Beenaf bokkie. Dirna Ackermann

Beenaf bokkie - Dirna Ackermann


Скачать книгу

      “Ma, sit liewers, dan gesels ons,” keer Candy.

      Sandra gaan sit op die punt van die bank en dit lyk asof sy ’n oomblik ’n stryd met haarself voer, maar dan ontspan sy tog agteroor. “Waaroor wil jy gesels?”

      “Vertel my van die familie op die plaas. Ma praat nooit oor hulle nie. Ek moet tog darem iets van hulle weet.”

      Behoedsaamheid kleur haar ma se oë donker. “Wat wil jy nou eintlik weet?”

      Candy skraap al haar moed bymekaar. “Hoekom is daar kwade gevoelens tussen julle?”

      “Nicandra, ek wil nie die verlede oprakel nie. Buitendien is dit maar net ’n feit van die lewe: mense sterf mekaar af.”

      Jou bloedfamilie? Candy verskuif haar been om dit gemakliker te laat rus. Hulle is allesbehalwe die volmaakte prentjie van ’n gelukkige gesin, maar dis al wat sy het. Kan sy só ontstig raak oor iets wat haar ouers gedoen het dat sy vir ewig vaarwel sal kan sê?

      “Maar Ma, wie sê Ouma wil my daar hê?”

      “Waarom sien jy dit nie eerder as ’n onverwagte vakansie nie? Die Overberg is waarlik baie mooi, en so totaal anders as die plekke waar jy al was.”

      Oukei, sy kry die boodskap. Praat oor iets anders. “Vertel my van oom Fouche.”

      Die geslotenheid wat haar ma se mond dun gerem het, lig effens en Candy skep moed. “Was hy ook so slim soos Ma, of wou hy altyd boer?”

      “Ja, hy wou van altyd af boer, maar jy maak ’n fout om dit as domheid aan te sien. Fouche was baie slim op skool en het meer as een landbougraad.”

      “Hoe oud was Ma toe Ouma-hulle hom aangeneem het?”

      Dat sy ’n gevoelige snaar aangeraak het, is duidelik uit die stram trek wat terug is om haar ma se mond. Maar ná ’n oomblik se huiwering sê sy tog: “Ek was elf, en hy was sewe maan- …” Die voordeurghong dieng-dong deur die huis en dis met ’n uitdrukking van absolute verligting dat Sandra haar sin onderbreek en orent kom. Grasieus maar baie vinnig uitstap.

      Candy sukkel op met ’n sug net toe Malie inkom en die tasse optel. “Jy sms vir my elke dag, gehoor?” snuif sy toe hulle groet.

      “Waar moet ek so baie geld kry?” Candy vryf haar wang teen Malie s’n. “Maar ek sal soveel soos ek kan.”

      Die drukkie wat Candy van haar ma kry, is ferm maar kortstondig. “Totsiens, Nicandra. Hou die Cilliers-naam hoog.”

      “Dankie tog,” sug-lag Marie en draai die kombi op in ’n gruispad waarvan hulle aanwysings melding maak. “Ek was bang ons verdwaal, want ek was nog nie in hierdie deel van die Overberg nie. Ek draai gewoonlik eers anderkant Riviersonderend af, aangesien ek nie Napier om hoef te ry nie.”

      “Ja,” kan Candy maar net saamstem. “Jy moet absoluut gedaan wees en uitsien na ’n heerlike bad en ’n bed.”

      Hulle is al voor ligdag uit Pretoria weg, en daar lê baie ure en nog meer kilometers agter hulle. Nie dat sy in die minste gereed voel om die geborgenheid van die kombi se kajuit te verruil vir ’n klipperige plek êrens in ’n kloof nie. Tog, goeie maniere is by haar ingedril. “Ai, Marie, ek weet nie hoe om vir jou dankie te sê nie.”

      “Ek sê vir jóú dankie. Dit was heerlik om nie die ent pad alleen te ry nie. Ek hoop net jou enkel was nie te ongemaklik nie.”

      Voor Candy kan reageer, gaan die kombi om ’n skerp draai en meteens lê die plaashuis ’n entjie vorentoe in ’n effense laagte tussen die deinende, grasgroen heuwels.

      Dis blykbaar lank gelede gebou, ’n effe moderner aanpassing van ’n Kaapse gewelhuis, en liggeel geverf. Die sinkdak is grys, met die versierde rondings op die gewels aan die kante van die huis wit geverf. Die dak van die wye voorstoep rus op wit pilare, en onder elke gewel is ’n boogvenster. Weerskante van die voordeur is twee kleiner vensters wat op die stoep uitkyk, en onder elke venster is ’n bankie wat dieselfde geel as die huis geverf is.

      Groot bome langs en agter die huis versper die res van die uitsig, en daar is nie veel van ’n voortuin nie. Slegs heuphoogte struike langs die paadjie wat na die voordeur lei, met ’n kleinerige grasperk aan elke kant. Oorkant die huis is omheinde veld en daar wei ’n klompie skape.

      ’n Prentjie sonder enige vertoon, maar met ’n netheid en afwerking wat van goeie versorging spreek, dink Candy. ’n Mooi prentjie. Die soort prentjie wat ’n moeë reisiger ’n warm verwelkoming belowe.

      Vir ’n oomblik verdring die doefe-doef van haar hart alle ander klanke en sy sluk teen die paniek. Haar enkel is seer, sy is styf, moeg en koud, haar maag skreeu dat middag se kaasbroodjie ’n week en ’n half gelede was, maar sy wens die rit wil aanhou. Tot aan die einde van die reënboog, indien nodig.

      Marie hou stil voor ’n hekopening sonder enige hek in die wit paaltjiesheining wat die huis van die pad skei. “Wel, hier is jy. Dit lyk maar stil. Waar dink jy sou jou mense wees?”

      Gaan wegkruip, soos sý lus het om te doen? “E … ek sal maar gaan klop.”

      “Nee, wag, ek sal.”

      En voor Candy nog iets kan sê, is die middeljarige vrou met haar vol rondings in ’n oranje kaftan en ’n paar Crocs van dieselfde kleur aan haar voete al halfpad in die paadjie af.

      Candy druk die motordeur oop, sukkel eers die krukke uit sodat sy stutplek het en vries dan op die punt van die sitplek toe ’n vrou die enkele stoeptrappie afkom.

      Daar was al tye dat sy gewonder het of iemand haar en die ware Cilliers-baba nie in die hospitaal omgeruil het nie, want sy lyk nie na een van haar ouers nie. Nou kan sy egter nie langer aan haar herkoms twyfel nie, want dis ’n ouer weergawe van die gesig wat sy elke oggend in die spieël sien wat Marie tegemoet stap.

      Die ouer vrou skud hand met Marie en wissel ’n paar woorde voor sy in die rigting van die kombi kyk en stadig, amper huiwerig naderkom. Asof sy nie seker is van die ontvangs op haar eie werf nie.

      Candy verkyk haar aan die vrou. Haar ouma se kort, welige krullebos moes ook eens op ’n tyd koperrooi gewees het, maar nou voer grys die botoon. Die enigste ander sigbare verskil tussen hulle is dat Candy langer en waarskynlik meer atleties gebou is as die ouer weergawe van haarself.

      Sy balanseer op die krukke, maar bly staan in die blik-omarming van die oop motordeur. Nie gebore in staat om te beweeg nie, luister sy na die gedruis in haar ore en wonder of sy gaan flou word. Hoe het sy nie in haar kinderdae hiervan gedroom nie. ’n Ouma en oupa van haar eie. Sy dwing die herinneringe eenkant. Dis lank gelede. Sy is nie meer ’n kind nie, en hier is nou net ’n ouma. Een wat sy haar hele lewe geglo het haar nie wou hê nie.

      ’n Paar tree van die motor af gaan die ouer vrou staan en dit lyk asof sy nie weet of sy moet lag of huil nie. Nou sien Candy ook die ander verskil in hulle voorkoms: haar ouma se blou oë blink suspisieus. Dan glimlag sy onseker. Emosie bewe om haar mondhoeke. “Hallo, Nicandra. Welkom op Klipkloof.”

      Die sangerige kwaliteit van haar stem laat die woorde na ’n verwelkoming sowel as ’n tuiskoms klink, en Candy knik, meteens verward. Dalk moet sy weer die definisie van die woord “kwasterig” gaan opsoek. Dan ook weer: môre is nog ’n dag. ’n Mens weet nie watter geite en grille dan hulle verskyning gaan maak nie.

      “Hallo,” kry sy gefluister en voeg ’n bewerige “dankie” by. Weet dan nie verder nie.

      ’n Oomblik is dit asof die hele werf ook asem ophou, want al wat Candy kan hoor, is stilte. ’n Soort stilte wat haar ore seermaak. Uiteindelik lyk dit asof die gryskopvrou in jeans en ’n blou trui haar kalmte herwin. Sy haal diep asem, vingers teen haar midderif gedruk.

      “Ek was so jammer toe jou ma my vertel van die ongeluk wat jy gehad het, maar sy sê dat jy darem goed herstel het.”

      “Mý ma het gebel en julle het gesels?”

      “Ek het gebel om te hoor hoe laat ons jou kan verwag.”

      “O.”


Скачать книгу