Beenaf bokkie. Dirna Ackermann
Beenaf bokkie
Dirna Ackermann
Melodie
1
Wat op aarde kan ’n klomp jagters hê om so lank oor te praat? Onskuldige diertjies doodmaak? Candy versit haar gewig na die regterenkel en ril in die koelte van die oggendlug. In haar haas het sy nie net haar enkel seergemaak nie, maar ook vergeet om ’n warmding te vat en dit voel asof die winter in aantog is. Dis ’n besonder ysige Apriloggend in Pretoria.
’n Brandweerwa jaag met loeiende sirenes verby en sy kyk rond, maar sien geen teken van ’n brand nie. Dit voel net asof sy self begin stoom. Hoe lank nog? Sean het tog gesê hy dink nie die vergadering sal langer as ’n uur aanhou nie. Sy het byna ’n driekwartier ná die genoemde aanvangstyd opgedaag, en hulle wag nou al amper ’n uur vir die spulletjie om klaar te kry.
Sy verskuif weer haar gewig. Vroeër toe Sean gebel en gevra het of sy nie vir hom wil instaan as leier van die protesgroep nie, het sy ingestem sonder om twee keer te dink. Hy staan glo steeds by Binnelandse Sake waar hy sy paspoort moet afhaal, en die groep wag vir hulle instruksies. Die onderleier het die hardeware vir die operasie, sy moet dit net by hom kry.
Die oomblik toe sy hoor dit gaan oor jag, was sy al halfpad op pad na die voordeur. In haar haas struikel sy toe oor die los Persiese mat wat Malie eenkant gesit het om die vloer te was, en haar linkerenkel is die slagoffer. Dat dit net die liewe antie Maal is wat haar taal aangehoor het, is seker iets om oor hoera te skree. Haar ma sou dit nodig geag het vir ’n les oor dames wat nie die wêreld bestorm nie. Of sulke taal besig nie. Maak nie saak watter krisis sy in die gesig staar nie.
Dat haar ma nie eintlik gaan dink wreedheid teenoor diere is ’n krisis nie, is al klaar ’n gegewe. Die feit dat dit Sean is wat gevra het, sal haar nog minder aanstaan.
Vir haar dogter was dit egter meer as genoeg rede. Sedert hulle ontmoeting by ’n gemeenskaplike vriendin het Sean nie net haar oë oopgemaak vir die barbaarsheid van ’n bedryf wat glo miljoene rande werd is nie, maar is sy ook beïndruk deur die feit dat hy ’n baie aantreklike man is.
Sy sug genoeglik. Die blonde Sean Brynard met sy blinkblou oë en sagte hart. Stigter van Lewe Is Vir Almal se tak op die kampus, en die eerste man wat haar hart darem so effens vinniger laat klop. Christo in graad nege tel nie juis nie, want hy was die bure se seun en sy het griep gehad toe hy haar probeer soen het.
Hier is egter nou die eerste keer ’n man wat haar dalk haar skuheid vir die teenoorgestelde geslag kan laat verloor. Sy sal hom graag van naderby wil leer ken, maar haar ma het hom die huis belet die dag toe hy kom vra het of hulle nie ’n vergadering daar kan hou nie. Haar rede vir die weiering het sy gelukkig darem nie openbare kennis gemaak nie. Sy oë sit te naby aan mekaar na haar sin. Hy kan nie vertrou word nie.
Die deur van die saal gaan oop, en so ook ’n hele paar kele. Aantygings, verwyte en slagspreuke vul die lug. Candy loer eers vinnig na die polisieman wat oomblikke gelede opgedaag het en kners ergerlik ’n astrante sêding terug. Êrens is weer beswaardes wat moes loop kla het oor mense wat hulle grondwetlike reg op protes uitoefen.
’n Groep mans kom uit die saal gestap en die voorstes loop die trappe af. Nes Sean belowe het, sien sy sommer dadelik die voorjagter van die kommando, want hy is gebou volgens die afmetings van ’n tenk en sy spierwit hare kan op ’n afstand uitgeken word. Maar dis die snor wat die finale deurslag gee – ’n gedoente wat ’n koedoebul in ’n kompetisie vir die beste wegstaanhorings grys sal laat van jaloesie.
Candy mik verby hulle onderleier se maer ruggie toe die polisieman anderpad kyk en gee nog ’n tree nader. Sy weet sommer toe die oomblik reg is en trek haar arm terug. Nou!
Die watergevulde ballon trek sekuur en dis ’n kolskoot. Ongelukkig net nie die kol waarna sy gemik het nie – die tenk met die snor – en dis asof die hele toneel na stadige aksie verander. Sy kyk hoe die ballon bars en die rooi suikerwater oor die verkeerde baadjie, hemp en chino’s afloop. ’n Leerbaadjie wat nie sommer van die rak by die naaste kettingwinkel kom nie, weet sy instinktief. Sandra Cilliers se dogter gaan nie deur die lewe sonder om kwaliteit op ’n afstand te kan identifiseer nie.
Haar ma sê altyd die rede waarom die basketbalafrigter haar nooit verder as laaste in die ry vir die aflosposisie laat vorder het nie, is omdat sy selfs met ’n liniaal ’n krom streep trek. Sy kan nie mik om haar lewe te red nie.
Die ontvanger van haar tuisgemaakte koeël verstar in sy spore en ’n oomblik is stomme ongeloof oor sy hele houding geskryf. Lank, gespierd, bruingebrand en êrens in die omgewing van dertig, raai sy, met donkerblonde hare wat glansend los om sy kop val. Hy kyk eers na sy gevlekte lyf, lig dan sy kop stadig. Dis toe sy in daardie paar grysgroen oë kyk, dadelik half versluier agter donker wimpers met ewe donker wenkbroue, dat sy weet; weet met ’n soort voorkennis wat tot in haar koue tone trek.
Hoe, sal sy nou ongelukkig nie kan sê nie, maar hierdie man ken haar, en hiervoor gaan sy betaal. Met rente.
Haar blik sak na die borskas onder die nat hemp, maar vliet blitssnel terug. Nou nie juis wat sy asemrowend aantreklik sal noem nie, besluit sy ’n bietjie neerhalend in ’n poging om haar skielike kortasemheid af te skud en die onsigbare band tussen hulle te verbreek, maar dis nie suksesvol nie. Hy straal ’n magnetisme uit wat sy medejagters uit fokus laat en haar verder inkatrol.
En stadig, so bietjie vir bietjie, asof om seker te maak die fyner nuanses gaan nie by haar verby nie, begin hy vir haar bekend lyk, al is sy absoluut oortuig hulle het nog nooit ontmoet nie. Sy sou onthou het.
Sy probeer wegduik agter die onderleier wat baie vinnig sy waterbom oorhandig het, maar asof hy self nie kan glo wat sy oë hom vertel nie, tree hy eenkant toe. Hy kyk met ’n frons om toe die polisieman bakarm naderstaan en ’n paar fris jagters openlik begin dreig.
Oomblikke later het die res van die protesgroep soos vlieë voor ’n vlieëplak verdwyn en is dit net sy in die oopte voor die deurdrenkte man en die dienaar van die gereg. Dis natuurlik behalwe die res van Suider-Afrika se boerenasie wat nou soos omgekrapte leeumannetjies vir haar grom, en die muisvaal ou joernalissie wie se kamera flits asof hierdie storie haar paspoort na die Pulitzer is.
’n Ystergreep omsluit Candy se pols nog voor die gedagte behoorlik gevorm het dat sy seer sekerlik vinniger as die lywige amptenaar van wet en orde kan hardloop. Die lang arm van die gereg moes seker haar gedagtes geraai het, want sy greep verstyf en sy kreun onwillekeurig: “Eina!”
Hy is óf doof óf nie geneë om met sy gevangenes te simpatiseer nie, want haar pyn en lyding maak geen indruk op hom nie. Hy dwing haar in die rigting van die man wat steeds in die nat kol om sy skoene staan.
Die polisieman versterk sy greep en Candy wonder of iemand soos in die rolprente op TV “Officer down! Officer down!” sal begin skreeu as sy hom teen sy maermerrie skop. “Meneer, ek sal u aanraai om –” begin hy.
“Baie dankie, konstabel,” word hy ferm maar vriendelik in die rede geval, “maar dis nie nodig om enigsins iets verder te doen nie.”
Die stem vang Candy onkant, want anders as die ysige oë is dit diep en warm. Heel onlogies wonder sy hoe dit sal wees as hy soet woordjies in ’n vrou se oor fluister.
“Ek is seker dat sy een of ander tyd ook aan die ontvangkant gaan staan van ’n bom uit die bloute en dan gaan wonder wat sy gedoen het om sulke behandeling te verdien. Laat haar maar gaan.”
Candy frons oor dié onverwagte vrypas, want die boodskap in sy oë sein die teenoorgestelde. Sy het gesigte begin sien van ’n harde bank in ’n koue sel vannag.
“Meneer!” Die joernalissie druk haar neus byna in die man se gesig. “Kan ons hieruit aflei dat u op een of ander manier self sal sorg dat sy kry wat haar toekom?”
Fouche Mulder ignoreer die laspos met haar skeermesstemmetjie en hou die blik van sy aanvaller gevange. Hy hoop sy gesigsuitdrukking verraai nie sy verbasing om háár onder die groep betogers te sien nie. Hy het Brynard hier verwag, en die gedagte dat sy daardie vent selfs net ken, gee hom koue rillings. ’n Oomblik het hy gewonder oor die kortstondige flits van herkenning in haar oë, maar hy is oortuig dat sy nie