Hartstog in Malawi. Lizet Engelbrecht
Hartstog in Malawi
Lizet Engelbrecht
Satyn
Vir my gesin – sonder julle sal my lewe ’n manuskrip sonder ’n storie wees. Jannie, dankie dat ek my passie dag vir dag kan uitlewe. Dankie vir jou geloof, inspirasie en dat jy saam my droom en glo.
My kinders, Jan-Marais en Lizan, dankie vir elke briefie, modderkoekie en soen wat julle so onvoorwaardelik gee.
Aggie, my regterhand – sonder jou ondersteuning sou ek nog net gedroom het van ’n eerste.
Dankie ook aan Madri Victor van NB-Uitgewers; jou geduld, vertroue en hulpvaardigheid word opreg waardeer.
1
’n Oomblik talm hy voor haar bedjie – sy lewe is só perfek.
“Toe-la-la. Lekker slaap, Pappa se blouoog-polfyntjie,” fluister hy, buk vooroor en druk sy lippe teen haar krullebol. Haar asemhaling is diep en rustig. Hy vul sy longe met haar perskebloeisel-en-babapoeiergeur, kom orent, plaas die storieboek van Sneeuwitjie op haar bedkassie neer, skakel die nagliggie aan en stap uit.
Sluipjagter – sit dit in haar broek?
Rochelle wikkel aan haar veelkleurige serp terwyl sy die benaming sluipjagter wat sý vir haar opdrag uitgedink het, oordink. Of sal “manjagter” of “sluipjag na ’n man” ’n meer gepaste benaming wees? Sy sug, glimlag selfversekerd en raak aan die Canon-kamera wat langs haar op die vliegtuig se sitplek lê. Soos menige toeris is sy ook toegerus met die beste gereedskap, met die enigste verskil: háár kamera is vir werk en nie vir plesier nie. En sy is oor hierdie opdrag soos ’n duiwel oor ’n siel.
Die vlieënier se aankondiging dat hulle neerdaal en binnekort sal land, onderbreek haar gedagtes.
Sy kry daardie benoud-opgewonde krieweling op die krop van haar maag wat sy gewoonlik beleef wanneer sy onseker voel. Binne die volgende tien minute gaan sy haar laaste veilige hawe agterlaat en op haar eie ’n onbekende land in Afrika trotseer.
Haar opdrag om ’n spesifieke man te jag – soos sy daarna verwys – is nié die oorsaak vir haar onsekerheid nie. Sy het geen twyfel aan haar professionele vermoë nie, maar wat haar maag op ’n knop laat trek, is haar lewenslange vrees vir die onbekende.
Hierdie besoek van haar aan Malawi, alias Njassaland of Meer van Sterre, soos baie skrywers na die land verwys, is geheel en al teenstrydig met haar karakter.
Sy druk haar voorkop teen die venster en bespied die landskap onder haar. Verwonderd sien sy die besonderse groen land wat onder haar ooprol. Sy sug innerlik. Sy kan maar ontspan en hierdie angsgevoel wegbêre, want haar werkgewer sou haar nooit gestuur het as Malawi nie veilig was nie. Trouens, almal het haar verseker dat die Malawiërs ’n vreedsame en vriendelike nasie is.
En wat as dit nie so is nie? Wat as Xavier juis vir háár gestuur het om wraak te neem? En wie sê …
Dié onwelkome stemmetjie in haar word verpletter toe die vliegtuig só skerp daal dat haar kop vorentoe ruk. Sy gryp na die veiligheidsreling langs haar. Haar maag maak ’n draai in haar keel en sy ruk haar asem hoorbaar in toe sy besef hoe vinnig die groen landskap onder hulle naderkom. Is die vlieënier dronk of besig om beheer oor die vliegtuig te verloor?
Met ’n ruk en ’n slag tref die wiele die aanloopbaan. Haar kneukels kramp soos sy aan die reling klou om nie uit haar sitplek geslinger te word nie. Een gedagte druis deur haar kop: die vlieënier het hom met die lengte van die aanloopbaan misgis – hulle gaan verongeluk!
Deur skrefiesoë kan sy die mielieland reg voor hulle sien oprys. Angsbevange prewel sy: “Nee, liewe Here, net nie sterf in die onbekende nie!”
Die wiele kerm en die logge monster maak die onnatuurlikste geluide. Onverwags word sy só hard vorentoe geruk dat die veiligheidsgordel die lug uit haar maag forseer en dit met ’n kreun ontsnap. Sy knyp haar oë toe en wag.
Dan is alles oor. Die vliegtuig maak ’n grasieuse draai en begin stadig in die teenoorgestelde rigting beweeg. Rochelle maak eers haar een oog op ’n skrefie oop en dan die ander een. Beangs loer sy deur haar venster, merk die verslete gebou aan haar linkerkant en kyk dan ondersoekend na haar medepassasiers. Verslae besef sy dat die ander passasiers voortgaan met gesels asof niks buitengewoons so pas gebeur het nie.
Steeds bewerig sien sy hoe hulle tot stilstand kom voor die geboutjie wat net-net groter as ’n plaasskuur is. Hoekom het ons hier geland? wonder sy en grou in haar handsak op soek na haar retoerkaartjie. Sy kan sweer die vlug uit Kaapstad was net via Johannesburg Blantyre toe. Sy kyk weer na die geboutjie waarvan die mure eens wit was, maar nou deur stof bedek word en waarop vuilbruin strepe op ’n afstand sigbaar is. Het hulle ’n noodlanding iewers gedoen?
Die interkomstelsel se liggie flikker en die vlieënier bedank almal en wens hulle ’n aangename verblyf in Blantyre toe.
Onthuts kyk Rochelle weer na die langwerpige skuur voor sy haar handbagasie uit die oorhoofse bagasieruim loswikkel, in die tou inval, en die beklemming op haar bors probeer doodsmoor.
Volg net die stroom mense, jy sal nie verdwaal nie, hoor sy Marietjie, haar boesemvriendin, se afskeidsboodskap. Sy gee ’n wantrouige laggie – nie eens ’n blinde persoon sal hiér verdwaal nie.
Die armoede en agterstand binne Chileka Internasionale Lughawe laat die beklemming al stywer om haar bors trek. Hier is niks: géén tegnologie, elektroniese rekenaars, advertensieborde of selfs ’n bagasievervoerband nie. Sowaar net die een kamertjie, sonder enige lugverkoeling, waar die hele Boeing 237 se passasiers saamdrom. Rochelle kan reeds voel hoe die hitte haar uitmergel, hoe die sweetdruppels teen haar vel afrol en haar lang hare in haar nek vaskleef.
Sy aanskou die miernes terwyl paniek in haar keel opstoot en daar soos ’n taai toffie vassteek. Alles is anders, selfs die lug ruik vreemd, sweterig. Sy gaan omdraai. Sy sal net hier op die lughawe bly sit en die volgende vlug terugneem Suid-Afrika toe. Sy sal nie ’n dag in hierdie vreemde land oorleef nie, wat nog te sê twee of drie weke!
Dan klap sy haar tong vererg: sy is ambisieus, haar beroep is haar lewe en ter wille van bevordering sal sy haar vrese begrawe en haar opdrag afhandel.
’n Ouerige dame voor haar draai om en sê: “Mensig, maar dis onuithoudbaar warm.”
Rochelle knik net bevestigend, glimlag vriendelik en hang haar Canon oor haar ander skouer.
Asof die gode haar angs uitlag, gooi hulle vet op die vuur toe ’n privaat vliegtuig met ’n oorverdowende lawaai arriveer. Uitlaatgasdampe hang swaar in die lug en sy voel meteens benoud. Haar tong klou aan haar verhemelte vas en sy voel naar.
Dis nie so erg nie, probeer sy haarself desperaat kalmeer en besef verlig dat daar net drie mense in die ry voor haar by die immigrasiekontrolepunt wag.
Die rumoer van stemme verstil merkbaar en die atmosfeer verstyf. ’n Lenige man wat oënskynlik met die privaat vlug gearriveer het, stap by almal verby en druk voor in Rochelle se ry in. Verstom kyk sy hoe hy sonder ’n woord sy dokumente voor die immigrasiebeampte neerplak. Die beampte knik sy kop in ’n eerbiedige groet terwyl hy onmiddellik die man se dokumente begin afhandel.
Wat ’n ongeskikte buffel, dink Rochelle en bekyk die man van kop tot tone. Hy is uitermate lank. Sy hare is ’n blinkswart kleur en afgesien van die grys langs sy slape wat verraai dat hy nie meer te jonk is nie, lyk hy fris en bruingebrand.
“Is u met vakansie?” vis die dame voor Rochelle en sy is verplig om haar beoordeling van die lenige man te staak.
“Nee, ek is hier vir werk,” sê sy en glimlag, want die ouer dame probeer tevergeefs haar wange, wat reeds die kleur van tamaties is, met ’n sakdoekie afkoel.
“Dis jou eerste besoek, nè?” sê-vra die dame en vervolg: “Is jy tevrede met wat jy sover sien?”
Rochelle kug ongemaklik. “Dis nou nie heeltemal die idilliese foto’s wat ek in die toergidse gesien het nie, maar ek beoog om darem nie te lank te vertoef nie.”
Die lenige man tel sy dokumente op, draai skuins en