Die boek van Ester. Wilna Adriaanse

Die boek van Ester - Wilna Adriaanse


Скачать книгу
keuse of ’n wil van haar eie het nie. Sy het na die donker kontinent onder haar gekyk en haar verbeel sy hoor ’n hortende asemhaling, afgewissel deur doodsgille. Soos ’n reus wat besig was om dood te gaan. Die boontjierank lankal afgekap. Die lewensaar het deur die jare leeggebloei. Haar hare wou orent staan en haar vel het die eerste, byna pynlike, knopperige sametrekkings van hoendervleis ervaar.

      “Jy moet vir Gladys-hulle gaan groet terwyl jy hier is. Hulle wil jou baie graag sien.”

      “Hulle kan mý kom groet. Ek gaan nie huis toe nie. Ek kan beswaarlik in dieselfde stad wees. Wat het jy met hulle meubels en klere gemaak?”

      “Samuel het die huis met meubels en al oorgeneem en die klere wat Josef en Gladys nie kan gebruik nie, het ons by ’n nagskuiling gaan afgee. Ek het ’n paar van Ma se persoonlike goed in bokse gepak. Jy moet maar eendag daarna kyk.”

      “En wat van al die foto’s en ander persoonlike goed?”

      “Samuel het gesê ek moet alles eers net so los. Wanneer ons tyd het, sal ons deur alles gaan en al die persoonlike items oppak.”

      “Hoekom sal ’n mens tussen ’n ander mens se geraamtes wil woon?”

      “Hy spandeer hoogstens twee of drie aande op ’n slag daar. Ek dink dit pas hom dat dit nie ’n leë huis is wat rondom hom weergalm nie.”

      Ira kyk op sy horlosie. “As jy nog wil stort en skoon aantrek, moet jy jou roer. Ek moet jou twaalfuur by die konferensiesaal aflaai. Ek het ’n onderhoud wat ek nie kon verskuif nie.”

      Ester strek haar arms bo haar kop en staan stadig op. Sy druk die sigaret in die asbak dood. “Ek dog jy’s bly om my te sien.”

      “Jy weet daai goed gaan jou doodmaak, ne?”

      Sy sien hy kyk na die sigaret in die asbak. “Die hoogheiligheid van iemand wat opgehou het! Julle kan sulke dose wees.”

      Hy skud laggend sy kop en sy verstaan meteens wat haar ouma bedoel het wanneer sy gesê het sy kry ’n warm gevoel om die hart.

      Toe sy egter ’n rukkie later onder ’n warm stort staan, kry sy koud. Dis ’n koue wat van binne kom, en sy het agtergekom daar is niks wat daardie koue verdryf nie. Sy lig haar kop en laat die warm water oor haar gesig ook loop. Toe sy die effense sout op haar lippe proe, laat sak sy haar voorkop teen die wit teëls en wonder gelate hoeveel trane elke dag in hierdie stad se afvoerpype beland. Miskien kronkel daar al dagin en daguit ’n sout rivier onder die stad deur. ’n Rivier wat skynbaar nooit weer sal kan opdroog nie.

      Sy het nog nooit gehuil nie. Nie oor hulle ouers nie. Nie oor haarself of Ira nie. Dis so futiel om te huil oor iets waaraan jy niks kan verander nie. Sy wonder meteens of haar ma gehuil het. Miskien hét sy, nie oor haarself nie, maar oor haar kinders. Ester draai die warm kraan toe en trek haar asem skerp in toe ’n straal koue water haar tref. As sy gelukkig is, is die koue van buite erger as dié van binne.

      “Doen my ’n guns en wees vriendelik met Samuel en die personeel op Bulweni. Hulle is baie besig en dis ’n moerse guns wat hy my doen.” Dis net ná elf en Ira en Ester is weer in die motor.

      “Is ek nie altyd nice nie?”

      “Nee.”

      “Het hy beskerming nodig?”

      “Teen jou het enigiemand beskerming nodig.”

      “Ek sal my beste Prada-boots voorsit. Wat moet ek van hom weet, behalwe dat hy ’n sissie is?”

      Ira kyk skeefweg na haar en skud sy kop. “Ek moes jou in die verknorsing gelos het sodat julle die shoot sommer in die Zoo gedoen het.”

      Ester vryf sy hare deurmekaar. “Ek maak sommer net ’n grap. Vertel my van jou vriend.”

      “Hy is ’n veearts van beroep, maar is wêreldwyd intensief betrokke by die skepping en onderhouding van wildernisgebiede. Hy is ’n gewilde spreker en dien op heelwat plaaslike sowel as internasionale bewaringsliggame. Sy bewaringsprojekte sluit egter nie net diere in nie. Hy is ook betrokke by projekte om mense op te lei om hulle omgewing beter te verstaan en met groter omsigtigheid te gebruik en daardeur vir hulleself werksgeleenthede te skep en te verseker.”

      “Met ander woorde, ’n ernstige groene.”

      “Asof jy weet hoe om die kleur te spel.”

      “Dis nie ’n belediging nie. Ek probeer net seker maak ek verstaan die man reg. Waar presies is die plaas van hom waarheen hy ons so goedgunstiglik genooi het?”

      “Dit grens aan die Kruger-wildtuin en is deel van ’n groep plase waar daar vrye toegang en oorgang van diere is. Op die plaas is ’n eksklusiewe lodge, wat goeie geld inbring en help om die rehabilitasiesentrum wat hy daar het, te onderhou.”

      “Vir wie rehabiliteer hy?”

      “Wilde diere. Hetsy diere wat seergekry het of op een of ander manier getraumatiseer is.”

      “En waar ken jy hom vandaan?”

      “Hy en Pa het mekaar eintlik geken. Ek ken nie die hele storie nie, maar daar was blykbaar ’n paar jaar gelede ’n lang artikel oor die sogenaamde geblikte of canned hunting-praktyke. Die verslaggewer wat die artikel geskryf het, het sy feite deurmekaar laat raak en Sammy se naam is daarby betrek. Hy het Pa gekontak, hulle het mekaar ontmoet en blykbaar het hulle mekaar daarna nogal dikwels gesien. Ek weet hy het ’n paar keer by hulle oorgebly as hy in Johannesburg was. Vandaar sy belangstelling in die huis toe hy hoor ons wil dit verkoop.

      “Hy was in die buiteland toe hulle dood is, maar toe hy terugkom, het ons een aand gaan eet en sedertdien sien ons mekaar wanneer ons kan. Ek het al ’n paar keer by hom gaan kuier en dis waarom ek geweet het jy sal baie goeie foto’s daar kan neem. Dis ’n besondere mooi plek.”

      “ ’n Regte dokter Doolittle wat met diere kan praat. Dit behoort interessant te wees.”

      “Sy grootste aantrekkingskrag vir my is egter die feit dat die man geen hang-ups of issues het nie. Kan jy dink hoe ongekompliseerd maak dit ’n vriendskap?”

      “Ek vertrou nie mense wat nie hang-ups of ten minste ’n issue of twee in die lewe het nie.”

      “Ek weet, dis waarom ek bly is jy gaan ’n slag sien dit kan gedoen word.”

      Hulle hou by ’n rooi verkeerslig stil. Toe die lig na groen oorslaan en Ira wegtrek, lag Ester breed vir die man in die motor langs hulle en hou haar vuis omhoog.

      “Wat doen jy?”

      “Ek wys net vir hom ons het dit gemaak. Ek is verbaas dat julle almal dit nie doen nie. Net die feit dat ’n mens nog ’n rooi verkeerslig oorleef het, is genoeg rede om ’n oorwinnaarsdans uit te voer.”

      “Waarom het ek na jou verlang? Jy is soos batterysuur.”

      Ester draai haarself skuins op die sitplek en haar stem is sagter toe sy praat. “Dink jy ons kan nog as weeskinders geklassifiseer word, of is ons te oud daarvoor?”

      “Ek weet nie. Ons is nie volgens die letter van die wet meer kinders nie.”

      “Ek voel wees.”

      Hy antwoord haar nie.

      “Kon hulle die bloed van die oprit afgewas kry, of is daar ’n vlek?”

      “Dis skoon. Ek weet ook nie, maar dit lyk vir my skoon. Ek gaan kyk nie regtig met aandag of ek nog tekens kan sien nie.”

      “Jy onthou nog dat jy belowe het jy sal na die shoot vir ten minste twee weke agterbly om te kuier,” gaan hy voort, sonder om vir ’n antwoord of nog ’n vraag te wag. “Ek wil nie later hoor jy het van plan verander nie.”

      “Het ek gesê twee weke? So ver ek kan onthou, was dit twee dae.”

      “Ha-ha-ha.”

      “Dis moeilik, Ira. Dis baie moeiliker as wat ek ooit gedink het, maar terselfdertyd is hier iets soos ’n magneet wat trek. Ek kan dit nie verduidelik nie.


Скачать книгу