Ena Murray Omnibus 23. Ena Murray
ENA MURRAY
Omnibus 23
Die ryper jare • En die verlange bly • Die man met die geel oë
Jasmyn
1
Die son val deur die klein venstertjie en maak ’n geelbleek streep oor die kant van die gesig agter die naaimasjien.
Die meisie wat agter die vrou in ’n binnedeur verskyn, bly net daar staan – asof iets in die beeld hier voor haar haar tot swye ruk.
Mams.
Deur die jare het sy die prentjie voor haar leer ken, só goed leer ken dat sy dit byna nie meer raaksien nie. Dis die eerste ding wat sy onthou vandat sy haar verstand gekry het: Mams agter die naaimasjien, vooroor gebuk, die hande besig om die een meter materiaal ná die ander vir die hongerige naald te voer. Soggens, smiddae, saans …
’n Ligte fronsie keep tussen die netjiese wenkbroue. Jaarin. Jaaruit. Hoeveel jaar al? Dit moet seker al goed vyftien wees. Vyftien jaar agter daardie naaimasjien.
Sy kyk weer. Die sonbaan het verskuif, val nou op die kort swart hare, beklemtoon die silwer wat amper ongemerk daarin verskyn het. Haar mooiste jare is reeds verby. Dit behoort aan gister – en gister was net swoeg. Elke dag dieselfde roetine, elke dag die pad van plig getrou bewandel.
Amanda staan doodstil, kyk net na die vrou hier voor haar asof sy haar vandag vir die eerste keer sien. En eintlik ís dit so. Sy sien haar ma vandag vir die eerste keer werklik raak. As mens, as vrou … as iemand wat ook van vlees en bloed gemaak is.
Want nog altyd was Mams maar net Mams, die onontbeerlike persoon in die huis, in hierdie klein huisie in die minder gegoede deel van die stad. Hier was sy deur die jare altyd net daar, en die dinge wat nodig was, was beskikbaar. Weliswaar geen luukse nie, maar die dak oor die kop, hoewel eenvoudig en klein en weggesteek in ’n agterstraatjie, was altyd daar. Die versorging was daar. Sy kan nie onthou dat sy een keer honger gaan slaap het nie. En dit alles het van Mams gekom. Van Mams wie se hare nou al silwer strepe begin toon …
Dis of die vrou agter die naaimasjien haar dogter se blik aanvoel, want sy kyk nou oor haar skouer en die moeë trek om die sagte mond verdwyn in ’n glimlag.
“Reg om te gaan? Jy lyk pragtig, my skat.”
Haar dogter kom nader; die oomblik van insig is verby en byna dadelik vergete. Die jeug is selfsug. Die oomblik van ongemak word op die agtergrond geskuif. Dis soveel makliker en aangenamer om maar net te ontvang. Die tyd vir gee en waardeer lê nog vorentoe. Dis nie nou al nodig om te diep oor Mams te dink nie.
“Gaan jy en Ted fliek?”
Weer is daar ’n ongemak in haar, maar net so vlugtig verdwyn dit weer. Tog kry sy dit nie reg om sommer net ja te sê nie. “Ek … weet nie wat presies op die program is nie. Ek sal maar hoor as ek daar kom.”
Daar verskyn ’n klein fronsie tussen die donker wenkbroue. “Mandatjie, ek hou nie daarvan dat jy na Ted toe gaan as julle uitgaan nie. Die regte ding is dat hy jou hier moet kom haal. Dit lyk nie mooi …”
Maar Amanda lag, slaan ’n liefdevolle arm om die skraal skouers. “Ag, Mams, jou dierbare ding, jy’s outyds. Ons lewe nie meer in die jare toet, toe jy jonk was nie. Die lewe het verander. Ek het tog al hoeveel keer verduidelik. As Ted nog hier moet aankom nadat hy van die werk gekom en gebad en aangetrek het, sal ons laat wees vir elke fliek. Nou gaan ek maar na hom toe sodat ons dadelik kan ry sodra hy klaar is. Wat is nou verkeerd daarmee?”
Haar ma lyk onseker. Die jeug kan so maklik dít wat verkeerd is, regstel met woorde. En dan weet jy nie wat om te sê nie. Sy glimlag effens, kyk amper verskonend na haar dogter op, maar daar is tog nog ’n tikkie onsekerheid in die diepbruin oë. ’n Kort stonde dink sy terug aan die dae toe haar kinders nog klein was, toe sý besluit het wat reg is, wat hoort. Maar hulle het grootgeword en vandag is dit Mams wat moet hoor wat reg is en wat lankal outyds is.
Sy glimlag meteens haar bekende, liefdevolle glimlag, trek haar dogter nader en soen haar liggies op die voorkop. Sy is verniet bekommerd. Haar kinders is kerngesond. Hulle is reg grootgemaak. En sy is dankbaar dat dit Ted is met wie Manda uitgaan. Hy lyk weliswaar wild en baie byderwets, maar in sy hart is hy ’n goeie seun.
“Goed, my skat. Ons sal nie weer daaroor redeneer nie. Geniet die aand. En moenie weer so laat huis toe kom nie, Mandatjie. Ek sukkel my soggens dood om jou uit die bed te kry en dis môre maar Donderdag, onthou.”
“Goed, Mams. Soet bly.”
Sy is by die deur uit en haar ma hou haar deur die venster dop, sien haar die klippaadjie afstap na die voorhekkie en dan verdwyn.
Net ’n oomblik versluier die bruin oë; net ’n flitsende moment is daar ’n trek om die sagte mond wat amper verbitterd vertoon. Soet bly, Mams. Dis of die een mondhoek net wil-wil wrang trek. Soet bly … Dis wat sy elke dag, jaarin en jaaruit doen … Soet bly … Soet bly tuis … agter die besem, agter die kospotte, agter hierdie naaimasjien.
En voor hierdie venster met die klein, outydse ruitjies gaan die lewe by haar verby, het sy net ’n klein raampie waardeur sy daarna kan kyk, is die uitsig maar baie beperk. Want sy moet soet bly … hoeveel jare nou al? Hoeveel jare bly sy nou al soet by die huis, ken sy net die paadjie van die een klein vertrekkie na die ander en veral die paadjie van die kombuis na die venstertjie waar die naaimasjien staan? Die uitgetrapte tapyt agter haar vertel hoe goed sy dit ken, hóé soet sy deur die jare by die huis gebly het.
Maar reeds begin haar vingers weer soek na die materiaal hier voor haar, die taak wat voor hande lê. Die fynbesnede gesig word stil. Dis baie jare laas dat sy toegelaat het dat selfbejammering haar vasdruk. Daar was ’n kort rukkie in haar lewe dat sy onder in daardie put gelê het. Verslaan, verslae.
Maar toe het sy aanvaar daar is ’n pad wat gestap móét word. Sy is nie alleen nie. As sy alleen was, kon sy maar onder in die put van selfbejammering bly lê het. Dit sou nie saak maak nie. Maar daar was Amanda en Andrew, haar kinders. Hulle was die stukrag wat haar haarself laat optrek het uit daardie put, moedig die pad vorentoe laat aandurf het. Dít was ’n donker pad, ’n swaar pad wat vir haar gevoel het asof dit net uit selfopoffering en selfverloëning bestaan. Maar sy het hom gestap. Elke dag. Getrou in die wete dat daar geen keuse is nie, dat sy móét.
En met die jare het sy in ’n genadige groef verval; in gister en eergister en die dag voor eergister se spore gestap, dieselfde paadjie. Elke dag, elke uur … die pad van plig. ’n Deel van haar het stomp geword. Stom. Daardie deel wat vrae gevra het. Daardie deel wat in opstand gekom het. Sy het nie meer hóékom gevra nie. Sy het nie meer ’n alwyse God vertel dat sy seker ook die reg het op ’n klein bietjie geluk nie; dat haar mooiste jare verbygaan; dat sy nie langer dag ná dag, uur ná uur agter hierdie naaimasjien kan sit en so die lewe by haar sien verbygaan nie. Daardie aansprake het in haar verstom en gesterf.
Die bruin oë lig van die naald toe die voorhekkie piep. Sy sien hom die paadjie afgestap kom. En tog sien sy hom ook nie. Hoekom is daar dan vandag skielik weer ’n vae opstand in haar? Hoekom wil sy nou, terwyl die blink drade al in haar hare gevorm het, daaraan dink dat die kosbare lewe en sy vreugdejare verbygaan? So byna reeds verby is? Die besef dat die jare van liefhê en geluk wat agter haar lê, leë jare was, met niks om die jare vorentoe te verwarm as die bloed koud en die liggaam oud geword het nie, treiter haar skielik vandag weer.
“Hallo, Ma.”
Sy kyk stadig oor haar skouer, probeer die na binne gekeerde blik terugbring na die hede, na haar seun wat vuil en besmeer voor haar staan. “Middag, Drew.” Sy knip haar oë en dan is sy weer die vrou met die sagte glimlag. “Daar is vars beskuit op die kombuisrak.”
Hy glimlag terug. “Dit klink gaaf. Ek wil my net gou gaan skoonkry.”
Hy verdwyn en sy ma se blik sak terug na die blink naald. Arme Drew. Hy verpes die vuil oorpak en die olie aan sy hande. Dis die eerste ding wat hy doen wanneer hy middae van die garage af kom, om te gaan bad en skoon aan te trek. Hy het verlede jaar matriek geskryf en toe by die naaste groot garage gaan inskryf as vakleerling. Maar hy haat dit, sy weet.
Hy