Willem Poprok. Derick van der Walt

Willem Poprok - Derick van der Walt


Скачать книгу
sê Lydia terwyl sy ’n ertjie op die vloer gooi.

      “Lydia!” raas hulle ma.

      “Wie leer die kind so lelik praat?” vra hulle pa vererg.

      “Dis Willem Poprok,” grynslag Franna met ’n mond vol kos.

      Willem word kwaad, so kwaad soos hy nog nooit in sy lewe was nie. Voor hy hom kan keer, gooi hy vir Franna met sy broodrolletjie. Franna koes en die rolletjie tref die muur agter hom.

      Daar is skielik ’n ysige stilte om die tafel. Hulle pa se vurk hang in die lug. Almal kyk vir Willem. Franna grynslag steeds. Willem wil hom vermoor.

      “Willem,” sê sy pa stadig terwyl hy sy mes en vurk bymekaar op sy bord sit. “Gaan wag vir my in jou kamer.”

      Willem wil huil so kwaad is hy. Hy sit op sy bed en wag. Hy gee nie om wát sy pa aan hom doen nie, hy sal vir Franna terugkry. Hy gaan sommer nou vir sy pa vertel van die goed in die bruin koevert wat Franna onder sý mat wegsteek.

      Ná ’n ewigheid kom sy pa in en maak die deur toe. Hy gaan sit op die voetenent van die bed. Hy kyk na die poster van Minki van der Westhuizen.

      “Dis darem ’n mooi meisiekind,” sê hy half ingedagte.

      Willem wag.

      Sy pa draai na hom. “Willem. Ek wil jou nie foeter nie. Jy is te groot.”

      Willem sien hy wonder wat om volgende te sê.

      “En ek wil jou nie hok nie. Dis rugbyseisoen en jy moet oefen.”

      Hy bly stil. Willem wag.

      “Jy moet jou nie so baie aan François steur nie. Hy terg jou maar net.”

      “Maar hy maak my so kwaad!” sê Willem heftig. “En hy lieg! Dis nie eintlik ek wat vir Lydia geleer vloek het nie!”

      Sy pa sê niks. Hy kyk weer na die poster. Willem sien sy pa is nie regtig kwaad nie. Sy gedagtes is op ’n ander plek.

      “Hoeveel mense kan in die karavaan slaap, Pa?” vat hy die gaping.

      “Man,” sê sy pa opgewonde terwyl hy weer na hom kyk, “nie te veel nie. Maar die ding is, hy het ’n tent wat jy langs die karavaan opslaan, sê oom Kokkie. Julle seuns kan daarin slaap, en ek en jou ma en Lydia in die karavaan. Ek sal kampbedjies vir julle koop. Teenaan die see, dis waar ons Desember gaan staan. Sommer reg langs die water waar ons die see kan hoor en ruik. En ons kan elke aand braai terwyl ons vir die see kyk.”

      “Ek dink Pa moet hom koop.”

      “Sal maar moet sien. Sal moet hoor wat jou ma sê.”

      By die deur draai sy pa om. “Jy moet die hele week skottelgoed was. Alléén, en niemand mag jou help nie. Nee, magtig, man, in hierdie huis mors ons darem nie met kos nie.”

      Terwyl Willem water in die kombuiswasbak tap, dink hy hy sou baie eerder ’n pak slae wou hê, of ’n week se hok. Hy háát dit om skottelgoed te was en hy háát dit om rugby te oefen.

      Sy ma haal ’n vadoek uit die laai en begin die glase afdroog.

      “Ek dink ’n poprok vir haar verjaarsdag was ’n baie goeie idee.” Sy gee hom ’n drukkie.

      5. Sagte branders met ’n bietjie skuim

      Hy en sy pa ry in stilte slaghuis toe. Normale mense slaap nog dié tyd van ’n Saterdagoggend, maar nie die Van Vuurens van die Blou Bul-slaghuis nie. Dis die prys wat ’n mens betaal om jou eie baas te wees, sê sy pa altyd. En: Dis die prys wat ’n suksesvolle besigheidsman betaal. En: Dis die verskil wat jou van die fly-by-nights onderskei. En: Die eienaar van ’n suksesvolle slagtery het nie ure nie. En, en, en. Willem ken al die enne.

      Hy hoor dit gereeld al die afgelope vyf jaar sedert sy pa ’n pakket moes vat en die slaghuis in die sentrum begin het. Gereeld soos in amper elke dag.

      Hy kyk deur die venster na die enkele mense wat draf of fietsry of met hulle honde stap.

      “Wanneer begin julle wedstryde?” verbreek sy pa die stilte.

      “Weet nie, ons moet nog span kies,” sê Willem ongemaklik en dink hard aan iets om te sê om die onderwerp te verander.

      “Wanneer maak ons weer biltong?” vra hy vinnig.

      “Vandag. Eintlik moet ons nou elke dag biltong maak sodat daar Saterdae genoeg is. Die Super 14 raak nou warm en die mense soek iets om te kou as hulle vir die Bulls skree.”

      Hulle ry weer ’n ruk in stilte.

      “Ek wens meneer Grobbelaar wil jou ’n slag op skrumskakel probeer.”

      Willem besluit dis dalk beter om niks te sê nie.

      “Jy het die ideale bou vir ’n skrumskakel. Ek is lus en gaan gesels met meneer Grobbelaar. Hy dink dalk net nie so ver nie. Hy sien dalk nie jou potensiaal raak nie. ’n Mens kan seker ook nie elke speler se belange op die hart dra as jy soveel spanne moet afrig nie.”

      Willem bereken dis nog drie minute slaghuis toe. Net drie minute.

      “Die nuwe juffrou? Weet sy darem? Ek bedoel … kan sy darem ’n bal skop met haar sykouse en hoë hakke? Nog nie eintlik gehoor van ’n vrou wat rugby afrig nie. Klink nie vir my te lekker nie.”

      Hulle draai by die klein parkeerterrein aan die agterkant van die slaghuis in.

      “Mind you, in die nuwe Suid-Afrika is enigiets seker moontlik.”

      Willem klim vinnig uit en klap die deur toe, harder as wat hy bedoel het. Sy pa sê egter vir ’n verandering niks. Sy kop is klaar by biltong en droëwors en steak en hoender-wat-nie-eintlik-vir-vleis-tel-nie waarvan hy meer sal verkoop as van die “regte” vleis.

      Oom Ravi se blou bakkie staan reeds onder die afdak.

      Willem hoor die gekerm van die bandsaag wat deur murg en been sny en hy kry die reuk van vars, rou vleis nog voor hy vir oom Ravi gewaar. Oom Ravi druk stukke karkas versigtig deur die saag se lem en netjiese, klein, eetbare porsies kom aan die ander kant uit.

      Hy kyk vlugtig op, maar kyk dan vinnig terug na die stuk karkas wat hy stadig en geoefen oor die skerp lem skuif. Hoewel oom Ravi toe-oë vleis sal kan opsaag, weet Willem hy sal dit nie doen nie. Die verlore middelvinger aan sy linkerhand getuig van ’n toeoog-oomblik jare gelede met net so ’n bandsaag.

      “Hoe lyk dinge, Willem?” vra oom Ravi sonder om op te kyk.

      “Goed, oom, môre, oom.”

      Willem stap met die oranje blikkie met die kleingeld na die geldlaai. Hy is vandag op till duty, soos sy pa dit noem. Gewoonlik sy ma se werk, maar sy werk nie meer weeksmiddae vandat Lydia daar is nie, en Saterdae moet die seuns hulle sakgeld hier verdien. Hulle maak beurte, en Coenie en Franna werk vandag agter die toonbank, neem bestellings en pak die vleis in sakkies.

      Om by die kasregister te werk is die lekkerste. Jy sit en jy keer kleingeld uit en jy sê: “Dankie vir die ondersteuning, kom weer” en afhangend van wie die klant is: “Mag die Bul se horing vanmiddag skerp bly” of “Nou die Blou” of so iets. Hulle weet al teen dié tyd wie skree vir wie. As dit iemand is wat die Sharks of die Stormers of die Cheetahs ondersteun, sê jy: “Mag die beste span wen” of: “Die Sharks is darem op topvorm dié jaar.”

      Willem is al verby die klein, donker kantoortjie sonder vensters waar sy ma in die week die slaghuis se administrasie doen, toe hy besef die lig is aan en dat iemand agter sy ma se rekenaar sit. Beslis nie sy ma nie. Hy loop stadig agteruit en loer binnetoe.

      Sy het lang, blink, swart hare wat in ’n poniestert vasgemaak is en ’n vel soos heuning en ’n klein goue dingetjie aan


Скачать книгу