Hart van die son. Elza Rademeyer
sy tog aan die slaap geraak het. Nog ’n nag sonder nagmerries. Dalk is daar hoop dat dit eendag heeltemal sal verdwyn, dink sy met ’n plotselinge gevoel van opgewondenheid toe sy die gordyne wegtrek en die son se strale blink oor die meer sien val. Miskien sal dit haar goed doen om weg te kom uit die stad. Weg van die hel se skroeiende vuur …
Sara staan reg om haar te bedien toe sy die eetkamer binnegaan. Nadia was duidelik haar enigste gas vir die nag.
“Kom sit hier by die tafel en help jouself met die graanvlokkies, terwyl ek vir jou gaan spek en eiers bak,” nooi sy. “Hoe hou jy van jou eier? Sag of hard?”
“Ag, enige manier. Ek het nie fiemies nie.”
“Dis goed om vir ’n verandering ’n gas sonder fiemies te hê. Party mense kan darem vir jou moeilik wees. As die eier net effens te hard of te sag is na hul sin, word dit teruggestuur kombuis toe.”
“Hoe lank woon tannie al hier?”
“Amper ses jaar. Ek en my man het hier kom aftree. Maar ons was net twee jaar hier, toe is hy oorlede. Ek kon nie ledig sit nie, toe besluit ek maar om die kamers te verhuur. Dit lei darem ’n mens se gedagtes af. En dit hou my besig sonder dat ek my doodwerk.”
“Hoe goed ken tante die inwoners hier? Is hier enigiemand wat al baie lank hier woon? Sê maar langer as tien jaar. Iemand wat vir ’n mens inligting sal kan gee oor hoe die dorp destyds gelyk het. Dis vir my interessant om sulke klein plekkies se geskiedenis te hoor,” omseil Nadia die waarheid om nie agterdog te wek nie.
As sy werklik hier wil kom bly, sal sy nie vir ewig haar verlede kan wegsteek nie. Maar dis dinge waaraan sy aandag sal gee wanneer sy daartoe genoodsaak word.
“Hier is min mense oor wat langer as tien jaar hier bly. Dié wat nie dood is nie, is weg om by hul kinders te gaan bly. Omtrent al die mense wat deesdae in De Meer woon, is betrokke by die ontwikkeling van Vissersbaai. Boukontrakteurs, messelaars, loodgieters, arbeiders, noem maar op! Hulle het De Meer as ware oorgeneem. Dis omtrent net tant Jana Jones wat al donkiejare hier woon. Maar sy’s half kinds, ek weet nie of jy veel notisie kan neem van haar nie. Oom Jorsie Potgieter is ook nog hier. Sy verstand is helder, maar hy was in ’n motorongeluk en sit in ’n rolstoel. Dis al aan wie ek kan dink wat al lank hier bly. Was jy al op Vissersbaai?”
“Baie lank terug, ja,” sê Nadia op haar hoede, want sy wil nie Sara se nuuskierigheid oor haar verlede prikkel nie.
“Dan sal jy die plek nie herken nie! Vroeër jare was daar mos net ’n paar vakansiehuisies. Dis al klaar ’n dorp!”
“Is hier ’n skool?” hou Nadia haar dom.
“Nee. Die ou laerskooltjie wat hier was, het vier jaar gelede al gesluit. Toe was hier omtrent nie meer kinders oor nie. Maar hulle sê vir my daar gaan glo een van die dae ’n laerskool, en moontlik later nog ’n hoërskool ook, op Vissersbaai gebou word.”
“Dan brei Vissersbaai omtrent uit!”
“Ja, jy kan gerus gaan kyk. Die plek bars uit sy nate. Daar is al klaar ’n groot supermark ook.”
“Dis snaaks dat dit hier nog so rustig is.”
“Ja, want die natuurskoon hier is tog baie mooier. Maar die binnelanders wil mos die see sien. En dan het De Meer mos nou maar die slegte naam gehad. Ek hoor hy is tot kort voor ons hierheen getrek het sommer die Stinkmeer genoem. Glo oor die rioolafval en dinge wat in die meer gestort is voordat hier ’n rioolaanleg aangebring is. Maar sê my, wat het jou hierheen gebring? Ons het mos nie gisteraand eintlik kans gehad vir gesels nie.”
“Ek oorweeg dit om ’n huis hier te koop,” sê Nadia versigtig.
“Hier in De Meer?” vra Sara verbaas.
“Die huis van tannie Struwig, ja.”
“Nou toe nou! Wat gaan jy met hom maak? Opknap en verhuur? Ek wil jou nie ontmoedig nie, maar hy is erg verwaarloos. Dit gaan jou baie geld kos.”
“Ek sal hom beslis opknap, ja. En dan sal ek maar sien. Dalk kom bly ek self hier. Daar is ’n moontlikheid dat ek Santjie se pos by dokter Louw kan oorneem.”
“Ja, sy gaan mos weg. Maar wat het jou genoop om hiér ’n huis te kom koop? Dis mos nie ’n plek vir stadsmense nie. Hier gaan net mooi niks aan. Selfs op Vissersbaai is daar nog nie aktiwiteite vir jong mense nie. Nog nie eens ’n fliek nie.”
“Ek was nog nooit gaande oor die stadslewe nie.”
“O, ek sien. So eintlik is jy ’n plattelandse meisie wat ook maar stad toe moes gaan om werk te kry.”
Gelukkig hoef Nadia nie daarop te antwoord nie, want dit val tannie Sara by van die spek en eiers wat sy nog moet bak. En toe sy dit voor Nadia neersit, daag ’n man en vrou op wat verblyf soek.
Nadia is verstom toe sy ’n ruk later haar motor oor die laaste bult na Vissersbaai stuur. Sara is reg. Die plek bars behoorlik uit sy nate! As kind was sy ’n paar keer in Vissersbaai. Daardie tyd is die ry vakansiehuisies langs die see meesal net Desembermaande bewoon. Nou is die plek ’n miernes van bedrywighede. Waar die huisies gestaan het, is nou groot, moderne wonings. En oral is daar swaar masjinerie wat nog meer grond gelyk stoot vir die aanbring van geboue.
Eintlik behoort sy nie verbaas te wees nie, besef sy toe sy terugry na De Meer. Stedelinge soek deesdae al meer die rustigheid van die platteland op. Dat sy die huis van Emsie Struwig so goedkoop kan bekom, is verstommend. Want as dit hier só gaan, sal dit nie lank wees voordat daar op De Meer ook toegesak word nie. Dié gedagte maak dat sy sommer dadelik oewer toe ry.
“Het jy toe besluit?” vra tant Emsie toe sy die voordeur op Nadia se klop oopmaak.
“Ja, ek koop die huis.”
“O. Ek het gisteraand die kinders gebel. Hulle het weer gesê ek moenie die huis aan iemand verkoop wat moet rondval om geld in die hande te kry nie.”
“Ek hét die geld, maar ons sal ’n prokureur moet gaan sien vir die oordrag en dinge. En dan sal ek moet teruggaan Kaap toe om reëlings by my bank te tref vir die betaling.”
“Ja, ek weet nie juis hoe sulke dinge werk nie,” sê tannie Emsie. “Maar ek ken die prokureur wat ons gehelp het om hierdie huis te koop. Hy is op George.”
Nadia kyk op haar horlosie. “Dis al te laat om hom nou te gaan besoek. Sy kantoor is seker Saterdagmiddae toe. Maar as ons hom Maandag kan besoek, kan ek dalk Dinsdag al Kaap toe ry.”
“Sal jy my kan oplaai wanneer ons die prokureur gaan sien?”
“Ja, natuurlik. Tannie het nie dalk sy telefoonnommer nie? Dan kan ons nou ’n afspraak maak.”
“Ja, ek het sy nommer. Ek sal jou deursit, dan praat jý met hom.”
“Ek sal hom op my selfoon bel.”
“Ek glo nie jy sal ontvangs hê hier van die oewer af nie, die plek lê te laag. Met die oom se dood moes my kinders tot daar bo by Slangkop se nek klim wanneer hulle op hul selfone Paarl toe wou praat. Maar die huis se telefoon werk goed.”
Dit ook nog, dink Nadia by haarself. Dan wil sy haar hier kom vestig! Maar sy sal seker tannie Emsie se huistelefoon kan oorneem.
Die volgende oggend toe Nadia in Sara se kamer wakker word, oorval die twyfel haar van nuuts af. Sy moet bepaald haar varkies kwyt wees om haar werk in Kaapstad te verruil vir so ’n onsekere toekoms. Want al is die plek bekend, is dit vreemd. Destyds was sy ’n kind. Nou is sy ’n vrou met ’n verlede.
Maar toe sy die gordyne oopskuif en die son se eerste strale oor die rotse in die meer sien val, doen die pragtige prentjie iets aan haar. Amper soos iemand wat voor ’n groot uitdaging staan, en weet hy kan dit baasraak.
Die gelui van ’n klok trek haar aandag. Dan onthou sy tannie Sara het die vorige aand vertel dat daar deesdae eredienste gehou word in die gewese skoolgeboutjie. Daar is net elke derde Sondag ’n predikant, maar die ander Sondae word die diens deur ’n ouderling van George gelei.
Sy