Woud van nege en negentig vlerke. Carina Stander
bloeisels
uit dié mensverlate katedraal
slierte waai in sinne van Bo –
brandwarm fluisterings, plofsag
elke verhaal begin met dié woorde:
’n Vreemdeling se houtbeen
maak malse merke in die sneeu
oral wit gedigte op wit papier
kruisbestuiwing
paasfees broei die druifpers vlinders
weer in die wingerde
tyd vir kruisbestuiwing:
die boom groei ín die vrug
jare terug het Sy wonde
glo boordensvol gebloei
’n woord uit die deurboorde mond:
in U hande gee Ek my gees
’n skreeu of sug?
’n oesgedig?
in U hande gee Ek my gees:
’n ou Hebreeuse wiegelied
wat die dood uit die dood wou sus
sienkrag
vroegwinter het sy op die see
van swanger sienkrag gevaar
die noorkapper se neus
was ’n koel spuitgat
waar sy rol en plons en spring
om ’n kalf in Augustus
in die lewe te bring
vasgespoel op die strand
was die reuserugstring
van ’n walviskoei
die vrou was bang om geboorte te skenk
op die aarde: ’n brose hemelliggaam
laatwinter het ’n Heilige Visser
die branders om haar laat bedaar
dáágliks, het Hy aan die vrou gefluister,
word die mens herdoop
in vrugwater en Hoop
om as onsterflike te loop
op ’n deursigtige planeet
dit mag jy van ewigheid tot amen
nooit vergeet
Vlam onder die water
25/12
sy onthou ’n Asem oor haar wang
in die windstil namiddag
wanneer sy die Ritseling hoor
en voel hoe ’n reuse-Waterlelie
diep in haar rypsagte buik ontluik
verstaan sy geen tyding of taal
slegs dat ’n Blom bestuif is
en sal dryf in ’n verslete stal
dié nag skiet ’n Saad uit haar hande
reg deur die heelal se helder spiraal
en êrens is ’n kleurmal skare
al die engele en diere
oral saam in één verhaal
die moedermaagd se krip
is meteens slykloos spieëlblink
sodat sy kan drink kan drink
uit die Vlam onder die water
wat haar stil na binne wink
Hy wandel in die aandwind
Amatola
’n boomslagter het ’n woud gevel
hoor hoe kraak die takke se gewrigte
hoe versilwer die varings soos baarde
asof voorvaders stadig en onwillig sterf
Hy wandel in die aandwind
en drink uit ’n riviervallei
proe swart modder en herfsblare
doudruppels aan ’n spinnerak
proe swamme op ’n spoelklip
en die glibberige rugstring
van ’n verdrinkte singvoël
Hy wandel in die aandwind
wie is die Man met die verminkte vleuels
duskant die Wolfplek van Zingcuka
wie die Vlerkman met spinnedrade
soos sweepslae al oor Sy gesig
by Mnyameni se Donkerplek
Hy wandel in die aandwind
fluit bakhand vir verdwaalde
naguil bosduif tarentaal
verskrikte vlermuis en fiskaal
in die maanlig volg hulle Sy vlug
tot waar die mos groen sterre is
een vir een trek hulle terug
na neste sterker as die storms
terug terug na ’n woud wat strek
oor nege en negentig vlerke
Vasteland, wankelland
Vasteland, wankelland
Afrika met die rye mielies soos windverwaaide soldate
Afrika wie se mieliestamper ’n bedelaar se kneukels is
Afrika met die lente ’n hongerblom in die sandveld langs die see
Afrika wie se wilde kalossie ’n pers ster vir jou gee
Afrika met die groen gifkool en wit tamaraka op sierlike steel
Kokerboom-Afrika wat onder brokkelwolke droom
Afrika wat jou soos ’n seekoeikalf deur die diepkuil op haar rug dra
Afrika wat in die langpad wag – ’n waterput dorstig na die gelag
van troppies kinders en boerbok
Afrika wat geslagte lank onbeskaamd vir jou jok
asof haar heel maan ’n gekrulde slang – soms swart soms geel
Afrika wie se voetstappe gehoor word deur haar keel
Stom Afrika met die blasende trapsuutjiebek en flapnek
Afrika wat van kindsbeen af ’n modderlyf teen jou kom skuur
soos ’n olifant teen ’n boom
Afrika wat jou regterheup met boegoeroom wou salf
Afrika wat jou gemartel het en laat leef
Oopwond-Afrika
wat die rooi dagbreek agter die berg suutjies nader neurie
Amatola in die week van verkiesing
beeswagters op dwaalpaaie
klim oor die bogrondse boomwortels
van kalanders en assegaaie
asof oor houttrappe
elke tree ruik na warm kruid