'n Vrou gaan dokter toe. Ray Kluun
en coke-snuif. Weg was haar perdebylyfie, haar bra-grootte het verdubbel en sy het in die onthaalbedryf gaan werk. Toe Merk in Uitvoering ’n sekretaresse soek, het ek Frenk omgepraat om haar ’n kans te gee. Maud is spontaan en nie dom nie, maar dit is haar borsmaat, wat selfs nie by Frenk ongemerk verbygegaan het nie, wat die deurslag gegee het in die beslissingsproses van die direksie van die firma Merk in Uitvoering. Maud is aangestel. In die beginjare van Carmen & Steyn het ek en Maud dit nog skelm gedoen, maar op ’n bepaalde moment wou sy daarmee ophou. Sy het te veel van Carmen gehou. Nou gee ons mekaar for old time’s sake soms nog ’n soen, en ná verlede jaar se Kersparty het dinge weer handuit geruk op die Engelse moffie se designer-kussings in die hoek van ons kantoor se sitkamer, maar dit was die einde van die saak. Die laaste tyd begin sy my selfs teregwys oor my affairs, iets wat sy nie eens gedoen het toe sy met my in ’n verhouding was nie. Sy het byvoorbeeld Sharon se wit rompie met ’n glas rosé opgekikker toe dié my in De Pilsvogel effens te lyflik gegroet het. Op die keper beskou, stem ek saam met Maud se argumente waarom ek nou maar met die affairs moet ophou. Maud dink ek plaas daarmee die beste verhouding van my lewe op die spel. Daarom niks meer volgens die beproefde Steyn-resep nie: Ons maak ’n dop, gaan vir ’n pie en alles bly soos dit was. Ek bly ’n monofoob. Maud was van haar kop af toe sy hoor Carmen het borskanker.
“Dit gaan oukei. Sy het ’n berg pille teen die naarheid gekry.”
“Waar is sy nou?”
“By die huis. Haar ma is daar.”
Intussen het ek my PC aangeskakel. Ek wil nie meer oor kanker praat nie. “Het Holland Casino gebel om te sê of hulle oukei is met die begroting?”
Frenk skud sy kop.
Piekfyn. Dit gee my die geleentheid om iemand goed uit te kak.
“Fokkit, man, bel jý hom dan ’n slag! Ons hoef tog nie vir die fokkers te wag nie? Bel die poephol! Nee, my goeie moer, man, moet ek dan alles doen in hierdie fokken plek?”
Frenk laat die tirade oor hom stroom.
Terselfdertyd klik ek op ’n e-pos van Carmen, een wat sy so tien minute gelede gestuur het, sien ek.
From: | [email protected] |
To: | [email protected] |
Sent: | Tuesday, May 04, 1999 14:29 PM |
Subject: | Liefste maatjie … |
Hallo maatjie | |
Ek is nou wel ’n bietjie naar, maar dit gaan OK. Ek wil net sê ek is so bly dat jy saam met my gaan, dat ek nie soos die ander alleen by die behandelings is nie. | |
Xxx Carmen. | |
ps: Ek is lief vir jou, my liefste maatjie. |
Ek staan vinnig op en loop na die toilet, sonder om na Frenk te kyk. Daar kom die trane wat ek heeldag net-net kon binnehou.
Ná ’n paar minute vee ek my trane af, snuit my neus, spat my gesig ’n paar keer nat, kyk of ek ’n bietjie normaler lyk – nee – trek die toilet asof ek lank gesit en skyt het, sug nog ’n keer en loop dan terug.
Agt kollegas maak asof hulle niks agtergekom het nie.
16
When I get older, losing my hair, Many years from now, Will you still be sending me a valentine Birthday greetings, bottle of wine, Will you still need me, Will you still feed me, When I’m sixty-four …
The Beatles, uit “When I’m Sixty-Four” (Sgt. Pepper’s Lonely Hearts Club Band, 1967)
Carmen se ma antwoord die telefoon. “Hallo?”
“Haai, dis Steyn hier. Hoe gaan dit met Carm?”
“Sy het ontsettend opgegooi vanmiddag. Nou slaap sy.”
“Goed so. Ek gaan Luna gou by die crèche oplaai en ry dan by Appie om. Waarvoor is jy lus?”
“Ag, besluit jy maar, ’n mikrogolf-ete of so.”
“Dink jy Carmen sal iets wil hê?”
Carmen se ma lag. “Nog ’n emmer?”
Carmen se ma is ’n dierbare mens. Sy het in die Jordaan grootgeword en lyk soos André Hazes[11] se skoonma, sonder die sweisbril. Carmen se pa ken ek nie. Tien jaar gelede het hy ná ’n huwelik van een-en-twintig jaar die pad gevat. Briefie op die kombuistafel, dis hoe dit gedoen word. Carmen se ma kon haar geluk nie glo nie. Binne ’n maand het sy ’n nuwe kêrel gehad. Carmen het gedink sy herken die man as een wat bouwerk aan hul huis gedoen het. (Lekker storie hieroor: Toe Carmen se ma [destyds 54] haar nuwe vriend [60] aan Carmen [27] voorstel, vra sy hom: “Wat doen jou pa?”) Bob die Bouer is intussen al weer iets van die verlede. ’n Paar maande nadat die huis waarheen Carmen se ma getrek het, deur hom vergroot en opgeknap is, het sy begin twyfel of sy hom wel lief genoeg het. Weg is Bob. Carmen se ma woon nou weer alleen, in die pragtig opgeknapte huis in Purmerend. So nou en dan gaan sy met ’n vrolike snuiter uit, maar behalwe by ’n enkele Kersete of verjaardag was daar nie weer een wat kon intrek nie. “My huis hoef tog eers weer oor sowat tien jaar opgeknap te word,” sê Carmen se ma.
In die Albert Heijn op die Groot Gelderland-plein sien ek ’n man en vrou van sowat tagtig jaar. Hulle loop gearmd en skuifel by die rak met wyn verby. Hy wys met sy kierie na ’n rooiwyn wat op promosie is. Sy vrou vat die wyn en sit dit in die mandjie wat sy in haar hand het. Hy sê iets aan haar wat ek nie kan hoor nie. Die bejaarde vrou bars uit van die lag en gee haar man ’n knyp aan die arm. Ek vat Luna se handjie ’n bietjie vaster en kyk vinnig anderpad.
Die verliefde bejaarde paar maak my groen van jaloesie. Ek en Carmen gaan dit nooit saam beleef nie.
17
Now all them things that seemed so important, well, Mister, they vanished right into the air …
Bruce Springsteen, uit “The River” (The River, 1980)
Die medisyne help niks vir die naarheid nie. Carmen is al twee dae so siek soos ’n hond.
Eers Donderdagaand gaan dit beter. Die aand gaan selfs verby sonder dat een van ons huil.
Vrydag gaan Carmen weer na Advertising Brokers. Die daaglikse lewe gaan aan. Ons probeer om tot die volgende chemo-behandeling, oor so min as drie weke, te maak asof daar niks fout is nie, al weet ons albei dat ons onsself probeer bluf.
Die paradys is daarmee heen.
18
In your head do you feel, what you’re not supposed to feel …
Oasis, uit “Sunday Morning Call” (Standing on the Shoulders of Giants, 2000)
“Hallo, ek is Gerda. Het julle lekker saamgekom?” vra die psigoterapeut toe sy ons met die hand groet en dit te lank vashou. Hier kom dit. Gerda is die soort wat altyd op die tafel gaan sit, al is daar genoeg stoele.
“Ja, ons het gedink dit sal lekker wees,” antwoord Carmen.
Ek dink allermins dit sal so lekker wees. Ek dink dis nog erger as die chemo. Nog nooit in my lewe het ek vir ’n sekonde gedink ek sal ooit na ’n psigoterapeut gaan nie.
Gerda se spreekkamer is ’n hok van twee by drie. Daar is twee lae stoele – “dit gesels ietwat lekkerder as die hoë stoele” – ’n poef, ’n ou skemerlamp en ’n lae tafeltjie. Daarop is ’n outydse plat bandopnemer. ’n Yoko, net soos die eerste een wat ek gehad het. Op die eerste kasset wat ek opgeneem het, was, as ek reg onthou, “I Love the Sound of Breaking Glass” van Nick Lowe. O ja, en “Psycho Killer” van Talking Heads.
Gerda