Ena Murray Omnibus 26. Ena Murray
Toe die chirurg die volgende oggend die teater binnestap, het die teatersuster haar vraag gereed: “Wat het gister in dié hospitaal gebeur, behalwe dat ons ’n nuwe dokter bygekry het?”
Vraend kyk hy haar aan. “Niks waarvan ek weet nie. Hoekom?”
“O. Nee, ek vra maar. Ek het gedink daar het iets baie besonders gebeur. Die hele hospitaal praat daaroor.”
Hy hou sy hande uit sodat sy die steriele jas vir hom kan vasknoop. “Waarna verwys jy? Ék het niks agtergekom nie.”
“Miskien is dit maar die ander se verbeelding, maar almal sweer hoog en laag dat ons matrone skielik ’n metamorfose ondergaan het.”
Sy is gou om te sien dat sy nou sy volle aandag het.
“In watter opsig?”
“O, dat sy skielik vol glimlaggies en liefde is. Almal wonder nou net oor dié welkome verandering.”
Hy draai van haar af weg sonder ’n verdere woord en stap die teater binne. Die nuwe narkotiseur knik dat alles reg is en dat hy maar met die operasie kan begin. Onder haar masker byt Elsa Dreyer haar onderlip vas en val langs hom in.
Die hewige frons sit nog steeds tussen sy wenkbroue toe hy later kortaf dankie sê en die teater verlaat. Dit bly daar tydens die saalrondtes, en toe hy die matrone in die voorportaal raakloop, keep dit nog ’n bietjie dieper in.
Anmar was net van plan om by haar kantoor in te stap, toe sy die twee dokters gewaar. Anders as in die verlede glip sy nie gou weg toe sy Paul van Drüten in haar rigting sien aankom nie. Sy staan en wag hulle in. Sy moet net weet of die gevoel van bevryding sal bly as sy weer in Clive Coertze se oë kyk. Sy moet hom weer sien om seker te maak.
Sy sien hoe sy oë verhelder toe hy haar gewaar, hoe hy sy pas versnel. Maar die kalmte in haar bly onversteurd. Dis waar, sing haar hart. Hierdie man beteken vir my niks meer nie!
Daar is ’n borrelende, ongekende vreugde in haar wat ’n spontane glimlag na haar lippe bring. Haar grys oë blink toe sy sê: “Môre, Clive. Ek sien jy is al klaar deel van ons span. Ek het dit nie gister gesê nie, maar sê dit nou.” Sy steek haar hand na hom toe uit. “Baie welkom in ons midde.”
Haar stem klink so opreg dat nie een van die twee dokters kan twyfel dat sy dit bedoel nie. Clive vou haar hand in albei syne toe en die groen oë wat haar soveel jare lank agtervolg het, kyk diep in hare af.
“Dankie, Anmar. Veral van jou waardeer ek dit baie. Dan gaan ons twee tog saamwerk,” sê hy met ’n hunkerende glimlaggie wat haar hart in twee behoort te skeur, maar nou net weemoed en jammerte in haar opwek en haar oë sag maak.
’n Identiese paar groen oë kyk oor Clive se skouer in hare vas en sy stem is amper kil toe hy sê: “Môre, matrone.”
“Môre, dokter Van Drüten.”
Hy sien hoe ’n skaduwee weer oor die grys kykers gly en dan val haar blik voor syne. Sy stem klink ongewoon kortaf: “Die spreekkamer wag, Clive.”
Hy stap sommer aan, maar Clive aarsel nog. “Wanneer sien ons mekaar, Anmar?”
Sy kyk hom fronsend aan, skud dan haar kop, glimlag weer. “O, ons sal mekaar gereeld sien.”
“Dis nie wat ek bedoel nie,” sê hy dringend, gryp meteens haar hand vas. “Asseblief, Anmar.”
Sy kyk in sy pleitende oë op en haar mond gaan oop om hom te verseker dat hulle niks vir mekaar te sê het nie. Maar dan . . . Elke mens het seker die reg om te probeer verduidelik. Sy het hom geen kans vir verduideliking gegee toe sy vyf jaar gelede net verdwyn het nie. Miskien sal dit tog goed wees as sy en hierdie man ’n laaste openhartige gesprek het. Aan haar maak dit nie meer saak nie; gister tel nie meer nie. Tog lyk dit asof die verlede nog swaar op sý gewete rus. Ter wille van wat was, kan sy seker maar na hom luister.
“Ek is maar in my woonstel wanneer ek nie aan diens is nie. Nou moet jy my regtig verskoon. Dokter Van Drüten wag op jou.”
Sy draai beslis om en hy kan niks anders doen as om aan te stap na waar sy neef met ’n strak gesig en starende oë op hom staan en wag nie.
In die dae wat volg, praat almal daaroor dat dit duidelik is dat daar iets goed met matrone moes gebeur het. Niemand waag dit egter om haar daarna te vra nie, en Anmar bly onbewus van die gekoukus agter haar rug.
Al waarvan sy bewus is, is dat sy ontslae geraak het van die sware las wat sy soveel jare met haar saamgesleep het. Sy voel weer jonk. Sy voel weer energiek. Sy voel weer lus vir die lewe. Selfs nie eens Paul van Drüten se permanente gefrons kan hierdie nuwe lewensvreugde in haar demp nie. Nie eens sy streng formele toon kan die glimlag van haar lippe verdryf nie. En selfs wanneer hy onredelik foutvinderig en moeilik is, kry hy dit nie reg om die ou Anmar Cloete weer op te tower nie. Dis of sy, meer as ooit tevore, buite sy bereik beweeg het. Haar “Ja, dokter Van Drüten”, “Goed, dokter Van Drüten” verskerp eerder sy frons en irritasie, totdat Anmar later wonder of dit óóit moontlik is om dié veeleisende man tevrede te stel.
Hoewel sake nou besonder glad verloop in die hospitaal, is dit of die wrywing tussen die matrone en die superintendent toeneem, totdat Anmar op ’n dag, ten spyte van al die wonderlike nuwe gevoelens wat sy ervaar, haar geduld verloor. Paul van Drüten is net onmoontlik!
Vir die eerste keer sien hy weer die grys oë blits soos in daardie eerste dae.
“Dokter, as jy my net wil sê presies wát jy van my verlang! Aan die begin kon jy dit nie vat dat ek my opinie ook lug nie. Noudat ek ja en amen sê op alles, is dit ook nie reg nie. Alles is net eenvoudig verkeerd. Wát verlang jy van my?”
’n Lang oomblik staar die groen oë in hare af. Dan, sonder ’n woord, swaai hy op sy hak om en stap uit. Anmar sug diep. Sy kan maar net sowel tou opgooi.
So bieg sy ook teenoor tant Liefie daardie aand: “Ai, tante, ek probeer werklik hard, maar die spook haal my elke keer in. Dit lyk my ek sal maar moet weggaan. Hierdie spook kry ek net nie getem nie.”
Sy is onbewus daarvan dat die deur agter haar ’n entjie oopgedruk word en dan roerloos aan sy skarniere bly hang. Tant Liefie hoor die sagte voetval, maar Anmar is te diep in haar eie gedagtes versonke om waaksaam te wees. Daar is niks wat sy meer kan doen om Paul van Drüten se guns te wen nie. Hy hou net eenvoudig nie van haar nie. Van die begin af het hy ’n hekel aan haar, en soos haar wantroue in hom mettertyd getaan het, so het syne blykbaar gegroei. Dis net onmoontlik vir haar om veel langer in so ’n atmosfeer te bly werk.
Die volgende aand is daar ’n klop aan haar woonsteldeur, en toe sy dit oopmaak, staan Clive Coertze voor haar. Sy sou verkies het dat hy haar nie hier besoek nie, maar aangesien dit die eerste en enigste keer sal wees, maak dit seker ook nie saak nie.
“Kom binne, Clive. Sit.”
Sy gaan neem teenoor hom plaas en ’n rukkie sit en kyk hulle net na mekaar. Vir die eerste keer is hulle weer alleen, heeltemal alleen.
Clive se mond trek wrang toe hy in haar kalm gesig opkyk. “Op pad hierheen het my kop gegons van alles wat ek jou wil vertel, wil vra, wil sê . . . En nou is dit of ek stom geword het.”
Sy knik begrypend. “Miskien is dit goed dat dít wat jy vir my wou sê, ongesê bly. Dis glad nie nodig dat ons hierdie gesprek moet hê nie, Clive. Jy wil vanaand praat oor dinge wat vyf jaar oud is, dinge wat verby is. Ons kan nooit die horlosie terugskuif nie. Nooit! As dit jou enigsins sal help, kan ek jou vanaand eerlik sê dat die verlede, en alles wat toe gebeur het, by my begrawe en vergete is en dat ek eerlik geen wrok oorgehou het nie. Ons hoef nie onnodig tussen ou doodsbeendere rond te krap waarin daar nooit weer lewe kan kom nie. Laat ons die verlede met rus laat. Toeval – of miskien ook nie toeval nie,” sê sy peinsend, kyk dan weer op, “het ons paaie weer laat kruis.”
Sy kyk na die bekende gesig, die mond, die oë, die hare wat oor sy voorkop hang. Glimlag. “Ek is bly dit het gebeur, regtig bly. Ek is baie dankbaar dat ek jou persoonlik kan sê dat die verlede vergeet en vergewe is. Daar is niks meer wat my seermaak of hartseer of verbitterd maak