Aanspreeklikheid. Jaco Fouché
uit, weet wat om jou aangaan, dit kan ’n lewe red. Dit kan jóú lewe red. Laat iemand net van tyd tot tyd by jou aankom en seker maak als is reg. Julle burgers kan nie bloot op die Mag staatmaak vir die resolusie van konflik nie. Daardie konflik moet vooraf bestuur en bedwing word.”
“Ja, ja,” sê ek haastig.
“En die naam Theo is al wat jy het? En dat hy in die backpackers’ lodge bly?”
“Dis reg. Hy is lank.” Toe ek dit sê, wonder ek of ek dalk die korterige monnik beledig, want hy kyk weer stip na my. Hy peil my, hy probeer my na waarde skat.
“En jy is in jou vyftigs?” vra Jansen.
“Ek is vyftig, ja.”
“Jy is te oud vir verandering?” vra hy, sy voorvinger teen sy keelvel.
“Wel, ek het darem die verhouding met Soraya aangeknoop.”
“Dink jy dis ’n soort oorgang?”
“Ek gaan beslis nie ’n motorfiets koop nie. Dis jou dood soek.”
Hy sê: “Die dood?”
“Die ding is,” probeer ek weer, “die ouens is jonk en ’n mens se lyf is nie wat dit was nie en dis nie altyd duidelik presies hoe ’n man betrokke moet raak nie …”
“Was jy dan in jou jong dae, sal ek maar sê, ’n man van aksie?”
“Ek dink tog so. Ek was in die army.”
“In die army?”
“Ja.”
“Aan die grens?”
“Nee.”
Hy lyk weer nadenkend, krities, afkeurend. Dis asof ek erken het my gunstelingonderklere is van kant, natuurlik ter wille van ventilasie. “En jy is ’n skrywer?” vra hy.
“Ja.”
“Jy lyk ongemaklik.”
Ek voel hoe die bloed in my gesig opstoot. “Dis … ek … so … wel …”
“Jy hoef nie oor enigiets sleg te voel nie. Nie almal is bakleiers nie en dankie tog daarvoor.”
“O.” Ek voel iets soos dankbaarheid teenoor die monnik. “Ons … Die publiek maak staat op julle. Julle doen goeie werk …”
“Ek gaan op die publiek staatmaak om my na hom te lei.” Die speurder tik-tik met die hoek van sy notaboek teen die brug van sy hand. “Waar was jy toe sy dood is?”
“Ek is maar altyd hier. Gaan nie baie uit nie.”
“Mense sê jy hou jou eenkant?” Hy vra dit weer. Dis iets wat hom pla. Ons kyk in mekaar se oë.
Ek het geen benul van hoe om my aan te bied nie. Daar is ons in mekaar se geselskap. Dan vou hy sy vingers om die rug van die notaboek en sê: “Nou ja. Ek moet gaan.”
13
Die herfsdae is stil en loom. Dag lank lê die lug roerloos tussen die huise. Ek is moeg vir die lewe in die dorp. Die wandelpaadjies in die berg lok my. By die kiosk waar veldblomme uitgestal word, hou ek stil, die enigste motor in die skuins parkeerplekke teen die teerhelling, oorweeg ’n wandelstaf uit ’n houer en koes vir ’n doringtak, stamp in die proses hard teen ’n glasbottel wat met ’n geraas breek en vergeet dadelik van die staf. Uit ’n Wendy-huisie het twee mans in uniform vaak-vaak verskyn. Eers verwag ek ’n teregwysing, maar hulle voel kennelik skuldig, probeer paraat lyk, knik saaklik vir my. Die een snuif diep en verstel aan sy gordel waaraan daar ’n radio en nog iets hang wat moontlik ’n irriterende stof spuit. Die ander waarsku my op offisieuse wyse oor gerugte van aanvalle in die berg. Hy sê: “Meneer, in Suid-Afrika moet jy sorg dat jy die gevaarlikste man in jou blok is.” Ek verseker hom ek is.
Op die mooi dag stap ek deur water en teen ’n helling uit. Ná ’n ruk kyk ek terug, oor ’n handvol dorp en die eindelose see. Die klanke van die verkeer kom onduidelik na my toe wanneer ek my kop draai, op die wieke van ’n ligte wind wat oor die fynbos en my oorskulpe waai. In die baai dryf bote. Ek sien ’n paar van die heldergeel kajakke wat van die Ou Hawe uitgaan en die kus suidweswaarts volg, vrolike korrels rys teen die donker see. By die Nuwe Hawe strek die hawehoof die water in tot waar ’n toring ’n einde daaraan bring. Teen die kaai lê groot bote, waaronder ’n katamaran.
Ek kan die fynbos om my ruik, ’n geil reuk soos uit ’n wasgoedmandjie. Ek stap verder, vinnig. Die idee is om moeg te word, om als uit my te stap wat ek nie met wilsinspanning kan verban nie, al die ou gedagtes en ontevredenheid en die ewige gevoel van ontnugtering. Dis deesdae pal asof iemand my pas ingelig het my voorregte is verbeur en my leeftyd erg ingekort.
So volg ek die paadjies en draai af of op soos die gier my pak, drafstap teen steiltes uit, gly-val teen steiltes af. By ’n strook water wat aan die onderkant van ’n skuinste blink, moet ek eenkant toe staan vir ’n groepie wat my met Amerikaanse stemme groet. Die vriendelikheid is oordrewe. Miskien is hulle bang. Miskien het hulle iets oor Suid-Afrikaners gehoor en wil sorg dat hulle welwillendheid uitlok voor enige ander impuls kan posvat. Dan gaan ek verder, dieper die berg in, uit die sonkolle, na waar die koue in my neus kriewel.
Onder ’n krans stort water in ’n koel holte sodat die klank van die gespat weergalm. Die grond om my is nat, my skoenpunte ook. Lank staan ek daar by die waterval. Toe ek loop, en om ’n draai in die paadjie gaan, skrik ek en ’n trop bobbejane ewe groot vir mekaar. Hulle spat uitmekaar die bosse in en teen ’n aantal rotse uit. Ek gaan met kloppende hart verder. Daar is iets spesiaals aan die dag, die herinneringe, die skrik, die wonderlike manier waarop my hart in my borskas klop, my voete in my skoene brand.
Dan is ek ’n uur of wat alleen op die klipperige paadjie. Daar is bye wat om die plante gons en goue patrone in die lug weef. Die plante lyk mooi, op ’n manier duursaam én duur. Ek dink daaraan dat ek nie ’n inwoner is nie, maar ’n inkommer, ’n toeris. Dít is ek oral op aarde, en so what? Dit word ’n baie goeie dag, so weg van alles in my woonstel af. Nou begin ek weer dink aan wat voorlê, in die res van my lewe. Ek kan nie vir ewig in Hermanus bly nie. Iets sal hom egter voordoen, ’n geleentheid, ’n plan, ’n rede.
Ek staan aan die rand van ’n damwal. Voor my strek bruin water, die boonste sowat dertig sentimeter deursigtig voor ’n donkerder skakering oorneem en die bodem verskans. Die oppervlak kabbel lig in die windjie, waarvan ek bewus word noudat my warm vel afkoel.
Dit is nie meer vroeg nie. Miskien moet ek teruggaan.
Bo ’n klein woud is die paadjie ’n ruk weer steil waar dit teen twee hange uit sigsag. Ek trek die lug diep in my longe in, stoot dit uit, trek dit in, tot my bors jeukerig begin voel en ek half duiselig moet gaan staan voor ek stadig verder ploeter. Dan word die kloof weer vlakker, die steilte neem af. Ek is amper bo en teen die laaste sagte glooiing gaan dit maklik. Ná die inspanning van loop tot hier voel ek sterk en rats. Dis ook warmer hier in die laatmiddagson. Om my groei blink, koel gras waardeur ek die punte van my vingers vee, asof deur koringare. Van hier kan ek na weerskante oor die milddadige voorkop van die berg kyk, die kleur daarvan liggroen en bruin, die lug daarbo blou soos die see wat Walkerbaai onder my vul, en daarduskant die lang, smal dorp wat so sereen lyk, ten spyte van optogte, moorde, aanrandings, verkragtings, verneukspulle, ongelukke, hartseer, ongeskiktheid, opportunisme, teenspoed, kleinamptenary, ambisie en diverse ander aspekte van die menslike aard wat op die oomblik in werklikheid niks met my te doen het nie, hier waar ek voel hoe die sweet om my oë afkoel.
Op die berg begin die wind erger waai. Die son sit laag. Die moegheid wat oor my gekom het, het my luim versteur; ek voel wrokkig. Ek kry ook koud: snuif, nies, sal weer moet begin loop, of koue vat.
Dus baan ek my weg deur die gras tot by ’n grondpad. Ek is op ’n gelykte bo-op die berg. ’n Mens kan hier mense verwag wat met die bergpad by Mount Pleasant opry om oor die baai uit te kyk wanneer hulle nie deur bendes beroof en bedreig word nie.
Tweehonderd meter van my af, aan die westekant, is mense in kleurvolle