Hartstog in Malawi. Lizet Engelbrecht

Hartstog in Malawi - Lizet Engelbrecht


Скачать книгу

      Ongenooid ruk hy die motor se agterdeur oop.

      “Hei, man! Wat dink jy doen jy?” vra sy en probeer haar veiligheidsgordel losmaak.

      Sy sal haar nie laat intimideer nie, besluit sy, sy sal hom bydam met haar skoen se hak as dit moet!

      Hy slaan die sitplek plat en haal twee rooi driehoeke uit. Sy blik vee haar van die aardbol af toe hy regop kom en die driehoeke onder die beampte se neus druk. Die driehoeke word sonder ontsag teruggegooi en hy slaan die agterdeur met ’n slag toe.

      Rochelle sit versteen. Tringels … dis triangles! Hoe domonnosel van haar, maalkolk haar gedagtes terwyl sy voel hoe haar gesig verkleur. Sy wens dat die aarde wil oopskeur en haar insluk.

      “ ’n Mens oorhandig nie sommer jou paspoort aan enigiemand nie,” sê hy en hou haar paspoort en lisensie na haar uit.

      Sy knik.

      Hy wissel ’n paar woorde in Chichewa met die beampte, draai om en stap met besliste treë weg.

      Gestroop van alle energie bid sy hardop: “Liewe Here, moet tog asseblief nie dat my pad ooit weer met hierdie ongeskikte man s’n kruis nie. En help my om lewend die reservaat te bereik.”

      Moeg en uitgeput arriveer Rochelle ná byna ses uur op die pad in Chipata. Dis ’n plattelandse dorpie wat hoofsaaklik bestaan uit ’n outydse BP-vulstasie, ’n tipe supermark en ’n paar plaaslike besighede. Tot haar verbasing herken sy ook onmiddellik die alombekende Pep Stores van Suid-Afrika, en dit verdring sommer die ergste verlore en eensame gevoel.

      Liwonde-natuurreservaat is slegs bereikbaar via motorboot of helikopter. Die westelike sy van die reservaat grens aan die breë Shire-rivier en daar is geen toegangspaaie na die reservaat nie. Die motorboot se bestuurder verduidelik dat die rit hulle ’n bietjie meer as ’n uur behoort te neem en dat hulle net voor skemer daar sal wees. Te moeg om te redeneer of bang te wees, sit sy agteroor en raak meegevoer deur die dreuning van die motorboot en die natuurskoon.

      Die bome gooi reeds lang skadu’s oor die water toe die bestuurder die grasdakchalets van Liwonde wat in die verte verskyn aan haar uitwys. Soos hulle naderkom, kan sy nie anders as om na haar asem te snak nie.

      Intiem en uniek pryk die chalets op die oewer van die rivier, met ’n fluweelsagte grastapyt wat elkeen omring en ’n balkon wat aanloklik oor die kolkende rivierwater hang.

      Nadat sy gasvry ontvang en amper letterlik op die hande haar chalet ingedra is, kan Rochelle vir die eerste keer die dag onbesorg asemhaal.

      Gretig verken sy haar chalet. Die hoofslaapkamer het ’n pragtige handgemaakte hemelbed waarvan die houtpilare met diermotiewe uitgekerf is. Die bed word omvou deur ’n wasige muskietnet. Nuuskierig stap sy deur die res van die chalet en merk dat al die meubels van dieselfde pragtige donker hout is. Voor al die vensters is gaas, natuurlik om die malariamuskiete uit te hou, en die vensters is bedek met bypassende materiaalblindings. Tot die kleinste skildery is gekies om die chalet te komplementeer, die regte verhouding en harmonie te skep, besef sy verras.

      Sy frons en peuter aan haar serp. Hierdie idilliese en asemrowende reservaat pas nie heeltemal by die beeld wat sy van John Auther geskep het nie. Sou hy emosioneel tog sterker wees as wat sy gedink het? Miskien weer getroud? Sy kyk met nuwe belangstelling na die interieur van die chalet – ’n vrou se hand was definitief teenwoordig.

      Wel, sy het tog so ’n moontlikheid verwag. Sy is selfs voorbereid op die aanwesigheid van ’n nuwe kroos.

      Wat ook al sy omstandighede is, dit maak geen verskil aan haar opdrag nie. Sy ken John Auther se geskiedenis soos die palm van haar hand, en sy weet presies hoe om hom te benader en te manipuleer.

      4

      “Nee, nee, asseblief, help! Caitlin …”

      Rochelle skrik met ’n ruk wakker. Sy het haar beddegoed nes die ander aande op ’n bondel gewerk soos sy gestoei het. Die nagmerrie … Caitlin is ontvoer, maar sy was nog nie by die ongeluk nie. Wat het haar wakker gemaak?

      Dan hoor sy dit: die skerp roep van ’n visarend. Dit sny deur murg en been en hoendervleis slaan op haar lyf uit. Sy laat haar kop ’n oomblik teruglê teen die kussing en probeer die angs as gevolg van die nagmerrie uit haar nek rol. Elke nag raak die droom meer werklik, meer intens, dink sy bekommerd en sluit haar oë ’n oomblik.

      Haar maag rammel van die hongerte. Gisteraand kon sy nie veel in haar lyf kry nie. Enersyds was sy te moeg ná die uitmergelende dag, en andersyds het die walglike sosaties wat by elke dorpie teen haar motor se vensters vasgedruk is in haar brein bly spook. Sosaties met ’n keuse van paddas, veldmuise en die kleinste voëltjies wat sy al gesien het, sommerso met vere en kop gebraai. Net die gedagte aan die wrede dood van die voëltjies laat haar weer naar voel.

      Sy spring uit die bed, stort en verklee. Godfrey, die bestuurder, is ’n ekstrovert en lief vir gesels. Hy het gisteraand behoorlik geklets oor als en nog wat. Sy kon aflei dat niemand hier bewus is van sir J.C. Auther se vorige lewe in Portugal nie – dat sy ánder lewe, soos sy vermoed het, ’n geslote boek is.

      Doelbewus hang sy haar kamera oor haar skouer, gereed om die eerste gedeelte van haar opdrag uit te voer. Die môre ruik heerlik vars, dink sy terwyl sy met die wandelpad na die dek stap waar ontbyt voorgesit word. Die natuur lewe behoorlik: voëltjies kwetter, hier en daar skarrel ’n eekhoring of akkedis, en sy sien selfs twee sebras en ’n trop impalas.

      Net soos die balkon van haar chalet hang die dek van die restaurant ook oor die Shire. Belangstellend bestudeer sy die landkaart wat agter op die spyskaart gedruk is. Die fyn skrif verduidelik dat die Shire-rivier die enigste bron is wat die derde diepste meer in die wêreld dreineer. Honderde kilometer ver word die massa water gedra tot waar dit met die welbekende Zambezi saamsmelt.

      Dit kan ’n lieflike reservaat wees om te kom ontspan en ’n week of twee se verlof te geniet, dink sy en bekyk die netjiese opset. Maar sy is hier om te werk. Vandag wil sy J.C. Auther ontmoet en inligting begin inwin.

      Xavier was reg, dink sy geamuseerd. Sy voel anders vanmôre: sterker, selfversekerd en opgewonde. J.C. Auther se situasie is kritiek, soos sy weet, maar met haar kennis en ervaring behoort dit een van haar aangenamer takies te wees.

      “Dagsê, almal,” groet Godfrey die gaste agter haar.

      Hy is ’n lenige Malawiër met ’n oop, vriendelike gesig en is baie trots op sy beroep en sy amp as bestuurder. Hy het haar gisteraand reeds beïndruk met sy bedagsaamheid en joviale gesindheid, dink Rochelle.

      “Juffrou Fourie, goeiemôre,” hoor sy Godfrey agter haar sê. “Laat ek u voorstel aan die eienaar van Liwonde-natuurreservaat.”

      Met ’n glimlag draai Rochelle weg van die rivier, maar meteens verstar haar glimlag. Dit voel of ’n vuishou haar reg in die maag tref. Iewers is ’n fout! Langs Godfrey staan niemand anders nie as kaptein Costa.

      Die verdomde aantreklike kaptein volg haar soos ’n slegte gewete, dink sy vervaard. Wat maak hý hier? En waar is sir J.C. Auther?

      “Juffrou Fourie, ontmoet kaptein Costa. Kaptein, juffrou Fourie is van Suid-Afrika.”

      “Kaptein Costa?” sê-vra sy en steek haar hand uit om te groet.

      “Kaptein Costa beteken ‘vader van menigte’ in ons taal, Chichewa,” vervolg Godfrey met ’n stem deurspek met respek en heldeverering.

      “Vader van menigte?” sê sy en voel hoe haar wenkbroue lig. Sy’t mos geweet hy het ’n magdom vroue.

      Costa hou steeds haar hand gevange en Rochelle voel hoe haar maag ruk en haar wange verkleur. Sy gesig is ’n gesonde goudbruin kleur en sy wange is glad geskeer.

      “My gaste noem my J.C. of net Costa.”

      Sy stem is besonder bot en onvriendelik, dink sy, maar sy voel meer bekommerd omdat sy besef dat hy haar gesigsuitdrukking stip dophou. Hy probeer haar lees … Hoekom? Of hou hy net nie van haar nie omdat sy dit gewaag het om sy drankie terug te stuur? Hoekom het sy hom nie van


Скачать книгу