Hart van die son. Elza Rademeyer
sy die eerste elf jaar van haar lewe gewoon het, hou sy stil. Wie ook al nou hier woon, het niks gedoen om die plek te verbeter nie. Die huis word nog bewoon, want daar hang gordyne voor die vensters en wasgoed oor ’n draad langs die huis. Maar die tuin is oorgroei met onkruid, en die ogiesdraad aan die straatkant is feitlik opgeroes. Toe sy sien daar hang ’n handgeskrewe Te Koop-bordjie teen die lendelam tuinhekkie, skud sy haar kop bejammerend. Wie sal só ’n plek wil koop!
Haar blik dwaal na die opgeknapte huis langsaan waar die Grieke gewoon het. Dimitri, sy pa Alexander en sy ma Carina Kossivas. Nadia was omtrent nege jaar oud toe hulle Griekeland toe verhuis het. Dimitri so elf, want hy is twee jaar ouer as sy. Die fleurige tuintjie tot amper in die stofstraat laat haar glo die mense wat nou daar woon, is van ’n beter klas. Wat sou hulle besiel het om hier te kom woon? As hulle die huis só kon verfraai, kon hulle mos liewers ’n huis teen die bult gekoop het.
Haar blik dwaal terug na die Te koop-bordjie, en af met die half oorgroeide paadjie na die voordeur. Die dag toe sy gehoor het sy is ’n aangenome kind, doem eensklaps weer helder in haar geheue op. Dis in dieselfde paadjie waar sy ma-Anna bygedam het die middag ná skool.
“Ma, is dit waar dat julle my aangeneem het?”
“Waar kom jy daaraan?”
“Engela by die skool sê so.”
“Engela is te groot vir haar skoene.”
“Is dit waar, Ma? Het julle my aangeneem?”
“Ja. Jy moet die mense se wasgoed gaan wegbring. My fiets se wiel is pap.”
“Waar’s my regte ma?”
“Sy’s dood.”
“En my regte pa?”
“Hy’s weg.”
“Weg waarnatoe?”
“Ek weet nie. Kom vat die wasgoed dat jy kan loop.”
“Ek wil eers weet! Hoekom het –”
“Hou jou mond of ek klap hom toe!”
Vrees het haar laat stilbly. Ma-Anna was nie iemand wat net gedreig het nie.
Haar blik dwaal weer oor die oop veldjie tot by die voet van die hang na die murasie waar oom Koos en tant Lettie gewoon het. Hulle was ook arm, maar ordentlik. Hulle het nie gevloek nie en ook nie gedrink nie.
“Oom Koos, wie is my ma?”
“Hoekom vra jy my so ’n vraag? Jy weet mos wie is jou ma.”
“Nie ma-Anna nie. Ek wil weet wie my regte ma is.”
“Hoekom vra jy nie vir jou ma-Anna nie?”
“Ek het.”
“En toe?”
“Sy sê my ma is dood.”
“Laat ek sien hoeveel geld het jy daar? Hm, al wéér te min. Het jy nie laas keer vir jou ma gesê die vis se prys is op nie?”
“Ek het. Is my ma regtig dood, oom? En my pa, waarnatoe is hy?”
“Kind, moenie vir my allerhande vrae kom staan en vra nie. Wie het vir jou vertel Anna en Kerneels is nie jou eie ma en pa nie?”
“Engela by die skool het gesê hulle het my aangeneem.”
Hy het ’n kardoesie van koerantpapier gedraai en ’n handvol viskaiings daarin gegooi. “Hier, eet dit op voor jy by die huis kom. En sê vir jou ma dis die laaste keer wat ek vir haar vis gee as haar geld nie reg is nie.”
Ander mense het die winkel binnegekom, toe loop sy. Maar sy het oom Koos meermale gekonfronteer met vrae oor haar herkoms, en soms het hy erg draaie gegooi. Hy het nie erken dat sy ’n aangenome kind is nie, maar het dit ook nooit ontken nie.
2
Nadia kyk op haar horlosie. Dit raak laat. Sy is moeg van die lang rit, en sy sal nog moet terugry George toe vir slaapplek. Sy kan môre terugkom en verder hier rondsnuffel. Dalk iemand opspoor wat … Nee, keer sy haar gedagtes. Sy kan haar net verbeel wat die mense sal sê as hulle uitvind wie sy is.
Haai, het jy gehoor, ou dronk-Kerneels en Anna se dogter is hier! Om te dink sy kom wys haar gesig hier. Kastig onskuldig bevind, gmf! Maar nou ja, as ’n mens haar opvoeding in ag neem, verbaas dit nie. Tien teen een was sy ook gesuip toe sy daai man geskiet het.
Sy los ’n suggie en skakel die motor aan. Maar toe sy wil wegtrek, vang haar oog ’n beweging in die paadjie. Dié van ’n mollige vroutjie wat vinnig in haar rigting aangestryk kom en haar hand in ’n groet lig. Dit sal ongemanierd wees om die vrou te ignoreer, dus skakel sy die motor af en groet haar terug.
“Wil jy die huis koop?” kom vra die vrou by die motor se venster.
“Nee … ek kyk sommer net.”
“Jy kan nie die huis van buite af oordeel nie. Kom saam met my dat ek jou die binnekant gaan wys.”
Nadia se mond gaan oop om te sê die vrou verstaan haar verkeerd, maar toe dié begin aanstryk voordeur toe, klim sy uit om haar te volg. Eintlik uit nuuskierigheid om te sien of die huis binne nog dieselfde lyk.
“Die meubels is ingesluit by die prys van die huis,” sê die vrou toe hulle die huis binnegaan. “Soos jy sal sien, is dit goeie goed. Alles embuia, en baie daarvan antiek. Die sitkamerstel kort net nuwe bekleedsel. Ai tog, hier is so baie dinge wat ons wou doen, maar met dié dat my ou man so skielik oorlede is …”
“Wat het hom oorgekom?” vra Nadia simpatiek toe die vrou swyg en eers ’n sakdoek uit haar voorskootsak haal om trane af te vee.
“Lewerkanker. Toe ons vyf maande gelede die plek gekoop het om hier af te tree, het hy nog niks makeer nie. Maar ons was kwalik ’n week hier, toe word hy siek. En drie maande later is hy oorlede. Die kinders wil nie dat ek alleen hier woon nie. Hulle wil hê ek moet in die Paarl by hulle gaan bly. Dié dat die huis nou met meubels en al te koop is.”
“Ja, dit sal seker beter wees as u by hulle gaan woon.”
“Haai, ons het nog nie eens behoorlik kennis gemaak nie. Ek is Emsie Struwig. Jy kan my sommer tannie Emsie noem.”
“Ek is Nadia Pretorius,” sê Nadia huiwerig.
“Hier het glo eens op ’n tyd Pretorius-mense in die huis gewoon,” sê tannie Emsie. “Maar ons het dit van die Louws gekoop. Kom, dan wys ek jou gou die twee slaapkamers.”
Nadia is verlig dat tannie Emsie nie vra of sy familie van die Pretorius-mense is wat voorheen die huis bewoon het nie, want dan sou sy weer ’n leuen moes vertel.
Die huis lyk grotendeels nog dieselfde. Dieselfde donker vertrekkies met die klein venstertjies. Dis net skoner en ruik nie meer na ’n mengsel van goedkoop wyn en stinkende tabak nie. In die kombuis is ’n opwasbak aangebring, en die spens van destyds is omskep in ’n badkamer met ’n stort, handewasbak en toilet.
“Dis hoe die huis van binne lyk,” sê tannie Emsie. “Is jy getroud?”
“Nee, ek is nie getroud nie.”
“Dan is die huis heeltemal groot genoeg vir jou. Maar het jy genoeg geld vir ’n huis? My kinders het gesê ek moenie bodder met mense wat eers ’n lening moet aangaan, of eers ’n ander plek wil verkoop nie.”
“Wat wil u hê vir die huis?” vra Nadia sonder om te wys sy voel geamuseerd oor die wanindruk waaronder die tante verkeer.
“Kyk, ons het die plek vir ’n appel en ’n ei gekoop. En met dié dat ons nou niks kon verbeter aan die plek nie en ek haastig is om Paarl toe te gaan, soek ek nie ’n plaas se geld daarvoor nie. My kinders is welaf, so ek gaan nie probeer om munt uit jou te slaan nie.”
Toe noem sy ’n bedrag wat Nadia se oë onwillekeurig laat rek. Teen deesdae se pryse is dit belaglik goedkoop. Selfs vir ’n onderontwikkelde plekkie soos De Meer.
“Vir