Ena Murray Omnibus 26. Ena Murray
in u hospitaal opgemerk sedert ek hier aangekom het, matrone. Inteendeel. Ek was onmiddellik bewus van ’n strak atmosfeer en ek het gewonder wat aangaan. Nou wonder ek nie meer nie. Nou weet ek waar die fout lê.”
“So?” Haar stem waarsku hom om liewer nie te borduur nie, maar hy leun nou gemaklik met sy hande op die lessenaar en buk ietwat vooroor sodat hy haar waterpas in die oë kan kyk.
“Ja. Ek het gevind dat die fout by die matrone lê. Die roetine van jou hospitaal, Anmar Cloete, is bedenklik.”
Anmar staan stadig uit haar stoel op en kyk vas in die groen oë wat so uitdagend in hare kyk. “Dokter Van Drüten, as u nie tevrede is met my en my werk nie, kan u altyd u klagtes by die hospitaalraad indien. Daar is ongelukkig op die oomblik nog nie ’n superintendent in u pa se plek aangestel nie, anders kon u sommer dadelik met u klagtes na hóm gegaan het. Maar intussen . . .”
“Jy is weer verkeerd, matrone. Daar ís reeds ’n superintendent in my pa se plek aangestel. Ék is die nuwe superintendent van hierdie hospitaal en dis nou eweveel mý hospitaal as joune. Miskien sal dit dus verstandiger wees om jou onverklaarbare antipatie teenoor my te laat vaar, of dit ten minste te probeer beheer en met my saam te werk. En wat jou roetine betref, matrone, ek is nie van plan om dit te handhaaf nie, want ek stem nie daarmee saam nie. Wees dus gewaarsku.”
Hy kyk byna goedig op haar verslae gesig af. “Ek is heeltemal bereid om met jou saam te werk, matrone Cloete, maar dan moet jy ook bereid wees om met mý saam te werk. Ek is bereid om na jou klagtes te luister, maar dan moet dit redelike klagtes wees. Ek sal jou opinies in ag neem solank hulle nie eiesinnig is en net om jouself draai nie.” Tot haar algehele verstomming is daar nou selfs ’n glimlaggie om sy een mondhoek. “Ek gaan dinge hier regruk, matrone. Ek gaan jou én die hospitaal uit die groef ruk waarin dit met die jare verval het.”
“Dokter Van Drüten . . .”
“Ek is nog nie klaar nie, matrone. Hierdie hospitaaltjie het baie groot moontlikhede en ek wil dit graag ontgin. Ek was aanvanklik nie heeltemal seker hoe nie, maar nou weet ek. Ek gaan hierdie hospitaal uitbou en uitbrei tot dié hospitaal in die Karoo. En jy, matrone Cloete, het nog meer moontlikhede as die hospitaal en ek gaan dit as deel van my taak beskou om ook jóú moontlikhede te ontgin. Kruisrivier se hospitaal en sy matrone het lank genoeg geslaap en van dag tot dag op die ou manier aangeluier. Dis tyd dat julle wakker geskud word, en dis presies wat ek gaan doen. As jy my nou sal verskoon, matrone, my spreekkamer wag. Ons praat later weer.”
Eers toe sy hoor hoe sy motor se dreuning opklink en wegtrek, sak Anmar in haar stoel neer. In die vyf jaar dat sy matrone van Kruisrivier se hospitaal is, het geen mens haar nog so beledigend en sonder respek behandel nie. Dit was ook net Oudokter wat haar in private gesprekke op die voornaam aangespreek het. Alles wat hierdie verwaande, vermetele mansmens kwytgeraak het, het vreemd op haar ore geval. Selfs haar voornaam het onbekend geklink.
Dis of die wêreldjie wat sy in vyf jaar so pynlik vir haarself opgebou het onder haar begin wankel. Dis of die stukkie vastigheid wat sy herwin het meteens onder haar voete meegegee het. Dieselfde benoude gevoel van paniek wat haar destyds wou oorweldig, is meteens weer terug.
Kruisrivier se hospitaal en haar pos as matrone het haar die afgelope jare ’n veilige hawe gebied. In hierdie gange en in haar woonstel het sy ’n vesting gevind. En nou het hierdie man gekom, Oudokter se seun – so anders as sy pa wat altyd dierbaar teenoor haar was en in wie se oë sy nooit iets verkeerd kon doen nie – en in die bestek van enkele ure ruk hy die fondamente onder haar uit en vertel haar dat sy hopeloos is, dat sy nie eintlik hier nodig is nie.
Dis ’n hele ruk later dat sy eindelik genoeg moed bymekaarskraap om alleen, vandag vir die eerste keer in baie jare, haar rondtes te doen. Sy stap van bed tot bed met die saalsuster ’n tree agter haar, intens bewus van die nuuskierige, ongemaklike oë van die suster én die pasiënte, wat vanselfsprekend gis oor die veranderde prosedure.
Sy het skielik geen vrymoedigheid om die lang gange af te stap nie. Dis asof sy ’n vreemdeling geword het in die enigste wêreld wat vir haar bekend is. By die vroueafdeling kos dit haar werklik moed om in te stap en Elsa Dreyer in die oë te kyk. Die blonde suster kyk kalm terug, beantwoord haar vrae oor die pasiënte duidelik en sonder aarseling, maar Anmar is bewus van die tikkie uitdaging in die skraal skouers, die verskuilde oorwinning in die blou oë.
Toe hulle tant Liefie se bed nader, vra Anmar gedemp: “Hoe gaan dit hier?”
“O, heeltemal goed. Dokter Van Drüten het haar deeglik ondersoek en ’n ander behandeling voorgeskryf waarop sy wonderlik reageer.”
Anmar se oë vlieg op na die bloues en Elsa Dreyer knik, glimlag. “Ja, sy het haar laat ondersoek – sonder slag of stoot. Paul . . . ek bedoel dokter Van Drüten het sy pa se gawe geërf om met die senior burgers te werk.” Sy lag saggies en vir die eerste keer merk Anmar op dat suster Dreyer inderdaad mooi is. “Hulle noem hom almal Dokkie! Dit pas nie juis by sy groot gestalte nie, maar nou ja, Dokkie sal hy nou tot sy sterfdag bly, soos sy pa Oudokter is. Dis tant Liefie wat daarmee begin het.”
Anmar knik net terwyl sy na tant Liefie se bed stap. Kan ’n mens se wêreld werklik oor ’n blote naweek só verander? Twee dae gelede het ’n vreemdeling by hierdie hospitaal ingestap, die roetine omvergegooi, vir suster Dreyer teater toe geroep, op ’n Sondagaand ’n keisersnitbaba in die wêreld gebring, teedrinkpouses afgeskaf, saalrondtes verander, operasietye verskuif en, les bes, tant Liefie van kop tot tone ondersoek en sodoende reggekry wat nie sy of enigiemand anders in veertien dae kon regkry nie. En op die koop toe het hy vir Kruisrivier “Dokkie” geword. As ’n nagedagte flits dit ook deur haar: En reeds so bekend geword by die personeel dat sy voornaam spontaan en natuurlik oor suster Dreyer se lippe kom.
“Môre, tant Liefie. Ek kan sien dit gaan baie beter, nè?”
Die grys kop knik en die kraalogies bestudeer die matrone noukeurig. “Môre, matrone. Nee, vandat Dokkie my onder hande geneem het, is ek sommer weer jollie. Jy moet dat hy na jou ook kyk.”
“Na mý, tante?”
“Ja. Jy lyk maar olikrig vir my, of hoe, sustertjie?” wend sy haar tot die saalsuster wat haar ooglede vinnig neerslaan. Dan keer die ogies terug, openlik nuuskierig. “En waar was jy dan vanmôre? Ek het Dokkie gevra, maar hy sê toe jy is besig. Gewonder wat van jou geword het. Gedog Dokkie het jou ook opgefieks. Hy laat die klomp darem nou ronddrawwe, sowaar. Rekent, ligdag vanmôre toe het hy die klomp al hier met skeermesse en goeters.”
“Tante! Tante! Dis stout om so van die ander te skinder!” betig Elsa laggend en Anmar moet ook maar teen wil en dank glimlag.
Dat Paul van Drüten beslis besig is om die hele hospitaal, van die matrone tot by die kok in die kombuis, “op te fieks”, word baie duidelik in die dae wat volg. Alles word anders en op ander tye gedoen, maar dit is vir Anmar duidelik dat haar personeel nie omgee nie. Veel eerder lyk dit asof hulle hierdie warrelwind wat die hospitaal getref het, geniet. Daar is ’n wakker gees onder die personeel en sy moet tot vervelens toe hoor: Dokter Van Drüten het gesê . . . Dokter Van Drüten wil dit só hê . . . Dokter Van Drüten reken . . .
Ook by die vergadering van die hospitaalraad moet sy hoor: Dokter Van Drüten het voorgestel dat suster Dreyer se pos geadverteer word en dat sy permanent na die teater oorgeskuif word. Dokter Van Drüten het gedink dat . . . En so rammel dit aan – totdat Anmar soos ’n uitgewekene wonder wat haar doel en funksie dan nog is. Ook dokters Brits en Faure het oornag in die gewoonte verval om te sê: Matrone, hoor maar by Van Drüten hoe hy dit wil hê.
Anmar het geen keuse nie. Sy is in die middel van hierdie stroom en moet teen wil en dank saambeweeg, maar dat sy dit net doen omdat die oormag teen haar te sterk is, is baie duidelik vir die groen oë om te sien. Dat sy nie ’n enkele woord onnodig met hom praat nie en hom waar moontlik vermy, is ook duidelik. Dat die gemoedelike gees van saamwerk en saamspan voor matrone se kantoordeur eindig, is vir almal duidelik, maar dat die nuwe superintendent hom geensins daardeur laat afskrik nie, is ewe opvallend.
Daar word steeds op die fynere punte gelet, maar nou in ’n ontspanne, gemoedelike atmosfeer. Soms klink daar selfs ’n skaterlag uit