Die paradysman. Ettie Bierman

Die paradysman - Ettie Bierman


Скачать книгу

      “Ek het dit nie so bedoel nie. Hoe klink ’n sarkastiese kug?”

      “Soos joune!”

      “Jammer as ek verkeerd gereageer het, maar ek was net so stomgeslaan soos jy.”

      “Stomheid is nie ’n verskoning nie!”

      “Dus sal jy my ’n groot guns doen as jy hier kom bly en die hond kan kos gee wanneer ek nie tuis is nie,” paai hy.

      Hy beduie na buite. “Hierdie is ’n dubbele erf, soos jy seker opgelet het. Die digte struike en bome dien as ’n skans en jy is ver van die hoofhuis af, met jou eie straatingang. Ek respekteer die privaatheid van my huurders en sal nie aan jou deur kom klop nie, behalwe in ’n krisis. As dit gebeur dat jou geiser lek of die geute verstop is of wat ook al, kan jy net ’n nota onder my voordeur sit, dan sal ek werk maak daarvan. Ek ry vroeg soggens en kom gewoonlik eers laataand terug. Dikwels, met ’n noodgeval by die hospitaal, slaap ek sommer die nag daar. Ons sal mekaar selde sien – ’n reëling wat my sal pas.”

      Hy hoef dit nie uit te spel nie, dink sy gegrief. Asof sy die pes het!

      “Ja, dit sal my natuurlik ook pas,” stem sy saam. “Alles goed en wel, maar ek kan steeds nie hier bly nie.”

      “Hoekom nie?”

      “Dis nie betaamlik nie.”

      Rheeder toets by die opwasbak of die druppende kraan lek en of dit net nie behoorlik toegedraai is nie. Hy kyk skuins oor sy skouer. “Onbetaamlik? Hoe bedoel jy?”

      Sy klik ergerlik haar tong. “Jy weet wat ek bedoel.”

      Hy hou hom dom. “Nee, ek weet nie. Vertel my.”

      Sy is skielik ongemaklik. “Jy en ek … albei ongetroud. Dis onbehoorlik dat ek in die agterplaas van ’n alleenloperman bly.”

      “Dis nie my agterplaas nie, dis die tuin.”

      “Dis een en dieselfde ding. Dit sal lyk of ons weer ’n verhouding het en so te sê saambly.”

      Hy trek groot oë. “Hoe skokkend! In die een en twintigste eeu? Hulle sal ons teer en veer en onder sensuur plaas.”

      “Dis nie snaaks nie,” sê sy styf. “Ek hou nie daarvan as mense skinder nie.”

      Sy een wenkbrou lig spottend. “Van wanneer af steur jy jou aan skinderstories en wat die mense sê? Dit het jou nie voorheen gepla nie. Of het jy skielik preuts geword daar in Parys?”

      Sy weet hy verwys na haar verhouding met Eugene. Sy word rooi en kyk anderpad. “Dit was anders.”

      “Hoe anders?”

      “Ons het nie saamgewoon nie. Daar was ander mense by. Ons was nie mekaar se ekse nie en het op troue gestaan. En die Franse is in elk geval meer permissief as die Suid-Afrikaners.”

      “O … Het julle nie saamgebly nie?”

      Sy herhaal nie die inligting nie, gee hom net ’n dwars kyk.

      Rheeder los die kraan, leun teen die wasbak en vou sy arms. “Jy aanvaar dit sommer as vanselfsprekend dat ek ’n alleenloper is. Hoe weet jy ek is nie ’n respektabele getroude man nie?”

      Hy lyk doodluiters, doodkalm. Tinka is onthuts en op die verkeerde voet gevang. Hy dra nie ’n trouring nie, dit het sy dadelik opgemerk. Maar dit beteken niks; nie alle mans dra ’n ring nie. Dokters was gedurig hande, werk in water of met delikate instrumente en dan is ’n ring lastig.

      In haar e-posse aan tant Olga het sy gereeld verneem hoe dit met hom gaan. Sy ma het altyd geantwoord: Goed, hy werk hard, sy praktyk hou hom besig en daar’s nie klagtes nie. Gewoonhede. Maar tant Olga was dalk taktvol om ’n turksvy-onderwerp te vermy. Rheeder is ’n aantreklike, viriele man. Selfs nou nog, al is hulle vervreem, kry sy lus om aan daardie gespierde manslyf van hom te vat. Met haar hande oor sy sterk skouers te streel, oor sy ribbes te vryf en oor sy plat maagspiere … Dis amper onmoontlik dat een of ander vroumens nog nie daarin geslaag het om so ’n vangs nader te haak nie.

      “Wie sê ek het nie ’n vrou daar anderkant in die kombuis nie, besig om aartappels en pampoen te skil om vir haar man aandete te kook?” vra hy terwyl ’n vreemde glimlag om sy mond speel.

      Tinka probeer hom peil, maar sy kan nie die uitdrukking in sy oë lees nie. Sy antwoord met ’n teenvraag: “Hét jy?”

      “ ’n Wat?”

      “ ’n Vrou.”

      “Hoekom nie? Is ek te oud en te lelik? Nie hubaar genoeg nie?”

      Hy is moedswillig en vat ’n kans, raai sy. Om te wys hy’s nie verleë nie, of om haar terug te betaal omdat sy hom die trekpas gegee het. Hy weet dit het haar onkant betrap dat hy hier woon en hy geniet dit om haar aan die raai te hou. Sal sy bly wees as hy veilig getroud is? vra sy haarself af.

      Ja, natuurlik, besluit sy dadelik. Wat tussen hulle was, is verby die dag toe Eugene op die toneel verskyn het. As Rheeder ’n vrou het wat vir hom aartappels en pampoen skil, sal sy wat Tinka is dankbaar wees, want dit sal haar gewete salf. Dit sal beteken dat sy die woonstel kan huur, wat die oplossing vir haar probleme sal wees.

      Rheeder lees die onsekerheid in haar oë. Donker oë met digte, roetswart wimpers. Katinka van der Bijl is die mooiste meisie wat hy ken. Hierdie fyn swartkop met die blink oë en porseleinvel het van die eerste oomblik af ’n beskermingsdrang in hom wakker gemaak, sodat hy sy arms om haar wou sit. Haar wou liefkoos en vertroetel. Haar soen en syne maak …

      Hy het haar die eerste keer by die biblioteek gesien en daarna weke lank soos ’n skaduwee daar rondgedwaal, gehoop om haar weer raak te loop. Hy het by die bib aangesluit, elke tweede dag sy boeke gaan omruil, nuwes uitgeneem en weer gaan terugruil. Soos ’n klimtol op en af. Net vir ’n kans om haar weer te sien en vas te stel wat dit aan die vroumens is wat sy eetlus laat verdwyn het en hom snags koorsig laat wakker lê het.

      Dit het hom ’n week gekos om haar vir koffie by die kafeteria te skiet. Hy was dom en lomp en skaam. Te bang om aan haar te raak. Sy pel Joe het ’n plan bedink: Hy moes sê hy het ’n boek gelees oor fortuinvertellery, oor hoe om palms te lees. Dit sou hom ’n wettige verskoning gee om haar hand vas te hou. Dit het gewerk …

      Om haar uiteindelik gesoen te kry, het hy self bedink en uitgevoer. Op skool het hy al so ’n bietjie geoefen, sodat hy nie meer heeltemal ’n groentjie was nie. Hy kon sy geluk nie glo toe Tinka ja gesê het om saam met hom na die fakulteitsdans te gaan nie. Hy het ’n nuwe hemp vir die okkasie gekoop, sy kar gewas en twintig gebedjies opgesê dat hulle twee sou kliek.

      Hulle hét. Meer as net gekliek. Hy is nie te waffers met ’n wals nie, maar toe hy haar in sy arms neem, het atome gesplits en die aarde ophou draai. Katinka van der Bijl was die meisie vir wie hy sy hele lewe gewag het. Sy trouvrou …

      Altans, so het hy gedink. Tot die nuwe lektor in skeppende skryfkuns die jaar daarop by die departement Lettere en Wysbegeerte aangestel is. Eugene Letoit was ’n langhaardigter in sy middel-dertigs. ’n Introvert en filosoof, kastig ’n kenner van ’n vrou se dieper psige en ’n vertroueling van die muse.

      Tussen hom en sy uitblinkerstudent was daar ’n konneksie, ’n instinktiewe vonk. Hy het kort voor lank die weerlose Tinka gebreinspoel. Sy was soos ’n vis aan ’n hoek. Het met sterre in haar oë aan sy lippe gehang en elke woord van die baster-Fransman se lesings ingedrink.

      Soos Rheeder van neurosjirurgie gedroom het, het sy van kleins af gedroom om eendag ’n boek te skryf. Die groot Afrikaanse roman, Hertzogpryswenner. Daarvoor was sy bereid om op te offer, prys te gee, haar hárt en siél te gee. Sy het Afrikaans, Engels en Frans as hoofvakke geneem, wyd gelees – al die werke van die groot skrywers – en self ’n klompie essays geproduseer.

      Letoit het haar idealisme uitgebuit. Die krag van jou drome bevrug jou sukses, was glo sy motto. Sy sterstudent het dit as haar persoonlike leuse geneem. Sy het nagte deur gewerk en haar elke vakansie in die biblioteek afgesloof. Aanvanklik het sy net Saterdagoggende ekstra


Скачать книгу