Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe. Johannes Bertus de Villiers
dis die werk van die Chinese mafia. Die skuldiges word in hegtenis geneem. Die aanklagte is ontvoering, gewapende roof, moord …
Die meeste van ons lewe doelbewus baie ver van die grusame misdaadwêreld waar hierdie soort ding gebeur. Ons sien dit in flieks, maar kom verder nooit naby daaraan nie.
So hoe verklaar mens Johan Stander se teenwoordigheid in die beskuldigdebank? Hoe het ’n jong man uit ’n voorstedelike, middelklashuis in Kuilsrivier in die middel van dié smerige en wrede storie beland?
Ja, Johan was as tienerseun aan die Tegniese Hoërskool Kuilsrivier ’n bietjie meer bakleierig as die meeste ander seuns, maar dis nie vreeslik ongewoon nie. Hy was ook buitengewoon groot: ver bo 100 kg, die gevolg van kranige liggaamsbou en skopboks.
Terwyl sy klasmaats naweke vir sakgeld in Shoprite gewerk het, het Johan in Kaapstad se nagklubs as uitsmyter begin werk. Uitsmyters is die groot deurwagte wat jou met ’n paar vuishoue uitsleep as jy in ’n kuierplek moeilikheid maak. Daar is sekerlik baie ordentlike ouens wat as uitsmyters werk, maar daar is ook mans wat dié soort werk as ’n eerste trappie gebruik om by georganiseerde misdaad betrokke te raak. Johan was een van laasgenoemde tipe.
Dit was die vroeë 1990’s. Dwelms is in klubs verhandel. Twee Chinese misdaadgroepe was in ’n turfoorlog op Kaapstad se strate gewikkel. Johan is gaandeweg deur die onderwêreld ingesuig.
“ ’n Chinese ou sou met ons kontak maak en vra of ons hom sou beskerm. Dan sê ons ja, sekerlik. Dan, ná ’n paar maande vra hy of ons vir hom ’n pakkie sou optel, en ons sê ja, sekerlik. En dan nog later laat weet hy ons daar is ’n ou wat hom probleme gee, sal ons die ou gaan uitsorteer in ruil vir so R10 000 of R15 000, sal ons hom in die hospitaal sit? Dan sê ons ja, sekerlik. En dan laat weet hulle ons daar is iemand wat hulle geld skuld, sal ons die geld gaan terugkry op watter manier ook al nodig is … ?”
Johan het ’n misdaadgroep se tatoeëermerke gekry. Meteens was die outjie van Kuilsrivier ’n groot lig in die skaduwêreld.
“Ek kon by ’n restaurant instap, my tattoos wys, en mense staan op om vir my plek te maak. En as ek wil betaal, dan sê hulle ek hoef nie te worrie nie, my rekening is klaar betaal. Dit was ’n power trip.”
En toe ruk dinge handuit.
’n Man word vermoor.
Johan en sy makkers word aangekla.
Hulle word op borgtog vrygelaat en slaan op die vlug, gaan skuil in die berge anderkant Worcester, waar die polisie hulle weer vastrek.
Die nuusmedia gons. Huisgenoot berig oor Johan, ’n man “wat ’n wildvreemdeling vir geld verwurg het. Wat bygestaan het terwyl sy slagoffer se keel afgesny is”.
In 1995 beslis die hof Johan Stander, net ’n paar jaar gelede ’n doodgewone hoërskoolseun van Kuilsrivier, verdien die swaarste moontlike straf. Hy spring die galg vry net omdat die konstitusionele hof die doodstraf afskaf terwyl die regter oor sy vonnis besin.
Johan word lewenslank tronk toe gestuur.
Sekerlik die naaste ding aan ’n lewende hel wat op hierdie aarde bestaan.
Het jy al ooit die binnekant van ’n Suid-Afrikaanse manstronk gesien? Ek het al ’n klein bietjie werk in tronke gedoen en weet verseker ek sal nie ’n dag lank as ’n gevangene oorleef nie. Vandat jy inloop, word jy van agter tralies aangegluur deur lenige mans met tatoeëermerke op hul gesigte en die kyk van aasdiere in hul oë. Daar hang ’n boosheid in die lug.
“Jy is sielkundig en geestelik in jou moer,” vertel Johan nou, byna 25 jaar sedert die tronkdeure agter hom toegeklap het. “Jy weet jy moet die wreedste bliksem word wat jy kan, anders gaan jy nie oorleef nie.”
Johan het die tronksel ingestap waar bendelede, moordenaars en verkragters ingeprop was en hulle met die intrapslag gewaarsku. “As een van julle naby my kom, dop ek hierdie plek om!” het hy gebulder.
En hy het sy belofte gehou. Die res van sy tronkjare het hy meestal in enkelaanhouding gebly omdat die owerhede gou besef het hoeveel chaos hy aanrig as ander gevangenes met hom moeilikheid soek.
Johan praat nie oor wat hy in die tronk moes aanskou nie, maar as jy iets van die tronklewe weet, kan jy jou net indink wat in die wêreld rondom hom gebeur het. Dwelms. Doodslag. Verkragting. Vloeke en pynkrete wat snags tussen die selle weerklink. “Jy is in die boosste, mees vernederende plek wat jy jou kan indink. Elke dag is ’n oorlewingspel.” Party ouens se koppe haak uit, hulle skuim om die mond, smeer hul selmure vol ontlasting.
Maar Johan het kopgehou. Hy het die ander gevangenes so bang gemaak dat niemand met hom wou sukkel nie. Die gerug het ontstaan dat hy 15 moorde op sy kerfstok het. Johan het die ander ouens toegelaat om dit te glo. “As ’n nuwe gangster die tronk ingekom het en met my wou sukkel, het sy pêlle hom op sy plek gesit.”
Mettertyd is Johan in die Malmesbury-gevangenis vir geweldsmisdadigers opgesluit.
En daar, vyf jaar nadat hy opgesluit is, het iets verander.
’n Stem het diep in sy gemoed begin praat.
Dalk was dit daardie sagte stemmetjie waarvan Bente vertel, die stem van jou hart wat jou roep om tuis te kom. Hoe Johan dié stemmetjie bokant die geraas in die tronk kon hoor, weet nugter. Maar hy het iets gehoor en begin besef sy lewe kan nie op dieselfde trant voortgaan nie. Sy lewe was ’n gemors. Daar was geweld, daar was woede, daar was skaamte, daar was ’n magdom emosies, maar blydskap was nie een van hulle nie.
Johan het iets onthou uit die dae toe hy Oosterse gevegskuns bestudeer het. Iets wat hy ook onder die Chinese in die misdaadwêreld teëgekom het.
Hy het ’n vriendin buite die tronk gevra om vir hom die kontakbesonderhede te vind van iemand wat hom sou kon leer mediteer.
Sy vriendin het na hom teruggekom met die adres en telefoonnommer van Heila en Rodney Downey, Zen-leraars van ’n plek genaamd The Robertson Dharma Centre.
In klassieke Indië het hulle ’n metafoor gehad om die binnekant van ’n mens se kop te beskryf: Jou gedagtes is soos ’n dronk aap wat op ’n plaat warm kole dans. ’n Meer moderne metafoor is die binnekant van ’n tuimeldroër.
As jy al ooit moeite gedoen het om stil te sit en stip te kyk wat binnekant jou skedel aangaan, sou jy waarskynlik opgelet het daar heers chaos. Een gedagte onderbreek die ander gedagte keer op keer. Dieselfde ou stories word oor en oor in jou gedagtes herspeel. Ou argumente op repeat. Allerlei vrese oor goed waaroor jy geen beheer het nie. Negatiewe selfspraak. Skinderstories. Bisarre en onrealistiese fantasieë oor wat jy vir die onderhoudvoerder sal sê in jou eerste onderhoud nadat jy Wimbledon gewen het. Die grootste klomp strooi.
Het jy al ooit ’n koei dopgehou? Koeie is eienaardige diere. Anders as ons mense wat ons kos een maal klaar kou en dan sluk, kou koeie dieselfde gras oor en oor. Vroegoggend kou hulle ’n klomp gras in ’n weiland af en sluk dit in, en vir die res van dag bring hulle daardie selfde gras oor en oor in hul mond op sodat hulle dit kan herkou. Ek het iewers gelees die gemiddelde koei maak 40 000 kakebeenbewegings per dag.
Ons gedagtes is baie soos ’n koei se kouery. Dieselfde ding oor en oor, oor en oor.
As wysheidsleraars sê ons moet die geraas in ons lewe minder maak om die stem van ons hart te kan hoor, dan bedoel hulle nie net ons moet die TV afskakel en iewers gaan sit waar ons nie meer die verkeer in die strate kan hoor nie. Veel belangriker is dat ons moet leer om die geraas binne ons kop tot bedaring te bring.
Die tweede pyl waarvan ons in die vorige hoofstuk gepraat het, die katastrofegedagtes wat ons swaarkry soveel vererger deur ons heeldag te herinner aan wat in ons verlede verkeerd gegaan het en wat in die toekoms kan skeefloop, maak ’n baie groot deel van die geraas in ons kop uit. Die geraas is die stem wat jou vertel dat jy eerder ’n ander