Die boek van Ester. Wilna Adriaanse
hoor wat jy nou sê nie.” Terwyl hy nog praat, hou hy skielik stil en sy kyk vraend na hom.
“Moet asseblief nie weer sê ons is tussen ’n trop buffels nie.”
“Hier’s leeus naby.” Hy skakel die voertuig af en Ester voel hoe sy onder die baadjie ril. Sy weet nie wanneer laas in haar lewe sy op een dag soveel hoendervleis gekry het nie. Dis of haar vel permanent saamgetrek is.
“Wat as die Jeep nie weer wil aanskakel nie?” fluister sy terwyl sy om haar probeer kyk.
Hy haal iets agter die sitplek uit en oomblikke later hou hy ’n sterk soeklig omhoog. Die veld om hulle word helder verlig en toe hy stil met sy hand beduie, sien sy dit ook en sy trek haar asem in. ’n Entjie van die Jeep af, net langs die tweespoorpaadjie, lê ses leeus, besig om aan ’n redelik vars sebrakarkas te vreet. Hulle oë blink in die lig en sy kan die rooi bloedvlekke om hulle monde sien. Sy probeer so stil moontlik haar kamera uithaal en neem haastig ’n paar foto’s.
“Hoe voel jy oor die toneel wat besig is om voor jou oë af te speel?”
Ester laat sak die kamera effens. “Wat bedoel jy?”
“Hoe ervaar jy dit? Dink jy dis ’n wreedaardige toneel?”
Sy neem weer ’n foto. “Ja, ’n mens kan seker sê dis wreedaardig.”
“Waarom is dit wreedaardig?”
Haar skouers roer onder die baadjie. “Om te sien hoe ’n dier verskeur word.”
“Tog neem jy foto’s.”
“Dis nie aldag dat ek so iets sien nie. Ek wil dit vir Henry gaan wys.”
Samuel leun effens na haar toe oor en beduie voor haar verby. “Kyk daar links, aan die rand van die ligkring.”
Ester se blik volg sy vinger en dan sien sy die drie jong leeutjies wat huiwerig wag, maar tog voetjie vir voetjie nader aan die feesmaal beweeg. Hulle lywe nog effens lomp en hulle pote te groot.
“Maak dit die toneel minder wreedaardig as jy weet dit is maar net ’n klomp ma’s wat vir hulle gesinne aandete huis toe gebring het?”
Sy laat sak die kamera en kyk na die vreemde toneel. “Ek weet nie.”
“Is jou simpatie by die sebra of by die honger leeus? Of is dit dalk maar net ’n toneel wat deel van die lewe is en nie werklik emosies verg nie?”
Die kamera lê nou op haar skoot terwyl sy met nuwe aandag na die toneel voor haar kyk.
Hulle sit omtrent nog tien minute so stil voordat Samuel die lig afskakel en hulle weer verder ry. “Daar is ’n ou Afrika-gesegde wat daarop neerkom dat daar elke oggend in Afrika ’n springbok, hier by ons ’n rooibok, wakker word en weet dat hy vandag vinniger as die vinnigste leeu sal moet hardloop as hy nog ’n dag wil sien. En elke oggend word ’n leeu in Afrika wakker en hy weet hy moet vandag vinniger as die stadigste springbok kan hardloop as hy nie van hongerte wil sterf nie.”
“Oorlewing van die sterkste.” Sy sê die woorde half ingedagte asof sy met haarself praat.
“Dink jy ’n foto kan ooit werklik aan ’n oomblik of gebeurtenis reg laat geskied?”
“Ja, ek het al ongelooflike foto’s gesien. Daardie een-uit-’n-miljoen foto wat die essensie van ’n oomblik vasgevang het.”
“Om dit te kan doen, moet ’n fotograaf eers die wêreld sonder ’n kamera beleef het. Jy kruip agter jou kamera weg. Om nie te ervaar nie.”
“Jy het nog nie eens van my foto’s gesien nie!”
“Nee, maar ek sien jou en ek sien hoe jy altyd eerste na jou kamera gryp. Sodoende hoef jy nie emosioneel of intellektueel betrokke te raak nie.”
“Is dit waarom jy al die onsinnige vrae gevra het?”
“Ten minste weet ek jy het ’n rukkie behoorlik gekyk en ingeneem.”
“Is Robert regtig ’n dosent by die universiteit?”
“Ja, waarom vra jy? Dink jy hy het vir jou gelieg?”
Sy skud haar kop. “Nee, ek weet nie hoe om dit te beskryf nie, maar dis asof daar iets aan hom is wat my bang maak. Dieselfde geld vir jou. Nou die dag by die kongres het jy vir my soos ’n goeie, onskadelike groene gelyk en die meeste van die tyd klink en lyk jy net te goed om waar te wees. All love and peace. Maar vanmiddag op die olifant se rug en vanaand nadat Robert daar aangekom het, was dit of ek iemand anders onder die vreeslik vreedsame uiterlike gesien het.”
“Ek weet ek het dit al gesê, maar jy is ongetwyfeld jou pa se kind. Julle verbeeldings hardloop op paaie wat nog nie eens gekarteer is nie. Indien dit moontlik is, is jy selfs nuuskieriger as hy. Dis óf dit, óf die lang ure in die buitelug en in die son wat jou laat hallusineer.”
“My pa se aanvoeling het hom daar teen die einde in die steek gelaat, maar ek het nog altyd baie vertroue in myne gehad en ek weet ek is nie verkeerd nie.”
“Ek is bly jy het soveel vertroue in jou aanvoelings. Dit kan ’n mens soms handig te pas kom.”
“Jy gaan my nie antwoord nie.”
“Ek het nêrens in al die gepraat ’n vraag gehoor nie.” Ester lag onderlangs. “Vir ’n wetenskaplike is jy baie vaardig met woorde.”
“Hier’s ons.” Hulle ry die kamp binne en Ester is bly sy moes nie alleen die pad probeer vind het nie. Sy het nie ’n benul hoe hulle hier gekom het of waar sy huis van hier af sit nie. Miskien verkies hy dit ook so, dink sy stilweg toe hy uitklim en die deur vir haar kom oopmaak. Toe sy die baadjie wil uittrek, skud hy sy kop. “Los dit sommer by Kiki of Melany wanneer julle Saterdag vertrek.”
“Beteken dit ek gaan jou nie weer sien voor ek teruggaan nie?” Toe die vraag uit is, kan Ester nie besluit of sy haarself moet skop of vir haarself moet skaam kry nie. “Wat het van jou belofte geword dat ek jou huis vir Henry kan gaan wys?”
“Ek het nog nie gehoor dat jy belowe het jy sal die foto’s op jou kamera uitwis nie.”
Sy druk haar hande in die baadjie se sakke en skopskop na ’n denkbeeldige klippie op die grond. “Dis nie asof jy kaal op die olifant gesit het en ek dit op die internet gaan versprei nie.”
Sonder om haar te antwoord roep hy na een van die wagte en toe die man nader stap, praat hulle ’n oomblik voordat hy in die Jeep terugklim. “Goeienag. Hy sal saam met jou kamer toe stap.”
Ester voel soos ’n kind wat haar voete teen die grond wil stamp toe sy die Jeep agterna kyk. Toe sy omdraai, staan die wag met ’n glimlag na haar en kyk, asof hy haar gedagtes kan lees. Sy sal graag wil hoor wat hy op daardie oomblik dink, want sy is nie seker van haar eie gedagtes nie. Al waarvan sy bewus is, is ’n gevoel van intense frustrasie. Sy stap stil agter die man aan.
“Jy’s vinnig terug.” Robert sit langbeen op een van die rusbanke toe Samuel by die huis aankom. Hy beduie na die bottel whiskey en twee glase wat op die koffietafel staan. Waterdruppels blink op sy hare en hy het ander klere aan. “Ek het nou net klaar gestort en was net van plan om vir my ’n bietjie van jou lekker whiskey te skink. Ek was nie seker hoe lank jy gaan weg wees nie, maar het darem solank vir jou ook ’n glas gebring.” Hy buk vooroor om te skink. “Is juffrou Green veilig in die bed?”
“Ek neem aan sy is veilig in die bed.” Samuel gaan sit oorkant hom en neem een van die glase.
“Hel, ek’s jammer oor vanaand. As ek geweet het jy’t geselskap, sou ek verbygehou het, maar toe ek lig sien, kon ek die versoeking nie weerstaan nie. Dit was egter nie nodig om haar huis toe te neem nie. Ek kon sommer in die Land Rover geslaap het ... of in jou spaarkamer.”
“Vir jou straf behoort jy heelnag wakker te sit, verkieslik op ’n spykertafel of iets wat redelik seer kan maak. Jy het my tien jaar ouer gemaak met jou sluipery. Ek wil nie eens weet watter nagmerries sy na dese gaan hê nie.”
“Jy kon haar hier gehou