Aanspreeklikheid. Jaco Fouché
nie uitpluis wat ek reg gedoen het en wat ek verkeerd gedoen het nie.
“Solipsisme,” sê sy. “Dis mos daardie filosofie wat jy genoem het, die een met die selfsug.”
Sy kyk nie weer op nie. Ek loop by die deur uit en gaan op na my eie woonstel. Hier loop ek op en af in die sitkamer, tussen my boekrak en die boeke op die vloer en die skootrekenaar met my verhaal van Joseph Fouché, wat nou so laf en oorbodig lyk. Dis verstommend hoe min die letterkunde soms kan beteken.
11
Soraya word in die nag vermoor. Daarna lê ek wakker. My hart is in my keel en ek bly lê terwyl ek luister en hoop iemand anders tree op. Maar ék sal moet.
Ek staan op en gaan loer deur die gordyne voor die balkondeur. Dis donker in haar tuin. Dit het stil geword. Ek maak die deur oop en gaan uit op die balkon. Daar is lig in haar woonstel. Miskien is dit pas aangesit, want ek besef ek kan meteens die hondjie op die gras uitmaak in die lig wat deur ’n venster skyn. Die diertjie skuifel oor die gras, asof hy agter iets te ete aan snuffel.
Daar is ’n slag wat my laat vrees dis ’n skoot, maar dis ’n voordeur wat toegeslaan het. Ek moet die klank al ken, die deure hier slaan toe wanneer hulle oopgelos word. Ek haal diep asem en stap na my voordeur en gaan na buite.
Mense in die binnehof. “Wat gaan aan?” vra iemand.
“Dis weer daardie vrou.”
“Ag nee, sy moet uit, man, dit kan nie so aangaan nie.”
“Ek gee haar juis sulke kyke as ek verby haar loop, dat sy moet weet.”
Hulle merk my en dis asof die groep nader aan mekaar staan. Miskien het ek ’n fout gemaak deur nie eintlik met die mense te meng nie. Maar ek volstaan daarby: ek wou alleen wees en ’n mens het tog die reg?
Ek gaan met die trap af. Voor Soraya se deur staan mense in hulle nagklere, die koppe naaste aan ’n lamp skerp verlig, die ander in die halfdonker. Een klop aan die deur sonder dat daar antwoord is.
“Iemand sal moet ingaan,” sê ’n vrou en kyk rond vir vrywilligers.
“Wie ken haar?” vra ’n man.
Mense draai weer na my. Ek besef hulle het my en Soraya opgemerk, ons deur vensters saam gesien beweeg, miskien in die dorp opgemerk, te wete gekom van ons verhouding, as dit is wat dit was. Ek stap na die deur en draai die knip en gaan stadig in.
Daar is chaos in die plek. Sy lê op haar rug op die teëlvloer tussen haar slaapkamer en die badkamer, haar mooi, fris bene gebuig, haar oë starend na die plafon. Haar bloed lê om haar soos ’n nagkabaai wat vloer toe gesyg het. Haar keel is afgesny, maar eers ná verskeie mislukte pogings. Die hale lê diep en vlak oor haar donker borste, haar wange, haar nek, haar skouers.
“Wat het gebeur?” vra die opsigter agter my met diep skrik in haar stem.
“Hoe moet ek weet?” vra ek woedend. Dis asof die vrou deur my sien.
“Kyk die snymerke,” sê sy, draai weg van my af. “’n Mens hoor dit op die nuus. Dis nooit een steekhou nie. Dis altyd sewe-en-twintig.”
Iemand het die polisie gebel. ’n Konstabel kom stel hom voor as Petersen. Hy het ’n knyperbord met papier by hom en hy begin aantekeninge maak. Ek self het ’n staat van waarneming binnegeglip: eerder dít as die ontsteltenis, nou. Dinge val my op: die diep glans van die bloed, die rusbank wat omgekeer is, die foto’s in die slaapkamer wat van die muur afgeruk is. Sekswoede. Ek haal diep asem en voel my gemoed bedaar.
“Hoe ken jy haar, meneer?” vra die konstabel.
“Ons was vriende.”
“En waar was jy?” vra die konstabel.
Ons kyk na mekaar. Hoekom klink sy stem so skerp?
“Hy was in sy woonstel,” sê die opsigter. “Ons was voor hom by die deur.”
“Ek moet dit van die meneer self hoor.”
Asem in, asem uit. In die deurmekaarspul lê ek kortliks die verhouding uiteen.
“Jammer oor jou verlies, meneer,” sê die konstabel. Is sy stem skerp? Is dit?
“Haai, shame, ja,” sê die opsigter simpatiek. “Jy is so ’n stil een, en nou dit.”
“En die man wat hier gebly het?” vra die konstabel. Nee, sy stem is nie skerp nie.
Ek verduidelik dalk te breedvoerig oor die geraas en die vermoedens. Sy naam is Theo, dis al wat ek weet. En hy lyk sterk, in staat tot dinge. Ja, hy is wit. Skuim van die aarde, voeg ek met weersin by. Verdien wat hom ook al tref en hoe gouer en harder, hoe beter. Die konstabel kyk versigtig na my. Hy sal nie weer in daardie skerp stemtoon met my praat nie.
Staan rond. Moet aanwesig wees, betrokke, selfs bedagsaam. Daar gaan ure verby. Verskeie beamptes kom in en doen hulle ding, neem foto’s, gebruik ’n maatband, staan in groepies en praat oor ander voorvalle waarin mense dood is. Ek en die ander word uitgestuur en Soraya se liggaam word in ons afwesigheid in ’n donker sak geplaas en uitgedra. In die parkeerterrein kyk ek hoe die bakkie met die silwer kap met haar wegry.
In my woonstel sien ek nie kans vir slaap nie. Ongerieflike spanning in my lyf. Dus sit ek die skootrekenaar aan en werk tot my lyf styf en stram raak van my krom liggaamsposisie op die rusbank. Eers daarna gaan lê ek weer. Wil eintlik gaan stap. Maar dis die middel van die nag. Gevaarlik op straat.
12
’n Monnik staan voor die deur. Dis wat ek deur die slaap dink toe ek oopmaak. Die man is korter as ek, maar sterker gebou, en sy gesigsuitdrukking is hard en troebel, so met die wenkbroue wat diep duik en die snor wat hom laat snou. Dis sy hare wat hom na ’n monnik laat lyk. ’n Wal groei langerig en welig en donkerblond in ’n kring om sy kaal kop.
“Speursersant Jansen,” sê hy en klem my hand sodat ek terugdruk en besef my handpalm is klaar sweterig. “Kan ek met jou praat?” Hy is nie onbeskof nie, maar min mense sal vir sulke vasberadenheid nee sê.
Hy kom in en sê: “Interessante keuse vir jou nering. Sou ’n huis verwag het. Met hoë heinings.”
“Dis goedkoper in ’n woonstel,” sê ek. “En veiliger. In huise word mense vermoor.”
Dit trek sy aandag. Ons staar na mekaar. “Vermoor,” sê hy. “Ja.” Hy kyk rond. Hy tel ’n kussing van die vloer op en laat val dit op die groot wit rusbank.
Ek prewel die gewone verskoning vir die gewone deurmekaarspul. Hy skud sy monnikekop, seker om my gerus te stel, en tog glo ek nie hy is tevrede nie. Hy is waarskynlik ’n man vir netheid omdat dit dissipline beteken. Hy dra ’n vaal leerbaadjie en ’n duur denimbroek en enkelstewels en sy strak blik dra gesag daarmee saam.
“En nou nog moord. So julle het uitgegaan, verstaan ek?” vra hy toe hy op die rusbank sit en die volume van die ensiklopedie wat die stuk oor Fouché bevat as stut vir sy aantekeningboek gebruik.
Ek verduidelik weer. Ek was hier die dag toe John vir Soraya geskiet en toe homself om die lewe gebring het. Ek was hier toe haar nuwe huurder raserig en onverskillig geword het. Ek is al geruime tyd hier in die woonstelblok, hoewel ek nie veel van die mense ken nie.
“So jou vingerafdrukke is daardie woonstel vol?” vra hy.
Ek beaam dit. “Ons was in ’n verhouding, so te sê.”
Hy knik, wag. Ek bly stil. Ek dink ek praat te veel.
“En jy het die man geken wat by haar gebly het?” vra hy. “Jy weet wie hy is?”
“Nee, net van sien. Hy het gesê hy bly in die backpackers’ lodge.”
Die man maak ’n aantekening. “En jy sê jy meng nie eintlik met ander nie?”
“Dis die soort man wat ’n mens vermy. Die ander mense in die blok ken ek nie. Dit lyk vir my onbeleef