Beenaf bokkie. Dirna Ackermann
en Marie wil nie alleen ry nie.
“Kan Ma nie net vir oom Fouche bel en vra of ek ’n bietjie later kan kom nie? Ek meen, ek is niks werd terwyl ek op krukke rondspring nie.”
Nie dat sy dink sy sal énigiets werd wees nie, maar hy moet nou maar tot sy skade uitvind dat sy nie eens brood reguit kan sny nie. Sy sal daardie berg klim wanneer hulle daar kom. Al is dit dan handeviervoet. En as sy nou nie juis die soort geselskap is wat ’n kwasterige ou tannie gelukkig gaan hou nie, is dit ook hulle probleem.
“Nee, Nicandra, ek het klaar vir hom gesê jy kom. Buitendien, jy móét saam met Marie ry. Ek het nie nou geld om op ’n vliegkaartjie te mors nie.”
“Dis oom Fouche wat daarop aandring dat ek moet kom. Waarom betaal hy nie my kaartjie nie?”
Blykbaar is haar vraag nie ’n antwoord werd nie, want haar ma gaan voort asof sy nie gehoor het nie: “Marie se kombi is groot, so jy behoort nie te ongemaklik te wees nie. Maar jy sal net eenvoudig die beste van ’n slegte saak moet maak. Jý is die een wat agter my rug gekonkel het met daardie vent.”
Dit lyk asof haar ma regmaak om nog baie meer te sê, en Candy sug amper hardop van verligting toe die telefoon in die studeerkamer begin lui en sy wegstap. Sy druk haar koue vingerpunte teen haar warm wange.
Vandat Sandra Cilliers die eerste keer vir Sean Brynard gesien het, kon mens yster smee met die antipatie tussen hulle. Daarom het haar dogter dit nie gerade geag om iemand in te lig dat hy haar vir koffie genooi het nie.
Sy is op gevleuelde voete by die huis uit. Uiteindelik! Sy het so lank gewag dat hy dit moet doen, maar koffie was nie wat hy in gedagte gehad het nie. Hulle moes eers gaan stap, die aand was dan so fris en lieflik. Vrek koud, het sy gedink, maar niks gesê nie en heel gewillig onder sy arm ingekruip. Toe sy toenadering in die donker perke begin oorskry, het sy geprotesteer en hy het hardhandig geraak. Sy het hom ’n skrams kniehou gegee op ’n plek wat sy hoop baie lank seer gaan bly en al gillende gevlug.
Sy was so verlig om haar redders te sien dat sy die laaste trappie misgekyk het. Haar stiletto-stewels kon nie die impak absorbeer nie en oomblikke later het sy kermend op die sypaadjie gelê. ’n Rukkie later in die ongevalleafdeling is sy meegedeel haar enkel het ’n fraktuur.
“Jy moes die eerste keer na die enkel laat kyk het,” was die ouerige vroulike dokter se ontevrede aanmerking. “Die plate wys ’n vorige besering wat nie heeltemal herstel het nie. Die skade sou nou minder gewees het.”
Nico Cilliers kom haastig die TV-kamer binne, sy vrou heelwat kalmer op sy hakke. Hy kom kniel langs Candy, vou sy arms om haar lyf. “Is jy oukei, my poplap?”
Die warmte van sy omarming en die kleintydnaam is toe haar ontreddering, en die skrik en angs wat sy met soveel geweld probeer onderdruk het, kry uiteindelik die oorhand. Sy druk snikkend haar gesig in haar pa se nek. “J … ja, d … dankie, Pappa.”
Daar is trane in sy oë toe hy haar uiteindelik wegdruk. “Is jy seker? Ek sal die man se nek met my kaal hande gaan omdraai as hy jou seergemaak het.”
“Wat nie nodig sou gewees het as sy na my geluister het nie,” is haar ma die een wat reageer. “Hy het reeds soveel ontwrigting in hierdie huis veroorsaak.” Haar blou oë glinster diep ontevrede. “Hy pronk ons lewens binne en skielik eet jy nie vleis nie. Nou weier jy om –”
“Ma, asseblief,” pleit Candy. “Lós dit nou.”
“Nicandra, daar kom ’n punt wanneer ek nie langer jou eskapades kan toesmeer nie.”
“Wat bedoel Ma?”
“Die vorige keer wat jy jou enkel seergemaak het, is wat ek bedoel. Dit was nie omdat jy haastig was op pad klas toe soos jy ons wysgemaak het nie. Jy was betrokke by daardie Sean se ellendige groep lawaaimakers. Jy kan dankbaar wees ek kon die koerantberig stop.”
Candy voel hoe haar wange warm raak. Sy het mos geweet! Die vraag is net: hoe het dit uitgekom? Sou die draer van daardie geruïneerde leerbaadjie, met sy smeulende kyk wat steeds in haar geheue rondhang soos die geur van ’n duur naskeermiddel, tog iets van hom laat hoor het? Of het die lang arm van die gereg kom klik? Of daai tenk met sy weglêsnor? Sandra en Nico Cilliers se enigste is nie heeltemal ’n onbekende gesig op die sosiale blaaie nie. Maak seker ook nie saak nie, besluit sy.
“Hoekom het Ma nie toe iets gesê nie?”
“Omdat dit my nie behaag het nie,” snou Sandra byna en stap die vertrek uit.
Candy gaap haar agterna, kyk dan na haar pa wat intussen in ’n ander stoel gaan sit het. Hy lyk soos een wat nie net die veldslag nie maar ook die oorlog verloor het, en sy klap haar kake opmekaar. Is dit waarlik net die geldkrisis wat die spanning in hierdie huis soveel dieper laat loop, maar dit terselfdertyd ook soveel meer op die oppervlak bring? Of is daar onderstrominge waarvan sy niks weet nie?
Omdat sy uit die verlede geleer het, het sy net daardie een keer probeer vis oor die geld wat by haar oom geleen is en toe nie weer nie. Dalk moet sy liefs wegbly uit die troebel waters tussen die lede van die Mulder-gesin. Wie sê dis nie te diep om in te swem nie?
Om te kla dat sy voel asof sy ’n lam ter slagting is, het net ’n kwaai kyk gebring, en ’n vermaning: “Ná alles wat ons al vir jou gedoen het, Nicandra, is dit seker nie te veel gevra dat jy ’n kort rukkie na ons belange moet gaan omsien nie, of hoe?”
Sedert die gesprek tussen haar en Malie die oggend in Candy se kamer, is Malie ook met die stomme swye geslaan. Nou nie dat Candy iets anders verwag het nie. Sandra Cilliers mag die moeilikste vrou wees om voor te werk, maar daar is ’n goeie verstandhouding tussen die twee. Malie het Candy net aangeraai om haar soos ’n volwassene te gedra en te doen wat van haar gevra word.
Sy trek haar krukke nader. “Verskoon my, asseblief, Pa. Ek gaan maar inkruip.”
Sy het nog altyd taamlik versigtig getrap om mans wat lyk asof hulle te ernstig in haar belangstel. Seuns en mans. Verhoudings – daardie soort wat ’n nabyheid vra soos sy dink tussen ’n man en vrou moet wees – maak haar bang. Die huweliksverhouding van haar ouers is nie iets wat sy kans sien om te herhaal nie.
Haar romantiese tienerhart het net een keer gevra of hulle baie verlief was toe hulle so kort ná Sandra se skoolloopbaan getroud is. Is dit dan nie ’n teken van ’n onsterflike liefde as ’n meisie se ouers dit toelaat net omdat sy nie sonder hom wou agterbly nie?
Haar ma se antwoord kan sy nie meer onthou nie, maar die koue, byna bitter manier waarop dit gegee is, het vasgesteek, en die jong Candy se oë het oopgegaan.
As daar ooit so ’n liefde tussen haar ouers was, het dit ’n vroeë dood gesterf.
“Is jy seker jy het alles, Nicandra? Jou selfoon en bankkaart? Dis nie baie nie, maar ek het ’n paar rand laat inbetaal.”
As dit nie was dat vlinders ook in haar maag nesgeskop het nie, sou Candy kon lag vir die totaal ongewone gesig van haar ma wat lyk soos een wie se enigste ou lammetjie vir die eerste keer die wye wêreld ingaan op pad kleuterskool toe.
Sandra se fyn vingers pluk-pluk aan die soom van haar driekwartjas. “Ek wil nie hê die mense moet dink ons kan nie vir jou sorg nie. Jou pa het ’n baie belangrike werk en dis net hierdie onvoorsiene laagte wat ons gevang het. Dit sal nie vir altyd aanhou nie. Daar is baie van sy pasiënte en my kliënte wat ons onderskeie besighede nog geld skuld, maar met die huidige finansiële klimaat en die wêreldwye resessie kry jy nie jou geld uit hulle nie.”
Haar gebabbel oor finansies is so uit pas met die persona wat sy gewoonlik projekteer dat Candy weet dis net nog ’n teken dat sy nie op haar gemak is nie. “Goeiste, Ma, dis nie asof ek landuit gaan nie. Maar ja, ek dink ek het alles. En dankie vir die ekstra geld. Ek sal versigtig wees daarmee.”
Daar is darem een ou ligpuntjie in hierdie tonnel. Die dokter het – seker uit pure desperaatheid om van haar geneul ontslae te wees, maar met ’n ellelange preek – ingestem om die gips ’n bietjie vroeër te verwyder en dit met ’n enkelstut te vervang. Van die krukke mag sy egter eers oor ’n week ontslae raak, en sy moet