Die paradysman. Ettie Bierman

Die paradysman - Ettie Bierman


Скачать книгу
wel regkom.”

      Hy sug. “Jy het nie verander nie. Jy is steeds die koppigste mens wat ek ken.”

      “Wanneer laas het jy in ’n spieël gekyk?” kap sy teë.

      ’n Oomblik lank sien sy ’n skewigheid aan sy mondhoek trek, asof ’n grinnik wou deurbreek. Die horlosie draai terug en hy lyk skielik soos altyd, soos toe hy die son en die maan en die sterre van haar heelal was. Daar is ’n onverwagte fladdering op die krop van haar maag. Sy moet haarself keer om nie haar arms om hom te sit en hom ’n spontane druk te gee nie, soos sy altyd gedoen het as hulle mekaar ’n tyd lank nie gesien het nie.

      Tinka is geskok oor dié skielike impuls waaraan sy amper toegegee het. Genade, is sy dan heeltemal van haar sinne af? Of is dit die mag van die gewoonte omdat sy haar ná al die jare weer in Pretoria bevind, waar sy en Rheeder mekaar ontmoet en verlief geraak het?

      Daar is deesdae soveel onstuimigheid in haar gemoed dat haar kop uithaak. Nou die dag was haar tjekboek ure lank soek. Nadat sy die hele winkel omgekeer het, kry sy dit so ewe in die yskas! Sy moet haar regruk. Sy was nog altyd ’n dromer en ’n onpraktiese idealis. Maar noudat sy ’n nuwe hoofstuk in haar lewe begin het, moet sy haar gedra soos die soort sakevrou wat sy graag wil wees: selfversekerd, bekwaam en met haar emosies onder beheer. Dis tyd om met haar kop te dink, nie met haar hart nie. Rheeder sit seker die hond op haar as sy dit durf waag om haar arms om sy nek te sit …

      “Ek’s besig, ek het nie tyd om heeldag te staan en stry nie,” sê hy kortaf.

      Hy haak ’n bos sleutels van ’n rak teen die muur af en gee dit vir Tinka. Maar voor hy verder kan praat, lui sy selfoon. Hy haal dit uit sy broeksak en lees op die skermpie.

      “Dis die hospitaal, ek is op roep … Daardie is die woonstel se sleutels. Stap oor die patio, verby die swembad en met die paadjie tussen twee rye jakarandas deur. Gaan kyk self en besluit of die plek jou pas. Ek kom later.”

      2

      Daar is ’n oopplan sit-eetkamer met uitgekerfde Bali- meubels en ’n mistige persblou uitsig oor die Magaliesberge, ’n hoofslaapkamer met ’n dubbelbed en ’n kleiner kamer met ’n divan. ’n Gooikamer, dink Tinka. Vir leë bokse, tasse, stapels ou tydskrifte, prente en alles wat ’n mens nie die hart het om weg te gooi nie. As hier mense kom, gooi jy alles wat rondlê in die gooikamer en trek die deur toe.

      Die badkamer is ’n ryk olyfgroen en die kombuis lyk soos Nigella s’n op die BBC Food-kanaal. Wat meer kan sy vra?

      ’n Ander huisbaas, antwoord sy haarself. Al is dit perfek, is daar geen manier waarop sy hier kan bly nie – nie met Rheeder net anderkant die bome nie. Hy sal gedurig skoorsoek, haar aan daardie simpel bierblikring herinner en haar soos ’n wurm laat voel.

      Wat was daardie manewales van haar hart netnou, die fladdering in haar maag? wonder sy onrustig. Dis mos nie ’n nuwe, potensiële kêrel tot wie sy aangetrokke voel nie. Dis Rheeder, wat sy al jare lank ken, aan wie sy gewoond is soos aan ’n broer of die buurseun wat van graad een af saam met haar op skool was. Watse onbroederlike en onplatoniese emosies het onverwags in haar opgestu? As sy by die see was, het sy gedink Neptunus se magiese springgety het oor haar gespoel. Of dalk is dit vanaand volmaan? Sy moet onthou om te kyk.

      Sy loer deur die kombuisvenster na die agterstoep: breed genoeg vir potte rooi malvas en kruie, met ’n muurtjie waarop sy haar voete kan laat rus as sy smiddae buite sit om die sonsondergang agter die berg te geniet. Sy sou heerlik hier kon woon. Maar dis buite die kwessie. Sy moet teruggaan na haar onbekostigbare, onpersoonlike hotelkamer en môre weer van voor af blyplek soek.

      Sy is opnuut kwaad vir Rheeder. Op varsity was daar hordes meisies wat oor hul voete geval het om agter die sexy rugbykaptein aan te hardloop. Hoekom het hy nie met een van hulle getrou nie? Dan het hy nou vir haar foto’s van sy kinders gewys, pleks van om oor Eugene uit te vis. Dan kon sy nou hierdie pragtige woonstel huur en ophou stres oor haar finansies.

      Tinka weet sy het ’n ding oor ’n suurlemoenboom: die bloeisels vir jou kaslaaie, die blare vir bobotie, die gerasperde skil by patats, die sap vir marinering en die songeel vrugte vir kyk, ruik en skilder. Sy staan en kyk na ’n manjifieke eksemplaar van die Eureka-variëteit langs die stoep toe Rheeder by die kombuis instap.

      “Jammer … ’n Pasiënt in ’n diabetiese koma. Darem nie nodig gewees dat ek hospitaal toe jaag nie. Het jy na die woonstel gekyk?”

      “Ja.”

      “En …?”

      “Dis goed ingerig.”

      Haar stem is niksseggend en hy kyk ondersoekend na haar. Hy vra nie uit nie en plaas nie druk op haar nie.

      “Hier was twee ouerige mense in – oom Hannes en tant Trynie – wat ek saam met die huis geërf het, maar hulle is na ’n aftree-oord toe. Dit laat my met ’n probleem wat betref Griet. Ek is dikwels weg, met niemand om na die hond om te sien nie. Dis maklik om ander huurders te kry, maar ek verkies iemand wat ek vertrou.”

      Haar vertrou? Nie veel van ’n kompliment nie, tog darem ’n pluspunt in haar guns. Grootmoedig van hom, dink Tinka teen haar sin. Sy onthou Rheeder was altyd ’n gawe ou, met ’n positiewe gesindheid. Daarom behoort sy seker meer verdraagsaam te wees, aangesien sý die skuldige party was.

      Dikwels weg … mymer sy. Seker mediese kongresse en simposiums wat hy moet bywoon. En bedags is hy natuurlik by sy spreekkamer. Dalk naweke ook; algemene praktisyns werk lang ure. Sy sal hom waarskynlik net aan die einde van die maand sien as sy haar huur gaan betaal. En daarvoor kan sy ’n aftrekorder teken.

      “Jy is mos nie bang vir honde nie, of hoe?” vra hy.

      “Jy weet ek is nie; ek is lief vir diere.”

      Sy beduie na die hond wat hulle gevolg het en in die kombuis rondsnuffel op soek na ’n vergete stukkie kos. “Hierdie knewel het my netnou net onverwags gevang. Ek het gedink hy storm.”

      “Sy,” korrigeer Rheeder. “Hy is sy.”

      Vir Tinka klink dit deurmekaar. “Wát?”

      “Sy is ’n teef, nie ’n reun nie. Eintlik jammer, anders het dit die koerant se agterblad gehaal, want dit sou ’n mediese wonderwerk gewees het as ’n reun swanger geword het.”

      “Swanger?” eggo Tinka.

      “ ’n Algemene toestand by die vroulike spesie wat plaasvind wanneer sy deur –”

      “Ek weet wat swangerskap is, Rheeder. Al is ek nie ’n geniale mediese dokter soos jy nie, het ek darem biologie op skool gehad. Ek het nie opgelet nie en aanvaar die hond is sommer net vet, dis al.”

      “Vetsug is ’n simptoom van swangerskap.” Sy gesig is sedig, maar ’n vonkel dans in sy grysgroen oë. “Het jy seergekry netnou toe sy jou onderstebo gespring het?”

      Tinka probeer haar waardigheid behou. “Ek het net my balans effens verloor, ek was nie onderstebo nie.”

      Hy lyk verbaas. “My aarde, ek kort seker ’n bril. Ek kon sweer jy was bokant onder – of onderkant bo – en dit was nie jou gesig wat ek aanskou het toe ek die deur oopgemaak het nie.”

      Tinka weet sy is besig om dié ronde te verloor. In die verlede het sy ’n kragmeting met Rheeder geniet, want dit het gewoonlik uitgeloop op ’n gelag en geëindig in ’n lekker warm omhelsing wat die belofte van nog veel meer gedra het … Maar nou weet sy nie hoe om die situasie te hanteer nie. Sy is in ’n hoek en die enigste manier om daaruit te kom is om aan te val.

      “Hoekom het jy nie die deur gouer oopgemaak nie? Ek moes ’n eeu buite staan en wag, uitgelewer aan die attensies van jou ongeskikte brak.”

      Asof Griet weet dis op haar gemik, flap sy haar ore en kyk verwytend na Tinka.

      Askies, ou Griet, vra sy in haar gedagtes verskoning. Ek weet jy wou net groet. Ek is nie vir jou kwaad nie, net vir jou baas … “En toe jy uiteindelik sover kom om oop te maak, lag jy vir my! Pleks dat jy verskoning vra, die


Скачать книгу