Ena Murray Omnibus 26. Ena Murray
tee skink. Hoe meer oefening daardie hand kry, hoe beter. Middag, Anmar, Louise.”
Anmar knik onbeholpe en sak blosend in ’n stoel neer.
Louise kyk bly op. “O, Paul, maar jy is vroeg by die huis vanmiddag.”
“Ja. Ek het stilletjies weggeloop by die spreekkamer. Ek wil Anmar net eers wys presies wat ek verlang. Daarna sal ek julle met rus laat om op jul eie verder te gaan. Of daar resultate gaan wees, gaan net van julle twee afhang.”
Die twee vrouens kyk vlugtig na mekaar en dan glimlag Louise weer.
“Dit lyk my hierdie man is ’n slawedrywer, of hoe, Anmar?”
“Dit kan jy weer sê,” antwoord Anmar spontaan en kyk uitdagend terug in die groen oë. “Dit verbaas my dat hy my genoeg vertrou om my alleen te laat aangaan met die behandeling. Gewoonlik doen ek nooit iets reg nie.”
Paul neem sy koppie en sak onverstoord neer in die seilstoel, kyk dan op na Louise. “Sien jy wat ek bedoel? Dwarstrekkerig en skoorsoekerig is haar voorname. Drink julle tee, dames, daar wag werk op ons.”
Louise lag, en dan versober haar gesig. Dis die eerste keer in ’n baie lang tyd dat sy haar eie lag hoor opklink. Haar blik sak af na die tee in haar hande, en meteens sien sy nie haar hand soos dit nou is nie, maar kry sy ’n visie van hoe dit was – en miskien weer kan wees – en ’n vreemde opwinding maak hom meteens van haar meester. Sy het tot dusver nie veel geloof gehad dat die behandeling wat Paul beoog werklik sal help nie, maar nou . . . ás dit miskien help . . .
’n Volwaardige mens, het Paul gesê. O, om weer volwaardig mens te wees!
Dat dit egter nie grappies gaan wees nie, besef Louise toe sy ná ’n uur uitgeput en nat van die sweet plat op die tafel in die sonkamer lê, waar Paul besluit het die beste plek vir die behandeling sal wees.
Ook Anmar besef dat daar nie net van haar pasiënt nie, maar ook van háár baie geverg gaan word in die weke wat voorlê. Sy het met nougesette aandag elke beweging van Paul se sterk hande gevolg terwyl hy haar touwys gemaak het, en stip gekyk toe hy die oefeninge gedemonstreer het.
Hy kyk nou af op die moeë gesig op die harde tafelblad en knik. “Ek het jou vir die eerste dag ’n bietjie gemoor, Louise, maar dit was noodsaaklik om Anmar alles duidelik te wys.” Sy knik net moeg en hy draai na Anmar. “Is daar enigiets wat jy nie goed begryp nie of miskien wil sê?”
Sy glimlag effens. “Nee. Ek verstaan alles en my opinie is nie van belang nie.”
Hy frons afkeurend. “Anmar, asseblief! Ek het jou samewerking nodig. As daar iets is wat jou hinder . . .”
“Paul, sy terg jou net,” onderbreek Louise se sagte stem hom. “Jy is te fyngevoelig, my vriend.” Sy hou haar hand na hom uit. “Help my op, asseblief. Ek is pootuit.”
Hy gee Anmar ’n betigtigende kyk en skuif dan sy arms onder die skraal vrouegestalte in en tel haar op. “Ek sal jou sommer kamer toe dra. Gaan rus nou ’n volle uur lank, dan kan jy gaan bad.”
Anmar sien hom met sy neef se vrou in sy arms wegstap en volg hulle traag. Toe sy in die kamerdeur verskyn, hou Louise haar hand na haar toe uit en spontaan neem sy die uitgestrekte hand.
“Dankie, Anmar.”
Sy knik, gee die hand ’n drukkie en laat dit dan terugsak. “Ek is môre weer hier. Lekker rus.”
Vlugtig gaan haar blik deur die slaapkamer, rus ’n oomblik op die bed. Sy stap uit, haar oë blink. Louise is so ’n patetiese wese! Jare lank het sy ’n geheime wrok gekoester teen die vrou wat haar verloofde van haar gesteel het. Vandag . . . vandag kan sy net innige jammerte vir haar voel. Arme Louise . . .
Sy byt haar bewende onderlip vas toe Paul se gelykmatige stem langs haar opklink: “Ek neem jou gou terug woonstel toe.”
“Nee, dankie. Ek wil graag stap.”
“Maar dis ver . . .”
“Dit maak nie saak nie. Ek wil graag alleen wees. Tot siens, dokter.”
Sy begin sommer aanstap, kyk ook nie weer om nie, sien nie hoe hy haar agternastaar en weet nie dat hy sy oë ’n oomblik sluit asof hy bid voordat hy na sy motor toe stap nie.
Anmar stap stadig terug. Daar is geen haas om by haar woonstel te kom nie. Daar wag tog niks op haar nie. Sy glimlag meewarig. Ook dít het verander. Voordat Paul na Kruisrivier gekom het, kon sy nie gou genoeg haar inkopies doen om weer terug te wees in haar woonstel nie. Nou is dit of die mure haar vasdruk, asof dit te nou geword het vir haar.
Maar wat het nié verander nie? dink sy. Nêrens is daar meer ’n hoekie waarin Paul van Drüten nie ingedring en ontwrigting gebring het nie.
Sy swenk weg en kry koers in die rigting van die koppies aan die kant van die dorp. Paul is vol geloof dat volgehoue behandeling Louise so te sê geheel en al die gebruik van haar arm en been sal teruggee. Maar dat dit nie vandag en môre sal geskied nie, is baie seker. Vyf jaar lank het Louise geen moeite gedoen om haar spiere te oefen en in te span nie. Hulle is gewoond daaraan om lui te wees, sommer net pap te lê. Dit gaan geduld en volharding verg en ja, ook geloof, om daardie lam spiere aan te spoor tot gehoorsame aktiwiteit.
Sy baan haar weg versigtig tussen die ronde ysterklippe deur en wonder hoekom Louise ná vyf jaar toegestem het om ’n poging aan te wend om die volle gebruik van haar arm en been terug te kry. Volgens Paul het sy tot dusver nie omgegee dat sy minder as die helfte van die gebruik van ’n arm en been het nie. Wat het haar nou laat toestem?
En Paul? Hoekom is hy so begaan oor Louise? Hoekom gaan hy so uit sy pad om sy neef se vrou weer ’n heel mens te kry? Het hy dalk ’n verskuilde agenda? Sy het hom nog nie baie met sy pasiënte sien werk nie, want as matrone is sy nooit by nie. Maar vanmiddag het sy gesien hoe teer hy kan wees. Louise is nie gewoond aan die strawwe oefening wat die behandeling vereis nie. Sy was later tot die dood toe uitgeput, selfs moedeloos. Een keer het sy met trane in haar oë gesê dat sy nie besef het wat werklik op haar wag nie en dat sy nooit daarmee sal kan volhou nie. Maar Paul se bemoedigende stem het haar weer laat moed skep, en hoewel sy totaal uitgeput was en die sweet blink op haar bleek vel gelê het, het sy gehoorsaam bly saamwerk.
Skielik wonder Anmar of Paul selfs nie die dryfkrag agter Louise se samewerking is nie. Die beeld van Paul se teer hande, sy sagte stem, sy neef se vrou in sy arms toe hy haar soos ’n moeë baba kamer toe gedra het, laat haar nou twyfel of Paul van Drüten werklik net ’n belangstellende helper is in hierdie onmoontlike situasie waarin hulle hul bevind. Is dit ’n driehoek . . . of eerder ’n vierkant wat skielik op Kruisrivier ontstaan het?
Anmar kyk somber oor Kruisrivier uit, en begin dan terugslenter dorp toe.
Sý is nie werklik deel van hierdie vierkant of driehoek nie, wat dit ook al mag wees. Sy weet Paul van Drüten glo vas dat sy ’n prominente plek in hierdie prentjie inneem, maar in haar hart weet sy dat dit nie so is nie. Clive beteken niks meer vir haar nie, en al weet sy dat sy net haar pinkie hoef te lig om hom terug te kry, stel sy nie belang nie.
Maar hoekom laat sy haar dan by hul lewens betrek? Hoekom haar vrye tyd opoffer om Louise te help? Hoekom haar deur Paul van Drüten laat dwing om iets te doen wat sy nie wil doen nie? Nee. Dis tog nie waar nie. Wat wel waar is, is dat sy nie graag haar lewe intiem ineengestrengel wil sien met dié van Clive en sy vrou nie. Maar dis nie waar dat sy nou iets doen wat sy nie graag wil doen nie. Sy voel verbaas by die ontdekking van hierdie feit. Nee. Sy wil Louise werklik graag help. Sy wil sien dat sy die gebruik van haar arm en been terugkry. Sy wil sien dat Louise weer ’n aantreklike, energieke mens word sodat sy saam met haar man geluk kan vind. Hulle het voorwaar duur genoeg daarvoor betaal.
Maar is dit vir Clive en sy vrou se gesamentlike geluk dat hulle die stryd aangeknoop het? is die lastige vraag wat in haar opkom. Is dit net húl toekomstige geluk wat op die spel is, of is Paul van Drüten se geluk ook in gedrang? Sy probeer hierdie gedagte van haar wegskuif. Paul neem tog gereeld vir Elsa Dreyer uit. Of is Elsa ook maar net nog ’n rookskerm waaragter hy skuil?
Sy is so diep in gedagte versonke