Ena Murray Omnibus 26. Ena Murray
weggeskeur kry nie. Sy stem is baie stil, gevaarlik stil. “Dit moet nooit weer gebeur nie, Anmar. Verstaan?”
Sy trek haar asem diep in, sluk, swaai eindelik van hom af weg, staar blind na die skildery teen die muur. “Jy kom al weer tot die verkeerde gevolgtrekking.”
“Tot watter gevolgtrekking ek kom en wat ek dink, weet ek, tel nie by jou nie. Maar op een punt moet jy my goed verstaan: Dit tel by my hoe die matrone van my hospitaal haar gedra en watter voorbeeld sy aan haar personeel stel. Dit tel beslis by my as sy getroude mans in haar woonstel ontvang en hulle dan nog oop en bloot, ten aanskoue van die hele verpleegsterstehuis, goeienag soen. Dit tel beslis by my as daardie getroude man mý neef is en ek die man is wat hom hierheen laat kom het. Ek herhaal: dit moenie weer gebeur nie! Nou. Gaan kry jou reg.”
Sy swaai terug, kyk in sy koel oë vas, weet dat hy haar nie sal glo nie, al vertel sy hom die volle waarheid. “As ek beloof dit sal nooit weer gebeur nie . . .”
“Al weer voorwaardes? Wil jy dalk voorstel dat jy my neef nie weer in jou woonstel sal ontvang nie as ek jou nie sal dwing om vanaand saam met my te gaan en sy vrou in die oë te kyk nie? Is dit wat jy wil sê? Dan kan jy jou asem spaar. Gaan trek jou aan!”
Sy voel tot haar ontsetting trane agter haar ooglede brand. So ’n bullebak! Sy sal hom wys. “Ek gaan nie saam nie, Paul van Drüten, en jy kan op jou kop staan . . .”
Sy kom nie verder nie. Hy beweeg soos ’n pyl uit ’n boog, en sy voel hoe haar skouerknoppe stewig vasgevat word. Versteen sien sy hoe die groen oë blits soos sy hulle nog nie sien blits het nie.
“Jy ken my teen hierdie tyd, Anmar. Ek is nie die toonbeeld van geduld nie. Moet my nie beproef nie.” Toe sy hom net roerloos staan en aankyk, asof gefassineerd deur die skitterende oë hier digby haar, vervolg hy nog sagter. “Dit sal beslis baie reperkussies tot gevolg hê as die nagpersoneel moet sien hoe ek hul matrone oor my skouer hier uitdra.”
“Jy sal dit nie waag nie.”
“Nie? Matrone, jy het geen idee, nie die vaagste benul van waartoe ek in staat is nie. Maak my net kwaad genoeg – en ek is baie náby aan daardie punt, hoor? Gaan maak jou nou mooi, só mooi as wat jy nog nooit was nie,” en tot haar verbystering verskyn daar meteens ’n glimlaggie om sy mondhoeke en streel sy wysvinger oor haar wang, “en laat ons nie langer tyd verspil nie. Ons is reeds laat.”
Hy draai van haar af weg en sy stap gehoorsaam in die rigting van haar slaapkamer. Maar net toe sy by die deur kom, swenk sy vinnig regs en pyl op die oop badkamerdeur af. Haar slaapkamerdeur het nie ’n sleutel nie, maar die badkamerdeur wel. Maar sy kon haar die moeite gespaar het. Besonder rats en vinnig vir so ’n groot man, is hy voor haar by die deur en hardloop sy haar vas teen sy arm wat soos ’n staaldraad dwars oor die opening span.
Die volgende oomblik kan sy ’n klein gilletjie nie keer nie. Sonder seremonie word sy oor ’n skouer gegooi en begin hy aanstap voordeur toe.
“Dokter!” Maar hy bly aanstap en pleitend begin sy huil. “Paul! Asseblief! Sit my neer! Jy kan nie . . . Paul!”
Hy laat haar teruggly grond toe en van nie weet waar om haar kop in te steek nie, druk sy dit sommer teen die gehate bors vas. Sy voel ’n hand teen haar agterkop haar gesig nog vaster druk.
“Kom nou. Jy maak net daardie pragtige grys oë rooi en lelik.”
Sy skud haar kop desperaat hier teen hom. O, sy wens, sy wens hierdie man wil . . . wil in die niet verdwyn. Hoekom moes hy na Kruisrivier kom? “Hoekom torring jy gedurig aan my?”
’n Sterk arm begin haar in ’n rigting trek en sy kan niks anders doen as om te gehoorsaam nie. Sy hoor ’n kasdeur oopgaan en ’n rukkie is dit stil. Dan klink sy stem kalm op en die greep om haar verslap effens.
“Hierdie rok behoort jou goed te pas. Kom. Nou gee ek jou net vyf minute, nie ’n sekonde langer nie.”
Dan is sy meteens alleen in haar kamer en sy sien die deur agter hom toegaan. ’n Oomblik staan sy nog roerloos en sy kyk onwillekeurig na die venster. Dan skud sy haar kop en haar bewende vingers begin haar uniform se knope losmaak. Dit sal nie help nie. Al gaan kruip sy ook waar weg, die haatlike mansmens sal haar wel kry en saamsleep. Hoe gouer sy dus klaarmaak en die ding agter die rug kry, hoe gouer sal sy van hom ontslae wees. Sy pluk die geel rok wat hy uitgesoek het vinnig oor haar kop. Sy moet klaar wees voordat hy weer daardie deur oopmaak. Hy is kapabel en kom sommer ingestap, al is sy nog nie ten volle geklee nie.
Kwalik het sy die rok reggetrek, of die deur gaan oop en hy verskyn.
Sy gee hom ’n woedende kyk. “Is dit jou gewoonte om by dames se slaapkamers in te stap sonder om te klop?”
Hy leun gemaklik teen die kosyn, sy gesig serieus. “Natuurlik. Waar het jy gehoor van ’n dokter wat aan slaapkamerdeure klop? Ons is gewoond sommer binnestap.”
“By pasiënte, ja. Ek is nie jou pasiënt nie.”
“Maar jy is. Jy is my belangrikste pasiënt op die oomblik.” Sy oë rus op die gesig wat in die spieël na hom weerkaats word en Anmar is intens bewus daarvan dat hy agter haar kom staan het en toekyk hoe sy vinnig grimeer en die spore van trane probeer wegkry.
Haar stem is bytend. “In daardie geval, kan ek jou sê, het jy ’n heeltemal verkeerde diagnose beet.”
“Hm. Dis moontlik. Miskien moet ek maar my kollega se hulp inroep. Hy weet beter as ek om spoke te vang.”
“Wat praat jy tog?”
“My kollega, die Slams. Tant Liefie sê die Slams is eintlik die regte dokter vir jou. Miskien moet ek hom tog maar ontbied.”
Sy blik hom vererg aan. Tant Liefie praat gans te los. Sy roer onrustig. Wat sou tant Liefie alles teenoor hom kwytgeraak het? Sy staan op. “Jy is nie reg wys nie, Paul van Drüten.”
“Dit het jy my al voorheen vertel. Kom.”
Toe hulle by die hospitaalhekkie uitry, vra Anmar: “Waar bly hulle?”
“Voorlopig in my pa se huis. Hulle kan eers volgende maand ’n huis kry.”
“Maar jy bly dan ook daar! Hoe kan sy jou dan vir ete nooi in jou eie huis?” Sy byt haar onderlip vas. Genugtig, sy laat haar darem maklik deur hierdie man vang. Hy antwoord nie, omdat ’n antwoord duidelik nie nodig is nie en sy vra weer opnuut vererg: “Hoekom is dit vir jou so dringend belangrik dat ek Clive se vrou ontmoet? Wat voer jy in die mou?”
Hy trek weg by ’n stopstraat en antwoord. “Jy sal sien. Ten minste, ek hoop jy sal.”
“Jy praat in raaisels.”
Hy loer vlugtig na haar. “Wil jy my sê dat jy en Clive nog nie een keer oor sy vrou gepraat het sedert hy hier aangekom het nie?”
“Nee. Ons het nie. Ek weet jy glo my nie, maar dit is so. Ek het net gevra hoe gaan dit tuis en toe sê hy onder omstandighede goed.”
“En jy het nie gewonder wat hy daarmee bedoel nie?”
“Nee. Ek . . .” Sy swyg skuldig. Sy was so vol van haarself, vol van haar eie bevryding en die wonderlike gevoel van los wees van die verlede, dat sy nie werklik aandag gegee het aan wat Clive gesê het nie.
Langs haar verstroef Paul van Drüten se gesig. Dan hou hulle voor die huis stil en sy voel hoe hy haar aan die elmboog uit die motor help.
Daar is ’n nare, hol gevoel op die krop van haar maag en sy is dankbaar vir sy arm wat haar ondersteun toe hulle die huis binnestap. Haar vingers knel spontaan sy sterk hand stywer vas toe hulle in die sitkamerdeur verskyn en sy op die vrou in een van die stoele neerkyk.
Sy neem alles in ’n oogwenk waar – die blonde hare wat ’n bietjie slordig met ’n rekkie saamgevat is, die paar los hare wat oor die voorkop hang, die te maer gestalte wat netjies geklee is, hoewel die rok los en onooglik is, die ongegrimeerde gesig met oë wat diep in hulle kasse versink is, die geel kleur van die vel wat te styf oor hoë wangbene span, die rimpels wat beslis te vroeg op die voorkop en om die mond