Pluimprinse. Malene Breytenbach
“Waarom kom jy nou eers kuier? As jy voorheen gekom het, sou ek jou dalk onmoet het.”
“Wel, dis ’n lang familiegeheim, maar ek is nou uiteindelik hier.”
“Jy kan gerus na die onthulling van my volstruise op Rykskraal kom. Of is jy ook lugtig vir al wat ’n Le Riche is? Jou ouma vertrou ons glad nie.”
Sy lag. “Nee wat, julle het mý niks aangedoen nie en ek weet buitendien min van julle af. Ek dink ek sal graag na die onthulling wil kom, dankie, Michelangelo.”
Hy grinnik. “Ek sal laat weet waar en wanneer. Het jy ’n selfoon?”
“Natuurlik.”
Hulle ruil nommers uit. Wat maak dit saak dat hy ’n Le Riche is? dink sy. ’n Jong, ontvanklike meisie is sy beslis nie meer nie. Die lewe het haar al goed gebrei. Te hardhandig behandel om toe te laat dat sy dweperig romanties kan raak.
“Dankie vir die koffie en die uitnodiging,” sê sy.
“Jou oë is besonders, elkeen so helder soos die albasters waarmee ek as kind gespeel het.”
“Ja, mense skrik gewoonlik daarvoor. Soms kan hulle my nie in die oë kyk nie. Ek sien ewe goed met albei en sou seker daarvan vergeet het as mense nie alewig gereageer het asof hulle ’n frats sien nie.”
Hy glimlag. “ ’n Frats is nie wat ek dit sou noem nie. Dit maak jou anders, ja, en uniek. Dit is ’n bate. Jy het ’n stempel wat niemand anders het nie.”
Sy glimlag terug. “Dankie dat jy nie een van dié is wat skrik nie. Mense assosieer dié soort oë dikwels met heldersiendheid.”
“O, en is jy heldersiende?”
Sy glimlag verleë. “Nou nie so dat ek mense se teekoppies sal lees nie, maar dikwels voel ek dinge aan of droom iets wat dan daarna gebeur.”
“Fassinerend.”
Sy staan op. “Ek moet nou gaan.”
Hy vergesel haar na die deur. ’n Aantal mense staan rond in die galery. Met sy hand teen die kosyn kyk hy na haar toe sy wegstap. Sy kry die voorgevoel dat haar kennismaking met hom gevolge kan hê. Hy sou haar in normale omstandighede kon aantrek, selfs oorweldig, maar nou is sy nie meer normaal nie. Haar bagasie is te swaar. Sy is ’n gekweste dier wat mank loop.
Terwyl sy aanstap, dink sy dat sy nogal so ’n volstruisbeeldjie begeer. Miskien sal die volstruisgees háár ook beskerm, dink sy wrang. Soos ’n beskermengel. Haar familie se fortuin is tog ook deur die volstruis gemaak.
4
Olivia stap tot by die museum, verby tente en stalletjies waar banke en die media gepromoveer word. Voor die ingang is ’n woonwa wat eintlik ’n verhoog is en waar ’n sanger lustig sing. ’n Menigte mense maal daar om die museum rond. Baie sit op strooibale. Langsaan is ’n kroeg en wegneemetes en die toue is lank. Die tuin is reeds vertrap deur die feesgangers. Dit sal darem werk vir skoonmakers skep, dink sy. Hier loop juis heelwat werkloses rond.
Sy baan haar weg deur die mense om by die ingang van die museum te kom. Binne is dit koel, die plafonne hoog. Die vae reuk van oudhede, die stof en gif om dit te beskerm, is in haar neus. Slegs ’n handjievol ander mense kyk ook na die uitstallings. Olivia bestudeer die verhaal van die volstruis en die glorietyd van die pluimbedryf, sy kyk na meubels, breekware, ’n apoteek en winkel, wapens en foto’s, eetkamers met swaar buffette soos in Courland House, slaapkamers met koper- en baldakynbeddens; die wasskottels, lampetbekers en selfs die kamerpotte is van pragtige, geblomde porselein.
Die ou tabberds, wat eentyd lywe versier het wat verplig was om hulle middels met knellende korsette in te trek, fassineer haar. Die tabberds is versier met kant en pêrels, krale, valletjies, heupbollas, en is geplooi en gedrapeer. Skerppuntskoentjies van blink materiaal met gespetjies wys dat voetjies delikaat was en nie ver gestap het nie. Sulke klere het haar oumagrootjie seker gedra. Sy moes net so klein soos ouma Rebekah gewees het.
Olivia voel groot en modern, allermins Victoriaans, Eduardiaans en onprakties elegant. Daardie vroue van die pluimprinse was vertoonstukke, soos winkelpoppe. Ladies’ maids moes hulle aantrek, die honderde knopies en hakies vasmaak, die korsette intrek en vasbind, die oordrewe haartooisels opdoen. Vroue in gestyfde uniforms met voorskote, beffies en mussies het die bevoorregte minderheid op die hande gedra. Die parvenu-vroue, sommige grof, onder die vertroetelende hande van die ondergeskiktes.
Olivia kyk na ’n ivoorkleurige trourok wat wyd uitklok, vol broderie anglaise, gemaak vir ’n vrou wat deesdae ’n pikkie sou gewees het, skaars vyf voet lank in die ou terme. Sy kan haar ouma Rebekah in so iets voorstel. Háár ma moes iets soortgelyks gedra het toe sy met die Rus getrou het. Hy kon seker sy hande om haar middel span en die punte van die lang vingers van die pianis sou geraak het.
Aan die mure hang ou argiteksplanne van pluimpaleise, geteken deur mense soos Charles Bullock en JE Vixseboxse. Daar is onder meer argiteksplanne van Courland House en Stonehaven, met die argitekte se handtekeninge op. Die sketse is pragtig en sy wens sy kon die een van Courland House in die hande kry. Sou haar ouma iewers so iets hê?
Dit voel meteens asof iemand agter haar staan en sy draai om, maar sy sien niemand nie. Daar loop iemand oor my graf, dink sy, en ril. Sê nou net die geeste van die ou argitekte loer oor haar skouer en hou daarvan dat sy hulle skeppings so bewonder? Oudtshoorn en sy romantiese dog tragiese geskiedenis gee haar verspotte idees.
Sy gaan kyk na wat oorgebly het van die sinagoge wat in die museum gehuisves word. Goud en versier staan dit daar, ’n relikwie van ’n plek van aanbidding wat eens deur baie Joodse inwoners besoek is. Hoe het hulle bestaan hier nie gekrimp nie.
Sy lees die inligtingsblaadjie wat vertel dat dit die Ark van die Griener Shul is wat lyk soos die een in Kelm wat deur die Nazi’s verwoes is, en wat in die St. Johnstraat-sinagoge was.
Lank staar sy na die Ark. Dit was voor hierdie selfde ark dat haar grootoupagrootjie aanbid het, en waarskynlik haar oupa ook. Hulle het met ootmoed in hulle harte gestaan en seker dankbaar gevoel dat hulle dit kon bekostig om so ver van hulle oorspronklike, armoedige tuistes, so ’n weelderige manifestasie van hulle geloof op te rig.
Dit voel weer asof iemand haar volg en sy kyk ’n aantal kere oor haar skouer, maar sien niks. Dis nog iets wat sy moet afleer – om alewig oor haar skouer te kyk asof sy dink iemand agtervolg haar. Tog ervaar sy die sensasie besonder sterk hier op Oudtshoorn. Sy loop uit in die sonskyn, in die rigting van die tentdorp waar daar ’n vlooimark moet wees. Vreemde massas skuur teen haar, maar haar anonimiteit laat haar veilig voel. Naderhand begin sy egter vasgedruk en benoud voel tussen al die mense en neerslagtig oor die minderbevoorregtes tussen die gegoedes wat daar is om die fees te geniet. Die uitdelers van aalmoese teenoor dié wat bedel.
Sy kies kortpad deur ’n stowwerige stuk veld langs ’n sportveld waar die tente van kamperende feesgangers bykans teen mekaar staan. Onder die hovaardige vensteroë van die ou pluimpaleise wat van die hoogte af op hulle neerkyk.
Olivia en haar ouma sit die middag op die stoep in die koelte, met lang glase vrugtesap. Buite die skadu van die stoep skroei die son op die aarde. Die gedreun van die fees vul die lug, maar die sonbesies se geskree dring deur alles. Olivia ruik die blomme, die soet geur van rose en angeliere. Voëls sing en kwetter en swiep deur die bome. Om Olivia-hulle en in die tuin lê lui katte. Net Gideon kyk op na die voëls met ’n bek wat bewe en gulsige oë, asof hy hulle wil bespring. Olivia hoop hy kry dit nie reg om sy bloedlus te bevredig nie. Sy wil hom nie met ’n spartelende, dalk sterwende, diertjie in sy bek betrap nie.
“Ouma, vertel my van die familie,” vra sy. “Ek weet eintlik so min van Mamma se kant van die familie en van my pa s’n weet ek niks.”
“Ek moet jou eers vertel hoe Oudtshoorn begin het, sodat jy kan verstaan waarom ons mense hierheen gekom het.”
Olivia skuif haar reg en glimlag aanmoedigend. Sy geniet dit om na haar ouma se stories te luister.
“Die pioniers van die volstruisveerboerdery in die Oudtshoorndistrik