Willem Poprok. Derick van der Walt

Willem Poprok - Derick van der Walt


Скачать книгу
bietjie.” Oupa stop by die glasdeur en vroetel in sy broeksak. Hy haal dertig rand uit en druk dit in Willem se hempsak. “For a job well done.”

      “Dankie, Oupa. Ek gaan vir Lydia ’n present hiermee koop. Sy verjaar mos volgende week.”

      “Wil jy nou meer! Dis soos gister toe jy so groot was soos sy nou is, en kyk net hoe het jy gegroei. Waar vlieg die jare.”

      Oom Fred sit buite op een van die bankies en waai vir Willem toe hy na sy fiets stap.

      “Volgende keer moet jy my wys!” skree hy vrolik.

      Willem wonder hoe dit voel om heeldag in ’n aftreeoord te sit sonder om eintlik iets te doen. Net storietjies te vertel oor jou jong dae en te sug oor die jare wat verbyvlieg en te wonder oor stout goedjies op die internet wat jy seker nooit in jou lewe sal sien nie.

      Hy kan nie glo dat sulke ou ballies nog oor stout goedjies wonder nie. Hulle is dan al oud verby! Hy wonder of hy en Schalk nog pelle sal wees as hulle eendag so oud is. Sal hulle ook eendag saam op Madeliefie se stoep sit en hoop iemand kom vir hulle kuier? Hy hoop hy en Schalk het teen daai tyd darem al stout goedjies gesien.

      Hy konsentreer op sy onmiddellike probleem terwyl hy sentrum toe ry. ’n Geskenk vir Lydia. Dertig rand is nou nie juis ’n fortuin nie, en sy ma het gesê dit mag nie lekkergoed wees nie. Dalk moet hy vir haar ’n boek koop waaruit hy vir haar ’n storie kan lees. Soos met baie ander goed moet hulle ook saans beurte maak om vir Lydia ’n storie te lees as sy in die bed is. Die huis van beurte, so terug op die brug as kan kom, sê Franna.

      Willem vertel gewoonlik maar wat in sy kop kom as dit sy beurt is. Sommer iets wat hy op televisie gesien het, soos die program oor die Okavango wat hulle verlede week gekyk het. Die moerasse en die eilande en die diere, soos wat hy hom verbeel dit aan die begin van die aarde was, wild en woes en baie mooi soos die Here dit in Genesis kon gemaak het.

      Tot Franna het gekyk sonder om soos gewoonlik ongeduldig rond te skuif. Coenie ook, vooroor gebuig met sy mond effens oop en sy oë op skrefies agter sy bril asof hy nie mooi kan sien nie. Dis min dat hulle almal saam na iets kyk sonder dat iemand iets simpels sê. Die Okavango het vir hom na ’n awesome plek gelyk.

      Hy het Lydia die volgende aand vertel van ’n wilde leeu en ’n wilde tier wat mekaar eers wou opvreet en toe dik pelle geword het. Hy dink nie Lydia luister regtig nie. Dis maar net vir haar lekker as een van haar broers by haar op haar bed lê en haar nie heeltyd ongeduldig wegwens soos hulle dikwels doen nie.

      As dit Coenie se beurt is, lees hy gewoonlik vir haar ’n storie uit ’n boek. Repelsteeltjie en Jan in die boontjierank en sulke stories. Willem dink nie Coenie kan ’n storie uitdink nie.

      Maar Franna kan. Hy vat min sy beurt, maar dan is dit vreeslike goed wat soos Saw 5 klink, wat Willem en Schalk een middag by Schalk se huis gekyk het. Stories met baie bloed. Hulle ma het een aand in die gang verbygestap en die riller gehoor wat Franna vir Lydia vertel het. “François! Kry onmiddellik end! Lydia sal nie ’n oog toemaak nie!”

      “Chill, Ma, dis dieselfde as Rooikappie, en wat van Hansie en Grietjie? Dís nou actually cruel, mense wat hulle kinders in ’n bos los om te vrek van die honger. Ma moan nie as Coenie sulke goed vir haar lees nie.”

      Partymaal dink Willem Lydia hou meer van Franna as van hom en Coenie. Hy dink dis omdat Franna lekker rof met haar speel – nie dat hy baiekeer lus het om met haar te speel nie. Hy gooi haar in die lug en sleep haar rond totdat sy gil van lekkerkry. As hulle ma die horries kry, sê Franna net: “Chill, Ma, sy hou daarvan.”

      Willem dwaal besluiteloos deur die sentrum. Hy besef gou, nadat hy ’n draai deur CNA geloop het, dat ’n boek nie sal werk nie – dertig rand is te min vir ’n boek. By Pick n Pay is ’n paar plastiekspeelgoed, die meeste duurder as dertig rand. Die goedkoop goed gaan nie langer as ’n dag hou nie. Hy ken vir Lydia. Sy het Franna se wilde geen geërf, meen Oupa.

      Skuimseep waarmee sy kan bad, het sy ma voorgestel. Hy weet nie wat skuimseep kos nie, en hy wou nie sê sy sakgeld is lankal op nie. By Clicks krap hy tussen die badgoed rond, maar niks geval hom nie, dis óf te duur óf te lelik. Hy moes vir Schalk saamgebring het. Schalk het twee ouer susters.

      Hy gaan staan voor die tuisnywerheid se venster en kyk na die koeke en terte en lekker goed wat ’n mens kan eet. Die pasteie, wat die tannie self maak, kos tien rand. Hy weet, hy en Schalk het al baie hier kom koop. As hy ’n pastei koop, het hy net R25 oor, dis nou saam met die vyf rand wat Schalk hom geskuld het en wat hy vanoggend terugbetaal het.

      Willem huiwer. ’n Mens moet eet ook, en hy is honger. Miskien kan hy tog maar vir Lydia lekkers koop en maak of hy sy ma verkeerd verstaan het.

      Dan vang sy oog die poprokke wat teen die linkerkantse muur in ’n ry aan hakies hang. Handgemaak, staan op ’n bordjie wat bokant die ry aangebring is. Hy stap huiwerig nader en kyk versigtig na die prys: R23.50 elk. Hy kan sy oë nie glo nie. Hy kyk weer. R23.50 elk, lees hy weer.

      Hy ruik die pasteie. Sy mond water. Hy probeer onthou hoe groot Miempie is. Is die rokke groot genoeg? Hy dink so. Miempie is nie ’n baie groot pop nie. Hy kyk selfbewus in die winkel rond. Daar is gelukkig nie ander mense nie. Die tannie by die geldlaai is druk besig en kyk nie op nie.

      Watter rok? Hy besluit op die bloue met wit blommetjies en ’n paar wit valletjies. Hy gryp die rok van die hakie af en pyl op die pasteie af. Barbeque beef.

      Die tannie kyk op toe hy die rok en die pastei op die toonbank neersit. “Dis vir my sussie,” sê hy vinnig. Sy druk die rok in ’n grys plastieksakkie en hy raap dit en die pastei op nadat hy betaal het.

      Lydia gaan erg van die poprok hou, dink hy ingenome toe hy kouend deur die sentrum stap. Baie erg, en hy is seker Franna en Coenie sal nie eens onthou dat sy verjaar nie. Hy sal vra dat sy ma die rok mooi toedraai.

      Coenie en Franna eet toebroodjies by die kombuistafel toe hy by die huis kom. Coenie vertel van die nuwe liedjie wat die orkes die middag geoefen het, iets te doen met ’n knife.

      Franna het rugby geoefen. Sy rugbytrui is vuil en vol groen grasvlekke. Hy ruik na sweet en sy voete stink. Sy tokse en kouse lê eenkant op die kombuisvloer.

      “Wat het jy gekoop?” Franna se oë is op die grys sakkie in Willem se hand. Coenie bly afgehaal stil, maar hy kyk ook nuuskierig na Willem.

      “Dis my saak.”

      Willem probeer vinnig by hulle verbydruk kamer toe, maar Franna gryp die plastieksakkie uit sy hand. Hy skud die inhoud al kouend op die tafel uit. Coenie leun nuuskierig vorentoe. Franna lig die poprok met ’n vinger op en kyk daarna.

      “Moer my dood, Willempie. Nou kort jy nog net die pop.”

      “Jou simpel aap, dis nie vir my nie!” sê Willem kwaad.

      Coenie het nog nie die kloutjie by die oor gekry nie. Hy druk onseker met sy vinger aan die hopie materiaal. “Is dit ’n panty?”

      Willem gryp die poprok en druk dit terug in die sakkie. Terwyl hy kamer toe loop, hoor lag hy Franna in die kombuis. Dié vertel vir sy ma dat Willem vir hom ’n poprok gekoop het.

      Hy sal nie verbaas wees as hy nog eendag vir Franna met een van sy pa se vleismesse steek nie.

      “Ek het vir Kokkie Kok en Klein Kokkie Kok van Kokkies’ Motors by die bank raakgeloop,” sê Willem se pa die aand aan tafel terwyl hy ’n beentjie aflek. “Groot Kokkie sê hulle het ’n karavaan ingekry. ’n Bargain.” Hy suig aan die beentjie. “Ouerig maar tog.”

      Niemand sê iets nie. Hulle eet in stilte.

      “Groot Kokkie sê die karavaan moet skuif voor die einde van die week.”

      Willem se ma sug.

      “Vakansies is deesdae so duur.” Sy pa skep nog ’n stuk skaapvleis op sy bord. “Met ’n karavaan kan jy enige plek gaan vakansie hou en sommer teenaan die see stilhou,” gaan hy voort.

      “Ag,


Скачать книгу