Pluimprinse. Malene Breytenbach
dis reg, Nooi. Maar die ou beendere raak oud en moeg, nooi. En o, die rumatiek pla erg.”
Al die oumensies lyk vir Olivia soos vrugte wat lankal nie meer vars is nie, waarvan die skil gekrimp het en die vog verdwyn het. Wat begin muf. Haar hart is vol deernis vir hulle. Sarie en Abel moes al afgetree het, maar haar ouma en Courland House is seker al wat hulle ken en hulle pas haar natuurlik op.
Die ou man gaan uit en Sarie sit die tee voor. Olivia staan dadelik op om te help.
“Sarie het gesê Ouma voel siek vandag,” sê Olivia.
Ouma Rebekah sluk haar happie koek en vee haar mond met een van die klein servetjies af. “Nee, ek makeer niks behalwe oumenskwale nie. Jy weet my arme ou organe is byna ’n eeu lank aan die werk. Ek jaag net ongenooides weg. Mense is so nuuskierig oor dié huis. Hulle kom vra sommer of hulle dit kan sien. Ek bestuur nog my eie kar en ek drink my sjerrie. As ek die dag lus het, gaan kuier ek. Inkopies doen ek nie meer nie, maar die winkeliers stuur vir my alles hiernatoe.”
Olivia is verstom. Hoe kan die verkeerspolisie toelaat dat so ’n bejaarde tannie agter ’n stuurwiel inklim? Gehoorsaam sy ooit die verkeersreëls?
Haar ouma sug. “Die dorp soos hy nou is, staan my nie aan nie en elke jaar is die lawaaierige fees aan die gang. Jy moet net sien watse hoipolloi hier aankom. Hulle kampeer orals, ook in Pinehurst hier naby se tuin. Tente en woonwaens oralster en hulle maak sommer vure en braai vleis. Jy ruik net heeltyd kos. Hulle kom staan by die heining en bekyk die huis. Ek steek dan nie my neus by hierdie deur uit nie. Vroeër jare het ek dit nog gewaag om tydens die fees dorp toe te ry, dan kom ek nie deur die verkeer nie. Almal toet vir my en kyk na my en ek raak skoon verbouereerd.”
“Ons het al gesê Abie moet vir die ounooi bestuur, maar sy wil nie,” sê Sarie, wat hande oor die maag gevou staan en luister, nuuskierig om alles te hoor wat die ouma en haar nuutgevonde kleindogter vir mekaar te sê het.
Ouma Rebekah snork. “Wat? Ek het nog my oë en hande. Ek gaan my nie uitgee vir ’n invalide nie. Buitendien, daardie kleinseun van julle behoort te doen wat hy geleer het om te doen, maar verseg. Pleks hy ordentlike werk gaan kry.”
Olivia glimlag. “Dit klink darem of Ouma nog hups is.”
“Ja, ek is. Sedert jou oupa se dood doen ek nie meer die rituele van die sjabbat nie. Ek lewe ook nie kosjer nie. Van die Joodse inwoners is daar buitendien net ’n handjievol oor. Die Ark van ons ou Griener Shul is nou in die Museum. Die St. Johnstraat-sinagoge is gesloop, maar die Queenstraat-sinagoge staan darem nog. Daar is mos ’n oneindige Joodse diaspora. Wanneer die Jode moeilikheid sien kom, dan verkas hulle. Tydens die laaste oorlog is daar van hulle winkels en goed afgebrand deur die Ossewa-Brandwag en daardie mense is weg. Nadat oupa Isaac in sy juwelierswinkel aangeval en beroof is, is daar nog ’n klomp weg.”
“Haai, is Oupa tog nie aangeval nie?” vra Olivia geskok.
“Ja, hy wou mos alewig afry dorp toe in die Rolls en hy wou nie die winkels verkoop nie. Mense het gesê hy gaan nog beroof word in een van sy winkels waar die blink goed so in die vensters uitgestal is. Deesdae steel die skollies mos juweliersware en gaan verkoop dit vir ’n appel en ’n ei om drank te koop.”
“Het hulle Oupa baie seergemaak?” vra Olivia.
“Ja, oor die kop geslaan. Hy was vol blou kolle. Hulle moes hom hospitaal toe vat en daar was hy vir twee dae voordat hy kon huis toe kom. Daarna het hy alles verkoop. Hulle het seker gedink die ou Jood is ryk en hy kan maklik beroof word. Isaac het so ’n knou weg gehad nadat hy aangeval is dat hy, nie lank daarna nie, dood is. Jy het ook ’n skok weg en ek sal jou oppas.”
“Ons sal mekaar oppas,” glimlag Olivia. “Ek sal Ouma neem waar Ouma wil wees.”
“Dankie, my kind, maar ek kan nog ry.”
“Is Ouma se motor nog padwaardig?”
“Wat? Beslis. ’n Rolls Royce Silver Ghost is gemaak om te hou. Hy makeer nog niks.”
Olivia wil lag, maar sy hou haar in. Die Shimansky’s het met dié Rolls gery toe haar ma nog ’n kind was.
Olivia kies nie haar ma se ou kamer nie, want dit is soos ’n heiligdom bewaar, presies net soos sy dit gelos het: die bed, die muwwe klerekas en die ornamentjies op die spieëltafel – alles. Haar ouma moes haar ma gemis het en gehoop het sy keer eendag terug. Sy kry ’n seer knop in haar keel. Hier maak sy kennis met die Lea Shimansky van die verlede. Die een wat bevoorreg grootgeword het en nog nie deur die lewe gekou en uitgespoeg was nie.
Olivia kies ’n kamer wat oor die roostuin uitkyk en naby die badkamer is. Dit lyk na die lekkerste kamer. Daar is ’n yslike bed waarin drie mense gemaklik sou kon slaap. Sarie bring vir haar beddegoed wat baie oud lyk, maar dit is pragtig geborduur en iets besonders. Dit ruik na potpourri, asof dit lank in ’n linnekas gebêre is. Terwyl sy uitpak, maak Sarie die slaapkamervensters oop om van die muwwe reuk ontslae te raak, stof af en maak skoon. Gou ruik die kamer na lugverfrisser en rose.
“Hierdie was eentyd Miss Sarah se kamer,” vertel Sarie. “Sy was mos ounooi Bekka se ma. Toe bring sy haar man ook hierheen. Die een wat sy daar ver gaan kry het, en vir ounooi Bekka. Nadat Miss Sarah getrou het, het sy en haar man in die groot kamer aan die punt van die gang geslaap. Daar waar ounooi Bekka nou slaap.”
Sy maak die buitedeur na ’n oulike klein patio oop. “Miss Sarah het mos graag hier gesit en borduur.”
Olivia loop uit op ’n geplaveide skuilhoekie met rankplante en ’n fonteintjie, pragtige, gegote ysterstoele en ’n tafel, alles oud, krullerig en verweer, maar steeds mooi. Op die tafel lê ’n wit kat.
“Dis lieflik, die kat ook,” sê Olivia.
“Hy is ook een van dié wat sommer eendag hier aangekom en gebly het. Die ounooi kon mos nooit ’n kat wegjaag nie en hulle teel aan. Ons het soveel van die goed, ek tel nie meer nie. Vreet! Ons voer net heeltyd, maar hulle vang darem die muise ook. Dié een is Gideon. Hy lê altyd op hierdie tafel. Ek hoop Nooi gee nie om dat hy hier is nie.”
“O nee, ek is lief vir katte.” Olivia streel die sysagte pels. Die kat het uitsonderlike blou oë en hy spin van lekkerkry.
Dit voel vir haar onwerklik. Sy is na ’n ander tyd verplaas, veilig en geborge, waar koerante se saktye, spertye, bendelede, nagtelike aanvalle, verkragters en muggings soos dinge op ’n ander planeet voel. Hier is onverwagse liefde en aanvaarding. Balsem vir haar gemoed.
Wanneer sy aan die aanval op haar oupa dink, tree daar ’n bietjie onrus in. Maar hy was ’n juwelier en hulle word maklik geteiken, stel sy haarself gerus. Hier in dié ou huis is dit veiliger as onder in die dorp waar die bedelaars en straatkinders rondloop.
Sy loop deur die huis na die sitkamer waar daar niemand is nie, maar sy hoor iets wat soos ’n radio klink. Sy tref haar ouma in ’n kleiner sitkamer aan, besig met die knoppies van ’n ou radio.
“Ek soek iets om na te luister,” sê sy. “Elke dag luister ek my stories.”
“Ek gaan Ouma nie pla nie, maar mag ek maar deur die huis stap? Dit fassineer my.”
“Natuurlik, jy moet tog weet waar alles is. Dis mos nou jou huis ook.”
“Dis so groot en interessant. Wanneer is dié huis gebou?”
“Dié huis is in 1906 deur die bekende argitek Charles Bullock, vir jou grootoupagrootjie Chaim Wolowsky ontwerp en deur ’n boukontrakteur en die plaaslike klipkappers gebou. Die sandsteen het uit die rantjies om Oudtshoorn gekom, maar die hout is ingevoer. Die meubels is per trein en wa van Kaapstad en die Baai aangery.”
“Oupa se verhaal het my nog altyd gefassineer. Hy het van swaarkry na welvaart gegaan.”
“Ja, hy was ’n harde werker, maar so was al sy mense. Hy was eers ’n smous, toe ’n verekoper en handelaar. Dis die volstruisvere wat hom so ryk gemaak het, soos jy weet. Verken gerus, my kind. Die huis is baie groot. Daar is ’n solder en ’n kelder ook, maar ek beveel nie aan dat jy dit gaan bekyk nie. Daar is