Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe. Johannes Bertus de Villiers

Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe - Johannes Bertus de Villiers


Скачать книгу
hulle hom kom sien het, het Johan twee ander gevangenes saamgebring. Kort voor lank was daar ses. Mettertyd twaalf.

      So drie jaar nadat hul sessies begin het, het ek een keer saamgegaan. Dit was byna onwerklik om te sien hoe ’n groep gevonniste misdadigers in ’n andersins leë saal kruisbeen sit en mediteer. Roerloos.

      Veral Johan was ernstig oor dié tegniek. Hy het komberse opgerol en ’n meditasiekussing gemaak sodat hy in sy sel kon mediteer. Wanneer dit oefentyd in die tronk was, het hy in ’n hoek van die binnehof gaan sit en mediteer terwyl gevangenes in oranje oorpakke om hom rondmaal.

      Ander ouens het ook begin om in hul selle te mediteer. Een gevangene het by Heila en Rodney stapmeditasie geleer en het elke dag in absolute stilte al om en om die gemeenskaplike oefenarea geloop terwyl hy mediteer. ’n Ander gevangene het eendag by een van hul meditasieklasse opgedaag. “Ek wil soos daai ou wees,” het hy gesê en na die stapmediteerder beduie. “Hy raak nie kwaad nie, hy baklei nie, ek wil hê wat hy het.”

      Iets baie ongewoons was in die Malmesbury-gevangenis aan die gebeur.

      In 2000, ’n jaar nadat hy begin mediteer het, het Johan ’n eed teenoor homself afgelê: Hy sal nooit weer sy hand teen ’n ander mens lig nie.

      Hy het sedertdien nog nooit weer baklei nie.

      Meditasie is nie ingewikkeld nie.

      Die eerste ding wat jy moet weet, is dat jy geen jogaposisies hoef te kan doen om te mediteer nie. Jy hoef nie op kole te loop of op ’n spykerbed te lê nie. Jy moet net van die geraas in jou kop bewus kan raak en jou fokus daarvan na iets anders skuif.

      Dink daaraan soos om ’n rugbywedstryd op TV te kyk. Daar is allerlei interessante dinge op die veld aan die gebeur, maar dit word dikwels oordonder deur die aanbieders wat heeltyd inpiep met hul eie menings en kommentaar. Net so word ons ervaring van die lewe heeltyd onderbreek deur die stem in ons kop wat ons gedagtes aflei, onnodige menings opper of met ons ervaring fout vind. Om te mediteer is bloot om die “mute”-knoppie te druk en op die spel te fokus eerder as op die aanbieders se gebabbel.

      Só werk dit: sittende meditasie

      Jy hoef nie in die lotusposisie te sit nie. Trouens, dit moet verkieslik nié in die lotusposisie wees nie. Jy wil nie jou knieë opneuk nie.

      Sit op ’n stoel of kruisbeen op die grond. Dit help as jy ’n kussing onder jou boude plaas, want dit lig jou heupe effens en help om jou ruggraat reguit te hou sodat jy wakker bly. Moenie teen die rugkant van die stoel terugleun nie; sit op die voorpunt van jou kussing of stoel. Verbeel jou ’n engeltjie het ’n handvol van jou hare gegryp en trek dit op na die hemel sodat jou kop na boontoe strek. Verbeel jou dan ’n boomwortel groei uit jou stuitjie sodat jou sitvlak stewig op die aarde geplant is. Rus jou hande op jou bobene of op jou skoot.

      Sit nou so stil soos ’n rots. Die eerste waardevolle oefening is om hoegenaamd glad nie te beweeg nie. As die gedagte opkom om ’n jeukplek te krap, jou een boud bietjie te skuif of jou nek te rek, beskou jy daardie gedagte as net nog ’n deel van die geraas in jou kop en gee geen gehoor daaraan nie. Sit soos ’n berg wat niks beweeg nie, al waai storms, droogtes, reën, hittegolwe of wat ook al oor jou.

      Let op hoe voel jou lyf. Hoe voel dit vandag in jou maag? Hoe voel dit vandag in jou skouers? Hoe voel jou kakebeen? Hoe voel jou oogballe in jou oogkaste?

      En as jy deeglik van jou lyf bewus is, vra jouself waar voel jy die asemhaling in jou lyf. Voel jy dit in jou maag wat op en af beweeg? Voel jy dit in jou longe wat opswel en weer afblaas? Voel jy die asem wat liggies in die agterkant van jou keel op en af gly? Voel jy dit waar dit oor die rand van jou neusgate in en uit beweeg?

      Kyk of jy jou aandag by jou asem kan hou. As jy uitasem, kyk hoe voel dit as jy uitasem. Jy ontspan effens, jy voel effens meer lomerig. As jy inasem, kyk hoe voel dit as jy inasem. Jy voel effens meer energiek, meer wakker. Let op hoe party asemteue dieper is en ander vlakker. Let op hoe party langer is en party vinniger. Soms is jou asem so vlak dat jy dit skaars oplet. Soms is jou asem so diep dat jou hele pens uitswel. Moenie jou asem­haling manipuleer nie, raak net nuuskierig oor wat dit doen en hou dit dop.

      Kort voor lank, dalk binne net enkele sekondes, gaan jou gedagtes dwaal. Jy gaan aan iemand dink met wie jy by die werk baklei het, of die aandete wat jy Vrydagaand vir jou vriende wil maak, of jou inkopielys, of iets wat jy op Showmax wil kyk, of die filosofie van Arthur Schopenhauer, of Karlien van Jaarsveld se persoonlike lewe, wie weet wat alles. Dis onnodig. Net soos wat jy nie geluister het na die stem wat jou vertel het om te kriewel of te krap nie, gaan jy ook nie luister na die stem wat jou wil verlei om allerlei stories in jou kop op te maak nie. Raak bewus daarvan, laat dit gaan en bring jou aandag terug na jou asem­haling.

      Binne oomblikke gaan jou aandag weer dwaal. Kom dan weer terug na jou asemhaling. Oor en oor.

      Soms gaan dit vervelig raak, maar dit maak nie saak nie. Gee jouself toestemming om van tyd tot tyd verveeld te wees. Kom net elke keer na jou asem terug. Moenie sleg voel as jou aandag oor en oor met jou weghardloop nie. Dis hoe ’n normale mens se gedagtes werk. Elke keer dat jy van jou wegholgedagtes bewus raak en jou aandag na jou asemhaling terugbring, oefen jy jou vermoë om jou gedagtes te kalmeer. As jou aandag honderd keer dwaal, kry jy honderd geleenthede om meditasie in te oefen. As jou aandag duisend keer dwaal, kry jy duisend geleenthede om meditasie in te oefen. As jou aandag ’n volle tienduisend keer dwaal, is jy supergelukkig, want dan kry jy tienduisend geleen­t­hede om meditasie te oefen.

      Die doel hier is nie om met ’n leë kop rond te sit waarin geen gedagtes oorbly nie. Dis eerder om te oefen om van jou gedagtes bewus te raak en dan jou fokus na een plek terug te bring sodat jy jou gaandeweg van die geraas in jou kop kan distansieer.

      Stapmeditasie

      As jou kop te besig is om lank stil te sit, kan jy stapmeditasie probeer. Dit behels nie om vir ’n wandeling in die veld te gaan of met jou hond deur die buurt te loop nie.

      Stapmeditasie is ’n hoogs formele dissipline met ’n vasgestelde metode. Dit werk veral lekker as mens dit kaalvoet of in jou sokkies doen.

      Gaan staan iewers waar daar so vyf meter voor jou oop is. Dit kan op jou grasperk wees, in ’n gang, selfs op ’n stil sypaadjie. Staan kiertsregop, moenie slonserig vooroor hang asof jy wil loer of jou tone nog daar is nie. Hou jou hande saamgevou – óf agter jou rug óf voor jou maag. Moenie jou arms langs jou sye laat swaai nie.

      Tel nou jou regtervoet stadig op, báie stadig sodat jy elke beweging kan voel. Bring jou voet stadig vorentoe en sit dit een tree voor jou sagkens op die grond neer. Gee stip aandag aan hoe elke deel van jou voetsool met die grond kontak maak. Skuif jou liggaamsgewig vanaf jou agterste voet na die voorste voet. Lig dan jou linkervoet stááádig op, beweeg dit langsaam vorentoe en sit dit aandagtig een tree voor die regtervoet neer. Stap nou so vorentoe, so stadig as wat jy kan. Gaan staan stil. Draai om. Stap op soortgelyke wyse terug. Heen en weer. Soos ’n trapsuutjies.

      Die idee hier is om jou fokus by die sensasie van jou voetsole op die grond te hou. Jy is nie hier om die uitsig te geniet nie. Jy is nie hier om oor ander dinge te dink nie. Jy oefen om jou aandag keer op keer na een ding terug te bring, jou voetsole wat veersag op die grond trap.

      Nou ja toe. Daar mediteer jy. Dis dieselfde tegniek wat Heila en Rodney die gevangenes in Malmesbury geleer het. Dis die tegniek wat mediteerders in antieke Indië, in die vroeë Christelike kerk en in moderne mindfulness-kursusse gebruik. Sit en stap. Sit en stap. Niks minder en niks meer nie.

      Dalk vra jy nou wat presies dié tegniek met blydskap te doen het. Laat ek verduidelik. Meestal raak ons so verstrengel in ons gedagtes oor hoe die wêreld móét wees dat ons vergeet om die wonder van die huidige oomblik raak te sien. Meditasie help jou om jou aandag vanaf jou gedagtes na jou sintuie te skuif. Mettertyd leer jy om minder en minder in jou kop te leef. Die dinge wat jou bedreig, is meestal gedagtes oor wat in die toekoms wag of wat in die verlede gebeur het, begin jy mettertyd besef. Hier waar


Скачать книгу