Ena Murray Omnibus 23. Ena Murray
sy ken hom, weet dat hy nie gelukkig is in die garage nie. Hy is nie een vir olie en vuil motoronderdele nie. Hy is kunssinnig. Sy weet hy droom drome oor ’n eie fotoateljee. Dis sy rigting. Maar daar is nie geld vir sulke dinge nie. Daar was nog nooit, daarom dat hy maar die eerste die beste werk aanvaar het. Hy wou ook nie verder leer nie, selfs nie eens met behulp van ’n beurs wat hom aangebied is nie.
“Ek gaan werk, Ma.”
Sy het gepleit. Sy wou hierdie stil, besadigde seun van haar so graag die hele wêreld gun, maar sy het so min gehad om self aan te bied. Tog …
“Die beurs sal baie help, Andrew. Jy sal omtrent net klere en sakgeld nog nodig hê.”
“Juis. En waar moet dít vandaan kom? Nog altyd uit daardie … daardie masjien.”
Vir die eerste keer het haar seun iets van sy innerlike laat deurskemer en sy het sy blik gevolg tot by die naaimasjien, toe weer verward teruggedraai na hom.
“Hoekom … hoekom sê jy dit só?”
Vir die eerste keer het sy sy bruin oë in hare sien blits. “Omdat ek daardie ding verpes! Ek kan dit soms gerus stukkend kap!”
“Drew!”
Haar verbystering het sy onverwagse uitbarsting getemper en hy het sy kop laat sak. “Jammer, Ma. Ek het dit nie so kras bedoel nie. Nee, ek lieg nou, ek het. Maar …” Sy arms het in ’n halfsirkel beweeg, so ’n wanhoopsgebaar wat haar hart aangegryp het. Hy het weggedraai. “Aag, laat staan maar …”
“Andrew!” Haar stem het hom gekeer voordat hy die vertrek uit is. “Kom hier, my seun. Drew, kom hier.”
Hy het onwillig teruggekom, met troebel oë in haar bekommerdes afgekyk. “Ja, Ma?”
“Ek het … ek het nooit besef dat jy só voel oor … oor my naaldwerk nie. Hoekom? Irriteer die geluid van die masjien jou wanneer ek werk en jy moet leer of …?”
“Nee, Ma, dis nie dit nie. Dis … Ek weet dis kinderagtig, maar ek haat hierdie naaimasjien! Dis of hy asemhaal, lewe … en van Ma ’n slaaf maak. Vandat ek maar kan onthou, sit Ma voor hom, dag vir dag. Ek … hou nie daarvan nie. Ek … wil nie hê Ma moet so hard werk nie. Ek wil nie hê Ma moet vir ’n klomp lui vroumense klere maak vir ’n hongerloon nie. En dan is hulle nog vol dinge ook, soos daardie mevrou Black gister. Sy is ’n … Ma weet wat sy is. Dis geen geheim hoe dit daar by haar huis gaan nie. En dan kom sy hier en wil hê Ma moet ’n kunsskepping uit ’n stuk minderwaardige materiaal maak. Ek haat dit!”
Sy het swyend bly sit, verbaas, verwonderd, hartseer … maar ook vreemd dankbaar. Sy het gedink hulle sien dit nie raak nie. Maar een het. Een van haar kinders het wel. Dit het nie ongemerk verbygegaan nie. Maar die opstand, die byna wilde opstand in sy stem het haar ook verontrus.
“Ons moet almal werk, my seun. En die nederigste werkie kan iets groots word as dit met die regte gesindheid gedoen word.”
“Ma verstaan nie. Ek sien nie op Ma se naaldwerk neer nie. Dis net … Aag, los maar. Maar ek gaan nie verder leer nie. Ek gaan werk, die eerste werk wat ek kry. Ons kinders het lank genoeg op Ma se nek gelê.”
“Andrew! Ag nee, jy maak my nou seer. Julle is my kinders … al wat ek het. Julle was nooit ’n las vir my nie, Drewtjie. Glo my.”
Hy het geknik en een van sy seldsame uitings aan gevoel gegee deur haar baie vlugtig op die wang te soen. Die seunstem het meteens diep gevibreer. “Ek weet, Ma. Maar ons is nou groot en ons kan Ma nou begin help. Dis nou weer ons beurt. Ek het klaar met die man van Omega Garage gepraat. Hy het gesê ek kan volgende week begin.”
Hy het uitgestap en hulle het nooit weer daaroor gepraat nie. Andrew het die volgende week as vakleerling begin werk en nooit deur woord of daad laat blyk hoe hy dit verpes nie. Maar sy weet … soos sy so baie dinge weet al sit sy haar dae en jare om voor die naaimasjien.
Hy kom weer binne, ’n beker koffie in die een hand en ’n groot stuk vars beskuit in die ander. Hy neem plaas op die klein bankie langs die naaimasjien.
Die naaimasjien gaan voort met sy eentonige wysie en die seun sit en eet sy beskuit. Dis toe hy die beker neersit, dat die dreuning van die masjien ophou.
“Drew, hoe gaan dit?”
“Ma?”
Sy pen hom met haar oë vas. “Ek bedoel hoe gaan dit werklik by die werk?”
Die bruin oë versluier. “Die baas het nog nie gekla sover ek weet nie.”
“Dis nie wat ek bedoel nie en jy weet dit. Gaan dit al … makliker, of haat jy dit nog?”
Twee paar oë kyk eerlik en vas in mekaar en die moeder lees haar antwoord in die bruines voor haar. Dan is die sluiers terug. “Dis … orraait.”
“Dis nie regtig orraait nie, nè, Drew? Hoekom soek jy nie iets anders nie?”
“Wat, Ma?”
“Kantoorwerk of … of so iets.”
“Ek is nie vir ’n pen en papier gemaak nie. Ma weet dit.”
“Ja. En ook nie vir olie nie,” voeg sy swyend, ongelukkig by.
“Hoe gaan dit met Má?”
“Met my?” Sy kyk verbaas op.
“Ja.” Haar seun se oë lyk ietwat uitdagend. “Word Ma nooit moeg en sat vir hierdie ding nie?” En hy klap met sy hand op die naaimasjien langs hom.
“Soms wel ’n bietjie, maar ’n mens raak alles gewoond,” gee sy met neergeslane oë toe.
“Presies. Ek sal ook.” Hy staan op. “Van die end van hierdie maand af kry ek salaris. Dan begin ek vir Ma losies betaal … en Amanda ook. Sy werk al meer as ’n jaar en sy trek alles aan haar bas. Dit moet nou ophou. Sy moet ook vir Ma losies begin betaal en Ma gaan ophou om dagin en daguit agter hierdie verduiwelse ding te sit.”
“Andrew!” Sy kyk hom bekommerd aan. Haar stil, besadigde kind is besig om te verander, en sy weet nie of dit ten goede is nie. “ ’n Jong meisie het baie dingetjies nodig. En jy het ook goedjies wat jy graag wil hê. Ek kom reg. Dis nie nodig …”
“Dit ís nodig, Ma. Ma het ook goedjies en dingetjies nodig. Jare lank al nodig. Maar Ma moes maar net daarsonder klaarkom. Daardie rok wat Ma aanhet, ken ek nou al ’n paar jaar … Jammer, Ma. Ek wil nie persoonlik raak nie. Dis net … Dinge moet nou verander.”
Dinge hét reeds verander, dink sy toe hy uitstap. Sy kyk fronsend na die stuk goedkoop materiaal wat roerloos onder haar hande lê.
Haar kinders het verander. Ongemerk het hulle grootgeword, buite haar bereik beweeg. Hulle het albei met ’n nuwe lewe begin, ’n lewe buite hierdie huisie en sy grense.
Nou, op hierdie oomblik, erken sy aan haarself dat sy al lankal die verandering – veral in haar dogter – waargeneem het. Daar is iets anders aan Amanda. Dis of sy altyd half koorsig gejaag is, en sy het al die gevoel gekry dat Amanda nie meer so volkome die vertroueling is wat sy vantevore was nie. ’n Stuk van haar dogter het vreemd geword die afgelope tyd. ’n Deel van haar dogter se lewe het ’n geslote boek geraak. En dis of Amanda, soos vanmiddag, haar nie meer heeltemal vas in die oë kan kyk nie, of sy gedurig versigtig is. Op haar hoede is … Waarvoor? Hoekom het haar dogter waaksaam teenoor haar geword?
Haar oë trek peinsend, weemoedig saam. Dis die lewe, troos sy haarself. Hulle is net deel van jou as kind. Sodra hulle grootmense word, skuif hulle al verder van jou af weg. Sy moet aanvaar dat Amanda reeds ’n grootmens is; haar eie lewe begin lei. En tog …
Haar dogter dínk sy is ’n grootmens, maar eintlik is sy nie. Sy dínk maar sy het die wêreld se wysheid in pag. Miskien het sy as moeder haar kinders altyd te veel beskerm. Miskien het sy, onwetend, te lank aan hulle vasgeklou; hulle onder haar vlerk gehou. Juis omdat hulle in hierdie deel van die stad bly, juis omdat hulle arm is, het sy die bane waarin sy haar kinders se voetstappe gelei het, dalk te nougeset gestel.