Woud van nege en negentig vlerke. Carina Stander
Woud van nege en negentig vlerke
Carina Stander
Tafelberg
Vlam onder die water
vir die God van hemel en aarde
Hy maak Sy engele stormwinde en Sy dienaars vuurvlamme.
Hebreërs 1:7
om op die rug van ’n donkie in die see te swem
om op die rug van ’n donkie in die see te swem
deur ’n land bo die wolke
oor landskappe van droom
’n pen soos ’n staf in die hand
om bloots op ’n esel oor ’n golf te galop
warrel in die hare
Stormmeeu op die skouer
se vlerk gesprei teen die strale
om saam met ’n hings deur seë te ry
voorkop rug voetbrug gesout
teen die brand van blindwit branders
om borsdiep in ’n woord te toer
die walvis ’n inkvlek op blou papier
wanneer die Windmaker se asem
die water stadig roer
om veerlig te dryf
verse te skryf
die son ’n engelkop
vanaf ’n eselrug aanskou
om die heelal en hemel só dop te hou:
laat my reise voortaan eenvoudig wees
ons het vulkane sien sluimer onder lakens sneeu
ons het vulkane sien sluimer onder lakens sneeu
herders hoor blaas op ’n trompetskulp –
asems wasem deur die nag
as hulle die kudde uit die koue jaag
twaalf seuntjies op ’n rietboot
het ’n broosgeel bamboes gefluit –
verstom die visse gelok uit die slyk
die vlegselmeisies se voete
kon deurskynende roetes verken
al oor die bergmeer se blou
het ons oë ons hierdie keer bedrieg
of was die herders ook vulkane
kon die visserseuns soms kwik en kwaak
het die meisies geroepsing in ’n kring
het die ouvrou haar oë gesluit
maalklip op die skoot
toe sy die gekraakte kliptafel ontdek
waar God ’n slavin vra om te trou
vulkaanklip
Hawaii
vulkaanklip is die naghemel van ’n eiland
vulkaanklip is swart vlegsels met koper spikkels
vulkaanklip is vuurvlieë in die wonde van God
wanneer puinsteen spat
word die reënwoud
in ’n oogwink
’n blink begraafplaas
skaars ’n armlengte onder jou voet
vloei riviere van vuur
rooi soos Bloed
rooi soos Bloed
as tyd soos ’n kraai kon vlieg
Hawaii
as tyd soos ’n kraai kon vlieg
en jy kortpad terug kon kies
sou jy wou sweef saam met ’n rooi ’l’iwi
na ’n berg soos ’n Hoofman
trots geplooi
dié berg is ’n Sigbare Raaisel
soos God
sou jy terugkeer na ’n lavaland
waar selfs die reënboë vreesloos woon
Singvoël
laat die wat ore het, weet:
wie die tong van Singvoël eet,
sal vir ewig bloei
vloed
Iguazú, Argentinië
by die plek waar wolke gebore is
het die droom by my oë ingeloop:
die duiwel se keelgat was ’n kolk
die smaak van groen hel op sy tong
wanneer broeibome oorstroom
en swerms flappend verdrink
’n ritseling in die bamboesbos:
die Skutsengel was terug
was hier in lewende lywe
met blinkgeel bye op die arms
’n reënboog soos ’n hemelslang
het al om Sy nek en skouers gehang
hoe helder die woede van driehonderd watervalle
hoe woedend die Stem wat die vloedhek óópsing
sodat brandende serafs ’n skare
na vaste aarde kan bring
halfdooies uit die poel van die draak
elke lomperik wat weet
die sagte stok in die stroom was ’n slang
(’n drenkeling wou haar keel
met haar eie tong afsny
maar ook sy is bevry
uit die vrot long van die graf)
in die sproeireën van Sy glimlag
wou ek ’n blou vraag waag:
het Jy lief
het ’n wolk water
’n vlinder met verweerde vlerk
het op my ringvinger gerus
toe die ganse afgrond galm:
Ek is die groot Ek Is
boodskappe van Bo
Giant Forest, Kalifornië
sneeu sif in fynskrif tussen my vingers
sneeu knars ’n kode onder my stewels
sneeu skreeu geluidloos oor ’n waterval
oral wit gedigte op wit papier
hier waar prêriewolwe nader draf
en eekhorings mekaar verjaag
deur ’n botstil eikewoud
– die takke flambojante frille
van ’n sigeunerrok –
is spore die stemme van diere
toe ek die sequoiareus
se bruin