Ena Murray Omnibus 26. Ena Murray
botstil staan, onverklaarbaar die regte dinge doen; die regte dinge sê. Vreemd ook dat ’n mens teenoor iemand te staan kom wat eens op ’n tyd baie dierbaar vir jou was, maar nou soos ’n algehele vreemdeling lyk. Vreemd dat jy na die een man kan kyk, maar intens bewus is van die man langs hom.
“Jy . . . jy is pragtig, soos altyd. O, Anmar, ek weet nie wat om te sê nie . . .”
Sy skud haar kop, sak lam terug in haar stoel. Wat is daar om te sê? wonder sy suf. Dan, asof deur ’n magneet getrek, ontmoet sy die priemende blik van dokter Van Drüten. Sy laat haar blik vlugtig oor sy gesig gly, oor sy groot gestalte, en hy lyk skielik soveel meer bekend, sy oë soveel meer werklik, die herinnering aan die aanraking van sý mond soveel helderder, dat sy meteens ’n vreemde kalmte van êrens vandaan haal. Sy kan selfs liggies glimlag.
“Wil julle nie sit nie? Ek kan gou tee laat haal.”
“Clive kan vertoef as hy wil. Ek moet net gou iemand gaan sien.”
Sy kyk op na hom en weer is sy stem soveel meer bekend as dié van die man uit haar verlede dat sy spontaan haar hand uitsteek om hom terug te hou. Maar hy is reeds by die deur uit en haar blik moet terugkeer na die ander man.
Sy druk die klokkie en vra gelykmatig: “Hoe gaan dit met jou, Clive? En met jou gesin?”
’n Dowwe gloed skiet by sy boordjie verby en dit verbaas haar. Clive is nie meer sy selfversekerde self nie. Die Clive wat sy geken het, was altyd die ene selfvertroue. Sy kan nie onthou dat hy dit ooit nodig gevind het om te bloos nie. Eienaardig, dink sy met ’n klein glimlaggie, eienaardig dat ek en Clive blykbaar albei eers laat in ons lewens geleer het om te bloos.
“Dit gaan goed . . . onder omstandighede. Maar ek wil nou eers van jóú hoor. Was jy regtig al die tyd hier en . . . is jy toe nooit getroud nie?”
Sy kry dit reg om hom kalm te antwoord: “Ek is al vyf jaar lank matrone hier, en nee, ek is nie getroud nie. Vertel my, hoe gaan dit met Oudokter? Wanneer het jy hom laas gesien?”
In tant Liefie se kamer word ook vrae gevra: “En wat lyk jy so bekaf, Dokkie? So asof die kraaie jou kos afgevat het.”
“Die kraaie het meer as my kos afgevat, tante. Hulle het my hart uitgepik.” Paul neem sugtend op die voetenent van die bed plaas. “Ek het toe die spook vir haar gewys, tante.”
“Ja?”
Hy skud sy kop. “Ek weet nie . . . Eers het dit gelyk asof sy werklik ’n spook voor haar sien staan. Maar sy het haar gou reggeruk. Ek weet nie mooi wat om te dink nie. Tante ken haar ook al ’n bietjie. Sy is so gewoond om haar ware gevoelens weg te steek dat ’n mens nie kan sê nie. Ek het hulle nou ’n rukkie alleen gelaat.”
Toe hy minute later weer in die deur verskyn, frons hy ergerlik en lyk kwaaier as wat hy besef. Anmar se onleesbare gesig irriteer hom meteens só dat hy haar gerus aan die skouers kan gryp en skud totdat sy wys wat sy werklik op hierdie oomblik voel en dink.
Al wat Anmar sien, is sy frons en die groen oë wat haar soos altyd ontevrede aankyk.
“Hier is nog tee, dokter Van Drüten.”
“Nee, dankie. As julle klaar is, kan ons maar gaan, Clive. Ek wil jou aan ons pasiënt in die ouetehuis gaan voorstel.”
Sy neef staan dadelik op en sit die koppie neer. “Dankie, Anmar. Dit was heerlik. Dit was ook wonderlik om jou weer te sien.”
Sy kyk in sy bewonderende oë op, maar sy is net bewus van die ander man se fronsende, ondersoekende blik.
Sy volg hulle met haar oë deur die venster toe hulle die hospitaal uitstap na die motor wat onder die groot sering geparkeer staan. Twee neefs, so eenders, en tog ook so verskillend: Clive is heelwat korter as Paul, merk sy nou terwyl hulle langs mekaar stap. Teen Paul se bonkige gestalte vertoon Clive amper skraal. Hulle manier van stap is met die eerste oogopslag baie eenders, tog is die langer neef se tred meer afgemete – asof hy presies weet waarheen hy op pad is.
Clive Coertze . . . Die jare rol terug, maar vreemd, dis of die herinneringe meteens nie meer seermaak nie. Sy kan nugter terugdink, en die gedagte dat dit onherroeplik verby is, maak nie meer saak nie. Die herverskyning van Clive Coertze was iets wat sy gevrees het. Dit het haar met ’n wurghand gegryp toe Paul van Drüten gesê het dat sy neef Kruisrivier toe kom. En vandag het hy voor haar gestaan en die wurghand het teruggesak na waar hulle hoort: na gister wat verby is. Clive Coertze maak nie meer saak nie.
Sy sluit haar oë en roep sy gesig voor haar op soos dit gelyk het in die eerste oomblik van herkenning. Sy sien die spontane bewondering in sy oë – bewondering waarna sy eens so gesmag het, maar wat haar nou koud laat. Die feit dat hy haar nog nie vergeet het nie – sy woorde en hele houding getuig daarvan – doen niks aan haar hart nie. Die wete dat Clive Coertze haar nog pragtig en begeerlik vind, bring geen opwinding of vertroosting nie. Dit kan haar nie skeel nie.
Daar is geen spook nie! Sy haal diep asem en ’n glimlag van onbeskryflike verligting verskyn op haar gesig. Op hierdie oomblik is sy meer as pragtig. Maar dan versomber haar gesig. ’n Nuwe spook het die oue se plek ingeneem. En hierdie spook is nie een wat haar verbeelding vir haar geskep het of haar herinneringe vir haar opgetower het nie. Hierdie een is werklik, veel meer werklik as wat die spook van gister ooit was.
In die motor op pad dorp toe is dit eers stil. Dan is dit of die vraag onwillig van sy lippe val: “Het jy en matrone Cloete mekaar goed geken?”
Dis of die ander man eers aarsel, maar dan erken hy: “Ja. Om die waarheid te sê, sy was my verloofde toe . . . toe die ding met Louise gebeur het.” Paul van Drüten se blik bly stip op die pad en ná ’n ruk vervolg sy neef: “Jy kon my met ’n veer omslaan toe sy so skielik voor my staan. Al die jare het ek gewonder wat van haar geword het. Ek het haar probeer opspoor.”
“Hoekom?” Die vraag is kortaf.
“Wel, ek wou darem verduidelik, met haar praat. Ons is sonder ’n enkele woord uitmekaar. Sy het haar ring per pos teruggestuur en toe ek by haar blyplek kom, was sy reeds weg, ook van die hospitaal. Niemand het geweet waarheen sy is nie. Sy het net in die niet verdwyn en nou, ná vyf jaar, vind ek haar terug op Kruisrivier.” Hy ontvang ’n skerp, ondersoekende blik van sy neef, maar merk dit nie op nie. Sy gedagtes is te vol. “Sy is nog net so pragtig soos altyd.”
“Sy is nie meer ’n onkundige meisie nie. Sy is ’n vrou van agt en twintig.”
“Ja. Dit is so. En veel pragtiger as vyf jaar gelede.” En begeerliker, soveel begeerliker, voeg hy in sy hart by. Hy het desperaat na haar gesoek aan die begin, maar hom later daarby berus dat Anmar Cloete vir goed uit sy lewe verdwyn het. Maar vandag besef hy wat hy vyf jaar gelede verloor het. Hy weet nou hy moes hemel en aarde versit het om haar terug te vind; haar gedwing het om na hom te luister, haar gedwing het om hom te vergewe. Hy moes haar nie toegelaat het om uit sy lewe te stap nie. ’n Vrou soos Anmar Cloete laat ’n man nie deur jou vingers glip nie. Hy moes alles gedoen het om hom uit die web waarin hy homself verstrik het, te bevry, maar Anmar moes hy nie prysgegee het nie. Hy was ’n dwaas, maar nou het hy dalk die geleentheid om iets daaromtrent te doen.
Anmar kom dit nie self agter nie, maar vir die res van die dag is daar ’n klein glimlaggie om haar lippe, stap sy met ligter tred deur die gange van die hospitaal, sien sy selfs klein foutjies oor wat andersins onmiddellik reaksie sou ontlok het. Haar personeel kom dit egter baie gou agter en wonder wat aan die gang is. Matrone Cloete lyk opeens mensliker as wat hulle haar nog ooit gesien het.
Vir Anmar voel dit asof sy dit kan uitjubel sodat almal kan hoor: Ek is vry, vry van gister! Gister maak nie meer saak nie! Gister is verby!
Maar natuurlik pas verspottigheid die matrone nie, dus gee sy maar net haar geheimsinnige glimlaggie en kyk met vreugde in haar grys oë na almal en alles om haar, sonder om te besef dat die personeel hul eie interpretasie daaraan heg.
Veral Elsa Dreyer hou die matrone tydens aandete met vernoude oë dop. Waar Anmar aan die tehuismatrone se tafel sit, gesels sy ongewoon gesellig saam. Gewoonlik is dit maar stil aan daardie tafel. Toe Anmar skielik hardop lag, kyk die teatersuster veelbetekend