Heler van skade. Malene Breytenbach
met hom kan praat. Sy kind vra wanneer hy weer kom kuier.”
Marita staan op en loop na ’n kabinet, waar sy die laai ooptrek en daarin blaai. “Ek het dit hier op lêer, maar dis ook in die elektroniese lêers by Bets.”
Sy haal ’n lywige lêer uit en gee dit vir Lucinda. “Alles wat jy soek, sal hierin wees, ook die mediese rekords van kind en ma.”
“Dankie. Ek leen dit, maar bring dit so gou moontlik terug.”
“Jy is welkom. En … baie dankie, Lucinda. Jy kan net vir Bets vra om jou te help as jy wil bel, maak nie saak waar in die wêreld daardie man hom bevind nie.”
“Edwin van Reenen, is dit jy?”
Sy hoor eers die stilte, en toe antwoord hy: “Ja, wie praat Afrikaans met my?”
“Lucinda O’Neill.”
“Bliksem! Lucinda! My ou maatjie wat ’n dokter wou word. Het jy toe ooit een geword?”
“Ja, ek het.”
“Waar is jy?”
“In Suid-Afrika. Waar is jý?”
“Ek is in Monaco, maar hoe het jy my selfoonnommer in die hande gekry?”
“Ek werk nou by die Wynland-kliniek, Edwin. Ek is ’n pediater en jou dogter, Nanette, is een van my pasiënte.”
Weer is daar ’n stilte, en toe hy praat, klink hy allesbehalwe blymoedig. “Dan weet jy seker alles van my … van ons af? Dat Chantelle, my vrou, aan vigsverwante oorsake dood is, en dat sy dit aan Nanette oorgedra het?”
“Ja. Is jy … skoon, Edwin?”
“Ja.”
Lucinda kan dit skaars glo.
“Daar is nou anti-retrovirale terapie, maar dis nie onfeilbaar nie, soos jy weet. Ek sien dat jou kind dit kry en dit kos jou baie geld. Die kliniek is ook duur. Maar dis nie genoeg nie, Edwin. Nanette verlang na jou en ek dink jy moet aanstaltes maak om haar te kom sien.”
“Liewe Lucinda – die ligdraer, soos ons jou genoem het. Lux in tenebris lucet – ’n lig skyn in die donker, die Latynse leuse van die weeshuis wat jy uitgeleef het deur vir almal moedertjie te speel. Jy het net die regte naam gekry, en klink my jy is nog net soos destyds. Ek is bly my kind is in jou hande.”
“Ek is net ’n dokter, Edwin, nie haar ma nie. Sy het haar ouer se ondersteuning nodig, en nie net geldelik nie. Sy is nie net ’n verantwoordelikheid nie, sy is jou kínd, bloed van jou bloed. Sy het jou liefde nodig. Jy weet hoe óns getreur het oor ons gemis aan ouers en familie.”
Sy hoor hom sug.
“Ja, gésel maar hierdie ou sondaar. Ek is skuldig, ek weet. Maar my lewe bestaan uit motorwedrenne dwarsoor die wêreld. Ek kan tog nie ’n dodelike siek kind saamsleep nie. Jy sien hoe sy lyk.”
“Ja, ek sien en ek verstaan jou dilemma, maar sy is ’n mens met gevoelens. Ek stel voor dat jy so gou moontlik kom kuier.”
“Sy is nie … e … in onmiddellike gevaar nie, of hoe?”
“Nie onmiddellik nie, maar dis afdraand al die pad, al doen ons wat.”
“Moenie dink ek weet nie.” Sy stem is skielik hees. “Ek sal kom so gou ek kan, ook om jou te kan sien.” Sy hoor dat hy sy keel skraap. “Is jy nog so mooi soos ’n engel?”
“Ag toe nou, Eddie …”
“Almal was mal oor jou, ook omdat jy so ’n goeie hart het. Caring and sharing. Ek moes met jou getrou het in plaas van met ’n blerrie losbandige Franse model. Dan was my lewe minder sondig en meer op die straight and narrow. Liewe Lucy, ek sal dadelik begin planne beraam om te kom.”
“Dankie. Ek sien jou as jy kom.”
“Ek sien uit daarna, engel Lucy.”
Ná die gesprek staan sy diep ingedagte. Hulle het naderhand weer hulle ou bynaampies teenoor mekaar gebruik. Hoe lyk hy nou? Hy was altyd gans te mooi, ’n blonde Adonis, en die meisies het soos vrot vye vir hom geval.
En hy wou van kleins af net een ding doen en dis renjaer word. Hy het al wat ’n motor is, raakgesien en hy was roekeloos met alles. Oor die meisies so om hom gedraai het en hy hom ooglopend daarin verlustig het, het sy gevrees dat hy ’n rokjagter en pierewaaier sou word, want alles het vir hom te maklik gekom. So het hy ook op TV gelyk die paar kere wat sy hom gesien het, besig om Formule 1-resies te jaag, te wen en mense met sjampanje te bespuit.
Wel, wanneer hy kom, sal sy kan sien wat werklik van hom geword het. Of daar nog iets van die ou Edwin, of liewer haar vriend Eddie, oorgebly het.
Bets loer om die deur. “Het jy hom gekry?”
“Ja.”
“Was hy bly om van jou te hoor?”
“Ek dink so.”
Bets kom in en slaan haar oë teatraal op. “Hy is die sexyste man wat ek al ooit ontmoet het, behalwe vir meneer Werner Huber. Maar meneer Huber is eerder die tall, dark and handsome, diep soort. Edwin van Reenen is cool, en ek is seker al die vroumense vrek oor hom. Hy hoef net sy pinkie te lig.”
“Dit was juis sy probleem,” merk Lucinda droogweg op. “Hy wou hoog vlieg, en hy het.”
Dalk te hoog, te na aan die son, en toe smelt sy vlerke …
“Wanneer kom hy?” wil Bets weet.
“Sodra hy kan, en wanneer dit sal wees, weet nugter.”
“Ek begin sommer vandag met ’n dieet sodat ek goed kan lyk as hy opdaag,” grap Bets en verdwyn met ’n giggel.
Lucinda gaan na Nanette, wat met die kaalgesuigde stokkie in haar handjie vasgeklem lê.
“Ek het met Papa gepraat en hy gaan kom kuier,” sê sy op Frans.
Nanette glimlag skamerig. “Wanneer?”
“Gou, sê hy, maar hy is nog ver.”
Sy neem die stokkie uit die taai handjie. “Netnou maak jy jou seer met dié ding. En hier kom die verpleegster met jou kos. Ek hoop jy het nie jou eetlus nou heeltemal verloor nie. Tatta, hoor.”
Die taai handjie lig in ’n groet en sy word weer met ’n glimlag beloon.
“Praat sy tog nie met dokter nie?” vra die verpleegster verbaas. “Mense kry nie veel uit haar uit nie, arme ou dingetjie.”
“Ja, sy praat, maar ek het die sleutel van die toe deur gevind. Haar ma het met haar Frans gepraat, en as ek my bietjie skool-Frans praat, reageer sy geredeliker as wanneer ’n mens Afrikaans praat.”
“Haai, wragtig! Miskien moet dokter vir my ’n paar woorde leer.”
Lucinda lag. “Enige tyd. Dalk moet ek Franse lesse gee, maar ek waarsku jou, my Frans is maar beperk. Ek was lank terug op skool en ’n mens raak mos verroes wat ’n taal betref.”
Iemand trek aan haar wit jas en toe sy afkyk, staan Charles daar. “Het tannie vir haar ook swiets gegee?”
Lucinda kyk skuldig na die verpleegster, wat kastig kwaai frons. “Net een suigstokkie. Sy is baie skaam. Jy moet met haar maats maak. Sal jy?”
Hy kyk huiwerig na die bed. “Ja-aaa, maar sy praat nie met my nie.”
“Probeer van môre af.”
“Ja, tannie.”
Sy tel hom op en dra hom na sy bed. Hy is so maer dat hy so lig soos ’n veertjie is.
“Hoe oud is jy?” vra sy.
“Ses, tannie.”
Hy lyk vir haar jonger, want hy is so klein en deernisvol druk sy hom styf vas.
“Ek moet weer na die baie siek seuntjie met die malaria gaan kyk. Jy moet