk of sy die broodjie geniet. “Dis belaglik. Weet jy hoe leeg is die universe? Daar is klaar so min lewe in die universe. Vir wat dit wat daar is, weggooi?”
“Omdat hy in ons gedagtes sou voortleef. Ons sou sy daad onthou, die … die edelheid van sy moed … die ondernemingsgees.”
“Nee,” sê sy. “Dan moet ek dat John in my gedagtes voortleef en ek wil hom nie in my kop hê nie.”
“Hy was tog deel van jou lewe.”
“Jy het self iets gesê soos dat daar baie liefdes en baie mense is. ’n Mens beweeg aan na die volgende liefde en maak daardie een die liefde van jou lewe. Dis niks minder as reg teenoor die nuwe persoon nie. Die broodjies is lekker.”
Betsy kom staan weer by ons. “Is jy ’n kunstenaar?” vra sy vriendelik vir Soraya.
“Nee,” sê Soraya.
“Nou wat doen jy?”
“Nie veel nie,” sê Soraya.
Betsy kyk na my en lig haar wenkbroue voor sy loop.
“Moenie so in jou noppies lyk nie,” sê Soraya.
“Ek het niemand aanleiding gegee nie.”
“Jy het haar voorheen laat verstaan sy is spesiaal vir jou. Ek kan dit sien.”
“Ek is net hier vir die broodjies,” sê ek weer.
“Ons moet gaan stap,” kondig Soraya hard aan, in wat ek eers dag ’n onverwagte verandering van onderwerp is, voor ek Betsy se gesig sien. Sy is weer in ons omgewing, binne hoorafstand. Die woorde was vir haar bedoel.
“Moet nou nie ’n ding begin nie,” sê ek onderlangs.
Soraya glimlag vroom. “Ek sal dit nooit doen nie. Kom, ons gaan af see toe.”
Op die sypaadjie voor die restaurant raas die mossies weer in die boom. Ek kyk terug deur die vensters en kan Betsy in die verligte kombuis uitmaak waar sy ’n vuilgoeddrommetjie se deksel behendig met haar voet lig en ’n kastrol se vleiskleurige inhoud oënskynlik driftig in die drommetjie leegmaak. Is dit die lamsbredie?
9
“Hoe rustig is dit nie,” sê my nuwe vriendin. “Ek kan vir altyd hier sit.” Haar gesig is grysblou soos haar hemp waar ons op die rotse oorkant die hotel sit. Tussen ons en die krans waarlangs die straat loop, steun en maal die branders in ’n vlak baaitjie. Dit het moeite geverg om tot hier te kom, in die donker oor die rotse. Ek is bewus van pyn in my regterheup, dof nog, maar ek voorsien die uiteindelike vervanging en die dae in die hospitaal, ek, ou man, nog uitgelewer aan tydelike vriendskappe sonder dat ek dit anders verkies. Maar nou sit ons met wyn en iets om te eet.
In die straat skyn die ligte. Voor die hotel staan twee busse geparkeer. Bo ons strek ligte mis soos ’n laag kant tussen die aarde en die sterre. Die wyn is lekker, laat my mond tussen slukke drogerig voel sodat ek weer drink.
“Dis goed om jou so te sien,” sê sy en hou ’n happie voor my mond. Reeds het ’n soort besitlikheid tussen ons ingetree: troetelnaampies volg seker binnekort. Sy het my vertel sy dink ek is te gespanne en moet die lewe leer geniet. Kyk nou net, daar is sy – ’n onlangse weduwee, en sy weet hoe om die lewe te geniet en sy weet wat goed is vir ’n man. Dit het sy my in die motor vertel.
Ek versit. Die rustigheid maak nie die rotse minder hard nie. “Ons moet iets by die hotel gaan drink,” sê ek.
“Hm, dis lekker hier. Kom ons bly eerder net hier.”
“Ek kom te min tussen mense. Dis ’n gemis.”
“Mense pla net. Kom ons wees selfsugtig en sluit die ander uit.”
“Ek ken ’n ander woord vir selfsug,” sê ek en streel haar voorarm. Ek kan die fyn haartjies voel, regop op die vel wat koel gemaak word deur die aandlug. “Solipsisme. Dis ’n filosofie. Maar ek sien dit beïndruk jou nie. Wat ek bedoel, is dat ons amptelik in die openbaar moet verskyn.”
“Jy bedoel ’n date?”
“Ja.”
“So is ons aan die date?”
“Ek dag ons is.”
Sy leun teen my aan, haar kop teen my skouer. Dan word die posisie of die rotse miskien ook vir haar ongemaklik en sy sit regop en drink van haar wyn. Dis asof ek haar heelnag kan dophou. ’n Gedagte kom by my op, iets oor die male gaze wat die blik is waarmee rolprentkameras kyk. Moet seker nie so staar nie. Skrik hulle af.
Haar mond is koel soos haar voorarm toe ek haar soen. Wyngegeur. Ons sit met ons gesigte teen mekaar, trek dan elkeen weg en kyk weer na die lig in die straat en die skynsel in die rustelose baaitjie.
“Jy moet vanaand na my toe kom,” sê sy.
10
Sy kom uit die badkamer in ’n kort donkerrooi-en-swart kledingstuk met fyn werk aan die some. Sy lyk stylvol, sy is groot gebou, maar dra dit goed, beweeg grasieus en met beloftes van gesondheid en vreugde.