Ena Murray Omnibus 26. Ena Murray

Ena Murray Omnibus 26 - Ena Murray


Скачать книгу
gaan na haar gesig waar die vel bleek oor haar wangbene span. Verleë vee sy oor haar wenkbroue.

      Clive het Vrydagaand nadat Paul en Anmar weg is niks te sê gehad nie. Hy het haar oë ontwyk, oral gekyk behalwe na haar. Dit was eers toe hulle in die bed was, die lig al afgeskakel, dat hy aarselend, onseker begin praat het: “Louise, ek . . .”

      “Dis alles reg, Clive,” het sy hom stil in die rede geval, dankbaar dat hy in die genadige donker nie die trane op haar wange kon sien nie. “Dis nie nodig om iets te sê nie. Ek verstaan beter as ooit tevore. Slaap nou maar.”

      Sy het die nagure gelê en omtel met brandende oë en onderdrukte snikke wat haar keel gewurg het en haar bors wou laat oopskeur. Maar sy het swyend, geluidloos bly lê in haar bed van leed, van geheime liefde, van frustrasie en vergeefse drome.

      Nou kom Paul na haar aangestap waar sy hier in die tuin sit en neem gemaklik langs haar op die houtbankie plaas.

      “Ek sien jy het my pa se geliefkoosde plekkie ontdek. Wanneer hy ’n probleem gehad het, het hy altyd hierheen gevlug en nie eens ek het dit maklik gewaag om hom hier te steur nie. Ek het reeds as kind geweet dat as hy in hierdie hoekie sit, hy nie gehinder wil wees nie.”

      Sy is bly dat hy nie na Vrydagaand verwys nie en gee een van haar seldsame glimlaggies. “Ek kan verstaan hoekom hy altyd hierheen gevlug het. Dis of jy hier afgesluit is van die wêreld daar buite, of hier amper ’n gewyde atmosfeer heers. Ek is so bly hy vorder so goed. Hy was so goed vir my, so dierbaar . . .”

      Paul van Drüten se oë versomber ietwat. “Hoe het dit gebeur dat jy by hom uitgekom het?”

      Sy aarsel en antwoord dan gedweë: “Dit was nadat ek ontdek het dat ek swanger is en Clive duidelik getoon het dat hy nie werklik vir my omgee nie, dat ek onthou het van die oom van wie hy gepraat het wat in die Karoo praktiseer. Ek was so desperaat . . .” Haar stem sterf weg en hy neem haar lam hand in syne, vou dit warm toe.

      “Ja?”

      “Wel, ek het hierheen gekom en hom gevra om my te help. Ek het hom gesmeek om my te help met ’n aborsie, want Clive . . . Clive het my toe eers vertel dat hy reeds op trou staan en beslis nie van plan is om sy verloofde vir mý te verruil nie al . . . al verwag ek sy kind.”

      Die lang, sterk vingers speel liggies met die slap hand, gaan ondersoekend oor die pap spiere. “En toe?”

      “Hy het my laat uitpraat. Hy was so dierbaar, Paul. Geen verwyte nie. Geen veroordeling nie. Net begrip en teerheid. Ek het hom nie aan die begin vertel wie ek werklik is en wie die pa van my kind is nie, maar teen die end het hy alles uit my getrek. Hy het met my gepraat asof ek sy eie dogter was. Hy het my self teruggeneem stad toe en . . . toe het Clive gekom, gesê hy sal met my trou.”

      Dit is ’n rukkie stil. “Hoekom het jy op jou troudag probeer selfmoord pleeg?” Hy vra die vraag baie simpatiek.

      Sy sluit haar oë asof die herinneringe te veel word. “Ons was aan die verklee ná die troue toe ek hom gevra het of hy my nie eens gaan soen op ons troudag nie. Toe het hy na my gedraai, so wit soos die dood, en gesê: ‘Een ding moet jy weet, Louise. Ek het met jou getrou omdat ek moes, maar ek sal háár nooit vergeet nie en nooit ophou om haar lief te hê nie.’ Ek . . . ek het uitgestap en in die motor geklim en weggejaag. Ek was verblind deur trane en het my met die draai in die pad misreken. Ek weet almal dink steeds ek wou selfmoord pleeg, maar dis nie waar nie. Daarvoor is ek te veel van ’n lafaard. Daarom lewe ek en Clive al vyf jaar lank saam en het ek tot vandag toe nog nie die moed om hom ’n egskeiding te gee nie. Ek is bang vir die lewe sonder hom – al weet ek hy het nog nooit werklik aan my behoort nie.”

      Haar glimlaggie is pateties. “Ek is ’n treurige mens, Paul. Ek is so ten volle afhanklik van Clive, terwyl hy niks van my nodig het nie. Ek weet ek behoort hom vry te stel. Ek weet ek moes hom net ná die ongeluk al vrygestel het. Daar was toe en is nou geen rede om hom so onwillig aan my gebonde te hou nie. Maar die moed ontbreek my.”

      “En as jy weer volkome mens word, Louise? As jy weer liggaamlik en geestelik sterk word? Sal jy dán kans sien om Clive te laat gaan?”

      Sy antwoord nie dadelik nie, bly net roerloos sit, onbewus van hoe gespanne hy haar antwoord afwag. Toe kyk sy wasbleek na hom op. “Hoekom vra jy my so ’n vraag, Paul?”

      Sy teer oë en begrypende woorde laat haar aan Oudokter dink toe hy haar antwoord.

      “ ’n Mens kan nie vir altyd van die waarheid en die werklikheid weghardloop nie, Louise. Dit is tyd dat jy die feite aanvaar en iets daaromtrent doen. Vir vyf jaar lank al stap jy op hierdie dooie pad van niks – en jy dwing Clive om saam met jou te stap. Dis nie regverdig teenoor jouself of teenoor hom nie. Hoe lank dink jy kan julle nog so voortgaan?”

      Sy kyk weg, staar met onsiende oë na ’n stukkie blou lug deur die blare. “As ons nie na Kruisrivier gekom het nie . . .”

      “Maar julle het. Louise, daar moes die een of ander tyd ’n wending kom. Julle koms na Kruisrivier was voorbestem. Kruisrivier is die kruispad. Jy weet dit net so goed as wat ek en Clive en Anmar Cloete dit weet. Dit sal nie help om jou oë daarvoor te sluit nie. Jy is op die kruispad en jy sal moet kies.”

      “Dan . . . dan vra jy my om . . . om Clive te laat gaan sodat . . .”

      “Nee. Ek vra jou om, voordat jy ’n definitiewe rigting kies, eers mens te word. Dis nie nodig om haastig te kies nie. Rus eers en kry krag vir die pad wat jy gaan kies, want jou keuse gaan ons almal se lewens beïnvloed.”

      Sy kyk verbaas na hom op. “Jy praat asof jý ook op die kruising is?”

      Dit is nou sy beurt om na die flentertjie blou lug te kyk. “Miskien is ek, Louise. Ons staan nie onafhanklik van mekaar nie. Ons lewens is inmekaargevleg, en wat die een besluit, moet noodwendig ’n rimpeleffek hê.” Toe vang sy groen oë haar bloues vas. “Ook ter wille van ons ander drie, vra ek jou om eers weer volwaardig mens te word voordat jy kies.”

      Sy skud haar kop, vra verward: “Wat presies bedoel jy met volwaardig mens?”

      Hy tel haar verlamde hand op en vryf dit tussen sy sterk vingers. “Laat ek hierdie hand regmaak, asseblief. Die gees en die liggaam werk saam, Louise. Soos liggaamlike defekte genees, verdwyn ook die letsels van die gees. Wanneer jy die dag gesond na liggaam én gees voor my staan, dán kan jy kies. Dan is die rustyd op die kruising verby.”

      Vervaard skram sy weg. Hoe kan hy haar dwing om gesond te word net sodat sy ’n keuse kan maak, ’n keuse waarvoor sy nie kans sien nie? “Jy is te besig, Paul. Ek kan nie ook nog tyd van jou verg nie.”

      “Nie ek nie, Louise. Anmar Cloete sal jou elke dag kom behandel.”

      Haar oë toon opregte skok. “Anmar? Jy is seker nie ernstig nie.”

      “Sy is die enigste mens op Kruisrivier wat jou kan help.”

      Sy sukkel verward op, kyk desperaat om haar rond asof sy meteens in ’n kou vasgevang is.

      “Louise, doen dit vir Clive en vir jouself, maar ook vir Anmar en . . . vir my, asseblief!”

      Lank bly sy net woordeloos na hom staar en dan is dit asof daar ineens ’n nuwe kennis in haar oë lê, ’n nuwe begrip vir wat die man werklik vir haar sê.

      Sy maak ’n gerusstellende gebaar, lê haar lam hand teen sy wang en sê sag: “Goed, Paul. Ek sal Anmar al my samewerking gee.”

      Toe Anmar dus die Maandagoggend die stoeptrappies na die huis opklim, wag Louise haar kalm in. Sy sal Paul nie teleurstel nie. Maar dis pynlik om na die pragtige gesig te kyk, na die mooi gestalte se soepel bewegings. Sy sien die meisie voor haar tot stilstand kom, duidelik onseker oor haar ontvangs.

      Die glimlaggie wat die vorige Vrydagaand so aan Anmar se hart gepluk het, raak weer aan die bleek lippe. “Kom sit, Anmar.”

      “Hallo, Louise. Hoe gaan dit?”

      “Goed, baie goed, dankie. Kom, drink eers ’n koppie tee.”

      Anmar staan nader en wil haar hand na die


Скачать книгу