Ena Murray Omnibus 26. Ena Murray

Ena Murray Omnibus 26 - Ena Murray


Скачать книгу
weet ’n matrone se plek is in haar kantoor waar sy grootliks administratiewe pligte het. Sy weet ’n matrone is net veronderstel om met pasiënte in aanraking te kom tydens haar saalrondtes. Sy weet al hierdie dinge. Maar Kruisrivier se hospitaaltjie is te klein om ’n matrone heeldag besig te hou met administratiewe pligte. Wat meer is, dit was vir haar, wat verkies het om eenkant te leef, noodsaaklik om met haar pasiënte kontak te hê. Dit was dié menslike kontak wat haar aan die res van die mensdom gebind het en haar nie in totale isolasie laat verval het nie.

      Maar dokter Van Drüten het daardie dun draad onmiddellik geknip, en Anmar besef op hierdie oomblik dat hy nie net die skaduwees van gister teruggebring het nie, maar van haar ’n eensamer mens as ooit tevore gemaak het. Sy het nie eens vyf jaar gelede so oorbodig en verwese gevoel as juis vandag nie. En dis alles Paul van Drüten se werk.

      Sy probeer onthou wat Oudokter haar alles van sy seun vertel het, maar dis asof die seun wat Oudokter geskilder het nie dieselfde mens kan wees wat soveel ontwrigting in haar lewe gebring het nie. Oudokter het maar net, soos alle ouers, met die oë van ’n vererende vader na hom gekyk, meen sy.

      Maar dan . . . Dis net teenoor háár wat hy so dwars optree. In ’n korte paar weke het hy al byna sy pa se plek in die harte van Kruisrivier se mense ingeneem. Dat hy dieselfde slag het om met mense te werk en hul vertroue te wen as sy pa, is selfs vir haar duidelik. Die pasiënte eet behoorlik uit sy hand en die verpleegsters val omtrent oor mekaar om sy bevele stiptelik uit te voer. Selfs Karel Brits en Naas Faure luister wanneer hy praat. Nee, dis net met háár dat hy so krities en foutvinderig is. Net vir háár wat hy nie kan verdra nie.

      Dat hy ’n goeie dokter is, moet sy toegee. Dat Kruisrivier nog nie só ’n snydokter gehad het nie, nie eens in Oudokter nie, dit weet sy. Dat sy kwalifikasies gans te hoog en gevorderd is vir die gemeenskappie van Kruisrivier, sal sy sonder skroom erken. Maar wat moeilik is om te aanvaar, is dat hy nie net as dokter nie, maar ook as mens baie gewild is op Kruisrivier, en beslis deur die vroulike geslag as aantreklik beskou word.

      Iets in haar skram weer weg. Sy het al twee keer sy motor op ’n Saterdagaand voor die verpleegsterstehuis sien stilhou. Elsa Dreyer het elke keer byna eksoties gelyk as sy haar verskyning maak, en teen wil en dank moes Anmar toegee dat Paul van Drüten self imponerend vertoon . . . en die leegheid binne-in haar het ’n eindelose put geword.

      Sondagaand wink tant Liefie heftig met die handjie toe sy die gestalte in die deur gewaar wat vanuit die saal op die stoep uitloop.

      “Ek het nie gedink jy sal dit maak nie, Dokkie.”

      Hy buig laag oor haar en fluister: “Ek het soos die duiwel gery om hier te kom. Ek is bevrees ek het die spoedbeperking vanaand hopeloos oorskry. Al iets gewaar?”

      “Ja. Sy is nou net by daardie privaat kamer se deur in,” wys tant Liefie die gang af en gril van pure lekkerte. Sy het nog altyd van sulke geheimsinnigheid gehou. Maar terselfdertyd wil die nuuskierigheid haar opvreet. Hoekom sal Dokkie soos die duiwel uit die stad uit jaag om die matrone voor te lê op haar nagtelike ronddwalery? Sy hou hom terug toe hy dadelik wil beweeg. “Jy gaan nie met haar raas nie, Dokkie. Raai, sy was gisteraand hier by my ook en sy het proppers hartseer gelyk.”

      “Hartseer?”

      Sy stem is skerp en tant Liefie hou ’n waarskuwende vinger op. “Sjuut! Wil jy die hele saal wakker hê? Ja, hartseer. Haar oë het geblink toe sy vir my sê: ‘Ek sal nie meer lank hier wees nie, maar ek hoop tante sterk mooi aan en word weer heeltemal gesond’.”

      “So? Het sy gesê waarheen sy gaan en wanneer?”

      “Nee, ek wou nog vra, maar sy het weer vinnig weggestap. Raai, die Dreyer-sustertjie vertel vir almal wat wil luister hoe ’n beduiwelde mens sy is en so aan, maar ek het die gevoelentheid dat daar meer in daardie mens sit as wat ons dink. Alle mense dra nie hul gevoelentheid op hul mou nie. Daardie Dreyer-sustertjie . . . het jy dalk trek in haar, Dokkie?”

      Sy tande flits in ’n glimlag in die skemerlig van die slapende saal. “Hoekom wil u weet, tante?”

      “Nee, ek wou maar net sê . . . Jy moenie te haastig wees nie, Dokkie. Die Dreyer-sustertjie praat al klaar asof jy háár property is, maar kyk almal maar eers goed deur, hoor? Leer ken eers dié enetjie wat snags so hier rondloop.”

      ’n Gerusstellende hand vou oor hare. “So is die plan, tante. En moet tante nie steur aan wat ander mense sê nie. Ek weet wat ek wil hê en ek gaan dit kry ook. Daar is sy nou. Totsiens.”

      Hy glip soos ’n skaduwee deur die saal en bereik die deur net toe Anmar inkom. Tant Liefie kan die matrone se verskrikte asemteug duidelik hoor en sy glimlag ingenome. Tot haar grootste teleurstelling egter, du die dokter die matrone by die saal uit en druk die stoepdeur saggies agter hulle toe.

      In die flou maanskyn kyk Anmar na hom op. Wat soek hy hier? Hy het die naweek vir sy pa in die stad gaan kuier. Hy was nie veronderstel om voor môreoggend terug te wees nie!

      “Goeienaand, matrone.”

      “Naand, dokter.”

      “Is daar miskien fout met een van my pasiënte?”

      “Nee. Nee, ek het sommer net na mevrou Greyling kom kyk. Ek het iets in my kantoor kom haal en toe . . . toe sommer gou daar ingeloer. Maar sy slaap rustig.”

      “Ek is bly om dit te hoor. En die vorige kere?”

      “Die vorige kere?”

      “Ja, soos gisteraand en die ander aande wat jy deur die hospitaal dwaal? Het jy elke keer iets in jou kantoor kom soek en dan toevallig by die ernstige pasiënte ingeloer?”

      Anmar swyg, kyk weg, so diep teleurgesteld dat sy meteens kan huil daarvan. Iemand het haar gaan verklik.

      Sy begin aanstap en sy is bewus daarvan dat hy saamstap.

      “En nou gaan jy my dit ook verbied, soos jy my reeds alles verbied het.”

      “Ek is bevrees ek moet. Jy moet jou losmaak van hierdie hospitaal, Anmar.”

      Sy hou haar kop afgewend. Duideliker kan hy dit tog nie stel nie. Sy voel meteens ontsettend moeg. Weke lank al skop sy vergeefs teen die prikkels; probeer sy haar man teen hierdie man staan, maar nou weet sy sy het verloor. Sy kan maar oorgee.

      “Ek sal my bedanking die end van die maand indien.”

      Hulle het buite om na haar woonstel gestap, en hy maak nou die deur vir haar oop, wag dat sy eerste moet stap en volg haar dan.

      Sy skakel die hoeklampie aan en draai terug na hom. “Of as u verkies dat ek gouer moet gaan . . . Ek het uitstaande verlof.”

      “Ek het jou nie om jou bedanking gevra nie. Dis nie wat ek in gedagte gehad het nie – altans, nie nou al nie.”

      Sy vee moeg oor haar oë en sak in ’n stoel neer. Natuurlik, ja. Al beteken sy deesdae minder as ’n nul op ’n kontrak, moet ’n hospitaal darem ’n matrone hê. Haar pos sal eers geadverteer moet word. Sy sal nie kan gaan voordat hulle iemand in haar plek gekry het nie. ’n Mens gooi nie vuil skottelgoedwater weg as jy weet daar is nie ander water nie . . .

      “Ek is seker suster Dreyer sal die pos maklik kan behartig saam met die teaterwerk. Sy is baie bekwaam – soos u van die eerste oomblik af self uitgevind het.”

      “Ja, Elsa is baie bekwaam en ’n gebore teaterverpleegster. Daarom dat ek haar onmiddellik na die teater oorgeplaas het. Sy was bitter ongelukkig in die saal.” Hy vang haar blik. “Nee, jy het dit nie geweet nie en ook nie ondersoek ingestel oor die rede hoekom suster Dreyer jou blykbaar nie goedgesind is nie. Die eenvoudige rede was dat jy al die teaterwerk vir jouself ingepalm het en nooit daaraan gedink het dat iemand anders miskien ook bitter graag teaterwerk sou wou doen en dit eintlik sou verkies het bo saalwerk nie.”

      Die grys oë is ysig en sy kyk na hom op, dink nie eens daaraan om hom te vra om te sit nie. “Is dít wat sy jou vertel het? Dat ek al die interessante werk vir myself ingepalm het?”

      “So het dit vir haar en die res van jou personeel voorgekom. Die rondtedoenery


Скачать книгу