Hart van die son. Elza Rademeyer
geld in haar bankrekening. Sal dit nie beter wees om eiendom aan te skaf as om dit te belê nie? Wat sou haar weldoener se wens wees?
“Is dit te duur vir jou?” vra tant Emsie, wat stip na haar kyk.
“Nee, ek sal dit moontlik kan bybring. Maar kan ek eers ’n bietjie daaroor dink?”
“Ek gee nie opsies nie. Die eerste een wat die geld het, kan die huis koop. Vir hoe lank wil jy dink?”
“Ek sal u môre sê.”
“O. Nee, dan sal dit reg wees. Maar as ek môre niks van jou hoor nie en hier kom ’n ander koper aan, moet jy my nie verkwalik as ek dit aan dié verkoop nie.”
“Nee, ek sal nie.”
“Goed dan. Kom ek gaan wys vir jou die agterplaas. Jy’t nog nie eens gesien hoe naby aan die meer die huis sit nie.”
Nadia volg haar stilswyend buitentoe. Sy laat haar blik oor die bekende waters voor hulle dwaal. Die meer wat styg en daal met die getye van die see. Die grootmense het gepraat van ’n onderaardse tonnel tussen die see en die meer, dié dat die water ’n soutsmaak het.
Sy onthou die dag toe sy en Dimitri hul tyd verspeel het en vir nagenoeg twee ure vasgekeer was op een van die rotse in die meer voordat sy pa hulle daar kom haal het. Hulle angs oor die pak slae wat hulle gaan kry, was ook nie verniet nie. Sy was gewoond aan slae en dwarsklappe, maar nie Dimitri nie. Dog, daardie dag het hy ’n stewige loesing van sy pa gekry. Hulle was mos gewaarsku om nie met springgety op die rotse in die meer te gaan speel nie.
“Kyk, ’n mens is feitlik op die water,” onderbreek die tante Nadia se gedagtes.
“Ja, ek sien,” sê Nadia met haar blik op die verweerde trappe na die sandstrook langs die meer. In haar kinderdae was hulle darem nog in ’n beter toestand. Nou sal jy omtrent jou lewe moet waag om dit te gebruik.
“Wie bly hier langsaan?” beduie sy met haar hand na die huis waar die Grieke gewoon het.
“Om die waarheid te sê, ek weet nie. Ek het die mense nog nie ontmoet nie. Net ’n dag of so nadat ons hier ingetrek het, is hulle weg. Ek weet nie waarheen nie, want met die oom se dood en dinge het ek nog nie kans gehad om te gaan kennis maak nie. Gaan jy koffie drink?”
“Dankie, tante, maar ek is ’n bietjie haastig. Dit word laat, en ek moet nog gaan slaapplek soek vir die nag.”
“Sara Bester verhuur kamers en gee ontbyt ook. Sy bly in die hoofstraat – daar is ’n bordjie. Kyk maar net vir die groot palmboom wat daar staan. Hier kom nie heeldag en aldag besoekers nie, so sy sal vir jou ’n kamer hê. Maar sê my: as jy die huis koop, wat gaan jy daarmee maak? Gaan jy hier kom werk?”
“Gits, ek het nog nie so ver gedink nie. Hier sal seker nie werk wees nie.”
“Dokter Louw soek iemand wat hom in sy spreekkamer kan help. Hy’t so ’n paar maande gelede ’n spreekkamer daar bo regoor die Sonskyn-kafee oopgemaak. Hy sit nou hand in die hare oor die meisie wat vir hom werk, weggaan.”
“O aarde, wat ek van medisyne en dinge weet!”
“Ag, Santjie het ook niks geweet toe sy by hom begin werk het nie. Sy’t direk na skool by hom ingeval. Hy kan jou mos leer soos hy haar geleer het.”
“Hoekom gaan sy weg?”
“Sy’t verlief geraak op ’n man in Johannesburg toe sy daar vir haar suster gaan kuier het. Hulle wil trou. Hy sal nie hiernatoe kom nie, so nou moet sy maar agter hom aan.”
“Wat sou die dokter besiel het om hiér met ’n spreekkamer te begin?” mymer Nadia hardop.
Die tante lig haar skouers. “Praatjies doen die rondte dat hy ’n geskeide man is. Dalk het hy gedink hy kan van sy hartseer ontvlug, of so iets. Maar as ek jy is, gaan sien ek hom. Dalk gee hy vir jou die werk.”
Hoe kan ek daaraan dink om die huis te koop? vra Nadia haarself af toe sy ’n rukkie later in haar motor klim. Dis totaal belaglik!
Tog, dit kan seker nie kwaad doen om die dokter te gaan spreek nie. As sy hier kan werk, die huis koop en … Nee, sy’s besig om die kluts kwyt te raak. Dis die groot bedrag geld wat so onverwags in haar skoot geval het wat haar verstand aantas. Sy wil nie terugkom na hierdie plek wat net ongelukkige herinneringe inhou nie. Amper net sulke ongelukkige herinneringe as die stad.
Daar is nou ’n pad al met die meer langs en teen die hang uit tot amper bo by die kop van die slang, merk Nadia op toe sy by die sirkel voor die huis wat so mooi reggemaak is, wil omdraai. Dit lyk ’n bietjie steil teen die hang uit, maar op die ingewing van die oomblik besluit sy om die pad aan te durf. As kinders het sy en Dimitri dikwels hier deur die oop veldjie gestap en teen die hang uitgeklim om die wêreld van bo af te betrag.
Sy vind te laat uit die sanderige paadjie is nie bedoel vir die ligte motortjie waarmee sy ry nie. Toe die wiele begin maal, sit sy die motor in trurat om agteruit te ry, maar dis net besig om dieper in die sand vas te val. Daar is geen hoop dat sy die motor sonder hulp sal uitkry nie, sien sy dadelik toe sy uitklim.
Sy kyk hulpsoekend rond, maar toe sy nêrens ’n mens gewaar nie, besef sy sy sal self ’n plan moet maak. Daar is net een manier om uit die gemors te kom, en dis om die sand met haar hande weg te grawe. Dan moet sy klippe van die sandstrook langs die meer aandra en dit hier pak om vastigheid vir die wiele te kry. Gelukkig is daar plastieksakke in die motor.
Dis toe sy moeg en warm gespook vir die derde keer met die sakke vol klippe teen die wal uitbeur dat sy sien daar staan ’n man langs haar motor. ’n Forsgeboude donkerkopman met ’n yslike frons tussen sy wenkbroue.
“Jou misreken met die diepte van die sand?” sê-vra hy nors.
“Nee,” sê sy geïrriteerd. “Ek het geweet ek gaan vasval, maar ek hou daarvan. Dis goeie oefening om klippe op te tel en daarmee teen walle uit te sukkel.”
“Is jy nie bang jy ooreis jou nie?”
“Glad nie. Maar ek kan nie daarmee voortgaan as jy met jou groot lyf in my pad staan nie.”
“Moet ek jou kom uitsleep?”
“Dis nie nodig nie. Ek sal regkom.”
Toe hy sonder meer wegstap, kyk sy hom verslae agterna. Kyk wat het sy nou van haar koppige weerbarstigheid! Pleks sy liewer toegelaat het dat hy haar help. Gaan die klippe-storie werk?
Vir ’n wyle oorweeg sy dit om agter hom aan te roep, maar die gedagte om deur so ’n buffelagtige persoon gehelp te word, stuit haar teen die bors. Sy sal self die bul by die horings pak. Dit móét net werk!
Maar dis nie maklik nie. Die sand skuif omtrent net so vinnig terug as wat sy dit met haar hande onder die wiele uitkalwe. Sy is verlig toe sy die dreuning van ’n naderende voertuig hoor, want die horlosie stap aan. Eers toe die bakkie agter haar motor stilhou, sien sy dis dieselfde man. Haar fut is egter uit, want dit het ’n geruime tyd gelede al tot haar deurgedring dat die donker haar hier gaan vang.
“Ek sien jy sukkel nog steeds,” sê hy toe hy met ’n tou nadergestap kom. “Klim in agter die stuurwiel dat ek jou uitsleep.”
Sy bedank hom baie mooi toe haar motor weer op die harder oppervlakte van die pad staan. Maar daar is geen vriendelikheid van sy kant nie. “Onthou in die vervolg om nie ’n pad wat vir viertrekvoertuie bedoel is met so ’n ligte motortjie aan te pak nie,” is al wat hy sê.
“Hier is nie ’n kennisgewing aangebring nie. Maar ek sal dit nie weer probeer nie. Nogmaals baie dankie vir jou hulp.”
“Wanneer gaan jy terug Kaap toe?”
Haar kop ruk orent. “Hoe weet jy ek is van die Kaap?”
“Ek raai so. Jou motor het ’n Kaapse nommerplaat.”
“O.” Sy laat sak vinnig haar kop, want sy het lankal geleer om mense nie meer reguit in die oë te kyk nie. Wanneer gaan sy ophou om iets verdags in mense se woorde te soek?
“Was