Ena Murray Omnibus 26. Ena Murray
kantoor en die mense om haar – was sy terug in die verlede.
Sy staan op en dwing haarself om in die peinsende groen oë te kyk, oë wat meteens vir haar so bekend gelyk het. “Goeienaand, dokter. Hoe gaan dit met u pa?”
“Onder omstandighede goed, dankie. Hy het baie groete laat weet.”
“Dankie.” Sy weet sy behoort hom welkom te heet. Sy weet sy behoort ook dankbaar te wees dat hy hulle kom uithelp. Maar sy sê niks, want hy is nie hier welkom nie. Sy wil hom nie hier hê nie. Nie hiérdie man nie . . . hierdie man met die pynlik bekende oë, die pynlik bekende gelaatstrekke. Hy is soos ’n spook uit die verlede wat onverwags op haar toegesak het, juis noudat sy besluit het om Oudokter se raad te volg, om die verlede agter te laat en weer te begin lewe. Nou kom hy skielik hier aan om die verlede eensklaps intens te laat herlewe, die afgelope vyf jaar van vergeet weg te skuif soos ’n dun gordyn.
“Tee, matrone?”
Sy skud haar kop, vee oor haar oë asof sy iets wil wegvee. “Nee dankie, suster. Ek . . . ek dink ek sê maar eers goeienag.”
Die mans staan beleef op toe sy uitstap en by die hoek van die gang bots sy byna teen Elsa Dreyer wat vinnig om die draai kom.
“Ag, ekskuus, matrone!”
Sy knik net, lees die leedvermaak in die blou oë, die kwalik verborge triomf. Sy stap aan, druk haar woonsteldeur agter haar toe, leun daarteen aan, voel die bewing in haar ingewande, voel hoe die ou bekende, dowwe pyn wat so lank stil was, weer begin klop . . . klop.
2
__
Toe Anmar die volgende oggend aan diens gaan, is die tekens van ’n byna slapelose nag deur kunstige grimering gekamoefleer en lyk sy soos altyd koel, bekwaam en selfbeheers toe sy in die gang afdraai na haar kantoor. Maar voordat sy ver gevorder het, kom sy in haar spore tot stilstand. ’n Operasietrollie word in die rigting van die teater aangestoot.
Die mate van kalmte wat sy herwin het, verdwyn net daar in die niet en sy verander van rigting en stap die mansaal binne waaruit die trollie verdwyn het.
“Goeiemôre, suster Gouws. Wie is nou net hier uit?”
“Goeiemôre, matrone. Meneer Bergh, die galblaasgeval.”
“Maar hy was dan op vir nege-uur. Meneer Redelinghuis sou om halfnege gedoen word. Hy is eerste.”
Suster Gouws lyk ongemaklik. “Meneer Redelinghuis is reeds om halfagt gedoen, matrone.”
Weer voel Anmar, soos gisteraand, hoe vernedering en woede in haar opwel. Dis net met die grootste selfbeheersing dat sy knik en in haar spore omdraai. Sy stap direk deur na die vrouesaal hoewel sy vooraf weet wat sy daar gaan aantref. Suster Dreyer is nie in die saal nie. Sy is in die teater.
Gespanne lees sy die nagrapport deur, en dit kos inspanning om te konsentreer op die verslag voor haar. Teen die tyd dat die operasies afgehandel is en die dokters soos gebruiklik hul verskyning maak vir ’n vinnige koppie tee voor die saalrondtes, kan selfs die kundige grimering nie die bleekheid op haar wange verdoesel nie. En niks kan die koudheid in haar grys oë verberg nie.
Ná ’n kort algemene môregroet begin sy dadelik die tee skink. Agter haar rug wissel Karel Brits en Naas Faure ’n skuldige maar magtelose blik. Hulle is pas die vorige aand in kennis gestel dat hulle stiptelik om halfagt die volgende oggend in die teater moet wees.
Aangesien nie een van hulle juis uitblink as snydokters nie, was hulle maar te dankbaar dat die jong dokter so half werktuiglik die chirurgiese deel van die praktyk oorgeneem het, en hulle het nie beswaar gemaak nie. Karel Brits het darem gewaag om te noem dat hulle gewoonlik eers om halfnege soggens met operasies begin, want dan kom matrone aan diens en sy is altyd die teatersuster. Hy is egter gerusgestel dat alles reeds gereël is, en menende dat die man bedoel dat die reëlings met matrone getref is, het hy nie verder op die saak ingegaan nie. Hy en sy kollega het maar eers vanoggend in die teater gesien dat dit die blonde suster is wat hulle weer, soos die vorige aand, gaan bystaan.
Dat matrone nie hiermee gediend gaan wees nie, het albei geweet en hulle wag nou in spanning op haar reaksie. Hul vennoot is blykbaar onbewus daarvan dat hy al sedert die vorige aand ’n paar keer op die bekwame matrone se tone getrap het, en doen dit nou weer.
Met sy oë op die teekoppies, sê hy: “Dis baie gaaf van u, matrone, maar ek dink nie ons sal tyd hê vir tee drink nie. Ek sal graag die hospitaalrondtes wil afhandel. Die spreekkamers wag.”
Anmar sit die teepot hard neer. Haar blik gaan vinnig na die ander twee dokters, maar dié ontwyk haar oë toe hulle deur se kant toe staan. Sy trek haar asem diep in en stap dan gehoorsaam om die lessenaar om hulle op die rondtes te vergesel. Maar weer moet sy in haar spore tot stilstand kom.
“Dankie, matrone, maar dis nie nodig dat u saamgaan nie. Die saalsusters sal heeltemal voldoende wees. Dokters . . .” Hy beduie met sy hand en sy sien hoe Karel en Naas vinnig by die deur uitglip, gevolg deur die bonkige gestalte van die vermetele vreemdeling.
Anmar verbeel haar sy kan die golf van kwalik verborge verbasing wat al sedert gisteraand deur die hospitaal spoel tot in haar kantoor voel terwyl die drie dokters sonder haar hul rondtes doen. Dat die gewone roetine van hierdie hospitaal meteens omvergegooi is, is vir selfs die onkundigste junior duidelik, en almal wonder heimlik hoe die matrone hierdie omwenteling gaan hanteer.
Dat sy dit nie gelate gaan aanvaar nie, is baie duidelik toe die drie dokters in die portaal verskyn op pad na buite. Die deur waarop “matrone” in groot letters staan, gaan oop en dis Anmar Cloete se kilste stemtoon wat sê: “Dokter Van Drüten, net ’n oomblik van u tyd, asseblief.”
Weer kyk die twee ouer kollegas vlugtig na mekaar, maar Paul van Drüten sê kalm: “Seker, matrone. Ek is nou by julle, kêrels. Ons kry mekaar by die spreekkamers.”
Anmar neem agter haar lessenaar plaas en wys met haar hand. “Sit, dokter.”
“Dankie. Ek sal liewer staan. Is daar iets waarmee ek kan help, matrone?”
Anmar knel die pen in haar hand styf vas. Sy wens die man wil sit. Hy staan so lank en groot voor haar dat sy haar kop agteroor moet buig om hom in die oë te kyk. “Ja, dokter, daar is. Ek sal dit waardeer as u sal help dat die roetine van my hospitaal nie omvergegooi word nie.”
Die groen oë bly kalm, lyk selfs ietwat verbaas, maar die wenkbroue trek tog liggies saam. “Die roetine van u hospitaal, matrone?”
Sy kners onhoorbaar op haar tande. Hy weet baie goed waarna sy verwys. Haar gesig kry ’n nog meer stoïsynse uitdrukking. “Ja, dokter. U is gewoond aan ’n stadshospitaal en ek kan verstaan dat u nie vertroud is met die probleme van ’n plattelandse hospitaaltjie nie. Ons werk met ’n groot tekort aan personeel, en daarom het ek dit op my geneem om die teaterwerk te doen, verál in die ernstiger gevalle. Almal weet dat ek te eniger tyd op roep is vir teater, selfs al is dit op ’n Sondagaand. Ek gaan selde weg, maar al is ek weg, weet almal altyd waar om my te vind en ek sorg dat ek hier is om my deel te doen. Ek sal dit waardeer as u nie my saalsusters in die toekoms lastig val met teaterwerk nie.”
Hy sê niks nie, staan haar net met daardie groen blik en aankyk. Hy lyk amper peinsend, asof sy die een of ander vreemde kiem is wat hom skielik interesseer, dink sy, en die ergernis stoot al hoër in haar op.
Baie formeel vervolg sy: “Indien u verkies dat die operasietye verander word, verwag ek dat u my daaroor sal raadpleeg en nie weer ’n suster uit haar saal sal wegneem nie. Beslis nie weer sonder my medewete en toestemming nie.”
“En as ek verkies om soggens om halfagt te begin opereer?”
“Dan sal ek halfagt in die teater wees, dokter. Ek is nie bang vir werk nie.”
“En die tee?”
“Tee?”
“Is dít ook deel van die roetine van u hospitaal waarby ek moet inval?”
Die grys oë verloor hul koudheid en flits nou openlik vererg. “Ek verwag