Ena Murray Omnibus 26. Ena Murray
aandag afgedwing het. Dis alles dinge wat jou personeel anders vertolk het.”
“Maar hulle het dit verkeerd vertolk,” sê sy in heftige verweer en wonder vaag hoekom sy haarself voor hierdie man probeer verontskuldig. En tog hoor sy haar eie stem: “Ek het dit nie so bedoel nie. Ek wou help.” Sy beduie moedeloos met haar hand, maar dan glip die uitdrukkinglose masker wat ’n oomblik wou wegskuif terug oor haar gesig. Hy sal nie verstaan nie en sy kan nie aan hom verduidelik nie. Wat sal hy weet van eensaamheid, van mensverlatenheid, van ín ’n wêreld te lewe maar nooit werklik deel daarvan te wees nie?
“Ek weet. Ek weet dit nou. Aan die begin was ek ook mislei. Jy het dit nie juis maklik gemaak vir my om tot die regte gevolgtrekking te kom nie. Soos toe ek daardie Sondagaand op mevrou Swanepoel geopereer het. Ek het dit vir haar geestestoestand nodig geag om nie langer met die operasie te sloer nie. Hoekom sal ek ’n vrou wat al soveel jare op haar baba moes wag nóg ’n onnodige klomp ure in die grootste spanning en vrees hou as ek die angs net sowel dadelik kon verlig en haar kind in haar arms neerlê?”
Anmar kyk weg. Toe die stilte te lank rek, besef sy dat hy nog altyd daar is en dat sy oë nou weer op haar gerig is met daardie peinsende uitdrukking wat haar so ontsenu.
“Wil . . . wil u nie sit nie, dokter? Ek kan ’n koppie tee gaan maak.”
“ ’n Koppie tee sal baie welkom wees, want ek het myself nie langs die pad tyd gegun vir stilhou nie. Ek was te haastig om hier te kom.”
Sy knik net en stap deur na die kombuisie. En toe hy hier kom, was Elsa weg, dink sy. Sy het gesien hoe een van die jong boere van die distrik die teatersuster vanaand kom oplaai het. Elsa, soos sy, het hom nie vanaand al terug verwag nie.
Sy pak ook beskuitjies op ’n bord en stap terug na die sitkamer, sien dat hy gemaklik agteroor leun in een van haar diep stoele, sy oë gesluit. Sy plaas die skinkbord saggies neer en gaan sit, laat haar oë oor die vreemd bekende gesig dwaal, maar tog is dit meteens asof dit nie meer so seermaak nie.
Sy kyk al ’n rukkie in die groen oë vas voordat sy besef dat hy haar op sy beurt sit en betrag en elke wisselende gelaatsuitdrukking bestudeer.
“Wat is daar in my gesig waarvan jy nie hou nie, Anmar?”
“Ek . . .” Sy tel die teepot met bewende hande op. “Dis ’n verspotte vraag.”
“Is dit?”
Sy weier om op te kyk of uitgelok te word en hou haar besig met die tee. Dan, meteens, is daar ’n hand onder haar ken, word haar kop gelig.
“Daar is iets in of aan my wat jou elke keer, nes ek wil nader kom, laat wegdeins; innerlik terugtrek. Ek lees dit in jou oë. Ek moet weet wat dit is. Sê my, asseblief.”
“Dokter, u . . .”
“My naam is Paul.”
Sy probeer sy hand onder haar ken wegskuif, maar hy laat dit nie toe nie. Die gesig in die bak van sy hand is glad nie meer so uitdrukkingloos nie, die grys oë nie meer so koel en reguit nie.
“Dokter Van Drüten, u verbeel u.”
“So? Dan is daar werklik niks wat jou van my laat terugdeins nie?”
“Nee, natuurlik nie. Wat sal daar wees?”
“Selfs ook nie as ek jou nou soen nie?”
Sy versteen onder sy aanraking, kyk verskrik terug in die priemende groen oë. “Dokter . . .”
“Paul.”
“Nou goed dan, Paul van Drüten, as jy vermaak soek, is jy by die verkeerde adres. Die susters is aan die teenoorgestelde kant van die matrone se woonstel.”
“Dit weet ek. En ek sal beslis vir Elsa Dreyer gaan kuier as ek na vermaak verlang. Maar jy, matrone Cloete, is die laaste vrou by wie ek vermaak sal kom soek.” Maar ten spyte van sy woorde, bly sy vingers stewig om haar ken. “Jy is besig om vir my te jok, en ek gaan dit aan jou bewys.”
Die grys oë flits onseker. “Ek weet nie waarvan jy praat nie, en ek sal dit waardeer as jy nou jou tee sal drink en loop.”
“As jy dink dat ek my mal gejaag het om hier te kom net om weggejaag te word, maak jy ’n groot fout, matrone Cloete. Ek kan, soos jy reeds uitgevind het, baie dikvellig wees.”
Sy slaag daarin om haar kop weggedraai te kry, maar haar ken word met mening teruggedwing.
“Anmar, kyk goed na my. Nee. Kyk na my. Kyk baie goed. Ek is Paul van Drüten. Sien jy my? Nét Paul van Drüten.”
In verstarring sien sy sy kop nader buig, voel verdwaas hoe sy ander arm haar nader trek, vas teen hom aan. “En wanneer ek jou nou soen, soen Paul van Drüten jou – niemand anders nie. Verstaan?”
“Nee! Nee . . .”
Vir die eerste keer in vyf jaar voel Anmar ’n man se lippe doelgerig op hare neerkom, voel sy ’n man se liggaam teen hare aanpers, sy arms haar vashou . . . en vir die eerste keer in jare onthou Anmar weer dat sy ’n vrou is.
Toe hy eindelik weer sy kop lig, kan sy net verslae na hom opstaar, en sy soek desperaat na daardie bekende trekke wat haar die afgelope weke van hom laat wegdeins het. Maar dis of sy hom, vir Paul van Drüten, vir die eerste keer werklik sien.
“Ek kan jou verseker dat ons twee van nou af meer tyd sal hê. Clive het my hierdie naweek gesê dat hy as vierde vennoot sal kom. Hy kan so te sê dadelik inval. Dan sal daar nog meer tyd wees om die spoke van die verlede weg te jaag.”
“Clive? Clive!”
Hy frons. “Ja, Clive Coertze, my neef. Anmar, wat makeer?”
“Loop hier uit! Loop hier uit en ek hoop . . . ek hoop ek sien jou en jou . . . neef nooit in my lewe weer nie! Loop!”
Sy ruk los uit sy arms, storm na haar slaapkamer en stamp die deur toe op dieselfde oomblik dat daar ’n ligte klop aan die woonstel se voordeur is.
Elsa Dreyer se gesig loer na binne. “O, Paul, ek is jammer om lastig te wees . . . Ek was uit na die Van der Merwes vandag en nou, op pad terug, kom ons op ’n ongeluk af. ’n Reisiger wat teen ’n donkiekar vasgery het. Ek dink ons sal moet opereer. Kan jy dadelik kom?”
“Ek kom. Kry solank die teater gereed.” Elsa verdwyn dadelik en hy stap vinnig na die slaapkamerdeur, maar die handvatsel is onbeweeglik in sy palm. “Anmar . . .” Dan sug hy sag en sy hoor hom uitstap. Eers toe sy seker is dat hy weg is, laat sy die rou, ru snikke wat al so lank in haar opgeberg word na die oppervlak bars.
3
__
Nie eens haar grimering verberg die volgende oggend die tekens van ’n slapelose nag nie. Tog vertoon sy soos altyd koel, kalm en beheers toe sy aan diens kom. Watter woelinge ook al in haar aan die spook is, die bleek gesig met die grys oë wys geen tekens daarvan nie. Dit is eerder asof sy selfs meer as gewoonlik soos ’n pragtige maar gevoellose robot van die een saal na die ander beweeg toe sy haar rondte doen.
As daar vanoggend openlike vyandigheid, gemeng met nuuskierigheid, in suster Elsa Dreyer se blik is, wys die statige houding van die matrone geensins dat sy dit raaksien en verstaan nie. Dis eers toe sy terug is in die veiligheid van haar kantoor dat die grys oë effens die sluiers lig.
Dis baie duidelik dat Elsa geensins van die idee hou dat Paul van Drüten gisteraand in die matrone se woonstel was nie. Sy beskou Paul reeds as haar persoonlike eiendom. Anmar se lippe trek wrang. Sy hoef geen vrees te hê nie. Paul van Drüten is die laaste man op aarde met wie sý iets te doen wil hê. Wel, amper die laaste.
Weer voel sy die koudheid om haar hart vasslaan soos in daardie ontsettende stonde gisteraand. Clive . . . Clive Coertze kom na Kruisrivier toe, kom werk in hierdie selfde hospitaal waar sý matrone is. En dit deur Paul van Drüten se toedoen! O, hoekom moes Oudokter se seun sy plek kom inneem het? Alles was so wonderlik, so rustig, so kalm totdat hy op die toneel verskyn het. Sy het amper soos ’n non in ’n klooster geleef, afgesluit van